Om God te leer Ken
- Ds Abe Beyers
- Dec 15, 2015
- 9 min read

Sondag 13 Des 2015 Lukas 1 v 46 – 54
(English summary at the bottom of this page.)
Loflied van Maria /Om God te Leer Ken
Ds Abe Beyers
ONTMOETING Stemmingslied Ons erken Hom Hy groet ons Ons sing Lied 190 v 1, 3
Grote God, aan U die eer! Heerlik is waar U regeer; hemels is u majesteit; heilig u geregtigheid. U wat alles onderhou, U is ewig en getrou.
U, oor alles God en Hoof, open oë van geloof dat ons sien, geen goed of kwaad word aan toeval oorgelaat: Bokant ons begrip, verstand, hou U al wat is in stand.
INLYWING IN DIE FAMILIE VAN JESUS Doopgeleentheid – Mia Lategan ( John en Anriette) Ons gebed vir hulle is Lied 268
Laat, Heer, u seën op hul daal, u guns uit Sion hul bestraal! U wat beveel en dit geskied, wil, Heer, u seën oor hul gebied!
VERHOUDINGSTYD Wie is die Here? (Psa 73:21-26) "Toe ek verbitter was en veronreg gevoel het, was ek dom en sonder insig; soos ‘n redelose dier het ek my teenoor U gedra. Tog was ek nog altyd by U, want U vat my aan die hand. U lei my met u raad en aan die einde sal U my in ere by U opneem. Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie. Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd."
Ons antwoord die Here met Lied 188 v 1 Kom, dank nou almal God met hart en mond en hande; loof Hom wat wonders doen tot in die verste lande. Van vroeg, van kindsbeen af, het Hy ons trou bewaar en tot vandag toe nog geseën en gespaar.
LUISTER-TYD Gebed Woord – Lukas 1
1. VERHOUDINGS
Soms sien ons selfs hier op Aberdeen hoe ‘n nuwe verhouding ontstaan tussen twee mense. As jy nou sou vra hoe het dit nou gekom dat julle twee ‘n verhouding het, dan sal hulle vir jou vertel dat hulle het mekaar ontmoet en toe van mekaar gehou en so algaande het daar ‘n verhouding ontstaan.
Maar as ons nou dink oor hoe ontstaan ‘n verhouding tussen twee mense? Aanvanklik gesels jy met die ander een – en in daardie eerste gesprekke probeer jy tussen die woorde en gesigsuitdrukking en liggaamstaal deur die ander persoon verstaan, jy probeer om daardie een se aard en manier te leer ken. Dis amper asof jy die ander een so wil leer ken dat jy sal kan voorspel hoe daardie een in die toekoms sal optree. Die meisie sal bv dan later sê: ek hou van hierdie man, want hy is iemand wat bv omgee, wat geduldig is – maar hy is ook iemand wat kan standpunt inneem wanneer nodig – en dis dinge wat vir haar aantrek na daardie een toe.
Ons het nou gepraat van ‘n verhoudings tussen ‘n ou en ‘n meisie, maar daar is ook ander soort verhoudings. So sal iemand vertel van ‘n onderwyser vir wie hy die grootste agting en respek gehad het, hy sal vertel van die groot invloed wat die onderwyser op hom gehad het – dis ook ‘n verhouding wat begin het waar die kind stukkie vir stukkie die aard van die onderwyser ontdek het – en besluit het hy kan hierdie meneer vertrou.
Ons gaan vanoggend kyk in die Bybel na die verhouding tussen Maria en die Here God – want ook dit het by ‘n punt begin en toe gegroei. Of ons moet eerder sê dat Maria het algaande meer en meer van die Here God ontdek, meer en meer van sy aard en manier ontdek.
2. MARIA SE ONTMOETING
Ons lees daar in Lukas van haar ontmoeting met die Here God:
LEES Lukas 1 v 26, 28, 29 26 "In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na ‘n maagd in Nasaret, ‘n dorp in Galilea. 28 Toe die engel by haar kom, sê hy: "Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou." 29 Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken."
Aanvanklik was sy verbysterd oor die woorde – soort van verward, onseker – wat gaan nou gebeur, wat beteken die groet van die engel?
