Hoop wat Lewe Bring
- Ds. Abe Beyers
- Dec 24, 2015
- 10 min read

Laaste Sondag voor Kersfees Jesaja 8: 23 - 9: 6 20 Des 2015
HOOP WAT LEWE BRING Ds. Abe Beyers
ONTMOETING • Stemmingslied • Ons erken die Here • Hy groet ons
• Ons sing ‘n loflied – 365 1, 3 Hoor die blye eng'lelied aan die Koningseun gebied: "Vrede op aarde - God die eer - Hy daal tot die sondaar neer." Almal wat Hom liefhet, sing om Hom lof en dank te bring! Almal, juig met hart en stem: God word mens in Betlehem. Hoor die blye eng'lelied aan die Koningseun gebied.
Jesus, ware Vredevors kom vir Hom ‘n volk verlos. Wêreldwyd, in elke land kom bevryding deur sy hand. In ons nood het Hy gedaal, vir ons lewe duur betaal. Vrygemaak, deur Hom gevind, is ek ook nou koningskind! Almal deur sy koms verlos, dank en loof die Vredevors!
VERHOUDINGS-TYD Wie is die Here (Jes 6) Die engele het mekaar telkens toegeroep: "Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.“ En nou ons? Toe het ek die Here hoor vra: "Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?" Ek het geantwoord: "Hier is ek! Stuur my!“ Ons antwoord: Lied 164 v 1, 2
Ons is almal hier tesaam, vergader in sy Naam, verheerlik Hom. Tot die dood was Hy getrou en daardeur is ons nou sy eiendom. Kom ons leef soos wat Hy vra en leer om te verdra en liefde na te streef. Loof Hom, Christus, die Heer.
Ons is almal hier tesaam, verenig in sy Naam, verheerlik Hom. Met ons hart en mond en hand, ons kragte en verstand kom loof ons Hom. Hou ons lewend deur u Gees, laat ons u kinders wees en U bo alles eer. Jesus Christus, die Heer.
LUISTER-TYD Gebed Woord – Jesaja 9
1. DIT IS NAG
Ons moet eers teruggaan in die geskiedenis - 2700 jaar terug, die jaar 730 vC. Die land Israel was toe al verdeel in ‘n noordelike deel, Israel, en in die suidelike deel – Juda. In die noordelike Israel is ‘n sekere Peka koning, maar die koning het ernstige probleme: die Siriërs en die mense van Efraim het sy land verwoes en nou is daar geen vrede nie en nie kos nie. Nou is hy naarstiglik besig om te onderhandel met die Assiriërs vir beskerming.
Maar dit is nie al nie - die regstelsel het ook inmekaar gestort. ‘n Israeliet kon daardie tyd nie eers hoop om onder sy mense ‘n regverdige verhoor te kry vir ‘n saak nie – en daarom is dit maar elkeen net vir homself, elkeen kyk hoe hy homself kan bevoordeel. Daar is geen stabiliteit nie, jy is van niks seker nie, dinge loop nie volgens ‘n patroon nie, geen orde nie.
Ons sou dink dat die Israeliete in die omstandighede sou uitroep na God toe, dat die Here tog moet help, maar hulle is lankal verby daardie punt - hulle roep nie meer uit na God toe nie, eerder vervloek en verwens en beskuldig hulle die Here God vir die ellende - en hulle pleit nie meer vir die nood van hulle medemens nie - elkeen is net vir homself, hulle verwens en vervloek mekaar, hulle wens mekaar skade en kwaad toe.
Dit was regtig nag daar in die land Israel. Die Bybel beskryf dit as duisternis. En die koning wat veronderstel is om God te verteenwoordig - daar is geen hoop dat hý God se vrede en reg sal sigbaar maak nie – en daarom probeer elkeen net maar vir homself voordeel kry.
Met God se stem stil, met die land wat verwoes is rondom hulle, strompel elkeen maar net voort – wat hulle betref het hulle onder die oordeel en die verdoemenis van die Here God gestaan.
Nader na ons toe - miskien klink die prentjie dalk vir jou bekend. Deur die genade is ons nog glad nie daar nie – die land funksioneer nog. Maar dalk voel dit vir jou dat dinge by jou erg gaan, of dat dit so in Aberdeen gaan – miskien gaan dit woes by jou, miskien is daar kwade gevoelens, of miskien is daar in die staatsdepartemente korrupsie, of miskien is daar plaasmoorde, miskien is daar geweld rondom ons, of miskien is daar chaos in die staatskorporasies, of miskien is daar chaos onder jou personeel oor kersnaweek.
2. ‘N BOODSKAP
Terug na Israel. En dan in daardie donker tyd, in die tyd waarin daar geen hoop is nie, geen lig nie, kom die profeet met ‘n Boodskap - ” ‘n Seun is gebore” - hy kondig dit aan asof dit klaar gebeur het.
