top of page

Die Here Wil Vir Ons Die Lewe Gee

  • Writer: NG Kerk Aberdeen
    NG Kerk Aberdeen
  • Feb 21, 2015
  • 5 min read
22.jpg

22 Feb 2015 Markus 1 v 9-14

Erediens met

Ronell Erasmus

DIE HERE WIL VIR ONS DIE LEWE GEE

Ds Abe Beyers

ONTMOETING

  • Hy groet ons

  • Ons sing ‘n loflied

WOORD-TYD

  • Gebed – aanbidding en intree by die Here

1. MOEILIKHEID

In die gemeente Aberdeen is daar hier en daar gesinne wat nou nie elke dag weet waar hulle kos vandaan gaan kom nie. Maar dis nie die grootste moeilikheid nie – in elke huis hoor jy maar van wat mense gedoen het, van die spanning, van stukkende verhoudings, van mense wat mekaar seermaak of seergemaak het, van hartseer. Ons hoor van mense wat onder die kwaad van ander deurgeloop het, ons hoor van slagoffers van die kwaad van ander.

Twee duisend jaar terug in die tyd toe Jesus mens op aarde was, was dinge nie anders nie – ook toe het mense geworstel met die kwaad wat daar was en die afbrekende werk deur die bose.

RONEL SING

2. JESUS KOM ONDER ONS WOON

Maar nogtans het die mens, Jesus, gekom en deel geword van ons stukkende wêreld.

LEES Markus 1 v 9

Mar 1:9 Jesus het in daardie selfde tyd van Nasaret in Galilea af gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop.

Die woorde “en Jesus het Hom laat doop” vertel van hoe Jesus een geword het met mense en hulle stukkende wêreld, Hy kom assosieer Hom met hierdie wêreld.

As daar een stuk troos vir ons in hierdie stukkende wêreld met sy stukkende mense is, dan is dit die troos dat God onder ons kom woon het, dat Hy nie ver weg is nie, dat Hy een met mense geword het – of te wel, Hy verstaan die stryd waarin ons gedurig is.

GEMEENTE SING MET RONEL

Lied 284 v 1-3

Laat Heer U vrede deur my vloei…

Waar haat is, laat ek daar u liefde bring.

Laat ek in pyn en smart vertroostens wees

En krag gee deur geloof in U, o Heer.

Refrein

O Heer, help my om altyd so te leef –

Om ander hoёr as myself te ag,

Ja, om lief te hê – ander bo myself,

En ook eerder te gee as te verwag.

Laat, Heer, U vrede deur my vloei…

En laat ek hoop gee waar daar twyfel is.

Ek wil U lig in duisternis laat skyn,

Laat ware vreugde altyd uit my straal.

Refrein

Laat, Heer, U vrede deur my vloei…

Leer my om ook soos U te kan vergeef.

Maak my bereid om aan myself te sterf,

Dat ander U al meer in my kan sien.

3. JESUS OP SY EIE

En dan lees ons van hierdie Jesus wat daar op sy eie die woestyn in is – om daar deur die satan versoek te word.

LEES Markus 1 v 12 – 13

Mar 1:12 Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in,

Mar 1:13 waar Hy veertig dae lank gebly het en deur die Satan versoek is. Jesus was daar saam met die wilde diere, en die engele het Hom versorg.

Ons ken die storie goed – Matteus vertel in baie meer detail van wat daar gebeur het.

Net soos met ons as mense kom die versoeker en hy gebruik menslike behoeftes:

- dinge soos honger en dors,

- die behoefte aan die beskerming van jouself,

- die behoefte aan mag en aansien.

Die versoeker gebruik hierdie behoeftes om Jesus as mens daar te laat toegee, te laat ingee.

Maar genadiglik gee Jesus nie toe aan hierdie tipiese versoekings nie – Hy bied weerstand daarteen – en die satan kom tweede. Hy hy kry dit nie reg om Jesus te laat toegee aan sy eie belange nie.

En dis maar dieselfde soort versoekings wat ons elke dag beleef – elke dag probeer die satan ons verlei dat jy eerder sorg vir jou eie belange, dat jy eerder net maar aan jou eie voorspoed en jou eie lewe dink.

