"Ek en die Here sal..."
- Ds Abe Beyers
- Mar 17, 2015
- 9 min read

"Ek en die Here sal...."
Ds Abe Beyers
ONTMOETING
Ons erken die Here God
Hy groet ons
Ons sing ‘n loflied vir Hom – 205 v 1, 2
Bring lof aan die Vader, verheerlik die Seun,
vir liefde, genade, verlossing en steun
dat elkeen wat glo nie verlore mag gaan
maar ewig voor Hom as verloste kan staan.
Loof die Heer, loof die Heer - sing, gelowiges, saam!
Loof die Heer, loof die Heer - prys sy heilige Naam!
Hy kom uit genade ons sondes versoen
dat ons Hom vrymoedig ons Vader kan noem.
Ons lof aan die Skepper wat altyd getrou
sy kerk hier bewaar, dit vernuwe en bou -
ons bly inspirer en ons stuur deur sy Gees
om sout en om lig vir die wêreld te wees.
Loof die Heer, loof die Heer - sing, gelowiges, saam!
Loof die Heer, loof die Heer - prys sy heilige Naam!
Hy kom uit genade ons sondes versoen
dat ons Hom vrymoedig ons Vader kan noem.
VERHOUDINGS-TYD
Wie is die Here?
Die Redder-God (Eksodus 20v2)
2 "Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van
slawerny, bevry het”.
En nou ons?
3 Jy mag naas My geen ander gode hê nie.
Ons antwoord met Lied 308 v 1, 2, 3
Neem my lewe, laat dit, Heer,
U gewy wees meer en meer.
Laat my hart gedurig juig
en van dankbaarheid getuig.
Neem my hande, maak hul sterk
diensbaar in u goeie werk.
Neem my voete, skoei hul, Heer,
met bereidheid tot u eer.
Neem my stem en laat my sing
aan U, Here, hulde bring.
Laat my mond dié boodskap dra:
Hul sal vind wat na U vra.
WOORD-TYD
Gebed
Woord – Eksodus 3
1. UITDAGINGS VAN CHRISTEN-WEES
Ek het probeer dink wat die uitdagings is wat ons as gelowiges ervaar. Kom ons dink eers aan die klein sirkeltjie – die gesin. Die uitdaging van Christen-wees is om deur die krag van die Here dáár in vrede te lewe, om daar in die klein groepie vir mekaar om te gee, om mekaar te vergewe, om daar in die gesin teen ons eie selfgerigtheid weerstand te bied. Of as daar in die gesin een of ander vorm van swaarkry en lyding is, dan is die uitdaging ook om dié dinge as kinders van die Here te hanteer, om nie moed te verloor nie, om steeds blymoedig te wees.
Die uitdaging van in vrede lewe is ook dieselfde vir die gemeente en vir die kerk in die breë. Ons moet as kinders van die Here leef onder mekaar en tussen mekaar en met mekaar.
So terloops, ek het nogal die afgelope week met ‘n skok ontdek dat dit vir baie van ons lidmate ‘n verleentheid is om te assosieer met die gemeente, om te sterk uit te kom tussen jou vriende vir jou verhouding met die Here.
Maar daar is ook ander soort uitdagings. Die gelowige moet ook daar buite in die wêreld leef, hy moet ook daar ‘n getuie wees, hy moet ook daar buite die kwaad aanspreek. Jy gaan uit die veilige ondersteunende omgewing van gesin en gemeente na die woeste wêreld daar buite, daar waar onreg en kwaad is, daar waar allerhande verkeerde dinge is - en dan moet jy ook dáár as ‘n getuie vir die liefde van die Here gaan lewe, dáár ‘n advertensie wees.
Soms gebeur dit ook dat jy woorde moet gebruik en dan die verkeerde en die onreg en die kwaad aanspreek – soms sommer daar in jou werkplek waar dit ook al mag wees.
2. MOSES SE UITDAGING
Moses van die Bybel se uitdaging was ook op hierdie vlak – hy moes die kwaad gaan aanspreek, soort van in die leeu se bek instap.
LEES: Eksodus 3 v 7-8a, 10
Eks 3:7 Daarna sê die Here: "Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem.
8 Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ‘n goeie en uitgestrekte land, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.
