top of page

'n Nuwe Gemeenskap Onder Leiding van Jesus.

  • Writer: NG Kerk Aberdeen
    NG Kerk Aberdeen
  • Jan 20, 2015
  • 9 min read
7.jpg

Matt 16: 13 - 20 Sondag 18 Jan 2015

‘N NUWE GEMEENSKAP ONDER LEIDING VAN JESUS

Ds Abe Beyers

VOORSANG

Lied 203:1

Loof die Here,

al wat lewe,

wil Hom dank en hulde bring

Hy het al ons skuld vergewe;

ons 'n nuwe lied laat sing.

Loof Hom, prys Hom!

Loof en prys Hom!

Loof die Vader,

God en Heer!

Loof Hom wat in groot genade

ons deur eeue heen behou;

loof Hom vir sy reddingsdade -

vas kan ons op Hom vertrou.

Loof Hom, prys Hom!

Loof en prys Hom!

Hy's genadig en getrou.

ONTMOETING

Ons erken sy teenwoordigheid

Hy groet ons

Ons sing ‘n loflied – 267 v 1, 2

Ons Vader op die

hemeltroon

aan wie ons lof en eer betoon,

ons bid ootmoedig almal saam:

Gee dat u goddelike Naam

deur ons geken, geëer, gevrees -

in alles mag geheilig wees.

Laat Heer u Koninkryk steeds kom

in hierdie land en oral om.

Die skepping is u magsgebied

waar u volmaakte wil geskied -

vanuit die hemel om u troon

tot waar ons op die aarde woon

VERHOUDINGSTYD

  • Wie is Jesus (Matt 16v16)

Simon Petrus het geantwoord: "U is die Christus, die Seun van die lewende God."

  • En nou ons?

  • Toe sê Jesus vir sy dissipels: "As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry.

WOORD-TYD

  • Gebed

  • Woord – Matteus 16 v 13 - 20

1. WAT IS DIE KERK?

Hier op Aberdeen staan in die middel van die dorp ‘n groot gebou. Dis nogal ‘n baie mooi ou gebou – soveel so dat baie toeriste hier kom kyk hoe lyk die gebou binnekant, daar word 1000e fotos daarvan geneem – maar wat is die gebou nou eintlik? Julle wat hier sit vanoggend sal dadelik sê dat dit net ‘n gebou is, ‘n plek waar die gemeente Aberdeen bymekaar kan kom, dis net ‘n plek waar mense die Here kan kom aanbid, ‘n ruimte daarvoor.

Maar nou kom ons by die tweede vraag? Wie is ons? Hoe beskryf ons onsself?

(bespreking)

  • sosiale klub wat gereeld bymekaar kom om die lede op te beur en te vertroos en aan te moedig en op te vrolik?

  • groep olv iemand wat die lede moet inspireer en stuur en aanmoedig?

  • diensorganisasie wat gereeld vergader om die lede uit te stuur om die nood rondom ons te hanteer en te bestuur?

2. DIE DISSIPELS HET OOK GEWONDER WIE IS HULLE

2000 jaar terug was daar ook ‘n groepie mense en hulle het ook gewonder wie hulle is. Hulle was taamlik onseker oor waar pas hulle in, wie is hulle nou eintlik? Die groepie was die dissipels van Jesus.

In hulle gedagtes was daar twee prentjies. Aan die een kant was daar die groot verwagting dat die Here God gaan ingryp en ‘n Nuwe Verlosser stuur wat finaal ‘n einde gaan maak aan die gevolge van die ballingskap van 500 jaar van te vore en weer van die Israeliete ‘n nasie gaan maak waarmee rekening gehou moet word, ‘n naam op die kaart, ‘n magtige nasie wat in vrede olv hulle eie mense staan.

Die klompie dissipels het ook gewonder oor hierdie Jesus – is Hy nou die Gestuurde van God wat die nuwe orde gaan begin, en is hulle nou die hoofamptenare, die parlementslede van hierdie nuwe orde? M.a.w. wat is hulle posisie in volksverband?

Ook was daar by die dissipels die prentjie van die kerk van destyds, die kerk olv die fariseers en die sadduseers en die priesters en die skrifgeleerdes, en die tempel daar in Jerusalem - en nou die vraag by hulle: waar pas ons in, wie is ons? Ons ou klompie mensies daar van die agterterkant van die land, ons die klompie vissermanne – wie is ons nou eintlik in 'kerkverband?

3. JESUS DIE AANGEWYSDE

En dan begin Jesus om hulle vrae vir hulle te beantwoord.

