top of page

DIE OPGESTANE HERE WERK - DAAROM IS DAAR VANDAG HOOP

  • Ds. Abe Beyers
  • Apr 6, 2015
  • 9 min read

GOEIE VRYDAG RANGSKIKKING - KRUIS.jpg

Markus 16 v 1 – 8

Sondag 05 April 2015

DIE OPGESTANE HERE WERK;

DAAROM IS DAAR VANDAG HOOP

Ds Abe Beyers

ONTMOETING

  • Ons erken die Here

  • Hy groet ons

  • Ons sing vir Hom ‘n Lied – 409 v 1, 3

Hoor jy die Paasfeesklokke?

Hul lui van vroegdag af;

hul jubel oor die wêreld:

Die Heer is uit die graf!

Hy, Christus, die oorwinnaar,

is uit die donker uit!

Die Heer, die sleuteldraer,

sal ook my graf ontsluit.

Hoor jy die Paasfeesklokke?

Die Heer voer heerskappy -

Hy heers oor alle dinge,

sy bloed het ons bevry.

Ons sal met Jesus opstaan,

die lewenskroon verkry.

Ons hoor die Paasfeesklokke

wat oor die wêreld lui.

SONDAG VAN LEWE

Aansteek van kerse

as simbool van Vader wat vir Jesus uithaal uit die dood.

GOEIE VRYDAG RANGSKIKKING - KERSE.jpg

  • Maryke Lategan sing Lied

INLYWING (Doop)

  • Ouers: Ignus en Talana Verwey

  • Solosang deur Marlene Havenga

VERHOUDING

  • Wie is die Here (Joh 1 v 1-4)

In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God.

Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.

In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.

  • En nou ons assosiasie? (Joh 13)

As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.“

  • Ons antwoord met Lied 543 v 1, 2

Here Jesus, ek is klein,

maak U self my lewe rein.

Laat ek altyd van U leer,

laat ek grootword tot u eer.

O Jesus, neem my,

o Jesus, lei my,

o Jesus, sterk my

en vorm my tot u eer.

O Verlosser, maak my sterk;

vlytig om vir U te werk;

laat my tog gehoorsaam bly.

altyd gaan waar U my lei.

O Jesus, neem my,

o Jesus, lei my,

o Jesus, sterk my

en vorm my tot u eer.

WOORD-TYD

  • Gebed

  • Woord – Markus 16

1. 'n DONKER PRENTJIE

Ons het Vrydag tydens die erediens gepraat oor die donker prentjie – van hoe dit gaan in Suid-Afrika en hoe dit gaan in Aberdeen. Ons het gepraat van die Israeliete daar in Babilon 2500 jaar terug en hulle magteloosheid teen hulle omstandighede.

En nou sit ons met die vraag: Kan dinge verander? Is daar hoop? Kan daar uitkoms kom? En miskien sit jy nog met jou eie situasie en jou eie krisis en jy wonder of die Here dinge gaan verander en hoe die Here die situasie gaan omkeer?

En daarom wonder ons vanoggend: hoe werk die Here God? Ons wéét die Here verander dinge, Hy draai situasies om, maar hoe werk die Here?

Ons bid elke dag tot die Here in die verwagting dat Hy situasies sal hanteer en dinge omkeer en verandering bring, ons bid selfs soms die bekende Ons Vader-gebed – maar hoe doen die Here sy nuutmaking?

Wat nou van Suid-Afrika waar die nate van die sak al begin skeur – hoe verander die Here dinge? Kan die Here God ook daar werk?

Ek wil vra dat terwyl ons vanoggend die storie daar uit Markus lees, dat julle die heeltyd sal dink aan die onmoontlike situasies van Suid-Afrika – hou daardie donker prentjie in jou agterkop.

2. DEUR DIE GEWONE DINGE !

Terug by die dissipels 2000 jaar terug. Hulle was nog bymekaar daar in Jerusalem, geskok en teleurgesteld. In hulle gedagtes was die drome daarmee heen.

Intussen het die Here God ingegryp. Hy het vir Jesus uitgehaal uit die dood uit en vir Hom deur die dood anderkant uit geneem. Maar die dissipels weet dit nog nie, niemand weet nie – en die Goeie Nuus moet uitgedra word – dat daar lewe is, dat die dood nie die laaste sê het nie, dat die Here die mag van die dood oorwin het.

LEES Markus 16 v 1 – 6

Mar 16:1 Toe die sabbatdag verby was, het Maria Magdalena en Maria die ma van Jakobus, en Salome reukolie gekoop om die liggaam daarmee te gaan balsem.

