top of page

Opsoekende Liefde

  • Ds. Abe Beyers
  • Dec 10, 2015
  • 10 min read

Sondag 6 Des 2015 Maleagi 2v17 – 3 v 5

OPSOEKENDE LIEFDE Ds Abe Beyers

(English summary at the bottom of this page.)

ONTMOETING  Stemmingslied  Ons erken die Here  Hy groet ons  Ons sing ‘n loflied – 470 v 1, 2

U, Here, is ons Koning, Een wat met mag regeer. U onderdane lofsing, en buig hul voor U neer. Groot is u Naam en heilig, getrou is U en goed. U, Here, is ons toevlug, die God wat ons behoed

U troon hoog as 'n vesting, verhoor ons as ons vra: Heer, bied aan ons beskerming, Ontfermer wat ons dra. U, Heer, is sterk en magtig, U wat ons digby hou, by U is ons steeds veilig, op U kan ons vertrou.

INLYWING IN FAMILIE VAN JESUS  Doopgeleentheid  Ghisela Lategan (Louis en Gilly)  Anco Lategan (Coenie en Annelize)

SEëNBEDE Gemeente sing Lied 268

Laat, Heer, u seën op hul daal, u guns uit Sion hul bestraal! U wat beveel en dit geskied, wil, Heer, u seën oor hul gebied!

VERHOUDING Paulus se ontdekking (Hand 9)

"Intussen het Saulus soos ‘n besetene voortgegaan om die volgelinge van die Here met die dood te dreig.

Toe hy op reis naby Damaskus kom, het daar skielik ‘n lig uit die hemel op hom gestraal.Hy het op die grond neergeval en ‘n stem vir hom hoor sê: "Saul, Saul, waarom vervolg jy My?

"Wie is U, Here?" vra hy toe. "Ek is Jesus," antwoord Hy. "Dit is vir My wat jy vervolg.

 Ons antwoord op die Here se verskyning Lied 267 1, 2

Ons Vader op die hemeltroon aan wie ons lof en eer betoon, ons bid ootmoedig almal saam: Gee dat u goddelike Naam deur ons geken, geëer, gevrees - in alles mag geheilig wees.

Laat Heer u Koninkryk steeds kom in hierdie land en oral om. Die skepping is u magsgebied waar u volmaakte wil geskied - vanuit die hemel om u troon tot waar ons op die aarde woon.

WOORD-TYD  Gebed  Woord – Maleagi 3

1. RESPEK?

So ‘n paar maande terug was ek so bietjie by die plaaslike laerskool betrokke – omdat Christa daar skoolgehou het. En ek het die onderwysers daar regtig jammer gekry – want dit is nie maklik om skool te hou nie. Die kinders het anders geword: daar heers ‘n gesindheid by die meeste van die kinders: ek maak soos ek wil. Daar is nie meer die agting en respek vir die onderwyser by meeste van die kinders nie. Gedurig is daar konflik en stryd in die klaskamer.

As die studente by universiteite so betoog dan wonder ek of die gesindheid wat jy sien by laerskole nie ook maar daar by hulle aanwesig is nie – want dit bly nie net by betoog en protesteer nie – daar word ook verwoes en afgebreek.

En ek het al gewonder of die gesindheid nie ook maar deurgewerk het na ons toe nie – as die staat ‘n reël maak dat jy bv moet stop by ‘n stopteken, dan besluit ons mos self of ek dit wil doen – daar is ook nie meer by ons die respek en agting vir gesag nie.

2. ISRAEL

As ons nou na die Israeliete kyk in die storie wat ons vandag gaan lees, dan lyk dit vir my daardie gesindheid het ook by hulle posgevat.

Die storie speel af so net voor 400vC en die tempel is al klaar weer herstel na die tyd van die ballingskap. Heelwaarskynlik was Nehemia toe goewerneur daar in Israel.

Maar dit blyk ook dat die geweld en die kwaad en die verkeerde toegeneem het in die land. Dit het vir hulle al hoe meer begin lyk asof dit die moeitewerd is om te steel en kwaad te doen en te verwoes, want daar gebeur niks. Die regspraak en die wet en orde word al hoe meer geïgnoreer.

En dan begin die Israeliete om die fout te soek – wie se skuld is dit dat dinge so verkeerd loop. En kyk nou net wat is hulle afleiding:

Lees Mal 2v17b Julle het die Here moeg gemaak met wat julle gesê het, en dan vra julle nog: "Waarmee het ons Hom moeg gemaak?" Julle het dit gedoen toe julle gesê het: "Vir die Here is almal wat verkeerd doen, goeie mense, Hy hou van hulle," of toe julle gevra het: "Waar is die God wat reg moet laat geskied?“

Lees Mal 3v15 "Dit lyk vir ons of dié wat teen Hom in opstand is, die gelukkiges is, en of dié wat verkeerd doen, vooruitgaan. Hulle daag God uit en kom vry!"

