Om Geesdriftig te Bly
- Ds Abe Beyers
- Nov 17, 2015
- 11 min read

Rom. 12:10-12; (1 Kon 19; Openb 3v 14 – 17 15 Nov. 2015
(English summary at the bottom of this page.)
OM GEESDRIFTIG TE BLY
Ds Abe Beyers
ONTMOETING Stemmingslied Ons erken die Here Hy groet ons
Ons sing ‘n Loflied – 203 v 1, 4 Loof die Here, al wat lewe, wil Hom dank en hulde bring Hy het al ons skuld vergewe; ons 'n nuwe lied laat sing. Loof Hom, prys Hom! Loof en prys Hom! Loof die Vader, God en Heer!
Mense, soos die veld se blomme, bloei maar vir 'n korte tyd; ewig oor ons kleine kommer waak Gods goedertierenheid: Loof Hom, prys Hom! Loof en prys Hom - ewige geregtigheid.
VERHOUDINGS-TYD Wie is die Here? (Rom 12) - Groot ontferming En nou ons? - Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is
9 Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. 10 Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld. 11 Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here.
Ons antwoord die Here met Lied 334 v 3, 4
Deur sy Gees, die wondergawe, laat Hy wederliefde spruit; en dié liefde - wat volmaak is - dryf die vrees en selfsug uit.
As die Vader in sy liefde dan die sondaar maak tot kind, mag sy Seun al meer gestalte in ons doen en late vind!
WOORD-TYD Gebed Woord – Romeine 12; 1 Konings 19; Openbaring 3 v 15
1. DAARDIE TYD VAN DIE JAAR
Dis hierdie tyd van die jaar wanneer die spanning tussen mense hoog raak – ons jongste meisiekind hou skool daar in Mpumalanga en sy vertel dat daar in hierdie dae kort-kort so ‘n ontploffingtjie tussen onderwysers is – hulle hap en skel sommer vir niks mekaar. Dis die tyd van die jaar waar mense moeg is en graag wil afskakel en tot ruste kom.
Maar so kom ons ook maar agter as jy so tussen mense is – almal is maar kort van draad en party is al heeltemal moedeloos. Hulle gaan maar net aan en doen die nodigste.
Ek dink daaraan hoeveel erger moet dit nie wees as dit so droog is om jou soos daar in die noorde van die land nie – mense is seker heel moedeloos en dis nog maar die begin van die seisoen.
2. MOEDELOOS
As ons so deur die Bybel blaai, dan is daar baie voorbeelde van mense vir wie die omstandighede te veel geraak het en hulle heel moedeloos geword het.
Dink nou aan iemand soos die profeet Elia. Hy het met groot entoesiasme opgetree in die koningstyd van Israel. Op die ou einde was daar die konfrontasie op die berg met die profete van die afgodsdiens en die hoogtepunt was die aan die brand steek van ‘n offer. Elia het gebid en die Here het met vuur uit die hemel die offer aan die brand gesteek. En toe is volg die situasie daar van die droogte waar Elia vir die Here bid en die reën kom.
Maar toe kom die laaste hou waar die koningin agterna vir Elia met die dood dreig en dit was vir Elia te veel – hy loop weg en gaan lê onder ‘n bos, want dit was té veel dinge vir té lank.
LEES 1 Konings 19 v 4 “ Hy self het egter ‘n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder ‘n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: "Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie. 5 Toe gaan hy lê en hy het daar onder die besembos aan die slaap geraak.”
Of ons lees selfs in die boek Openbaring van mense se moedeloosheid, na té veel té lank.
Die Here sê daar vir die gemeente in Laodisea dat hulle nie warm of koud is nie, maar dat hulle lou geword het. Mense wie se geesdrif daarmee heen is, wat nie meer wil nie.
LEES Openbaring 3 v 15 “Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie.”
Let daarop dat die rede vir hierdie mense se moeg-word, se afneem van geesdrif en entoesiasme was nie omdat hulle te veel te lank entoesiasties vir die Here was nie.
Inteendeel, daar staan dat hulle te ryk was - hulle gedagtes was te veel gefokus op die najaag van dinge.
LEES Openbaring 3 v 17a Open 3:17 Julle sê: "Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie,"
Ons hoor ook iets van hierdie moedeloosheid by die gemeente daar in Rome. Hulle entoesiasme en hulle ywer en hulle geesdrif het maar laag gelê. En die apostel Paulus probeer om hulle aan te moedig om weer spoed op te tel.
LEES Romeine 12 v 11 Rom 12:11 Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here.
Miskien was die rede vir die afgaan van húlle entoesiasme dat hulle soveel vervolging beleef het. Hulle was maar klein huisgemeentetjies in die groot stad van Rome, en die spanning was maar gedurig daar.
3. EN NOU WAT NOU?
Dis opvallend hoe baie ons as gelowiges aangemoedig word om entoesiasties vir die Here te bly, om steeds geesdriftig te wees, om nie moedeloos te raak nie, om steeds te volhard.
