top of page

Die Here wat ons wil hê

  • Writer: NG Kerk Aberdeen
    NG Kerk Aberdeen
  • Feb 28, 2015
  • 8 min read
12.jpg

Markus 8 1 Maart 2015

DIE HERE WAT ONS WIL HÊ

Ds Abe Beyers

ONTMOETING

  • Ons erken die Here se grootsheid

  • Hy groet ons

  • Ons sing ‘n loflied – 193 v 1, 2, 3

Bring lof en dank,

gee God die eer,

o volke, almal saam!

Sing: Heilig! Heilig! Heilig Heer!

Hoogheilig is sy Naam!

U is lankmoedig, het geduld.

U deel die boodskap mee:

U delg ons sonde en ons skuld,

U werp dit in die see.

Gee vrede, Heer, waak oor u kerk

met vaderlike hand.

Maak ons voorspoedig in ons werk

en seën u volk en land.

WOORD-TYD

ONS VERHOUDING MET DIE HERE

  • Wie is die Here: (Hab 1v12)

" U is tog van altyd af daar, Here;"

  • Ons worsteling: (Hab 1v12)

"U oë is te rein om toe te kyk terwyl daar verkeerd gedoen word, U kan tog nie sien dat daar ellende is en niks doen nie! Waarom doen U dan niks?"

  • En nou ons? (Hab 3v17)

" Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder."

Die Here my God gee vir my krag.

Ons antwoord met Lied 390 v 1, 2, 3

Ons kniel hier voor u voete neer

en hoor die hemelkore:

hul loof en prys en roem u eer

oor ons, eens so verlore.

U liefde is onpeilbaar groot,

ontsien nie om te ly nie.

Geen kruis stuit U, geen vloek,

geen dood

om sondaars te bevry nie.

Die Lam wat vir ons sondes boet

oorwin die hel se magte.

Hy koop ons met sy dood, sy bloed,

uit duisende geslagte.

WOORD-TYD

  • Gebed

  • Markus 8 v 31 - 38

1. SUKSES

Mense se siening oor sukses kan nogal wyd uiteenloop. 'n Studie van die Success-tydskrif in die VSA in 2006 bevind 60% van respondente meen 'n sakeonderneming is net 'n sukses as dit waarde tot die lewe van ander toevoeg. Slegs vir 18.8% was sukses om "'n klomp geld te maak."

'n Volgende vraag was: Wat is die mees belangrike bydraende faktore tot sukses:

  • 'n Goeie verhouding met familie – 89.9%

  • 'n Goeie verhoudings met jou huweliksmaat – 89.6%

  • 'n Goeie verhouding met God – 86%

  • Die vryheid om te doen wat jy wil – 61.7%

  • Finansiële sekuriteit – 57.5%

  • 'n Goeie loopbaan – 47.1%

  • Geld en rykdom – 32.3%

  • Al hierdie elemente en faktore maak sin. Dit is die soort van goed wat geen mens 'n ander ontsê nie.

  • Groot dele van die opvoedingsproses, en die Christelike onderrig wat

ouers en kerk kinders gee, het te doen met die vaardighede om goeie

verhoudinge te vestig – met God, huweliksmaat, gesin, familie, kollegas

by die werk, en mense van die omgewing.

2. LYDING

Teen hierdie agtergrond is dit so verrassend dat Jesus sy projek om die wêreld te transformeer en die regering van God te vestig, verbind met lyding en dood:

LEES Markus 8 v 31-32

Mar 8:31 Jesus het hulle toe begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly, dat Hy deur die familiehoofde en die priesterhoofde en die skrifgeleerdes verwerp moet word en doodgemaak moet word, en drie dae later moet opstaan.

32 Hy het met hulle hieroor reguit gepraat.

Petrus weet dadelik dat lyding en dood nie 'n goeie faktor vir sukses is as mens 'n nuwe geloofsgemeenskap op die been probeer bring nie. Hy neem Jesus opsy om Hom te berispe, maar loop self berisping op die lyf:

LEES 8 v 33

33 " Hy het egter omgedraai, na sy dissipels gekyk en vir Petrus berispe. "Moenie in my pad staan nie, Satan," het Hy gesê, "want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê."

3. VERLOËN EN KRUIS OPNEEM

Jesus gaan egter verder. Asof Jesus se eie lyding en dood nie genoeg is nie, beklemtoon Hy ook lyding as die lot van diegene wat kies om Hom te volg:

LEES 8 V 34-38

Mar 8:34 Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: "As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou.