Die implikasie is dat, omdat Jesus Hom geassosieer het met ons, het Hy namens ons daar in ons plek weerstand gebied – en oorwin.

GEMEENTE SING MET RONELL

Lied 516 v 1,2

Voel jy soms of die Here te ver is?

Twyfel jy soms aan God se bestaan?

Jy moet glo dat die Heer met jou saam loop;

Dat sy Gees oral met jou sal gaan.

Jesus sê Hy kom weer, Hy kom uit die hemel neer –

Met basuin en geskal kom Hy al sy mense haal.

Voel jy soms of die Here t ever is?

Twyfel jy soms aan God se bestaan?

Jy moet glo dat die Heer met jou saam loop;

Dat sy Gees oral met jou sal gaan

Deur sy Woord weet ons Jesus gaan t’rugkeer,

Na ons wêreld met alles daarin.

Wat gebreek is sal Jesus kom heelmaak;

Deur sy Woord wee tons alles maak sin.

Hoor hoe sag waai die wind, kyk die glimlag van ‘n kind.

Maak jou los van die kwaad, dis jou Skepper wat hier praat.

Voel jy soms of die Here te ver is?

Twyfel jy soms aan God se bestaan?

Jy moet glo dat die Heer met jou saam loop,

Dat sy Gees oral met jou sal gaan.

4. PLAN VAN DIE VADER, SEUN EN GEES

LEES Markus 1 v 10 – 11

Mar 1:10 Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos ‘n duif na Hom toe sien neerdaal.

Mar 1:11 Daar was ook ‘n stem uit die hemel: "Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My."

Ek dink nie ons sien dit elke dag raak nie, maar hierdie koms van Jesus aarde toe was nie maar net Jesus se eie plan nie – dit was ‘n vooraf uitgewerkte plan van God die Vader, en die Gees van God was ook daar teenwoordig om vir Jesus die leiding te kom gee. Dit was ‘n Goddelike drie-enige aksie ter wille van mense.

RONELL SING

5. JESUS BRING LEWE

Maar nou sit ons nog steeds en wonder: wat het ons sukkel op aarde en die koms van Jesus Christus – wat het dit nou te doen met ons? Dis nou alles goed en wel om die dinge te hoor, maar wat het dit met my gesukkel vandag te doen?

Jesus het destyds daar langs die Jordaanrivier Homself met ons kom assosieer – en toe het Hy ook namens ons daar in die woestyn gehoorsaam gebly aan die Vader se plan dat Hy nie selfsugtig moet wees en Homself verdedig nie.

Ons kan dit ook sό sê: ten minste was daar een Mens - Jesus - wat nie toegegee het aan sy selfsugtige begeertes en eie belang nie – en omdat daar een Mens was, daarom sê die Vader: dit is goed.

Daarom is daar nou vrede tussen ons en God.

Maar daar is meer – vir elkeen wat nou vertrou op hierdie Jesus wat namens ons gehoorsaam gebly het, vir daardie een sê die Here: Ek gaan jou help en Ek gaan jou in staat stel om ook NEE te kan sê soos Jesus; Ek die Here gaan met my Gees jou gedurig herinner daaraan om vir ander te leef, om te kom omgee vir ander.

Daarom kán ons nou ook regtig lewe soos Jesus, nou kán ons ook regtig vir ander lewe.

En daarom kan ons deur die krag van die Gees wat in ons werk ophou om mekaar seer te maak,

ophou om selfsugtig te wees,

ophou om net aan ons eie belang te dink

– sodat daar vrede kan kom, sodat mense nie in vrees lewe nie.

En dit geld nie net vir my as indiwiduele gelowige nie

- ook daar in die gesin,

- ook daar waar ek in die skool is,

- ook ons as gemeente saam is ‘n groep mense wat nie meer net aan ons eie belang dink nie.

Dis was wat Jesus kom bewerk het!

DANKBAARHEID

  • Offergawes

RONELL SING

SEёNBEDE


 
 
 

Comments


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page