Hulle gedagte was – daar is nie fout by ons nie, ons doen nog al die offers en kerkgoed en ons doen nog al die reëls – dus, as die fout nie by ons is nie, dan moet dit mos by die Here wees. Dis sy gesindheid wat verander het, dis Hy wat nie meer vir reg en geregtigheid staan nie.

3. WAT WAS VERKEERD?

Voordat ons by die Here se antwoord aan die Israeliete kom – die situasie daar in Israel was dat daar aanvanklik groot opgewondenheid en entoesiasme was, die Here is met toewyding gedien – maar dinge het begin verander. Die verhouding met die Here, die toegewydheid, die agting en respek vir die Here het afgekoel. Dit klink asof hulle maar soort van gewoond geraak het aan die Here en aan godsdiens, asof ánder dinge al hoe meer belangrik geword het.

Kyk wat was die simptome van die agteruitgang van die verhouding:

Lees Maleagi 1 v 7 en 12 Mal 1:7 Julle bring onrein voedsel op my altaar, en dan vra julle: "Hoe het ons U te na gekom?" Julle doen dit wanneer julle dink: "Die altaar van die Here kan maar met minagting behandel word."

12 Julle dink die altaar van die Here kan maar ontwy word en die offers daarop met minagting behandel word.

Lees Maleagi 3 v 5 Mal 3:5 Dan sal Ek na julle toe kom as regter: Ek sal sonder versuim regspreek teen dié wat hulle met toordery ophou, teen die egbrekers en dié wat vals ede aflê, teen dié wat die dagloner te kort doen, die weduwee en die weeskind veronreg en die vreemdeling verdring, teen dié wat nie vir My eerbied het nie, sê die Here die Almagtige.

Om nou nader na ons toe te kom – natuurlik gaan dit nie vir ons vandag oor onrein voedsel op die altaar of siek diere bring as offer nie - maar ons moet ook onsself afvra of iets van hierdie gesindheid van die Israeliete nie ook by ons is nie. - Dit gaan nou nie daaroor of ‘n boer se lammertjie te maer was of nie. - Dit gaan daaroor dat ons toewyding aan die Here net ‘n las is, net nog maar iets wat jy moet doen tussen al jou ander verpligtinge deur. Ek moet vir myself afvra of die Here God regtig nog vir my belangrik is? Miskien is die kern van die ding: Is daar ‘n lewende en vreugdevolle verhouding tussen my en die Here, is daar respek en agting vir die Here? Ons kan dit ook skerper vra: is die Godsdiens wat ek bedryf net maar rituele, net maar gewoontes, is daar ‘n verhouding tussen my en die Here?Wat die Israeliete gedoen het kan ons só sê: hulle het die kerk gebruik twv die voordeel – daar was geen toewyding aan die Here meer nie – Godsdiens was net ‘n noodsaaklike ergernis.

LEES Maleagi 3v1 Mal 3:1 Ek gaan nou my boodskapper stuur, Hy sal die pad voor My uit regmaak, en dan sal die Here na wie julle soek, skielik na sy tempel toe kom. Ja, die Verbondsengel na wie julle met soveel vreugde uitsien, gaan nou kom, sê die Here die Almagtige."

En die Here het sy boodskappers gestuur – in die volgende 400 of wat jaar het die Here gedurig profete na hulle toe gestuur. Later het Hy vir Johannes die Doper gestuur. En dink nou aan wat was Johannes se boodskap: sy oproep was dat die Israeliete tot inkeer moet kom, hulle opnuut weer moet toewy aan die Here.

Maar Johannes het ook gedink dat die Here sy dorsvloer deur en deur gaan skoonmaak, dat die Here die kaf van die koring gaan skei. Maar dan gebeur dit nie, want die Here wil die verhouding herstel.

En toe kom die volgende Boodskapper – Hy word gebore daar in ‘n stal in Betlehem - Jesus Christus. En ook Hy kom nie met oordeel en verwoesting nie. Hy kom roep die mense op tot nuwe toewyding aan God, Hy kom vra vir hulle om reg te laat geskied.

5. DIE HOE VAN DIE HERSTEL

Maar die storie van die Here se oproep tot nuwe toewyding aan Hom is nog nie klaar nie – die Here sê ook in die storie dat Hy aktief gaan werk om die toewyding en erkennning van Hom te herstel, Hy gaan self ingryp en dinge verander

LEES Maleagi 3 v 2-3 Mal 3:2 Maar wie kan die koms van dié Engel verdra, wie kan standhou wanneer Hy verskyn? Hy is soos die vuur van die smelters en soos die seep van die wassers. 3 Soos iemand wat silwer smelt en suiwer, so sal Hy as regter gaan sit om die Leviete te suiwer, om hulle te louter soos goud en silwer, sodat hulle aan die Here ‘n offer kan bring wat bestaan uit regdoen."

