top of page

Ontmoetings is vir Inspirasie

  • Writer: NG Kerk Aberdeen
    NG Kerk Aberdeen
  • Feb 14, 2015
  • 8 min read
3.jpg

15 Februarie 2015

Markus 9: 2-8

ONTMOETINGS IS VIR INSPIRASIE

Ds Abe Beyers

ONTMOETING

  • Ons erken die Here se grootsheid

  • Hy groet ons

  • Ons sing dankbaar lied 188 v 1, 3

Kom, dank nou almal God

met hart en mond en hande;

loof Hom wat wonders doen

tot in die verste lande.

Van vroeg, van kindsbeen af,

het Hy ons trou bewaar

en tot vandag toe nog

geseën en gespaar.

Lof, eer sing ons voor God,

die bron van alle lewe -

die Vader, Seun en Gees,

almagtig en verhewe.

Drie-enig God, ons roem

u krag en majesteit.

O Heer, ons wil U noem:

ons God in ewigheid!

VERHOUDING

Hoe is die Here en hoe is ons?

Markus 9 v 33-36

Mar 9:33 Toe hulle daarna in Kapernaum by die huis kom, het Hy vir hulle gevra: "Waaroor het julle langs die pad geloop en praat?"

34 Hulle het egter niks geantwoord nie, want hulle het langs die pad met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is.

35 Jesus het gaan sit en die twaalf geroep. Hy sê toe vir hulle: "As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees."

36 Toe het Hy ‘n kindjie geneem en hom tussen hulle laat staan. Hy het sy arm om hom gesit en vir hulle gesê: "Elkeen wat so ‘n kindjie in my Naam ontvang (aanvaar), ontvang My; en elkeen wat My ontvang,

(aanvaar) ontvang nie net vir My nie, maar ook vir Hom wat My gestuur het."

Ons antwoord met Lied 488 v 1, 3

Helder skyn u lig vir die nasies,

'n vreugdeglans om die mense te verlig

tot die hele wêreld kan sien

U is die lig.

Mag u lig, Heer, deur ons skyn.

Balsem bring herstel vir die wonde,

'n sagte salf vir die mense met hul seer

tot die hele die wêreld kan sien

dat U genees.

Mag U troos, Heer, deur ons bied.

WOORD-TYD

Gebed – aanbidding en intree by die Here

Woord – Markus 9 v 2- 8

1 ONTMOETINGS

Ons het vanoggend hier bymekaar gekom nie maar net om kerk toe te kom nie, nie maar net om Nagmaal te kom saam vier nie – ons is mos hier bymekaar vanoggend om rustig te word in die Here God se teenwoordigheid, en om iets van Hom te beleef, om bemoedig en vertroos te word, om soos ‘n kind op my pa se skoot te sit om iets van sy nabyheid te beleef.

Of ons kom as wyk bymekaar en deur gebed en sang kom ons agter die Gees van God was daar by ons teenwoordig en ons het daar sy nabyheid belewe.

Of ons as gesinnetjie kom bymekaar rondom die kombuistafel en daar bid ons saam en daar beleef ons dat die Here ons gebed verhoor het, dat Hy daar by ons was.

En daarom sing ons dankbaar van die Here se grootsheid en sy genade en sy omgee, want die Here was op ‘n wonderbaarlike manier by ons teenwoordig.

Die vraag vanoggend is:

wat is die doel van sulke ontmoetings met die Here?

Wat is die doel van ontmoetings met die Here God soos wat Moses op die berg gehad het, of soos die profeet Elia gehad het?

Is dit iets wat ons moet soek, is die ontmoetings iets wat ons moet nastreef, moet probeer ervaar?

2. PETRUS

Jesus se dissipels het destyds die intieme teenwoordigheid van die Here Jesus beleef.

Hulle was daar toe Jesus mense van hulle kwale genees het,

hulle was daar toe Jesus vir die skares kos gegee het van ‘n paar broodjies en vissies. En hulle het besef: die Here God is hier teenwoordig.

En nou gaan ons lees van die hoogtepunt van hierdie ontmoetings tussen die dissipels, of dan nou net drie van hulle, die ontmoeting met die wonderwerkende Jesus.