2 Die Sondagmôre baie vroeg kom hulle by die graf aan net toe die son opkom.

3 Hulle vra toe vir mekaar: "Wie sal vir ons die klip voor die ingang van die graf wegrol?"

4 Die klip was baie groot, maar toe hulle opkyk, sien hulle dat dit klaar weggerol is.

5 Toe hulle in die graf ingaan, sien hulle ‘n jongman aan die regterkant sit met lang wit klere aan, en hulle het groot geskrik.

6 "Moenie skrik nie!" sê hy vir hulle. "Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie. Kyk, daar is die plek waar hulle Hom neergelê het.

Kyk nou net hoe werk die Here God.

Eerstens gebruik die Here die vroue wat ‘n liefdestaak wil uitvoer – die liggaam moet gebalsem word. En uit respek vir die godsdienstige reëls van daardie tyd, gaan hulle voordag die Sondagmore, want Saterdag is mos nou die Sabbatdag van die Jode. Die Here God gebruik die Sabbatdag se voorskrifte om hulle aanvanklik weg te hou van die graf af sodat die Belofte van drie dae vervul kan word.

Maar dan is daar die tegniese probleempie vir die vroue van hoe om die groot klip weggerol te kry – maar dit hanteer die Here sommer self deur ‘n engel te stuur.

En dan kry die vroue die boodskap, die nuus – Jesus is nie hier nie, Hy lewe!

En dis ons eerste sleutel vanoggend: wanneer die Here God werk, dan werk Hy dikwels deur ons wat eenvoudig ons taak van liefde uitvoer. Daar waar ons eenvoudig liefde betoon, daar werk die Here deur ons omgee – dikwels sonder dat ons bewus is van wat die Here besig is om te doen deur ons eenvoudige optrede.

So hou die getuienisaksie ‘n vergadering laasweek van hoe om nou die Goeie Boodskap hier in ons dorp uit te dra. Vooraf het elkeen ‘n gedagte in sy kop van hoe dinge gedoen kan word. En op die vergadering kom iemand met die eenvoudige gedagte – maar daar is mos hoevele plekke waar mense wel bymekaar is, ons hoef mos nie mense te gaan bymekaar maak om vir hulle ‘n boodskap te bring nie. En so word daar besluit om vir eers op die hospitaal te fokus. En daar gaan die spannetjie Dinsdagoggend 11hoo hosptiaal toe en in een van die afdelings word sommer gepraat – en daar hoor twee vrouens vir die eerste keer die boodskap van Jesus.

3. ONWAARSKYNLIKE BOODSKAPPERS

Nou is die verdere verrassing dat die Here nie altyd deur ons strukture werk om sy boodskap te bring nie

LEES Markus 16 v 7-8

Mar 16:7 Maar gaan sê vir sy dissipels en in die besonder vir Petrus: Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het."

8 Hulle het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang.

Die probleem is dat die Here God die vroue gebruik om die boodskap te gaan oordra – want vroue se getuienis is nie destyds sommer aanvaar nie. Dit is in elk geval nie in ‘n hof gereken as betroubaar nie.

En dis ons tweede sleutel vanoggend: die Here God is aan die werk in ons gemeenskap, in ons land – maar Hy werk nie altyd deur ons amptelike strukture om sy Goeie Nuus oor te dra aan mense in nood nie.

Dink nou maar net aan die bekende verhaal daar in 2 Konings 5 van die melaatsheid van generaal Naaman in diens van die koning van Aram – en ‘n dogtertjie uit Israel, wat daar as slaaf gewerk het in sy huis – die vertel vir die mevrou daarvan dat daar hoop in Israel te kry is. Die Here wou vir Naaman genees en vir hom lewe gee – en daarvoor gebruik hy ‘n dogtertjie.

Of so lê ‘n man met die naam Koos daar in die hospitaal in Vryburg – sy lewe is verwoes agv drank. Intussen is sy vrou by die huis besig om te bid. En nou vertel Koos agterna: die nag word hy wakker van ‘n gevroetel hier rondom sy bed. Hy kyk toe en sien hier is ‘n swart vrou besig om die vloere te was. En toe sy sien hy is wakker, toe vra sy: Meneer, kan ek vir jou bid? En Koos sê toe maar ja. En terwyl sy bid, raak Koos bewus daarvan dat dit helder lig is in die kamer, maar dis nie elektriese lig nie. En toe is die vrou daar uit en dis weer donker. En daardie oomblik was die begin van Koos se genesing.