Ons kan tog vanoggend die beeld van die suiwering bietjie meer verduidelik. Dit was nogal iets besonders om te sien hoe die koper gesmelt word. Na die erts onder die grond uitgehaal is, is dit eers fyn gemaal tot ‘n poeier. Hierdie poeier is dan weer deur ‘n proses gesit waar die klip en die koper geskei is totdat hulle 40% suiwer koper gehad het.

Hierdie konsentraat is dan na die smelter gebring waar dit dan in die smelter ingegooi is.Die smelter het dan die koper gesmelt op 1250 C. Dit is nogal warm. Teen daardie temperatuur was alles vloeibaar soos water, die koper en al die onsuiwerhede. Die koper het onder gedryf en die onsuiwerhede bo-op. Om nou van die onsuiwerhede ontslae te raak moes dit afgeskep word, maar al manier hoe jy kon sien wat is koper en wat is onsuiwerhede was ‘n klein verskilletjie in kleur,- en daarby kon jy nie naby die gesmelte koper kom nie, dit was te warm. Wat hulle toe gedoen het was om ‘n gat in die kant van die smelter te maak op ‘n sekere hoogte en dan die onsuiwerhede te laat uitloop. As die kleur verander dan moes daar baie vinnig ‘n kleiprop in die gat ingedruk word.

Die beeld van die suiwering vertel vir ons hoe die Here in ons lewe werk om ons weer tot toewyding aan Hom te bring

Om dit nou prakties te maak: Hier is vandag twee kindertjies ingelyf in die familie van Jesus in – en die Here neem nou daardie ouers en gebruik hulle om die kindertjies, wat gebore word met die geneigdheid om net aan hulleself te dink te leer – om nou so met tyd vir die ou dingetjie saggies te laat verstaan, maar jy moet darem ook vir ma en pa in ag neem – jy sal nou-nou kos kry, dis nie nodig om so te skree nie. Of sommer daar waar julle aan tafel sit – eenvoudige goed soos wag eers, ons erken eers die Here voor ons sommer in die kos inval.

Dis is alles deel van die Here se manier om die onsuiwerhede uit te werk, sodat die kind kan leer van respek en agting – ook vir die Here.

Of bv vir ons wat al groot is – op allerhande maniere leer die Here vir ons deur situasies om Hom te respekteer. Jy word bv siek of daar kom droogte of watter moeilikheid ook al – en daar staan jy magteloos. En so bring daardie moeilike situasie jou weer tot nuwe toewyding aan die Here.

6. OPROEP

En dis al wat die Here wil bereik – dat ons naby aan Hom sal bly, dat ons respek en agting vir Hom voortdurend sal groei en toeneem – sodat daar ‘n lewende en vreugdevolle verhouding met Hom sal wees.

ONS ANTWOORD  Lied 176 (x2) Halleluja! U is Koning. Ons aanbid U in u woning. U's die Alfa en Omega, daarom sing ons: Halleluja!

DANKAARHEID  Offergawes  Laaste Lied 470 v 3, 4

Gee nou aan ons volharding dat ons met moed kan stry. Heer, gee aan ons oorwinning, u krag sal ons bevry. U is ons Rots, ons Redder, Een wat die vyand stuit U, Here, is ons Vader, ons God in ewigheid.

Aan U ons jubelsange, ons prys U met ontsag. Na U is ons verlange, ons bly u heil verwag. Heer, U maak by ons woning, u lof sal ewig duur. U koms is ons verwagting, dít wil ons juigend vier.

DIE BELOFTE  Sy teenwoordigheid

_______________________________________________

_______________________________________________

Sunday 6 Dec 2015 - Malachi 2 v 17 to 3 v 5

LOVE REACHING OUT

Around the time 400 BC the people of Israel experienced increased levels of violence and lawlessness in their communities. They then started to look for the cause of the problem and eventually came to the conclusion that it must be the Lord God who had changed His attitude towards them (Mal 3 v 15).

Mal 3:15 And now we call the arrogant blessed. Evildoers not only prosper but they put God to the test and they escape.'"

The Lord answered by pointing out to them that their commitment to Him had deteriorated; they were no longer interested in a love relationship with Him. Instead of condemning them, though, the Lord continued sending his messengers to entice his people back into a relationship with Him (Mal 3 v 1-3).

Mal 3:1 "Behold, I send my messenger and he will prepare the way before me. And the Lord whom you seek will suddenly come to his temple; and the messenger of the covenant in whom you delight, behold, he is coming, says the LORD of hosts. Mal 3:2 But who can endure the day of his coming, and who can stand when he appears? For he is like a refiner's fire and like fullers' soap. Mal 3:3 He will sit as a refiner and purifier of silver, and he will purify the sons of Levi and refine them like gold and silver, and they will bring offerings in righteousness to the LORD.

The Lord also continued to purify them, as metal is melted by fire to be cleansed of impurities.Today the Lord God is still busy with these processes, so as to continuously draw us back into a loving relationship with Him.

(Translation by Mariette Richter acknowledged with thanks.)


 
 
 

Comments


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page