En nou is die vraag: nou hoe nou, hóé word ek weer geesdriftig, hóé word ek weer entoesiasties? En dan is die kort antwoord dat die Here vir jou optel, dat die Here self weer vir ‘n mens die geesdrif gee.
ELIA. As ons na die storie kyk van die profeet Elia wat daar onder die bos gaan lê het, dan is dit die Here God self wat hom daar kom optel en weer van hom ‘n mens maak.
LEES 1 Koning 19 v 5-7 1 Kon 19: 5 Toe hy hom weer kom kry, skud ‘n engel aan hom en sê: "Word wakker! Eet!" 6 Toe hy opkyk, sien hy by sy kop roosterkoek wat op warm klippe gebak is, en ‘n kruik water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. 7 Die engel het ‘n tweede keer aan hom geskud en gesê: "Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word."
En dan het die Here ook nog self aan die moedelose Elia verskyn en ook nog vir hom ‘n nuwe verantwoordelikheid gegee. Die Here self het vir Elia daar uit die moedeloosheid kom uithaal en vir hom nuwe lewe gegee, hom weer opgetel.
En daar in die boek Openbaring, hoe handel die Here met die gemeente Laodisea? Ook daar nooi die Here hulle uit om die lewe by Hóm te kry, want Hý gee nuwe lewe, Hý tel mense op.
LEES Openb 3 v 18 a “Daarom raai Ek julle aan om by My goud te koop wat deur vuur gelouter is,…..”
Maar dan wil ek graag uitkom by die antwoord van die apostel Paulus.
Dis iets wat jy kan huis toe neem, wat jy in jou gedagtes kan saamdra.
LEES Romeine 12 v 12 a
“Verbly julle in die hoop; …”
Die Christelike HOOP beteken iets anders as wat ons normaalweg onder die woord hoop verstaan. Ons sê iets soos: ons hoop die Rand tel weer waarde op teenoor die Dollar, of, ons hoop dit reën volgende week. Maar dan is ons nie baie oortuig daarvan nie.
As Paulus hier praat van hoop, dan bedoel hy ons het ‘n verwagting op die Here God self, ons verwagting vir die verandering is op die Here self – ons het ‘n vaste hoop, omdat die Here self instaan vir sy beloftes.
Maar nou kom die kuns om jou te verbly in hierdie verwagting van wat die Here gaan doen – Ek moet nou besluit: my omstandighede is maar droewig en sleg en nie lekker nie, maar ek kies om steeds bly te wees, want my hoop is op die Here. So maklik val ‘n mens in die slagyster van beswaardheid, van bedinges-wees.
1
My goeie vriend daar in die noorde bel my ‘n week of wat terug nadat ek hom ‘n boodskappie gestuur het – hy vertel hoe opgewonde hy is want die Here is besig met groot nuwe dinge in hulle lewe. - Nou vra ek mos maar wat doen die Here nou? - Hy vertel toe dat sy oudste seun is gekaap waar hy met sy staatsvoertuig gery het en al die drama wat daarmee saamgaan; die jongste seun het sy werk verloor by die maatskappy waar hy nou al jare gewerk het. - Nou vra ek: maar waaroor is jy so opgewonde? - Want die Here is besig – die oudste seun is OK na die kaping, en niks is geroof nie. En die jongste seun gaan nou by hom kom werk in sy besigheid en nou kan hy meer aandag gee aan beplanning en bemarking – daar gebeur nou wonderlike dinge.
Terug na ons toe – om jou te verbly in die Here, om blymoedig te wees is ‘n keuse – en jy kan dit doen deur die krag van die Here. Soms moet jy doelbewus stry teen die swartgalligheid – “ek gaan nie toelaat dat die storie my beswaard maak nie” – want die Here God is nog steeds daar en ek vertrou Hy is die magtige Een.
5. OMGEE
Ons het nou die wonderlike troos dat die Here self vir mense kom optel uit die moedeloosheid uit sodat hulle weer geesdriftig en entoesiasties kan wees – maar hoekom? Wat is nou die sin daarvan?
En dan is die antwoord – dit gaan nie net oor my as mens nie. Die Here wil juis deur my werk om ander wat gaan lê het, ander wie deur die swaar en die stukkende van die lewe in die grond ingedruk is, weer te gaan optel, weer vir hulle ook vreugde en entoesiasme te bring.
ONS ANTWOORD
Lied 334 v 1, 2 "God is Liefde!" juig ons harte, en bedink wat liefde doen: Dat Hy ons sy Seun gestuur het om ons sonde te versoen.
Hy wat eerste liefgehad het, het in liefde ons vergeef - nou kan ons, uit God gebore, uit dié bron van liefde leef!