3:10 Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry."
Moses as voormalige prins, nou skaapwagter, moes in opdrag van die Here die koning van Egipte gaan aanspreek. As gelowige moes hy nou gaan en die koning gaan aanvat oor die onreg en uitbuiting van mense.
Ek kan my nie eers naastenby daarin indink in hoeveel spanning hierdie opdrag van die Here vir Moses moes gebring het nie.
3. MOSES SE BESWARE
En nou kan ons ook nogal verstaan dat Moses hom seker wit moes geskrik het toe hy hoor wat die Here van hom vra.
LEES Eks 3 v 11
Eks 3:11 Toe sê Moses vir God: "Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?"
4. DIE HERE SE TROOS
Maar dan hoor ons hoe die Here God geduldig vir Moses bemoedig en sy vrae beantwoord.
LEES Eks 3 v 12 – 14
Eks 3:12 God het Moses geantwoord: "Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dít wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid."
13 Daarna sê Moses vir God: "Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?"
14 Toe sê God vir Moses: "Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur."
4.1 Die grootste en belangrikste belofte gee die Here heel eerste:
Moses gaan nie alleen nie – die Almagtige God gaan saam met Moses.
En ons kan maar weer van die belofte kennis neem – dink net hoe die Here Jesus daar in Matteus 28 dieselfde belofte deurgee: Kyk Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding.
4.2 En asof dit nie al heeltemal genoeg is nie, gee die Here ook nog vir Moses die versekering dat hy nie hoef te worry nie, want die plan is klaar uitgewerk en die Here God weet wat in die toekoms gaan gebeur – as Moses en die Israeliete later hier verbykom op pad na die beloofde land, dan gaan hulle die Here aanbid op hierdie berg.
4.3 En dan gee die Here ook nog vir Moses so ‘n stukkie persoonlike inligting: As Moses vra: “wat moet ek vir die klomp Israeliete gaan sê: wie stuur my?” Dan moet hy antwoord: “Ek is” het my gestuur. Daarmee bedoel die Here om te sê: Ek is, Ek is dieselfde Here wat 400 jaar van te vore die Here was van Abraham, Isak en Jakob. Maar ook meer: Ek sal ook dieselfde Here in die toekoms wees - “Ek, die Here, is altyd”.
5. VERRASSING
Ons kan onsself nou indink in Moses se situasie – hoe hy aanvanklik ontsteld was oor die opdrag van die Here - maar hoe het die Here toe vir hom al die toerusting gegee wat nodig is.
– en nou is Moses vol moed en opgecharge en op spoed om die opdrag te gaan uitvoer – want wat kan jy nou meer nodig hê as net maar die woorde: Die Here God gaan saam met jou. Dis mos nou heeltemal genoeg.
Maar die Here werk nie so nie – en dis die verrassing van die storie.
LEES Eks 3 v 16, 17, 18
Eks 3:16 "Gaan roep nou die leiers van Israel bymekaar en sê vir hulle: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob, het aan my verskyn en gesê: Ek weet van julle en Ek weet ook wat julle aangedoen word in Egipte.
17 Ek het besluit om julle te laat wegtrek uit die ellende van Egipte na die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, na ‘n land wat oorloop van melk en heuning.’
18 "Die leiers van Israel sal na jou luister, en dan moet jy en hulle na die Egiptiese koning toe gaan en vir hom sê: ‘Die Here die God van die Hebreërs het Hom aan ons geopenbaar. Laat ons asseblief drie dagreise ver die woestyn in trek om vir ons God, die Here, ‘n offer te bring.’
Die opdrag is nie maar net eenvoudig:
“Jy gaan praat nie eerste met die Farao, die koning van Egipte nie”.
Let weer op na vers 18: “Jy en hulle, die leiers van die Israeliete gaan saam soontoe”. Moses moes eers na die leiers van die Israeliete toe gaan en hulle oortuig en hulle ondersteuning kry vir die opdrag wat hy moet gaan uitvoer.