LEES Jesaja 8v23 – 9v4 Jes 8:23 Maar in die land waar daar duisternis is, sal daar nie langer donkerte wees nie. In die verlede het die Here die gebiede Sebulon en Naftali verneder, maar in die toekoms sal Hy die pad na die see van Galilea toe, die Jordaanstreek en die gebied van die heidene in ere herstel.
Jes 9:1-4 1 Die volk wat in donkerte geleef het, het ‘n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ‘n lig geskyn 2 U het dié wat nie meer ‘n nasie was nie, baie gemaak, hulle blydskap groot gemaak. Hulle het hulle in u teenwoordigheid verbly soos mense bly is in die oestyd, soos hulle juig wanneer hulle die buit verdeel.
3 Soos die dag toe Midian verslaan is, het U die juk verbreek wat op die volk gedruk het, die stok waarmee hulle geslaan is, waarmee hulle gedryf is. 4 Elke soldateskoen wat in die oorlog gebruik is, en elke uniform wat met bloed bevlek is, sal verbrand word, deur die vuur verteer word.
En met die aankondiging van die profeet gebeur daar iets met die stukkende Israeliete - hulle kry weer hoop, want hulle besef dat oordeel en verdoemenis – soos hulle dit gesien het, is nie die laaste woord van die Here God af nie - God self gaan weer nuut maak, God is besig om lig te maak in die donker van hulle bestaan.
LEES Jesaja 9 v 5-6 5 Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. 6 Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.
Volgens die profeet Jesaja gaan die Seun nie sommer só wees nie:
- die nuwe koning gaan die regspraak in die land herstel - hy gaan ‘n wonderbare Raadsman wees.
- die nuwe koning wat gaan kom gaan ook nie net iemand wees wat praat en praat en daar gebeur niks nie - hy gaan iemand wees wat dinge doen, wat herstel, wat sterk teen die kwaad sal staan, ‘n regte held.
- die nuwe koning gaan die chaos hokslaan, dinge gaan weer ordelik verloop, jy sal weer kan begin beplan vir vorentoe. - en die koning gaan vrede skep, vrede tussen mense, vrede na buite, rustigheid, vrede in die huisgesinne, vrede met God.
3. WIE WAS DIE NUWE KONING ?
Terug na ons toe. Wie was die koning waarvan Jesaja gepraat het? Ons, omdat ons christene is, weet dat daar maar net Een Persoon is wat voldoen aan hierdie eienskappe. - net een wat 100 % regverdig is – die Wonderbare Raadsman - net een wat nie net gepraat het nie, maar wat gedoen het en die verhouding met God herstel het – die Sterke God - net een wat volle beheer oor die geskiedenis en tyd het – die Ewige Vader - net een wat werklik vrede met God gebring het – die Prins van Vrede
En dit is Jesus Christus, Seun van God, gebore in Betlehem, 2000 jaar terug.
4. WAT GEBEUR BY ONS ?
Terug by die Israeliete. Met hulle het daar destyds iets gebeur - hulle het moed geskep, hulle het hoop gekry toe hulle die boodskap kry van die nuwe koning wat sou kom.
Maar vir ons - die Wonderbare Koning het gekom, die Raadsman, Prins van Vrede is hier - maar ons het nog steeds onvrede, daar is nog steeds onreg, dinge loop nog steeds verkeerd.
Nou hoe moet ons dit nou verstaan - het Jesus dan ‘n flop gemaak, of was Hy toe nooit die Groot Koning nie ?
Die apostel Paulus help ons om te verstaan. Hy skryf ‘n brief aan die jongman Timoteus wat daar in Efese die onwillige mense moes onderrig en hy moes hulle kwaad teëwerk – en nou skryf Paulus vir die moedelose Timoteus:
LEES: 2 Tim 2 v 1, 8 2Tim 2:1 Jy dan, my seun, wees sterk deur die genade wat ons in Christus Jesus het. 8 Onthou altyd dat Jesus Christus, ‘n nakomeling van Dawid, uit die dood opgewek is. Dit is die evangelie wat ek verkondig.
Timoteus jy moet moedhou, want Jesus is uit die dood opgewek. Dus: Jesus hét oorwin oor die kwaad, al lyk dit nie so nie.
Maw: daar in jou huisgesin, as daar onvrede kom, en die verhoudings is stukkend en daar is die wat kwaad is en jy dink dat niks kan regkom nie, daar kan nooit weer vrede kom nie - onthou dan : die Koning lewe en Hy sal weer in daardie situasie vrede maak, Hy kan en sal herstel - want Hy is die Prins van Vrede.
As die dinge verkeerd loop, dinge gebeur onverwags, ‘n ramp tref die gesin - onthou dan: die ewige Vader, die Vader wat dinge onder sy beheer hou, Hy leef en Hy heers. Niks is daarom buite beheer en onverwags nie - vir jou voel dit dalk so, maar nie vir die Koning nie.
