EEN FOKUS
- Ds Abe Beyers
- Nov 5, 2015
- 9 min read

Markus 12 v 28 – 34 Sondag 1 Nov 2015
Dear English friends, we are also adding an English summary of the sermon at the bottom of the page for your convenience.
EEN FOKUS Ds Abe Beyers
ONTMOETING Stemmingslied Ons erken die Here Hy groet ons
Ons sing ‘n loflied – 464 v 1, 4 O Heer my God, as ek in eerbied wonder - en al u werke elke dag aanskou: die son en maan, die aarde, sterre, wolke, hoe U dit elke dag so onderhou... Dan moet ek juig, my Redder en my God! Hoe groot is U; hoe groot is U! Want deur die hele skepping klink dit saam: hoe heerlik, Heer, u grote Naam!
U maak ons deel van al u grootse werke. U laat ons bid, Heer, dat u ryk mag kom. En kom U weer, in heerlikheid op wolke, maak U volkome nuut u eiendom. Dan moet ek juig, my Redder en my God! Hoe groot is U; hoe groot is U! Want deur die hele skepping klink dit saam: hoe heerlik, Heer, u grote Naam!
KLEUTERKERK Kleuterkerk – Magda Smit
VERHOUDINGS-TYD Wie is die Here? (Openb 1 v 15) 15 Sy voete was soos geelkoper wat in ‘n smeltoond gloei, en sy stem soos die gedruis van ‘n groot watermassa. 16 In sy regterhand het Hy sewe sterre gehad, en ‘n skerp swaard met twee snykante het uit sy mond uit gekom. Sy hele voorkoms was soos die son wat op sy helderste skyn.
En nou ons? (1 Kon 19 v 11) Maar die Here sê vir hom: "Kom uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan." Skielik was daar ‘n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar ‘n aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. Na die aardbewing was daar ‘n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar ‘n fluistering in die windstilte. Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan. Toe hoor hy ‘n stem wat vir hom sê: "Wat maak jy hier, Elia?"
Ons antwoord met ‘n erkennning van die Here
Lied 265 v 1, 2 Enigste Here, enkele Wese, ons glo in U met ons hele hart. Heerlik bely ons, vry-uit getuig ons: U is vir ewig God en Heer.
U, onbegryplik, U is onsienlik, altyd dieselfde, oneindig groot. U is almagtig, wys en regverdig, U is die bron van alle goed.
WOORD-TYD Gebed Woord – Markus 12
(Skriflesing uit die Nuwe Direkte Vertaling)
EEN FOKUS 1. BEDRYWIG
Ons moet vanoggend vir ons ‘n prentjie probeer voorstel van hoe dit destyds daar in Jerusalem gegaan het. Jesus en sy dissipels is daar in Jerusalem op die tempelterrein – dis in elk geval vir hulle ‘n plek waar hulle maar een maal ‘n jaar gekom het. Maar dis bedrywig en daar is mense – die kerklike amptenare is druk besig met die voorbereidings vir die Fees van die Ongesuurde Brood en die Pasga wat in daardie tyd sou plaasvind. En om bydraes te maak is daar ‘n hele stelsel aan die gang met tafels van mense wat Romeinse geld omruil vir Joodse geld sodat jy dit in die offergawekis kan gooi. En aan die ander kant is daar ook nog die stelsel van diereoffers waar mense van duiwe tot skape tot beeste bring om geoffer te word – en die goed moet geslag word en op die altaar geoffer word. En daar is mense, van die gewone Jode tot godsdiensgeleerdes en priesters wat rondhardloop om alles klaar te kry.
Maar onder al die kerklike bedrywighede is daar ander strominge, ander gedagtes en idees wat aan die broei is – daar is ‘n gebrommery onder die mense – en dit gaan oor Jesus van Nasaret wat ook daar rond is.
Die spanning het al die vorige dag begin nadat hierdie Jesus dramaties saam met juigende skares op ‘n donkie Jerusalem binne-gery het – en in die tempelterrein ingekom het en toe sommer die diensteverskaffers se geldtafels omgekeer en stoele omgegooi en met ‘n sweep die spul daar uitgejaag het.
En van toe af het die aanvalle op Jesus net nie opgehou nie – al wat Skrifkenner en priester en amptenaar was, was vir hom kwaad. Hulle probeer hulle bes om vir Jesus op een of ander fout aangeklaag te kry sodat hulle Hom kan verwyder – hulle probeer Hom vastrek op die vraag oor die betaling van belasting; dan kom die Sadduseërgroep en hulle probeer vir Jesus vaskry oor die kwessie van lewe na die dood – die aanslae hou net nie op nie.