36 Wat help dit ‘n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor?

37 Wat sal ‘n mens kan gee in ruil vir sy lewe?

38 Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader."

Wie sien hiervoor kans?

4. MTD

In 'n omvattende ondersoek oor hoe Amerikaanse jongmense oor God en die wêreld dink, gepubliseer in die boek Soul searching word bevind dat daar 'n gemeenskaplike "teologie" by Amerikaanse jongmense aanwesig is. Dit kan as volg opgesom word, vertel Todd Billings in sy uitstekende boek, Union with Christ.

  • Daar bestaan 'n God wat die wêreld geskep en georden het, en wat die wag hou oor menslike lewe op aarde.

  • God wil hê mense moet goed en gaaf en regverdig teenoor mekaar wees, soos die Bybel en trouens die meeste wêreldgodsdienste leer.

  • Die sentrale doel van die lewe is om gelukkig te wees en goed oor jouself te voel.

  • God hoef nie besonder betrokke in mens se lewe te wees nie, behalwe wanneer jy God nodig het om 'n probleem op te los.

  • Goeie mense gaan hemel toe wanneer hulle sterf.

Hierdie godsdienstige beskouing staan as MTD bekend: Moralistiese Terapeutiese Deïsme:

- Hier is geen sprake van 'n heilige God wat genade op sondaars uitstort

nie.

- Niemand hoef deur lyding en sterwe heil vir ander te bewerk nie. Hoekom

nie? Want mense is basies goed en sal reguit hemel toe gaan as hulle

volgens die reëls lewe.

- Ons is nie van God vervreem nie. Ons is OK.

Mens voel dadelik aan dat hierdie oortuigings ook wyd in Suid-Afrika

posvat – nie net onder jongmense nie, maar ook onder volwassenes.

5. VERBINTENIS

Die eerste lesers van die Markus-evangelie ly ter wille van hulle geloof. Dalk is hulle in Rome waar Nero besig is om Christene intens te vervolg, of dalk beleef hulle die onweerswolke van die Romeinse verwoesting in Palestina en die val van Jerusalem.

Hulle worstel met die verbintenis wat Christus van hulle vra.

Ter wille van ons verbind Christus Hom tot lyding en sterwe. Daaroor praat Jesus reguit met die dissipels.

Tweedens vra Hy ook 'n sterk verbintenis van hulle. Ter wille van die genesing van die wêreld, en God se nuwe toekoms, moet die dissipels hulself ook verbind tot diens vir die beswil van die wêreld.

Van so 'n Messias hou Petrus nie.

Wat mense wil hê

Ons sien in Petrus se reaksie op Jesus se aankondiging hoe mense dink, wat mense wil hê. Die mense verwag van die Messias, die Gesalfde van God, om 'n oorwinnaar te wees. Hy is immers 'n koning. Hy moet Israel verlos van die Romeinse oorheersing en 'n nuwe aardse koninkryk stig.

Wat God wil hê

Hy praat reguit met hulle, in verstaanbare taal, nie meer deur gelykenisse nie en sê dat Hy verwerp en doodgemaak moet word. Uit Petrus se reaksie sien ons dat Jesus se voorspelling dat Hy uit die dood gaan opstaan, nie mooi gehoor is nie. Dit het weggeraak agter die voorspelling van sy lyding.

Verbintenis gevra

Petrus hulle het natuurlik geweet dat as hulle Here moet ly, gaan hulle wat sy navolgers is ook op een of ander manier geraak word deur wat met Hom gebeur. Inherent is hier dus ook onbegrip of weerstand teen die lydensweg wat die dissipels sal moet loop. Dit is tipies wat mense sal wil hê.

In Markus 9:34 praat die dissipels immers oor wie van hulle die belangrikste is. In Markus 10:37 vra Jakobus en Johannes vir Jesus:

"Wanneer U as koning heers, laat ons dan langs U sit, die een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand."

Wat die mens bedink, is om die grootste en die sterkste te wil wees, om oor ander te heers.

Daarteenoor kom sê Jesus dat God die teenoorgestelde wil hê. Jesus leer die dissipels en die menigte: daar is 'n prys om te betaal vir dissipelskap. Navolging van Jesus vra om die self te verloën, die kruis op te neem en Jesus te volg (tot die bereidheid om te sterf).