Daarom wil ek vra dat ons nou aan die onmoontlike situasies van ons land en ons dorp sal dink – in ons gedagtes is dit onmoontlik dat iets kan verander, dat mense kan verander. Ons voel magteloos uitgelewer aan wat mense doen – maar dan vertel vandag se storie dat die Here wel werk – en dan gebruik Hy nie altyd die amptelike kanale van kerke om sy boodskap oor te dra nie. Soms gebruik die Here snaakse boodskappers.

4. ONWAARSKYNLIKE RESULTATE

En nou kom ons by die derde sleutel van hoe die Here werk.

Ons sou nou verwag het dat daar dramatiese resultate sou wees op die Nuus wat die vroue moes gaan oorlewer het – dis mos nou wonderlike nuus.

Ons sou dink dat die vroue sou hardloop om vir die dissipels te gaan vertel van die nuus en dan sou die dissipels met groot spoed hardloop na Galilea toe om die Here Jesus daar te gaan ontmoet, want dit was mos die boodskap wat hulle ontvang het.

Maar, volgens Markus gebeur daar, wel niks. Die vroue het so groot geskrik dat hulle eenvoudig niks gedoen het nie. Of te wel, hulle was so geskok en oorweldig deur die feit dat Jesus nie in die graf was nie en boonop nog die ontmoeting met die bo-natuurlike wese, dat hulle verlam van skok niks gedoen het nie.

En nou lyk dit of die storie net hier doodloop, dis nou die einde. Die Here God se Goeie Nuus stop net daar. Hoe presies dinge toe gewerk het, weet ons nie – want die evangelis Johannes vertel dat die vroue toe tog wel die boodskap gaan aflewer het, en dat hy en Petrus afgehardloop het na die graf toe. Matteus vertel weer die verhaal ‘n bietjie anders. Maar op die ou einde het die boodskap wel by die dissipels uitgekom, al moes die Here Jesus dit toe selfs later self vir die dissipels gaan sê.

Soms lyk dit vir ons asof ons boodskap aan mense eenvoudig doodloop, of die boodskap word nie oorgedra nie. Maar ons sien dat die Here tog op die ou einde wel die ding deurkry – hoe weet ons meestal nie. Dalk kom die resultate eers lank daarna – maar die troos is dat die Here tog wel dinge laat gebeur!

5. DOOP

Ons doop vandag ‘n klein dogtertjie – en die ouers wil hierdie kindjie kom inlyf in God se gemeente in. En nou sit die ouers, en al die ander ouers saam met hulle – en hulle wonder: wat is die toekoms van hierdie kind, hoe gaan die lewe vorentoe lyk?

Vandag se storie van Jesus se opstaan uit die dood, en van hoe die Here toe verder gewerk het, gee vir ons hoop. Want die Here is aan die werk en Hy werk deur mense wat ons dit nie van verwag nie en hy bereik resultate waar ons nog niks kan sien nie. Daarom – vertrou hierdie Here – Hy bereik sy doel.

6. HOOP

En daarom wil ek maar weer vra vanoggend.

Al dink jy vandag die situasie daar in jou huis is hopeloos, daar kan niks verander nie;

of al dink jy die probleme hier in Aberdeen is te veel en te groot, daar kan niks verander nie;

of al dink jy daar is geen hoop vir RSA nie – moenie moedeloos raak nie.

Ons opdrag is om aan te hou liefde betoon, aan te hou omgee vir mense – en bring daar waar jy kom die boodskap dat daar lewe by die Here is, want die Here God werk soms op baie snaakse en ongewone maniere – maar Hy werk en Hy behaal sy resultate.

ONS VERKLAAR ONS GELOOF

 Lied 265 v 1, 2

Enigste Here, enkele Wese,

ons glo in U met ons hele hart.

Heerlik bely ons, vry-uit getuig ons:

U is vir ewig God en Heer.

U, onbegryplik, U is onsienlik,

altyd dieselfde, oneindig groot.

U is almagtig, wys en regverdig,

U is die bron van alle goed.

DANKBAARHEID

 Offergawes

 Laaste Lied van Hoop - 266

Ons Vader wat woon in die hemel,

geheilig sy u Naam.

Laat u ryk kom, u wil geskied,

soos in die hemel so ook op die aarde.

Gee ons vandag ons dag se brood

en vergeef ons al ons skulde,

net soos ons vergewe

dié wat teen ons sondig.

Laat kom ons nie in die versoeking,

maar verlos ons van die Bose.

Want U is die ryk

en die sterkte en die ere,

vir ewig en ewig, amen.

Vir ewig en ewig, amen.

BELOFTE VAN DIE HERE

 Hy gee ons sy Lewe


 
 
 

Comments


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page