En dan kom daar so ‘n vars briesie tussen al die vyandigheid. Sommer so van die kant af – Jesus was nog aan die verduidelik vir die Sudduseërs oor die Lewe na die dood toe die Skrifkenner heel vriendelik vir Hom vra wat is dan die heel belangrikste van die 615 gebooie of reëls?
Mar 12:28 Een van die skrifkenners wat hulle hoor redeneer het, het nader gestaan. Toe hy sien dat Jesus hulle goed geantwoord het, vra hy vir Hom: "Watter gebod is die belangrikste van almal?"
2. DIE EEN FOKUS
En dan kom Jesus en Hy gee vir hierdie Skrifkenner of Skrifgeleerde ‘n kosbare riglyn – ‘n antwoord wat ook vir ons vandag nog ‘n rigtinggewende antwoord is – nl. wat gelowiges se een fokus moet wees, wat dit is waaroor dit regtig in die godsdiens moet gaan.
LEES Markus 12 v 29 – 30 29 Jesus het geantwoord: "Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. 30 Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’
Let op dat Jesus heel eerste antwoord oor wie is die Here – dat Hy die enigste Heerser is. In kontras met die ander godsdienste van die tyd wat ‘n vreeslike aantal magte gehad het wat jou lewe beheers en wat jy tevrede moes hou – kom Jesus en Hy herinner ons daaraan dat daar net één Here is – Hy alleen is die Magtige Een.
En dan herinner Jesus ons daaraan dat ons respek en agting vir hierdie Heerser moet hê. Dis is die een groot fokus wat daar in ons lewens moet wees. Al die ander baie dinge en bedrywighede en goed van ons lewe moet ondergeskik staan aan hierdie een Fokus – respek en agting vir die Here God
Ons het vanoggend hier na die erediens toe gekom en ons het nou lofliedere vir die Here gesing en ons het vandag die bevestiging van nuwe kerkraadslede – maar steeds kom die vraag na ons kant toe: wat motiveer my om te doen wat ek doen? Word al my bedrywighede gekenmerk deur die een fokus – ek doen wat ek doen, ek maak al my keuses – uit respek en agting vir die Here God?
Maar dan gaan die Here Jesus aan met sy antwoord aan die Skrifkenner
Mar 12:31 Die tweede is dit: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié nie."
Omdat ek mos nou weet hoe die aard en manier is van hierdie Een Here, dat Hy omgee vir mense, dat Hy vir hulle liefhet – daarom, uit respek vir hierdie Here, vir wie Hy is, daarom gee ek ook om vir my medemense, het ek ook medelye met mense.
Ons kan dit wat Jesus deurgee ook anders sê: omdat ek respek en agting vir die Here het, wil ek nie vir Hom teleurstel nie, en daarom gee ek ook om vir mense soos Hy vir mense omgee.
Sommer ‘n storie daar uit Vryburg uit. Dis eksamentyd en die twee 11-jarige mannetjies word gestuur om boeke weg te vat na daardie meneer toe – op pad terug loop hulle sommer buite om – en daar staan daardie moeilike juffrou se kar. En die een mannetjie sê: “ek het hier een van daardie goedjies wat jy ‘n band se valve mee uitdraai. Kom ons blaas die wiele af – niemand weet mos ons is hier nie en niemand gaan ons uitvang nie”. Die maatjie staan so bietjie en dink en sê toe: “weet jy, as ek nou vandag by die huis kom en ek moet vir my pa vertel wat ek alles vandag gedoen het, en ek moet vir hom vertel van die wiele, gaan hy nie daarvan hou nie – ek dink nie ons moet dit doen nie”.
Ek dink dis wat die Here Jesus vir ons wil deurgee – uit respek en agting vir my Vader wat in die hemel is, maak ek so, en doen hierdie dinge.
3. VERANDER
As ons nou die storie daar in Markus lees, dan kom ons agter daar het regtig iets gebeur met die mense – toe die Here Jesus vir hulle so wys op wat die fokus moet wees, op hulle respek en agting vir die Here God, toe het daar tog verandering gekom in hierdie aanslag van die Geleerdes op die Here Jesus.
