top of page

Steeds Verwondering - Kersdag 2015

  • Ds. Abe Beyers
  • Dec 31, 2015
  • 6 min read

Lukas 4 v 18 – 30 KERSDAG 2015

STEEDS VERWONDERING

Ds. Abe Beyers

1. VERWONDERING

Maria se Verwondering – oor die Here se genade –

1. Verwondering in Nasaret

In die tyd toe die Here Jesus begin optree het daar in Palistina, was daar ‘n geweldige verwagting dat die ou beloftes van die profete - dat die lang verwagte Verlosser gaan kom - in hulle tyd in vervulling sal gaan.

Die verwagting is dan ook lewend gehou deur die skrifgeleerdes – dat daar weer ‘n koning soos koning Dawid gaan kom en hy gaan weer ‘n koninkryk skep soos koning Dawid s’n en die Romeine verdryf.

Maar verder het daar ook ander dinge in Israel gebeur wat veral vir Josef en Maria laat besef het dat die Here God met iets groots besig is.

  • Dink net aan die storie van die herders wat die boodskap van die engele af gekry het – vannag is daar virjulle gebore die Koning…

  • Of dink aan Simeon se visioen daar by die tempel toe Josef en Maria vir Jesus op ‘n paar dae oud Jerusalem toe gebring het…

  • Of die dinge wat Anna die profetes oor Jesus gesê het.

  • Wat die verwagting nog meer aangevuur het, was die gerugte van ‘n sekere Johannes die Doper wat daar onder by die Jordaanriver opgetree het – mense het in 1000e soontoe gestroom want “die Verlosser is hier”.

En toe hoor die Joodse dorpies ook al hoe meer van ‘n sekere Jesus wat wonderlike dinge doen – en die verwagting en die opgewondenheid styg net al hoe meer – is dit nie dalk nou die Groot Verlosser wat gekom het nie?

2. AANKONDIGING

En dan op ‘n dag daar in die dorpie Nasaret kom die gemeentetjie soos gewoonlik bymekaar in die gewone bymekaarkomplek. En terwyl almal sit, staan daar toe iemand op wat ‘n aanduiding is daardie persoon wil iets vertel. Dit was die normale manier van doen. En die Man vra toe vir ‘n boekrol om uit voor te lees – of Hy vir ‘n spesifieke rol gevra het weet ons nie, maar die boekrol van die profeet Jesaja word aan Hom gegee en Hy lees toe daar die volgende stukkie:

LEES Lukas 4 v 17 – 19 Luk 4:17 is die boek van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgemaak en die plek gekry waar geskrywe staan: Luk 4:18 "Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, Luk 4:19 om die genadejaar van die Here aan te kondig."

Daar was toe ‘n gespanne verwagting, ‘n opgewondenheid. En toe kom die groot aankondiging:

LEES Lukas 4 v 20 – 21 Luk 4:20 Nadat Hy die boek toegemaak en aan die amptenaar teruggegee het, het Hy gaan sit. Die oë van almal in die sinagoge was op Hom gerig. Luk 4:21 Toe begin Hy hulle toespreek: "Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul."

En dan lees ons van die reaksie op die aankondiging. Daar is by hulle ‘n verwondering oor die woorde van genade uit sy mond.

LEES Lukas 4 v 22a Luk 4:22 Almal het hulle instemming met Hom betuig en was verwonderd oor die aangename woorde uit sy mond................. En dit is waarop ons vandag weer fokus – op die verwondering en die positiewe gesindheid van die mense nav die aangename woorde uit die mond van Jesus. Die Genadewoorde wat uit Hom uitgevloei het. Ons kan ons amper inleef in die belewenis van die gemeentetjie daar in Nasaret. Dit is ‘n groot oomblik – die groot Genade van die Here is hier, die Verlosser het gekom. Daarom is daar by hulle hierdie verwondering.

SING 176 Halleluja! U is Koning. Ons aanbid U, in U woning. U’s die Alfa en Omega, Daarom sing ons: Halleluja!

3. WAAKSAAM

Ons is nou ook in die stemming van Kersfees, weer verwonderd oor die Genadewoorde van Jesus, verwonderd oor die Here God se ingryping in die mens se bestaan in.

