top of page

Ek Wil Weer Begin

  • Ds. Abe Beyers
  • Mar 24, 2015
  • 7 min read

4.jpg

Jeremia 31 v 32 - 34 Sondag 22 Maart 2015

EK WIL WEER BEGIN

Ds Abe Beyers

ONTMOETING

  • Ons erken die Here

  • Hy groet ons

  • Ons vereer die Here met lied 212 v 1, 3

Loof die Heer, Hy is goed,

loof sy heilige Naam;

laat alles in die groot heelal

die Here loof.

Ek wil die Here loof

(ek wil die Here loof),

loof met my hele hart

(loof met my hele hart)

Hy gee hul wat roep,

weer nuwe krag.

Loof, o hemel, die Heer,

al die engele saam -

laat alles in die groot heelal

die Here loof.

Ek wil die Here loof

(ek wil die Here loof),

loof met my hele hart

(loof met my hele hart)

Hy gee hul wat roep,

weer nuwe krag.

KLEUTERKERK – Ilze J v Rensburg

VERHOUDINGS-TYD

  • Wie is die Here? (Psalm 136)

4 Hy het magtige dade gedoen, Hy alleen.

5 Hy het die hemel met soveel insig gemaak. 6 Hy het die aarde op die waters gevestig.

“Aan die liefde van die Here is daar geen einde nie”

  • En nou ons? Job 42:

"Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit.

3 Wie is dit wat u bedoelinge wou dwarsboom sonder dat hy die insig gehad het? Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie: u wonderdade was te groot vir my, ek het dit nie verstaan nie.

5 Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien, en nou verag ek myself, nou sit ek vol berou, in sak en as."

  • Ons antwoord met Lied 466 v 1, 2

Aanbiddelike Skepperheer,

aan U die dank, aan U die eer;

aan U die lof met jubeling,

diep uit ons harte toegebring.

Uit U is alles wat ons het:

ons lewe, arbeid en gebed.

Op U, wat alles onderhou,

bly ons ons hoop en toekoms bou.

WOORD-TYD

  • Gebed

LEES Jer 31 v 31-32

Jer 31:31 Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ‘n nuwe verbond sal sluit.

Jer 31:32 Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek al was Ek getrou aan hulle, sê die Here.

1. SITUASIE

Ek en Christa was Donderdag daar in PE. Op pad soontoe ry ons deur Klipplaat en is maar weer oorweldig deur die agteruitgang van gemeenskappe. En ons ry langs leë plaashuise verby en ons dink aan al die verliese wat die Afrikaanse gemeenskappe op die platteland gely het. Later praat ons oor mense hier in ons omgewing wat soveel persoonlike verliese gely het. En ons dink aan mense wat nou met siekte sit en mense wat in stukkende verhoudings leef, of sommer kinders wat in slegte omstandighede moet grootword.

Ek sou nou graag vir julle vandag wou vertel het van die belofte van die Here wat ons daar in Jeremia gelees het – van die Here wat weer nuut begin het, van die Here wat getrou was al die tyd – maar ons kan nie nét dit sê nie.

Ons moet eers gaan kyk wat was die situasie van die Israeliete, of te wel waar was hulle toe die Here met die aankondiging van ‘n Nuwe Inisiatief gekom het, Eenvoudig: hulle was ver weg in ballingskap, met geweld uit hulle eie land uitgeruk. Hulle eie land was verwoes en met die grond gelykgemaak, die infrastruktuur tot niet – en nou moes hulle onder vreemdelinge bly daar in Babilonië.

En nou sal ek graag wil sê dat die Here toe in hierdie moeilike omstandighede van die Israeliete gekom en sy belofte van troos gegee het, maar dan het ons nog steeds nie die storie reg vertel nie.

2.'n STUKKENDE VERHOUDING

Hoekom vertel die Here hier in hoofstuk 31 dat Hy nuut wil begin, dat Hy met ‘n Nuwe Oorkeenkoms wil begin met die Israeliete?

Dit was mos nie net dat hulle swaar gekry het daar in Babilonieë nie en dat die Here hulle toe wou help nie.

Die saak waaroor dit eintlik gegaan het was dat die verhouding met die Here God daarmee heen was. Voordat hulle weggevoer was in Ballingskap in 587vC het die Israeliete steeds aangegaan met kerk.

- Al die dinge rondom kerk het steeds gebeur,

- die rituele en die offers en die feeste was steeds daar, die dinge het plaasgevind – máár, en dis die kern – daar was nie meer respek en agting vir die Here God nie.

Of te wel, die verhouding met Hom was nie meer daar nie. Hulle godsdiens was net tradisie – daar was nie ‘n lewende verhouding met die Here nie.

Of soos die apostel Paulus later moes ontdek: die “wat wil U hê moet ek doen” was nie in hulle lewe nie. Of soos Jesus dit later sou uitdruk: die “soek eers die koninkryk en die wil van God”, daardie respek en agting vir wie God is, was nie daar nie.

En ons? Die pynlike vraag is: wat is my verhouding met die Here God? Is daar by my die respek en agting vir die Here God? Is Hy die Here van my lewe? Kom wat Hý wil eerste by my?