LEES vs 13-16 en 20

Mat 16:13 " Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: "Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?"

14 Hulle antwoord: "Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.“ "Maar julle," het Hy gevra, "wie, sê julle, is Ek?"

16 Simon Petrus het geantwoord: "U is die Christus, die Seun van die lewende God.“

Mat 16:20 Toe het Jesus sy dissipels beveel om vir niemand te sê dat Hy die Christus is nie."

As ons daardie dag daar tussen die dissipes moes gestaan het, sou ons aanvanklik baie opgewonde gewees het.

Om te dink: hier word nou vir ons vertel: Nee, die Jesus is nie sommer só iemand nie, Hy is nie sommer ‘n ou profeet soos Elia of Jeremia wat weer gekom het nie; die Jesus is nie op daardie vlak nie. Nee, die keer is dit die groot oomblik, want die aangewysde deur God, die Een wat van God af kom, is nou hier tussen ons.

Ons kan hulle opgewondenheid verstaan, want dit maak hulle as dissipels iets besonders.

Hulle is nou deel van hierdie ingryping deur God – die groot oomblik in die geskiedenis is nou hier, die Nuwe Orde gaan nou begin, alles gaan nou verander.

Dit gaan die einde wees van die Romeinse Weermag wat oor hulle regeer het, die einde van die oorheersing deur vreemde nasies – hulle gaan weer die magtige volk word soos in die tyd van koning Dawid. En om te dink hulle klompie vissermanne is ingesluit by hierdie dramatiese oomblik.

Maar dan moes daar ook ‘n teleurstelling gewees het, miskien verwarring by die klompie dissipels. Jesus gooi koue water op hulle opgewondenheid. Hy sê vir hulle: Ek is nie daardie Messias wat julle dink nie, moenie eers daarvan praat nie, moenie eers dit noem nie – Ek is nie ‘n De la Rey nie,

Ek is nie ‘n politieke Verlosser wat die Romeine in die see in gaan jaag en weer daar in Jerusalem op ‘n troon gaan sit nie. Dus gaan julle as dissipels ook nie die eerste ministers in die parlement wees nie. Julle gaan ook nie magtiges wees nie.

4. WIE IS ONS DAN?

Nou eers weer nader na ons toe – miskien beleef ons ook VANDAG iets van daardie verwarring van, "wie is ons nou eintlik?"

Hier is vandag ‘n paar mense wat ons noem die NG gemeente Aberdeen – en ons sit met baie frustrasie rondom die gemeente – want ons dink nou die groep mense moes só wees, moet só optree, moet súlke dinge doen – elkeen van ons het ‘n prentjie in ons kop.

En dan kritiseer ons die ander wat nie doen soos ons doen nie, want ons het ‘n eie prentjie van wie ons is.

As die ander se klere nie is soos ek dink dit behoort te wees nie, dan is ek ongelukkig.

As die ander nie sing soos ek sing nie, dan is dit nie reg nie.

As die ander nie lyk soos ek nie, dan hou ek nie daarvan nie; dan kla ek daaroor.

En nou kom Jesus en Hy gee die ware prentjie deur van wie is die dissipels, wie is die kerk en wie is ons.

LEES vs 17

"Gelukkig is jy, Simon Barjona," het Jesus vir hom gesê, "want dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie."

Ons is dus nie mense wat sommer self besluit het ons hou van hierdie organisasie en ons hou van die Leier Jesus en nou wil ons ook deel wees van hierdie organsisasie nie.

Nee, lede van hierdie organsisie is mense wat deur die Here self soontoe getrek is, wat self deur die Here verander is. Dis die Vader wat jou tot daar gebring het. Jy is uitgesonder uit die miljoene ander mense uit. Jy kan nie sommer net sê dat jy het vir hierdie Here gekies en nou is jy deel van sy organisasie nie – die Here het jou soontoe gebring.

Om dit nog duideliker te sê: die organisasie wat ons die kerk noem, is die mense wat deur die Here afgesonder is, dis sy mense. En Hy het nogal mense op snaakse plekke waar ons hulle nie gaan verwag nie. Selfs hier op die dorp of dalk daar op ‘n plaas of op ander snaakse plekke waar ons nou nie dink daar is kinders van die Here nie.

En nog meer: Kan julle ook die ongemaklikheid aanvoel rondom die grense wat ons trek rondom witmense alleen, Afrikaanssprekend alleen, NG kerk alleen, ‘n sekere kleredrag alleen, ‘n sekere posisie – ons vind die Here se kinders orals in die samelewing.