Maar soms kan die verwondering heeltemal verander, in iets anders omsit. Daar is so baie dinge wat ons harte kan aftrek van die verwondering oor die Here God. Daar is so baie dinge wat maak dat ons glad nie meer die Here se werking raaksien nie.

Kyk net wat het daar by Nasaret gebeur.

Die stemming was nog een oomblik pragtig, hulle was verwonderd oor hierdie man Jesus, maar dan verander alles – ‘n totaal ander gees begin heers, ‘n totaal ander atmosfeer. Dis vir ons vandag moeilik om ons regtig in te dink wat daar by die mense van Nasaret gebeur het – miskien het die realiteit van hulle situasie ingekom, miskien het die politiek van die dag ingeskop – maar daar gebeur iets, die hele stemming en atmosfeer verander skielik.

Uit die bloute uit gooi iemand toe ‘n emmer koue water op die opgewondenheid: Maar dis mos net die Houtwerkmannetjie wat hier vir ou Josef gehelp het…

LEES Lukas 4 v 22b Luk 4:22 .................... En hulle sê: "Is hy dan nie die seun van Josef nie?"

4. GESINDHEID

En dan in die res van die gesprek hoor ons ‘n heel ander gesindheid wat na vore kom. Dis asof daar onder die mense van Nasaret ‘n vreeslike arrogansie uitborrel – dis asof hulle vir Jesus uitdaag om nou ook te kom uithaal en wys wat Hy kan doen. Dis asof dit in hulle gedagte is: Jy is mos die kind wat hier in die dorp gespeel het – wys nou vir ons wat jy kan doen en dan sal ons self besluit of jy goed genoeg is.

Van die onvoorwaardelike erkenning van Jesus se gesag en mag was daar niks nie. Daar was niks van: Here, wat U ook al doen is goed nie. Daar was niks van: U is die Heerser en ons vertrou U – as U genade en guns vir ons wil gee, dan is dit goed so, en as U net wil kom rus hier in Nasaret, dan is dit ook goed so. Daar was niks van ‘n onvoorwaardelike vertroue in Hom as Here nie.

5. EN ONS?

Nou nader na ons toe. Dit is nodig dat ons op Kersdag weer vir mekaar herinner daaraan van wat so maklik ook onder ons kan gebeur – dat die hele fokus op die Here en wie Hy is, net eenvoudig verdwyn. So maklik kan omstandighede en situasies maak dat ons daardie verwondering, daardie vertroue, daardie geloof in die Here Jesus verloor.

En as ons daardie verwondering, daardie respek en agting vir Jesus verloor, of as dit oorweldig word deur ander dinge – dan verander mense, dan word hulle anders soos wat die mense van Nasaret anders geword het.

Later in sy aardse lewe het die Here Jesus self dit so beskryf :

LEES Johannes 15 v 5 Joh 15:5 "Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie."

Die apostel Paulus skryf vir die gemeente in Galasië oor hierdie in verbinding bly met die Here – hy noem dit die vrug van die Gees

LEES Gal 5 v 22 Gal 5:22 Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, Gal 5:23 nederigheid en selfbeheersing…."

Of dan ag Paulus dit nodig om nog verder te skryf oor wat die verbinding aan die Here Jesus prakties beteken

LEES Gal 6 v 1 – 2 Gal 6:1 Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom. Gal 6:2 Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus."

6. WAAKSAAM BLY

Daarom wil ek graag op hierdie Kersdag van 2015, waar ons almal in verwondering oor die Genadewoorde van die Here Jesus is, vir elkeen uitnooi dat ons sal werk maak daarvan om steeds in verwondering te bly oor hierdie Here Jesus en wie Hy is.

SING Lied 175 Majesteit, glansryke heerlikheid! Ons wil Jesus, die Koning, hulde bewys! Majesteit, hemelse heerlikheid! Vanwaar ons woon, tot by sy troon, wil ons Hom prys. Kom ons loof, kom ons besing die Naam van Jesus! Kom ons loof, kom ons aanbid die Here ons God! Majesteit, heilige heerlikheid! Hy het gesterf, ons heil verwerf, Hy het oorwin!

7. VOORBIDDING

GEBED in klein groepies


 
 
 

Comments


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page