En dadelik stel die engel haar gerus en verduidelik verder wat nou alles gaan gebeur – die Gees van God sal ‘n swangerskap in haar bewerk – en die Kind sal die Seun van God genoem word.
En Maria is baie vlug van begrip en verstaan dadelik dat hier vir haar moeilikheid kom – want sy gaan nou swanger word en Josef is nie die pa nie – hoe gaan sy dit verduidelik?
En dan kom haar pragtige geloofsreaksie – kyk hoe berus sy in die planne van die Here God.
LEES Luk 1 v 38
Maria sê toe: "Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het." Toe het die engel van haar af weggegaan."
3. DIE ROL VAN ANDER MENSE.
As ons probeer sê hoe die verhouding tussen Maria en die Here God op hierdie stadium was, dan klink dit vir my die betekenis van die eerste ontmoeting het nog nie volledig tot haar deurgedring nie, sy het nog nie naastenby die grootsheid van die Here God besef en die betekenis van dit wat met haar gaan gebeur nie.
En dan so vinnig moontlik vat sy die pad en gaan kuier vir haar familielid Elisabet. Ons weet nie presies waar Elisabet en haar man Sagaria gebly het nie, maar dit was ten minste 100 km van waar die jong meisie Maria gebly het. Hoe lank dit nou vir Maria gevat het om die afstand te loop, weet ons ook nie.
Maar toe sy daar by Elisabet kom ontvang sy bevestiging dat die storie van die Here God se betrokkenheid by haar regtig waar is. Dit was nie maar net ‘n droom nie – want Elisabet praat van die saak sonder dat Maria enigiets vir haar vertel het.
LEES Luk 1 v 41 – 43 41. " Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en sy is met die Heilige Gees vervul (42) en het hard uitgeroep: "Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou moederskoot! 43. Waaraan het ek dit te danke dat die moeder van my Here na my toe kom?"
4. EERSTE ONTDEKKING
En nou kan ons begin sien hoe die verhouding tussen haar en die Here God gegroei het – ná die bevesting deur Elisabet dat die Here regtig iets uitsonderlik vir haar in gedagte het, kom die reaksie by Maria:
LEES Luk 1 v 46 – 49 46. En Maria het gesê: "Ek besing die grootheid van die Here, (47) ek juig oor God, my Verlosser, (48) omdat Hy na my in my geringheid omgesien het. Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem, (49) omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het. Heilig is sy Naam! "
Kyk net die opgewondenheid – sy jubel en juig – die Here is groot, loof die Here!
5. MARIA ONDEK SY AARD
Ons kan Maria se belewenis vergelyk met bv ‘n meisie wat ‘n besonderse ou ontmoet het – baie opgewonde sal sy kom vertel by die huis of by haar vriende van die wonderlike ou – dalk het daardie wonderlike ou vir haar groot persente gegee en baie tyd aan haar bestee, of wat ook al – maar dan is daar altyd die bekommernis: is dit hoe die man regtig is, hoe gaan hy in die toekoms wees, gaan hy so bly, gaan hy in die toekoms nog steeds so besonders wees?
Terug by Maria – op ‘n stadium het sy tot die besef gekom: maar wat die Here vir haar gedoen het – dat Hy na haar in haar geringheid omgesien het – dit was nie net met haar nie. Dit is sy manier deur al die eeue, dit is soos die Here nog van altyd af was. Skielik val al die stories wat sy gehoor het van die Here God, haar jare se kategese, skielik val dit alles in plek – dit word een groot storie van wie die Here God is, dis sy manier, dis sy aard:
LEES Luk 1 v 50 – 53 50. "Hy bewys ontferming van geslag tot geslag aan dié wat Hom eer. 51 Kragtige dade het Hy met sy arm verrig: hoogmoediges in hulle eiewaan het Hy uitmekaargejaag; (52) maghebbers het Hy van trone afgeruk en geringes verhoog; (53) behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes en rykes met leë hande weggestuur."