As ons onsself verloën, met Jesus se lyding en dood identifiseer en Hom gehoorsaam volg, sal ons, vanuit menslike oogpunt, onsself verloor, maar vanuit God se perspektief sal ons juis onsself wen. Ons sal al meer soos Christus word en ons unieke identiteit in Christus vind. Baie wat Hom gevolg het oor die wonderwerke, sal nie kans sien vir dié prys nie.

Deur ons lewe te gee in diens van ander, deur deel te neem aan die uitstorting van God se liefde oor die wêreld, verkry ons alles wat die lewe die moeite werd maak. Selfs al kos hierdie verbintenis ons lewe.

Stryd

Die Markusevangelie verhaal heelwat positiewe dinge oor die dissipels, soos dat hulle hulle alledaagse lewe gelos en Jesus gevolg het.

Markus wys egter ook op die dissipels se mislukkings, onbegrip en blindheid, soos die geval met Petrus hier. Petrus is hier die verteenwoordiger van die dissipels. Die dissipels se optrede is ambivalent of dubbelsinnig, hulle swaai heen en weer tussen wat God wil hê en wat mense wil hê.

Dit is presies hoe dit met ons ook gaan. Petrus se optrede is 'n spieëlbeeld van onsself. In ons lewe is daar ook 'n stryd tussen dit wat God wil hê en dit wat ons as mense wil hê.

Dit is spesifiek hierdie diep verbintenis aan Jesus wat ons Westerse kultuur so nodig het.

Jesus, die lydende Kneg, wat ons verhouding met God herstel, is die Weg, die Waarheid en die Lewe.

Slegs wie sy of haar lewe volledig verbind aan hierdie Jesus, vind die bestemming en identiteit wat God vir ons bedoel het.

Slegs wie hulle lewe verloor in God se diens, sal dit verkry.

Kruisteologie

Moralistiese, terapeutiese deïsme is 'n leuen. Dis 'n teologie wat alles maklik maak en sukses met 'n paar eenvoudige stappe en menslike faktore waarborg. Dit is 'n oorwinningsteologie wat aan heerlikheid sonder lyding vashou.

Dit het nie werklik begrip vir die sentrale rol wat lyding in Jesus se lewe en in die dissipels se lewe speel nie.

Hierdie skrifgedeelte waarsku ons om nie op hierdie wyse op die evangelie te reageer nie. Dit is volgens wat mense wil hê. Christus roep ons op tot 'n "kruisteologie" (lyding wat verander in heerlikheid). Hy vra van ons dissipelskap, selfverloëning, kruis dra. Ons moet leer om soos Jesus te dink, om te dink aan wat God wil hê. Dit sal altyd 'n stryd wees, met tye van mislukking en misverstand, asook tye wat ons daarin slaag om te dien soos Jesus, selfs met ons lewe as dit moet.

Alleen sal ons al meer die nuwe mens word wat God wil hê ons moet wees, die nuwe mens waarvoor Christus gesterf en opgestaan het.

God se weg gaan deur die dood heen tot die heerlikheid van die opstanding waarin ons ook deel.

ONS ANTWOORD

  • Lied 308 v 1, 2, 3

Neem my lewe, laat dit, Heer,

U gewy wees meer en meer.

Laat my hart gedurig juig

en van dankbaarheid getuig.

Neem my hande, maak hul sterk

diensbaar in u goeie werk.

Neem my voete, skoei hul, Heer,

met bereidheid tot u eer.

Neem my stem en laat my sing

aan U, Here, hulde bring.

Laat my mond dié boodskap dra:

Hul sal vind wat na U vra.

DANKBAARHEID

  • OFFERGAWES

  • Laaste Lied – 488 v 1, 2, 3

Helder skyn u lig vir die nasies,

'n vreugdeglans om die mense te verlig

tot die hele wêreld kan sien

U is die lig.

Mag u lig, Heer, deur ons skyn.

Vrolik klink ons lied vir die volke,

'n pryslied bring

al die nasies om ons saam

tot die hele wêreld kan jubel oor u Naam

Mag u lof, Heer, deur ons klink.

Balsem bring herstel vir die wonde,

'n sagte salf vir die mense met hul seer

tot die hele die wêreld kan sien

dat U genees.

Mag U troos, Heer, deur ons bied.

DIE HERE SE BELOFTE

Sy teenwoordigheid


 
 
 

Comments


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page