5. TROOS

Maar dan as ons so moedeloos voel oor die kerk en die gemeente en die organisasie, dan is daar die wonderlike belofte – die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Soos Jesus self op ‘n ander plek belowe: “En niemand sal hulle uit my hand uitruk nie”.

Die bose sal veg teen die Here se organisasie – sy kerk - maar ons het hierdie troos dat wie só deur die Here geroep is, wie só deur die Here nadergetrek is, nie deur die bose oorweldig sal word nie.

Natuurlik verwys die belofte nie direk na die NG gemeente Aberdeen nie –

die belofte beteken nie dat die Here hierdie gebou en hierdie organisasie wat ons hier die gemeente noem, vir ewig net so sal laat voortbestaan nie Hy belowe sy organisisasie sal nie deur die bose oorweldig word nie.

6. DEUR MENSE

En nou kom die vraag by ons op. As ons dan nou totaal deur die Here afgesonder is, as ons so deur Hom deel gemaak is van sy kerk - wat is ons as organisasie dan veronderstel om te doen, waarvoor is ons hier? Beteken ons dan enigiets in hierdie organisasie?

Maar dan teken Jesus die volgende prentjie vir die dissipels:

LEES v 19

"Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly."

En daarmee wil Jesus nou die anderkant van sy prentjie vir ons deurgee – wie ons is.

As die Here sy kerk bou, sy volk, sy gemeente – dan werk Hy nie sónder ons nie. Hy werk deur mense om mense te bereik. Hy werk deur die woorde van ou Petrus ‘n jaar of wat later en 3000 mense word skielik bygevoeg tot die groep.

En daarmee wil die Here ook vir jou vanoggend iets sê: Hy gebruik ook vir jou, jy as eenvoudige mens, wat dalk nie al die talente het wat die ander het nie, wat nie dinge so kan doen soos die ander nie, wat nie lyk soos die ander nie – die Here werk deur mense om mense te bereik.

Natuurlik werk die Here ook in mense om hulle te verander. So moes dieselfde Petrus drie versies verder hoor dat hy vir die Here ‘n struikelblok is, dat hy sommer van die duiwel is.

En daarom kan en moet ons ook na mekaar oplet, ons moet na mekaar omsien, want die Here wil deur ons werk aan die mense rondom ons. En daarom kan ek ook maar by daardie een wie ek nog nooit hier in die kerkgebou gesien het nie, navraag doen of hy nog een is met ons? – want die Here werk deur mense in mense in.

En daarom kan ek ook maar orals in die dorp en daar tussen my vriende vertel van die wonderlike magtige Heerser wat gekom het, die Heerser wat sy Nuwe Orde bou, wat besig is om mense te verander en uit die magte van die doderyk uit te haal.

7. AANMOEDIGING

Lees Genesis 9 v 16

Gen 9:14 "Wanneer Ek wolke oor die aarde laat saampak, en die reënboog verskyn in hulle,

sal Ek dink aan my verbond met julle en al die wilde diere volgens hulle soorte. Daar sal nooit weer vloedwaters kom wat alle lewende wesens uitroei nie.

16 Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond tussen My en al die lewende wesens op die aarde."

Foto van reenboog en kerk

8.jpg

ANTWOORD

  • Lied 214 v 1, 2, 3

Here, ons sal U loof,

u weldade roem.

U Naam sal ons eer,

almagtige Heer,

want U het wonders gedoen.

Here, ons sal U loof.

U het ons verlos,

uit duister bevry;

ons harte verbly -

dit het u lewe gekos.

Here, ons sal U loof,

u weldade roem.

Dis U wat voorsien,

ons wil U graag dien

en U ons Vader noem.

DANKBAARHEID

  • Offergawes

  • Laaste Lied – 486 v 1, 2, 4

Bring aan die volke die boodskap

van hoop en bevryding!

So sê die Here,

verkondig al verder die tyding:

"Daar is my kneg!

Hy bring aan nasies die reg -

volg Hom getrou in sy leiding."

Hy, die geliefde,

die enigste daartoe verkore,

ly vir ons sonde en red ons,

in sonde verlore.

Die Kind word Kneg!

Hy neem ons sondeskuld weg

ons word in Hom weergebore.

As Hy ons roep tot sy diens -

hoe sal ons dit mag weier?

Hy is almagtig, genadig,

die troue bevryder.

Christus gee krag,

klee ons met koningsgesag -

Hy is ons Koning en Leier.

DIE HERE SE BELOFTE

  • Die magte van die duisternis sal dit nie oorweldig nie


 
 
 

Comments


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page