3. PYNLIK VIR DIE HERE

Ek sou nou graag wil sê dat die Here God kom toe met sy Nuwe Inisiatief en Hy herstel die stukkende verhouding, maar ons kan dit nog nie sê nie – die storie is nog nie klaar vertel nie.

As ons deur ander boeke van die Bybel kyk - boeke van die ander profete– dan kom ons agter dat die Here nie maar sommer bo in die hemel gesit het en toe gesien het dat die mense nou nie meer so lief vir Hom is nie, en dat Hy nou ‘n plan moet maak nie.

Vir die Here God self was die Israeliete se wegdwaal van Hom - hulle disrespek vir Hom - so ‘n ernstige saak dat Hyself geworstel het of Hy hoegenaamd moet aangaan met die verhouding met hulle.

So lees ons in die boek Hosea (11 v 8) dat die Here met Homself worstel – Hy wil hulle laat los. Daar word gepraat van sy gloeiende toorn vir die Israeliete omdat hulle nie meer die respek en agting vir God gehad het nie, omdat hulle lewe elders gesoek het. En dan antwoord die Here Homself: “Maar hoe kan Ek jou prysgee? Hoe kan Ek jou laat vaar? My liefde brand te sterk.”

4. SY ANTWOORD

En nou, in die lig van die Here wat dit met Homself uitgeworstel het – om tog maar nuut te begin met die moedswillige klomp mense wat nie meer in ‘n verhouding met Hom wou staan nie – nou kan ons lees van die Here se Nuwe Inisiatief:

LEES Jeremia 31 v 33

Jer 31:33 Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.

Wat is nou nuut aan hierdie inisiatief van die Here? In plaas van soos in die verlede: ek is die Redder-God en julle moet gehoorsaam wees aan My plan – kom die Here God en Hy kom word gehoorsaam namens ons – Jesus kom aan ons kant staan en Hy blý gehoorsaam aan die Vader – Hy verdedig nie Homself nie, Hy word deur die mense vertrap, maar Hy bly nederig. En so is daar ten minste Een Mens wat gehoorsaam was. En daardeur is die houvas van die bose op ons ook lam gelê. Die mag van die bose is verbreek – want daar was ten minste Een Mens wat gehoorsaam gebly het aan die Vader.

En op grond dáárvan stuur die Vader die Gees uit om onder mense te kom woon. So rig en lei die Gees van God ons elke dag om sy plan en sy wil na te volg.

5. ALMAL?

En dan gee die Here ook nog verder sy visie vir die toekoms.

LEES Jeremia 31 v 34

Jer 31:34 ‘n Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: "Jy moet die Here dien" nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.

Nou is die vraag: het die tyd al aangebreek dat almal klein en groot die Here dien? Ja en Nee. Ja, daar is miljoene mense wat onder leiding van die Gees van God elke dag Hom navolg en Hom gehoorsaam. Maar dis ook Nee, daar is steeds miljoene wat nie sy wil navolg nie, wat steeds met hulle eie agenda besig is.

Genadiglik gee die Here God nie moed op nie. Hy hou aan om te werk.

6. EN ONS?

Die belofte van die Here en sy hantering daarvan is ‘n wonderlike troos vir ons – die Here gee nie moed op nie.

Maar aan die anderkant is die storie ook baie onstellend -waar moes Israel gaan draai het voordat hulle weer erns met die Here God gemaak het?

Daarom die oproep aan ons vandag: Om steeds erns te maak met die Here God, om steeds na sy wil te soek, om steeds sy grootsheid te erken.

Maar die vraag staan ook voor elkeen van ons: “wie is die Here God vir jou?”

ERKENNING

Ons sing lied 479 v 1, 3

U self het oor Jerusalem,

die vredestad, geween.

Bekeer, bekeer u volk, o Heer,

wil aan hul guns verleen!

Verhoed dat ons verhard, o Heer,

u liefde ooit verlaat.

Messias, laat ons van u koms

getuig met woord en daad.

GELOOFSVERKLARING

Belydenis van Wilhelm Jordaan

Ek glo in die Vader met die wondernaam: “Ek is wat Ek is”, werkwoordelik onvoltooid voortdurend God;

Ek glo in Jesus wat weet hoe diep my blindheid is en my vashou styf teen die braille van sy lyf;

Ek glo aan die Heilige Gees, die wind van God wat oor die leegheid van my lewe waai en die koers bepaal, weg van myself, weg van Tarsis na die nood in Nineve.

Ek glo aan die gemeenskap van stukkende sondaars wat kniel voor die Heiligheid van God

DANKBAARHEID

 Offergawes

 Laaste Lied 488 v 1, 3, 5

Helder skyn u lig vir die nasies,

'n vreugdeglans om die mense te verlig

tot die hele wêreld kan sien

U is die lig.

Mag u lig, Heer, deur ons skyn.

Balsem bring herstel vir die wonde,

'n sagte salf vir die mense met hul seer

tot die hele die wêreld kan sien

dat U genees.

Mag U troos, Heer, deur ons bied.

U is Koning, Heer, oor die aarde.

Die mense vra na u wil om U te eer

Tot die hele wêreld kan juig dat U regeer

Laat u ryk, Heer, in óns kom!

Laat u ryk, Heer, deur óns kom!

Laat u ryk, Heer, oral kom!

DIE HERE SE BELOFTE

 Sy verbintenis aan ons


 
 
 

Comentários


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page