top of page

Steeds Ongemaklik

  • Ds Abe Beyers
  • Nov 27, 2015
  • 8 min read

Sondag 22 Nov. 2015 - Joh. 18 v 33-37

(Sondag van Christus as Koning)

STEEDS ONGEMAKLIK

Ds. Abe Beyers

(English summary at the bottom of this page.)

ONTMOETING

 Stemmingslied

 Erkenning van die Here

 Hy groet ons

 Loflied – Psalm 100 v 1, 2, 3 Juig almal tot Gods lof en eer, kom dien met blydskap God die Heer. Kom met gejubel voor Hom saam en dank en loof Hom, prys sy Naam.

Erken dié God en sy gesag. Hy hou oor ons, sy kudde, wag. Laat ons as volk die Heer aanbid. Hy't ons gemaak as sy besit.

Gaan by sy tempel in en sing en bring jul dank met jubeling. Sy goedheid, liefde en sy trou sal Hy vir altyd onderhou.

VERHOUDING  Hoe is die Here? (Fil 2) 6 Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

 En nou ons? (Rom 12) 17 Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. 18 As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. 19 Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God

 Ons antwoord die Here met Lied 164 v 1, 2 Ons is almal hier tesaam, vergader in sy Naam, verheerlik Hom. Tot die dood was Hy getrou

en daardeur is ons nou sy eiendom Kom ons leef soos wat Hy vra en leer om te verdra en liefde na te streef. Loof Hom, Christus, die Heer.

Ons is almal hier tesaam, verenig in sy Naam, verheerlik Hom. Met ons hart en mond en hand, ons kragte en verstand kom loof ons Hom. Hou ons lewend deur u Gees, laat ons u kinders wees en U bo alles eer. Jesus Christus, die Heer.

WOORD-TYD  Gebed  Woord – Johannes 18

1. KERK IS ALTYD ONGEMAKLIK

As ek nou sou vra vandag: hoekom assosieer jy jou met die Kerk, hoekom is jy hier? Dan sal ons mos antwoord dat die Kerk die plek is waar ek net ‘n bietjie vrede kan kry, waar ek net ‘n bietjie tot rus kan kom, waar ek net maar aanvaar word, waar ek tuis kan voel.

Maar as ons nou terugdink, net maar in ons leeftyd, dan was die Kerk maar altyd ‘n ongemaklike plek – dit was maar nie altyd dieselfde nie. Soms is daar ongemaklike besluite geneem wat jou rustigheid en sekerheid omgekrap het.

Dink nou maar net aan die sinode van 1986 wat die besluit geneem het dat die NG kerk oop is vir alle mense. En was ons nie ongemaklik en ontstig daardeur nie?

Of in die jare 90 is daar besluit dat die Nagmaal oop is ook vir kinders. En gemeentes moet nou die vreemde ding hanteer – en daar is woelinge en daar word gepraat en gestry.

En ‘n jaar of wat terug was daar die ding met die verandering rondom Kerkorde Artikel 1 en die Belhar belydenis – en ons was weer in rep en roer. En onlangs was daar die besluit oor die Selfdegeslag-verbintenisse. En weereens word ons voor keuses en besluite gedwing, en weereens is daar meningsverskille en ongemaklikheid.

En elke keer as daar sulke goed op ons tafel kom, dan word ons gedwing om standpunt in te neem, om te sê waar ons staan. Die goed dwing ons tot keuses.

Maar as ons nou gedink het dat die Kerk vandag soms vir ons ongemaklik is en dat ons gedwing word tot standpunt-inname, dan het ons vergeet van hoe dramaties ongemaklik dit 2000 jaar terug was toe Jesus op die aarde was. Daar was mense elke dag voor ‘n keuse gestel rondom Jesus van Nasaret.

2. JESUS DIE MAGTIGE KONING

Die bekende dissipel Johannes wil dan ook in sy boek vir ons vertel wie Jesus is – dat Hy die Groot Koning is wat van God af kom.

Lees Johannes 1v45

" Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: "Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef."

Lees ook Johannes 10 v 11a "Ek is die goeie herder."

Lees ook Johannes 15 v 1

"Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer."

En natuurlik sou elke Jood met hiérdie Koning assosieer. Vir eeue het hulle die verwagting gehad van die groot Verlosser wat sou kom, die Redder, die Een wat dinge kom nuut maak, wat weer die wêreld gaan maak soos in die tyd van koning Dawid.

3. JESUS DIE VERNEDERDE KONING

Maar dan kom die ongemaklikheid – dié koning Jesus was toe nie soos hulle verwag het nie. Byna elke keer wanneer daar in die boek Johannes van Jesus se Koningskap gepraat word, dan word daar gepraat van Jesus as die vernederde Koning, die lydende Koning.

LEES Johannes 10 v 11 "Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape."

LEES ook Johannes 13 v 4-5

“Toe het Hy van die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en ‘n handdoek gevat en om Hom vasgemaak. 5 Daarna het Hy water in ‘n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het.”

Terloops, dink net aan hoe Petrus geprotesteer het oor hierdie Jesus – dis nie die Jesus wat hy soek nie, hy wou nie gehad het dat sy grootse Jesus sy voete was nie…

En dan lees ons nou verder waar hierdie ongemaklikheid oor Jesus tot ‘n hoogtepunt gebring word, die groot oomblik.

LEES Johannes 18 v 33 – 37

33 "Pilatus het toe weer in sy ampswoning ingegaan en Jesus geroep en vir Hom gevra: "Is jy die koning van die Jode?"