LEES Markus 12 v 32 – 34 32 Die skrifkenner het vir Hom gesê “Uitstekend, Meester, dit is waar wat u sê, ‘dat Hy Een is en dat daar geen ander as Hy is nie.’ 33 ‘Om Hom lief te hê met jou hele hart, met jou hele verstand en met al jou krag’ en ‘jou naaste lief te hê soos jouself’ is belangriker as al die brandoffers en diereoffers." 34 Toe Jesus sien dat hy verstandig geantwoord het, sê Hy vir hom: "Jy is nie ver van die koninkryk van God nie." Niemand het dit toe meer gewaag om Hom iets te vra nie.
Dis veral die laaste woorde wat vir my sinvol is – niemand het dit toe meer gewaag om Hom iets te vra nie. Vir my gaan dit nie maar dat hulle nou bang geword het vir Jesus se antwoorde nie, of dat hulle nou besef het dat hulle nie vir Hom sal kan vastrek met ‘n slim vraag nie – ek dink hulle gewete is aangespreek – hulle het besef dat hulle fokus ver van die Here God af is, dat daar nie die respek en agting vir God is nie. En daarom het hulle opgehou om Hom so aan te vat.
En dit is dan die tweede wat ons moet hoor vandag – respek en agting vir God is aansteeklik. As jy iemand is wat elke oomblik eerbaar optree omdat jy respek en agting vir die Here God het, dan suur dit deur na ander mense toe – ander kom baie gou agter wat jou prioriteit is, wat of wie vir jou belangrik is – en dit spreek hulle aan. Anders gesê: Mense kom baie vinnig agter wat jou agenda is, of jy optree uit respek en agting vir jou Vader in die hemel.
4. TOEWYDING
Waarmee gaan ons vandag huistoe? Doen moeite om elke dag die Here God beter te leer ken – sodat jy al meer in verwondering kom oor wie Hy is. Want hierdie verwondering oor Hom en die agting en respek wat daarmee saamgaan, gaan in jou wese inwerk – vir almal om te sien.
LEES Psalm 8 v 2, 4 – 5 Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het! As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?
AANBIDDING
Lied 175 Majesteit, glansryke heerlikheid! Ons wil Jesus, die koning, hulde bewys! Majesteit, hemelse heerlikheid! Van waar ons woon,tot by sy troon, wil ons Hom prys. Kom ons loof, kom ons besing die Naam van Jesus! Kom ons loof, kom ons aanbid die Here ons God! Majesteit, heilige heerlikheid! Hy het gesterf, ons heil verwerf, Hy het oorwin!
KERKRAADS-BEVESTIGING Nuwe lede Danie Pienaar, Sandra Boshoff, Luise de Jager en Miems van Loggerenberg Herkies Louise van Zyl, Tilly Beneke, Eward Swanepoel, Leon Marx, Fanie Marx en Danie vd Westhuizen Sonette Mulder en Martie Swanepoel
GEBED Ons sing die kerkraad toe Lied 268 Laat, Heer, u seën op hul daal, u guns uit Sion hul bestraal! U wat beveel en dit geskied, wil, Heer, u seën oor hul gebied!
DANKBAAR Offergawes
Laaste Lied – 486 v 1, 3, 4 Bring aan die volke die boodskap van hoop en bevryding! So sê die Here, verkondig al verder die tyding: "Daar is my kneg! Hy bring aan nasies die reg - volg Hom getrou in sy leiding."
Hy wat verstaan, sal die riet wat geknak is, nie breek nie. Hy laat die swakke, verdrukte nie vrugteloos smeek nie. Die Kneg is Heer! Duisende wag op sy leer - laat ons hul nood nie vergeet nie.
As Hy ons roep tot sy diens - hoe sal ons dit mag weier? Hy is almagtig, genadig, die troue bevryder. Christus gee krag, klee ons met koningsgesag - Hy is ons Koning en Leier.
DIE HERE SE BELOFTE Sy Nabyheid
ONE FOCUS
The antagonism experienced by the Lord Jesus in the temple in Jerusalem gave birth to the most precious guideline for being a Christian. A scribe asked Jesus which of the 615 commandments of the Jewish religion was the most important one. Jesus replied that to have great esteem and respect for the Lord God, came first. He then, who holds the Lord in esteem and respect, would want to act like Him and would therefore also love his neighbor as the Lord loves us.
It is this focus on the Lord God and His Being that determines my everyday choices and decisions, that directs my do’s and don’ts. Therefore, my esteem and respect for the Lord God give rise to my everyday actions.
Comments