top of page

Erfgenaam

  • Writer: NG Kerk Aberdeen
    NG Kerk Aberdeen
  • Dec 27, 2014
  • 8 min read

ONS BERG 16.JPG
ONS BERG 16.JPG

Sondag 28 Desember 2014 Gal 4 v 4 – 7

ERFGENAAM

Ds Abe Beyers

ONTMOETING

  • Ons erken die Here

  • Hy groet ons

  • Ons vereer Hom met Psalm 100 v 1, 2, 3

Juig almal tot Gods lof en eer,

kom dien met blydskap God die Heer.

Kom met gejubel voor Hom saam

en dank en loof Hom, prys sy Naam

Erken dié God en sy gesag.

Hy hou oor ons, sy kudde, wag.

Laat ons as volk die Heer aanbid.

Hy't ons gemaak as sy besit

Gaan by sy tempel in en sing

en bring jul dank met jubeling.

Sy goedheid, liefde en sy trou

sal Hy vir altyd onderhou.

VERHOUDINGS-TYD

  • Wie is die Here? (Rom 5 v 7-8)

‘n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir ‘n regverdige nie. Ja tog, vir ‘n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe.

Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

  • En nou ons? (Rom 5:1)

God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.

Stel julle in diens van God… stel elke deel van julle liggame in diens van God as ‘n werktuig om te doen wat God wil (6v13)

Antwoord: 214 v 1, 2, 3

Here, ons sal U loof,

U weldade roem.

U Naam sal ons eer,

almagtige Heer,

want U het wonders gedoen.

Here, ons sal U loof.

U het ons verlos,

uit duister bevry;

ons harte verbly -

dit het u lewe gekos.

Here, ons sal U loof,

u weldade roem.

Dis U wat voorsien,

ons wil U graag dien

en U ons Vader noem.

WOORD-TYD

  • Gebed

  • Galasiers 4 v 4-7

1. RISIKO-TYE

So ‘n paar jaar terug was daar ‘n verslag uitgebring oor padongelukke. Nadat al die statistieke van die ongelukke geëevalueer is, is daar ‘n paar patrone uitgewys. As iemand ver ry, dan vind die meeste ongelukke plaas naby die huis, binne ‘n paar kilometer, of op pad uit of op pad terug. Die rede: op pad uit is jy nog besig om goed reg te kry en jou konsentrasie is nog nie behoorlik op die pad nie; en op pad terug begin jy naby die huis ontspan en die konsentrasie is nie wat dit moet wees nie.

Die opmerking het my laat dink aan vandag – dis die laaste Sondag van die jaar, naby aan die Nuwe Jaar – en dis die tyd hierdie wat ons soort van konsentrasie verloor, dis asof ons dié tyd van die jaar so ‘n bietjie skiet gee, so ‘n bietjie laat los. Of dis soos ‘n vragmotor wat teen die berg afkom en dan die laaste entjie maar die remme laat los, want ek is amper onder.

Dis dan ook in hierdie tyd wat daar gedagtes by ons inglip van: wat het ek tog hierdie jaar beteken? Ek het nie goed gedoen nie, ek het nie gedoen wat ek wou nie – ek is sommer hopeloos.

Of dis hierdie tyd van die jaar, die Sondag na Kersfees, dat ‘n mens dikwels mistroostig begin raak. Kersfees het gekom en Kersfees het gegaan en alles is maar net dieselfde. Watter verskil het Jesus se koms dan nou ‘n kom maak? En so begin jy wonder oor Jesus Christus en of Hy dan nou wél die Here is wat ons verklaar dat Hy is..

Of dis hierdie tyd van die jaar dat ‘n mens wonder oor die liewe kerk – is die kerk nog die saamwees van die kinders van God, of is die kerk maar net ‘n sosiale organisasie wat baie geld kos?

2. GEMEENTE IN GALASIË

In die gemeente daar in Galasië was daar tot die apostel Paulus se groot ontsteltenis ook heelwat mense wat spoed verloor het. Hulle het eenvoudig moed opgegee om as Christene te lewe, soort van maar weer teruggeval op hulle ou patrone – die mense wat vanuit die nie-Joodse agtergrond gekom het en maar verwerping deur hulle eie mense beleef het, het tot die slotsom gekom dat dit nie die moeite werd is om vas te hou aan Jesus nie.

Daar het ook ander in die gemeenskap ingekom wat begin verkondig het dat die Christene eintlik eers weer Jode moet word, die Joodse gebruike en feestye en reinigings en eetgewoontes moet doen voordat hulle deur God aanvaar sal word.

En nou in die lig van die chaos daar in die gemeente Galasië skryf die apostel Paulus vir hulle die brief – ons gaan net na sy opsomming kyk

3. WAT HET JESUS GEDOEN?

Lees Gal 4 v 4

Gal 4:4 Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit ‘n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe

om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word.

Die Here God het sy Seun Jesus gestuur om hier te kom mens word onder ons, om die vernedering van menswees te kom deurleef, Jesus het in ons situasie ingekom, ons dinge kom beleef.

Paulus maak ‘n groot storie daarvan dat hierdie Jesus ook gehoorsaam was aan die riglyne van die Here, of te wel die wet.

Die bedoeling van die wette destyds was om die Jode in lyn te hou, om hulle te laat leef as kinders van die Here God. Soort van: so moet julle leef as kinders van God. Die Jode het die bedoeling daarvan verander en gesê dat jy moet die goed doen om vir die Here aanvaarbaar te wees. (Beklemtoon eie) Nou sê Paulus: Jesus het gekom en námens ons reg voor die Here God gelewe, ons kan nou maar net op Hom vertrou om ons saak by die Vader te hanteer.