34 Jesus het hom toe gevra: "Vra u dit uit u eie, of het ander dit vir u van My gesê?"

35 "Ek is mos nie ‘n Jood nie!" antwoord Pilatus. "Dit is jou volk en jou priesterhoofde wat jou aan my uitgelewer het. Wat het jy gedoen?"

36 "My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie," antwoord Jesus. "As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie."

37 "Dan is jy tog wel ‘n koning?" vra Pilatus. "Dit is soos u sê: Ek is ‘n koning," antwoord Jesus. "Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê."

4. ONS ASSOSIASIE

Met hierdie storie verduidelik Johannes dan hoe ongemaklik dit is. Die storie dwing jou tot standpuntinname – jy kan nie neutraal staan daarteenoor nie. En Jesus vertel toe daar vir Pilatus dat jy nie neutraal kan staan teenoor hierdie Jesus van Nasaret nie.

Aan die een kant – as jy assosieer met Jesus, as jy Hom volg, as jy een van sy manne is, dan moet jy ook maak soos Hy maak, dan moet jy die geweld afsweer, dan moet jy die wraak en die afbreek en die stukkend maak van ander laat los, dan moet jy jouself en jou naam en aansien alles prysgee – want sý manne, sê Jesus, baklei nie.

Aan die anderkant, as jy nie wil assosieer met hierdie Jesus nie, wel dan verbreek jy ook die verbinding met die Here God, dan staan jy buite God se plan, en is dus sonder lewe en sonder toekoms.

Maar nou kom die storie na óns kant toe. Skielik word óns ook weer in die ongemaklike situasie ingedwing.

- Óf ek assosieer my met hierdie vernederde Jesus en maak soos Hy maak, baklei nie soos Pilatus se manne nie;

- óf ek het nie ‘n verhouding met die Here God nie.

Jesus spel dit baie duidelik uit – as jy jou nie met die gekruisigde Jesus wil assosieer nie, dan is daar nie ‘n verhouding met die Here God nie – alleen deur Hom is daar lewe.

5. ELKE DAG SE KEUSE

Maar die keuse vir die vernederde gekruisigde Jesus is nie iets wat ons een maal in ons lewe doen nie – dis voortdurend, elke dag word jy gedwing om te kies tussen: volg Jesus na of volg Pilatus se manier na.

Dink nou maar aan ‘n voorbeeld: iemand gee vir jou ‘n lelike kwetsende antwoord. En net daar moet jy nou die ongemaklike besluit neem: of ek volg Pilatus se manier: neem wraak, verdedig myself, maak oorlog. of ek volg Jesus se manier: my manne baklei nie, neem nie wraak nie.

Of dink aan Jesus wat daar die minste gewees het en die dissipels se voete gewas het (in plaas van hulle koppe) – die vraag is: volg ek in elke situasie Jesus se manier na, kies ek vir Hom, assosieer ek met hierdie Jesus en sy manier van doen?

Dink aan hoe die apostel Paulus die keuse vir Jesus se manier beskrywe: Jesus se manier is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

6. ONGEMAKLIK

Ons vier vandag op hierdie laaste Sondag van die kerklike jaar die koningskap van Jesus – maar die Koningskap van Jesus bring weereens vir ons ‘n ongemaklikheid – as ek my assosieer met hierdie Jesus, as ek een van sy manne of vroue is, dan moet ek dinge op sy manier doen.

Mag die Here ons elkeen help om steeds elke dag vir die Here Jesus te kies, om te assosieer met Hom.

ANTWOORD  Verklaring van ons verbintenis aan die vernederde Jesus  Lied 261 v 1, 2 Ek glo in God, die Vader, almagtig' Skepper Heer, wat hemele en aarde gemaak het en beheer. Sy troon is heerlikheid, en wonderlik sy dade; deur sy geliefde Seun verlos Hy uit genade.

Ek glo in Jesus Christus Hy, van die Gees ontvang, is uit 'n maagd gebore, moes aan die kruishout hang; het graf en dood oorwin as God bo alle gode, sal weer as Regter kom oor lewende en dode.

DANKBAARHEID  Offergawes  Laaste Lied - 175

Majesteit, glansryke heerlikheid! Ons wil Jesus, die koning, hulde bewys! Majesteit, hemelse heerlikheid! Van waar ons woon,tot by sy troon, wil ons Hom prys. Kom ons loof, kom ons besing die Naam van Jesus! Kom ons loof, kom ons aanbid die Here ons God! Majesteit,heilige heerlikheid!

Hy het gesterf, ons heil verwerf,Hy het oorwin!

DIE HERE SE BELOFTE

 Sy magtige Teenwoordigheid

Sunday 22 Nov 2015 John 18 v 33-37 (Sunday of Christ as King)

STILL UNEASY

If we think that the church today is somewhat controversial, we have forgotten how difficult an association with Jesus Christ was when He was on earth. The expectation then was that He had come as an earthly King who would, like king David of old, change circumstances through powerful intervention.

King Jesus, however, was humble and unassuming and people had to make a choice: either I follow the humbled king Jesus and do things his way, or I stand outside of a relationship to Him. Jesus clearly tells Pilate: If my kingdom were of this world, my servants would have fought and not have let me fall into the hands of the Jews. But my kingdom is not from here (John 18 v 36).

We who associate ourselves with Jesus, still have to make the daily choice to do things His way in every situation.


 
 
 

Comentarios


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page