En dan word die prentjie van wie die Here God is, nog duideliker. Sy ontdek dat die Here sy omgee vir mense al 1000e jare deurgegee het – maar meer nog: Die Here gaan in die toekoms nie anders word nie: dis sy aard, nog al die jare en dit sal steeds so wees in die toekoms. Hy is die betroubare Heerser, só is sy aard.
LEES Luk 1 v 54 – 55 54. "Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom deur te dink aan sy beloftes van ontferming (55) soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders, aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid."
6. ONS
Nader na ons toe – dis een van die dae Kersfees. En Kersfees vertel mos vir ons van die Here God se aard – dat Hy so omgee vir ons dat Hy sy Seun na ons toe gestuur het om onder ons te kom woon, om te kom instaan vir ons , om namens ons die verhouding met Hom te herstel.
En daarom wil die hele verhaal deur al die eeue net maar weer vir jou bevestig dat die Here God betroubaar is, dat jy opgewonde kan raak oor sy liefde en omgee vir jou, dat jy daarop kan vertrou.
7. DOOP
Maar die storie wil nog iets vir ons sê: Ons het vanoggend ‘n ou dogtertjie ingelyf in die familie van die Here God in – maar sy weet nog niks van die Here af nie. Sy weet nog nie of daardie Iemand vertrou kan word nie. En dis wat haar ouers aan haar gaan oordra: die gesindheid van die Here is Iemand wat vertrou kan word, dis Iemand vir wie sy respek en agting kan hê.
Net soos Elisabet se storie vir Maria die bevestiging was dat Here betroubaar is, net so moet ons stories vir ander die bevestiging wees dat die Here betroubaar is. Ons moet lopende advertensies wees dat die Here betroubaar is, ander moet ons kan lees dat ons al klaar ontdek het dat die Here wonderlik is.
Daarmee is die laaste pynlike vraag skielik voor ons: Wie is die Here vir my? Het ek Hom al ontdek as betroubaar?
My wens vandag is net dat die belewenis en ontdekking wat Maria destyds gehad het, nl. die groot storie oor die Here God, van sy betroubaarheid, van wie Hy is, van sy aard – weer jou verhouding met Hom sal vernuwe – dat jy ook weer vandag soos Maria sal sing: Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God my Verlosser.
ONS ANTWOORD Lied 214 v 1, 2, 3 Here, ons sal U loof, u weldade roem. U Naam sal ons eer, almagtige Heer, want U het wonders gedoen.
Here, ons sal U loof. U het ons verlos, uit duister bevry; ons harte verbly - dit het u lewe gekos.
Here, ons sal U loof, u weldade roem. Dis U wat voorsien, ons wil U graag dien en U ons Vader noem.
DANKBAARHEID Offergawes Laaste Lied – 365 v 1, 3
Hoor die blye eng'lelied aan die Koningseun gebied: "Vrede op aarde - God die eer - Hy daal tot die sondaar neer." Almal wat Hom liefhet, sing om Hom lof en dank te bring! Almal, juig met hart en stem: God word mens in Betlehem. Hoor die blye eng'lelied aan die Koningseun gebied
Jesus, ware Vredevors kom vir Hom ‘n volk verlos. Wêreldwyd, in elke land kom bevryding deur sy hand. In ons nood het Hy gedaal, vir ons lewe duur betaal. Vrygemaak, deur Hom gevind, is ek ook nou koningskind! Almal deur sy koms verlos, dank en loof die Vredevors!
DIE HERE SE BELOFTE Sy teenwoordigheid… te alle tye!
______________________________________________
Sunday 13 Dec 2015 Luke 1 v 46 to 54
Maria’s Song of Praise -- learning to know God
The relationship between people grows from “I know about the other one” to “I trust the other one”. In the same way the relationship between us and the Lord slowly grows and develops as we learn to trust Him.
So it was with Mary too. Her meeting with the angel left her confused and uncertain, but she received confirmation that his story about Jesus was true in her conversations with her relative Elisabeth. And so, slowly, Mary discovered that the Lord God is trustworthy, that his intention is care and love. Then she could react and praise and glorify the Lord.
The intention of the Lord is still the same; He cares for us just as much today and we can fully trust Him to also care for us in the same way in the future.
(Translation by Mariëtte Richter)
Comments