Daarom, die oproep – vertrou hierdie Jesus, Hy het oor die kwaad oorwin, Hy het gehoorsaam gebly tot in die dood – jy hoef nie jousélf geskik te maak om vir die Here God aanvaarbaar te wees nie – Jesus het dit gedoen – vertrou Hom daarvoor.

4. VERHOUDING

Maar dan skryf Paulus verder aan die gemeente Galasiers.

Lees Gal 4 v 6

Gal 4:6 En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: "Abba!" Dit beteken: Vader!

Die prentjie wat die apostel Paulus vir ons teken van die gelowige, is die van iemand wat homself verneder het voor Jesus, wat Jesus vertrou vir lewe – dis hy in wie die Gees van Jesus nou kom woon.

En daarom is Christen-wees nie ‘n vreesverhouding met die Vader nie

– dis ‘n verhouding van vrede en vreugde,

- dis ‘n verhouding waar ek met die Vader praat soos ‘n man met sy vriend praat.

- Dis ‘n verhouding waar die Gees van Jesus vir my die Vader laat loof, my aanspoor om die Vader te erken en te eer.

Sy Gees bring die blydskap in my, soos Jesus dit eendag uitgejubel het omdat die mense begin verstaan het waarmee die Here God besig is.

Sy Gees werk in my om die prag van bv die natuur raak te sien en die Here daarvoor te prys, dis sy Gees wat my wil laat sing uit blydskap en dankbaarheid.

Dis sy Gees wat my ontsteld laat oor onreg en uitbuiting van mense.

5. DAAROM IS ONS NOU…

Miskien is die laaste sinnetjie van Paulus die belangrikste. Ons moet net maar weer onthou wie ons is.

Lees Gal 4v7

Jy is dus nie meer ‘n slaaf nie; jy is nou ‘n kind van God.

En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.

In die Bybelse tyd was ‘n koning se opvolger reeds van vroeg af bekend – bv die oudste seun .

Dink nou vir jou ‘n oomblik in in die gedagtes van hierdie mannetjie. Dit is iets wat die mannetjie reeds van vroeg af geweet het: dis wat vir my wag, dis waarnatoe ek op pad is. En daarom het die wete reeds ‘n ander fokus by hom gebring, ‘n gerigtheid.

Nou so is dit ook by ons – ons is erfgename van die Here God, daar is ‘n toekoms saam met God, ons is op pad na iets. En dáárom tree ek vandag anders op, dáárom praat en dink ek anders as ander mense – en as daar krisisse kom, as daar moeilikheid kom, dan weet ek die goed gaan oor my kom, maar dit gaan niks verander aan die feit dat ek die erfgenaam is nie.

Die wete dat ek erfgenaam van God is, maak dat daar by my ‘n rustigheid is, dat ek die goed wat na my kant toe kom, kan hanteer.

Aan die ander kant het die paleispersoneel die mannetjie ook anders hanteer as ander mense – hulle het hom as kosbaar geag, as iemand wat met agting en respek hanteer moet word. As ek nou my medegelowige sien, iemand wat ook ‘n erfgenaam van God se beloftes is, dan hanteer ek mos daardie een met respek en agting, dan ag ek daardie een kosbaar, want hy of sy is ‘n erfgenaam van die beloftes van God. Daar is dus onder gelowiges, onder God se kinders nie ‘n meederwaardigheid of ‘n minderwaardigheid nie – ons is saam erfgename van die beloftes van die Here God.

6. IN DIE RISIKO-TYD

Hier op die laaste Sondag van die jaar wil ek maar net weer vir jou herinner aan wie jy is –

nie maar net ‘n mens wat sukkel deur die lewe, sukkel om met die Here vrede te maak, sukkel om vrede met mense te maak nie

– nee, jy is deur die genade van die Here Jesus ‘n Godskind, ‘n erfgenaam van al die beloftes van die Here God – ongeag wat gebeur, ongeag wat mense sê.

Daarom, lewe in vreugde en dankbaarheid – want jy is erfgenaam van die beloftes van die Here.

ANTWOORD

  • Lied 168 v 1, 2, 3

Heilige Jesus,

Heer van die here,

U is verhoog tot die hemeltroon.

Ons bring U ere, Christus, die Here!

Met heerlikheid is U gekroon.

Mooi is die aarde,dit het groot waarde,

maar is gering voor u grootheid, Heer.

U is ons lewe, U is ons vrede.

U Gees moet ons hier lei en leer.

U is die Alfa, en die Omega.

U kom en elkeen sal U kan sien.

U is die Eerste. U is die Laaste.

Die ganse skepping sal U dien.

GELOOFSVERKLARING

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde

Ek glo in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here

Wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria

Wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is

Wat gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het

Wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode

Van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het

Ek glo

in die Heilige Gees

Ek glo

aan n heilige algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges

Ek glo aan die vergewing van sondes

Ek glo aan die opstanding van die vlees

Ek glo aan ‘n ewige lewe

DANKBAARHEID

  • Offergawes

  • Laaste Lied – 343 v 1, 2

Loof die God van ons verlange!

Wees verheug, sing met vreug

vrolike gesange!

Soos beloof reeds lank tevore,

laat U, Heer, dit gebeur -

Christus is gebore!

Christus, U is my vertroue;

U, die Heer, U kom weer -

U is die getroue.

Hoor ons lof- en dankgebede:

U is Heer, U regeer,

U, die God van vrede.

DIE BELOFTE

  • “Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding”


 
 
 

Comments


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page