Ek kyk die afgelowe week weer na die video van Stephan vd Watt waar hy vertel van die kerk se werk daar in Japan en die moeilike omstandighede en die vreemdheid van die kultuur van die mense – maar hoeveel keer kom dit deur dat hy nie alleen daar werk nie – hy werk met die ondersteuning van die NG kerk hier in Suid-Afrika. Hy staan maar net daar op die voorpunt, maar dis ‘n reuse groep mense wat agter hom staan, wat spreekwoordelik sy hande omhoog hou.
Nou nader na ons toe: Ons kan die gedagte van Eksodus 3 nou indiwidualisties sien – ons kan bv dink dat die man vanoggend uit sy huis uitgaan en hy weet hy gaan werk in ‘n omgewing waar die Here God nie erken word nie – maar hy gaan vol moed uit soontoe, want hy weet dat sy gesin vir hom intree by die Here. Hy gaan vol moed, want hy gaan nie sommer net so op sy eie nie. Hy durf sy werk van die dag aan, want daar is die geestelike ondersteuning agter hom.
Maar ons kan ook die gedagte van Eksodus 3 wyer sien. Die gemeente van die Here hier het mos ‘n rol om te speel, ‘n werk om te doen – dit gaan nie maar net dat ons onder mekaar in vrede moet leef nie – dit gaan mos daaroor dat ons as gemeente ‘n verenigde front vorm teen die kwaad daar buite. Ons kom hier in die kerkgebou bymekaar en ons bid saam en ons sing saam en ons ervaar die nabyheid en troos en bemoediging van die Here en dan gaan ons Maandag uit in die wêreld in en bied weerstand teen die kwaad en onreg en uitbuiting en verkeerde dinge wat ons daar ervaar.
Ek dink julle het nou ook al twee en twee bymekaar gesit en besef die prentjie van Eksodus 3 het nog verdere implikasies.
Dit gaan nie net oor NG gemeente Aberdeen nie. Ek sien ‘n groter prentjie: gelowiges kom bymekaar om die teenwoordigheid en nabyheid en ondersteuning van die Here te ervaar – en dan gaan die Mosesse uit om Christen te gaan wees in ‘n stukkende wêreld.
Ja, ons as gesinnetjie as ‘n gemeentetjie daar in die kleine kom bymekaar en beleef die krag van die Here SODAT ons kan uitgaan. Maar gelowiges moet ook as groter groep, as die Christene van die land saam op ‘n manier die Here se teenwoordigheid beleef SODAT hulle ‘n groter verenigde front teen die kwaad in die land kan bied.
Dink nou maar as ‘n Moslem, of ‘n Bhoedis hier in die dorp nou wonder oor die Christelike geloof – waar gaan hy hulle soek? Gaan dit duidelik wees hierdie klomp mense is die Christene – één front van mense wat agter die Mosesse staan?
Net soos wat Moses daar voor die koning van Egipte kon gestaan het, met die wete dat die Here saam met hom daar teenwoordig is, maar ook met die wete dat ‘n miljoen of wat Israeliete agter hom staan.
Want dan gebeur daar groot dinge.
Amen
ONS ANTWOORD
Lied 214 v 1, 2, 3
Here, ons sal U loof,
u weldade roem.
U Naam sal ons eer,
almagtige Heer,
want U het wonders gedoen.
Here, ons sal U loof.
U het ons verlos,
uit duister bevry;
ons harte verbly -
dit het u lewe gekos.
Here, ons sal U loof,
u weldade roem.
Dis U wat voorsien,
ons wil U graag dien
en U ons Vader noem.
VERKLARING
‘n Verklaring van vertroue in God
DANKBAARHEID
Offergawes
Laaste Lied – 486 v 1, 2, 3
Bring aan die volke die boodskap
van hoop en bevryding!
So sê die Here,
verkondig al verder die tyding:
"Daar is my kneg!
Hy bring aan nasies die reg -
volg Hom getrou in sy leiding."
Hy, die geliefde,
die enigste daartoe verkore,
ly vir ons sonde en red ons,
in sonde verlore.
Die Kind word Kneg!
Hy neem ons sondeskuld weg
Hy wat verstaan, sal die riet
wat geknak is, nie breek nie.
Hy laat die swakke, verdrukte nie
vrugteloos smeek nie.
Die Kneg is Heer!
Duisende wag op sy leer -
SY BELOFTE
Hy gee ons sy teenwoordigheid
Comments