As daar onreg is, uitbuiting, diskriminasie, die goed wat ons al hoe meer beleef – onthou dan: die Koning leef en Hy regeer, Hy is die wonderbare Regter, Hy herstel al lyk dit soms vir jou nie so nie.
Miskien verstaan ons nou hoekom Paulus vir die jong Timoteus kan sê: ek verdra alles. En in een van sy ander briewe skryf hy: ek is tot alles in staat deur Christus wat my die krag gee. Hy bedoel: ek kan alles hanteer, alle omstandighede hanteer, omdat Jesus Koning is.
5. ONS IS AS KONINGS AANGESTEL
Dit is vir my ‘n groot bemoediging en troos om op hierdie paar dae voor Kersfees weer te hoor dat Jesus die Koning is - Wonderbare Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors.
Maar daar is nog ‘n ander kant van die storie wat ons nie mag vergeet nie.
LEES Openbaring 5 v 9 – 10 Op 5:9 Toe sing hulle ‘n nuwe lied: "U Jesus is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. 10 U het hulle ‘n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer."
Johannes skryf dat die Koning Jesus vir - vir ons aangestel het as konings - ons is ook nou konings wat heers oor die kwaad en onreg - ons is ook aangestel as wonderbare raadsmanne, - ons is aangestel as die sterkes wat dinge doen en weerstand bied teen die kwaad, as mense wat dinge onder beheer hou, wat die chaos teëwerk, - ons is ook nou mense wat prinse van vrede is.
Kersfees beteken: Jesus het gekom en Hy is nou die Koning wat heers. Maar Jesus het ook gekom en het jou aangestel - Hy werk deur jou, Hy maak mense en dinge nuut deur jou:
- soos die koning destyds in die donker tyd van Israel moes nuut maak, so moet jy ook in die ellende en chaos van jou omgewing lig maak en hoop bring. - In die onvrede moet jy vrede maak. - Die onreg in jou omgewing moet jy regstel.
En daarom kan ons sê oor die belofte wat die profeet Jesaja destyds gemaak het – die Here Jesus is steeds besig vandag om hierdie woorde waar te maak, om die lig en die vrede en die reg sigbaar te maak in hierdie stukkende wêreld – moenie moedeloos raak nie – die Here is besig.
GEBED TOT DIE HERE Lied 284 v 1, 2, 3 Laat Heer u vrede deur my vloei Waar haat is, laat ek daar U liefde bring. Laat ek in pyn en smart vertroostend wees En krag gee deur geloof in U, o Heer Refrein O Heer, help my om altyd so te leef – om ander hoër as myself te ag, Ja, om lief te hê – ander bo myself – en ook eerder te gee as te verwag.
Laat Heer u vrede deur my vloei en laat ek hoop gee waar daar twyfel is. Ek wil u lig in duisternis laat skyn. Laat ware vreugde altyd uit my straal Refrein O Heer, help my om altyd so te leef – om ander hoër as myself te ag,
Ja, om lief te hê – ander bo myself
–en ook eerder te gee as te verwag
Laat, Heer, u vrede deur my vloei… leer my om ook soos U te kan vergeef Maak my bereid om aan myself te sterf, dat ander U al meer in my kan sien.
BEVESTIGING Nuwe Kerkraadslede - Hantie Marx - Christelle Nel
Seënbede – Lied 268
Laat, Heer, u seën op hul daal, u guns uit Sion hul bestraal! U wat beveel en dit geskied, wil, Heer, u seën oor hul gebied!
DANKBAARHEID Offergawes Laaste Lied – 334 v 1, 2, 3, 4
"God is Liefde!" juig ons harte, en bedink wat liefde doen: Dat Hy ons sy Seun gestuur het, om ons sonde te versoen.
Hy wat eerste liefgehad het, het in liefde ons vergeef - nou kan ons, uit God gebore, uit dié bron van liefde leef!
Deur sy Gees, die wondergawe, laat Hy wederliefde spruit; en dié liefde - wat volmaak is - dryf die vrees en selfsug uit.
As die Vader in sy liefde dan die sondaar maak tot kind, mag sy Seun al meer gestalte in ons doen en late vind!
DIE BELOFTE
Sy teenwoordigheid in ons gestuurdheid
________________________________________________
Last Sunday before Cristmas - Isaiah 8: 23 - 9: 6 20 Dec 2015
The history of Israel has not all been a divine romance. During many seasons, around 700 BC, there was such a time, when the northern territories were sunken into political and social despair. During these dark days, the prophet Isaiah prophesied: "for to us a child is born, to us a son is given, and the government will be on his shoulders. And he will be called Wonderful Counselor, Mighty God, Everlasting Father, Prince of Peace." This child will put the wrong straight and restore peace.
Today we look back, and see what was promised to them: but the outcome of this prophecy is still in the making. Since Jesus has come, we, the church, are the guardians of this mission. As His instruments and servants, we are tasked to renew minds, restore lives and make peace.
Comments