LEES Markus 9 v 2-4, 7

Mar 9:2 Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en hulle op ‘n hoë berg gebring waar hulle heeltemal alleen was. Toe het sy voorkoms voor hulle oë verander, en sy klere het blink geword, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie.

4 Elia en Moses het toe aan hulle verskyn en met Jesus gestaan en praat.

7 Daar het toe ‘n wolk gekom wat sy skaduwee oor hulle laat val het; en uit die wolk het daar ‘n stem gekom: "Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom."

En daar beleef Petrus en die ander twee die werklike Jesus, Jesus die Seun van God.

Maar Petrus het hierdie wonderlike ontmoeting, hierdie belewenis van God se teenwoordigheid misverstaan. Vir hom het dit ‘n doel in sigself geword. Hy wou hierdie stukkie hemel op aarde vashou. Later toe Jesus praat van vernedering, van verwerping deur die mense, van uitgeskel word – toe wou Petrus niks daarvan weet nie. Petrus wou vashou aan hierdie stukkie hemel op aarde.

LEES Markus 9 v 5-6

Mar 9:5 Toe sê Petrus vir Jesus: "Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia."

6 Hy het nie geweet wat hy sê nie, so verskrik was hy saam met die ander.

3. ANTWOORD

En daarom vra ons weer: wat is die doel van sulke hemelse ontmoetings, sulke belewenisse van die Here God se teenwoordigheid, sulke intieme oomblikke saam met die Here?

En dan is die antwoord:

- dit dien vir ons as inspirasie om uit te gaan en ons rol daar

buite te gaan speel;

- dit help ons om moed te hou in die wêreld daar buite,

- die ontmoetings help ons om aan te hou om liefde te gee vir

mense,

- om aan te hou vrede maak,

- om aan te hou bemoedig en troos,

- om aan te hou barmhartig wees vir ander.

- Ontmoetings met die Here help ons om steeds die vernederde

Jesus na te volg in ‘n stukkende wêreld.

Petrus het die ontmoeting misverstaan - die dissipels se ontmoeting daar met die werklike Here Jesus, was net tydelik – hulle moes weer afgaan van die berg af en weer terug na die lewe van weerstand en konfrontasie.

Mar 9:14 Toe hulle weer by die ander dissipels kom, sien hulle ‘n groot menigte mense daar rondom hulle en skrifgeleerdes wat met hulle redeneer.

4. NADER NA ONS TOE

Terug na ons toe – ons het elke Sondag ‘n geleentheid waar die Here belowe dat Hy teenwoordig is, ons het allerhande ander byeenkomste, of ons as gesinnetjie kom bymekaar of dalk is dit jy stoksielalleen daar êrens ver weg waar jy die Here ontmoet en sy teenwoordigheid belewe – maar dis nie die eindpunt nie. Die ontmoetings met die Here is nodig, ek mag dit nie verwaarloos nie, maar dis nie al van Christenwees nie.

Die ontmoetings met die Here moet vir my as gelowige inspireer om aan te hou leef as kind van God in ‘n stukkende wêreld. Die implikasie is, as ek nie van tyd tot tyd stil word in God se teenwoordigheid nie, gaan ek nie die krag en moed hê om aan te hou om Christen te wees nie.

En daarvoor vier ons die Nagmaal – die intieme stukkie saam-eet met Jesus, sodat ons die krag sal hê om staande te bly in hierdie stukkende wêreld waarin ons bly. Hy laat ons saam met Hom brood en wyn geniet – sodat ons kan onthou ons deel in sy lewe, wat Hy vir ons deurgegaan het en waar Hy ook nou met ons is.

  • STORIE VAN DAWID PYPER

Dit was 'n tyd van godsdienstige konflik aan die Kaap. Sendingwerk onder die Moslems is met weerstand uit Moslemgeledere begroet.

Sendingwerk is gesien as 'n gebrek aan respek vir die Islamgeloof en die aanhangers daarvan. Om Islam hierteen te verdedig, stig Ahmed Deedat in 1958 die bekende Islamic Propagation Centre aan die Suidkus van KwaZulu-Natal.

Nadat die Anglikaanse kerk 'n negatiewe berig oor Islam publiseer, trek Deedat in Kaapstad groot skares met sy aanslag teen die Christelike geloof. Hy rig 'n uitdaging dat die waarheid van Islam in die publiek gedebatteer moet word. Die Anglikane wys dit van die hand, maar 'n sendeling uit NG Kerk-geledere, Dawie Pypers, neem die uitnodiging aan.

In Pypers se sendingbediening het Moslems hom toenemend gevra hoe hy kan bewys dat Jesus lewe. Pypers het dus besluit om tot 'n openbare gesprek toe te tree. 'n Ouderling van die NG Kerk het die koste betaal om die Groenpuntstadion te huur.

Vanweë die groot publisiteit het 30,000 mense die byeenkoms bygewoon. Deedat het eerste gepraat met sy konfronterende styl. Hy het vertel hoe Jesus die kruis oorleef en na Egipte gegaan het waar Hy baie goeie werke as profeet verrig het. Dis 'n leuen dat Jesus aan die kruis gesterf en begrawe is, en anderkant die dood opgestaan het. Hy het moeite gedoen om die Christelike geloof bespotlik te maak.

Pypers het gereageer met Skrifverwysings en geargumenteer dat Jesus inderdaad die Seun van God is wat mens geword het. Hy het egter ook besef dit is alles net woorde. Om die waarheid te demonstreer, sou Jesus Homself nou moes openbaar.

Gevolglik het Pypers verklaar dat Jesus lewe en in die stadion teenwoordig is. Jesus kon hier en nou die dinge doen wat Hy destyds tydens sy bediening in Israel gedoen het. Hy het gevra of daar iemand in die stadion is wat aan 'n ongeneeslike siekte ly. "Onthou, dit moet ongeneeslik wees. En as jy bereid is om na die verhoog te kom, en my toe te laat om vir jou te bid, sal Jesus jou genees," het hy gesê.

Wanneer mens vandag die verhaal hoor, klink Pypers vol bravade. Volgens oorvertelling het dit nie maklik gekom nie, en was hy werklik diep gespanne.

'n Bykans verlamde vrou, in mediese stutte en met krukke, is na vore gebring. Pypers het gevra of daar enige dokters is wat die vrou kan ondersoek. Verskeie, insluitend die vrou se eie dokter, het haar toestand as ongeneeslik bevestig. Pypers, wat op hierdie stadium byna flou geword het van spanning, het na haar gestap, haar die hande opgelê en na 'n kort gebed gesê: "In die Naam van Jesus, word genees."

Die vrou het haar krukke neergesit, en begin beweeg. Sy het sommige van haar stutte afgehaal, en verder beweeg. Nadat mense met hul jasse 'n muur om haar gevorm het, kon sy al haar stutte verwyder. Sy het op en af op die verhoog geloop. Sy was gesond. Die mediese dokters het haar genesing bevestig.

Die skare het mal gegaan, daar was uitroepe, applous en gelag. "Die oorwinning behoort aan die Here," is gesê.

Pypers het die geneesde vrou 'n paar dae later deur vyf dokters laat ondersoek, wat ook die genesing bevestig het.

Waar het Pypers die moed vandaan gekry om aan hierdie publieke konfrontasie deel te neem?

Hy het hom vooraf lank in die Bolandse berge met God afgesonder. Daar, tydens sy bergtop-ervarings, het hy die moed ontvang om die skares in die Naam van die Here in die oë te kyk.

Die berg-ontmoeting het Pypers voorberei vir die meule waarin sy geloof in die openbaar getoets is.

ANTWOORD

Lied 177 x2

Jesus,gróót bo almal:

sterke Verlosser,

magtige Heer en Heiland,

Immanuel - God is met ons -

reddende Here, lewende Woord.

SAAM - EET

Nagmaal

Lied 253 v 1, 2

U het die brood gebreek

eens by die meer

breek nou die lewensbrood

vir my ook, Heer.

Wil steeds u waarheid meer

aan my ontvou

tot ek ook in u Woord

my Heer aanskou.

U is die lewensbrood,

Heiland, vir my.

U is die waarheid, Heer,

U maak my vry.

U beeld straal uit die Skrif

so helder voort -

U soek ek, Heer, Uself,

o Lewend' Woord.

DIE BELOFTE VAN DIE HERE

  • Sy nabyheid


 
 
 

Comentarios


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page