HERINNERING Nagmaal
Ons het vanoggend die geleentheid waar ons saam die Nagmaal vier. En die Here Jesus se doel met die Nagmaal was dan juis gewees dat ons saam met Hom moet eet, sodat ons kan moed kry, sodat ons weer kan geesdriftig en entoesiasties raak, al voel dit vir ons of al die dinge ons oorweldig.
Lied 253
U het die brood gebreek eens by die meer breek nou die lewensbrood vir my ook, Heer. Wil steeds u waarheid meer aan my ontvou tot ek ook in u Woord my Heer aanskou.
U is die lewensbrood, Heiland, vir my. U is die waarheid, Heer, U maak my vry. U beeld straal uit die Skrif so helder voort - U soek ek, Heer, Uself, o Lewend' Woord.
VOORBIDDING
Gebed om Reën. Hemelse Vader en Almagtige Here. Dit is twee uur in die môre en ek kan nie slaap nie. In 21 jaar wat ek boer was dit nog nooit so droog nie. Ek is vanmôre voor U om te bid vir reën. Voor ek vir reën vra moet ek U eers dank vir droogtes. Indien ons net vet jare en voorspoed gehad het, hoe arrogant, onafhanklik van U en onbewus van U goedheid en genade, sou ons nie gelewe het nie. Daarom moet ek U ook dank vir die voorreg om hier te kan boer. Hier waar ek elke dag U handewerk sien en ervaar.
Baie dankie ook Here vir die wonderlike mense wat u rondom my in hierdie wêreld geplaas het. ’n Unieke groep mense wat almal saam in dieselfde stryd gewikkel is. U het elkeen persoonlik gevorm, met elkeen se uniekheid, harder as kameeldoring hout, om hier te kan bestaan.
Om die mooi van hierdie boerdery te beleef het u ’n besonderse liefde vir die diere en die boerdery in my hart gesit en daarvoor is ek U baie dankbaar, maar Liewe Heer, dit is as gevolg van hierdie liefde, en my tekort aan insig, wat maak dat ek U weë nie verstaan nie. ...Ek verstaan nie wanneer die lammerooi aan die voet van die duin omval as gevolg van swakheid, en nog steeds net oor haar lam se welstand bekommerd is nie.
Ek verstaan nie as die koei met ’n sug gaan sit en ons al twee weet sy sal nooit weer opstaan nie. ...Ek verstaan nie as ek in die onskuldige bruin oë van die verswakte koedoekoei, wie se voet in die draad gehaak het, kyk en sien sy wag op die verlossing van die dood, wat uiteindelik deur dors en hitte-uitputting onder die skroeiende woestyn son, veroorsaak sal word.
...Ek verstaan nie as ek “hart se punt” koeie by die slagpale moet aflaai, en nog onthou hoe hulle kalwers gelyk het, en selfs hoe ek sommige van hulle as klein kalwertjies onthoring het.
...Ek verstaan nie as jong eerstelam ooitjies net ribbes en gekoekte wol is en ek onthou vaagweg hoe ’n glad verhaarde ooi lank gelede vir haar vet lammetjie geblêr het terwyl die komkommersop teen haar wang afloop.
...Ek verstaan nie as my ryperd een oggend stokstyf is as gevolg van elke aand se kragvoer, omdat daar niks meer hooi in die veld is wat hy bedags kan vreet nie. ...Ek verstaan nie as ek die donkie langs die pad sien lê wat in die tuig gesterf het, en ek weet sy eienaar het ook maar nie ’n plan gehad nie.
...Ek verstaan nie as die groot springbokram struikel struikel voort sukkel nie.
Ek verstaan nie as die erdvark, wat ’n nagdier is, in die middel van die dag, vermaer en verdonker, op die warm rooi sand rond ploeter op soek na iets om te eet. ...Ek verstaan nie dat die graspolle, die bron van kos, in klein swart knoetsies verander het sodat die wind hulle wortels oop kalwe en die woestyn son dit verdroog en verdood. ...Ek verstaan nie as die windpomp net wind blaas omdat die boorgat opgedroog het, terwyl my verstand verdof is deur ’n wolk stof en ’n gebulk en geblêr wat deur my bene en murg sny.
Ek verstaan nie as die erdvark, wat ’n nagdier is, in die middel van die dag, vermaer en verdonker, op die warm rooi sand rond ploeter op soek na iets om te eet. ...Ek verstaan nie dat die graspolle, die bron van kos, in klein swart knoetsies verander het sodat die wind hulle wortels oop kalwe en die woestyn son dit verdroog en verdood. ...Ek verstaan nie as die windpomp net wind blaas omdat die boorgat opgedroog het, terwyl my verstand verdof is deur ’n wolk stof en ’n gebulk en geblêr wat deur my bene en murg sny.
Here ek verstaan nie hoekom U dit oor hierdie onskuldige diere laat kom, terwyl U vir my, sondaar, net goedheid en guns gee nie. Here ek verstaan dit nie, maar ek weet wel dat ek nooit die straf wat ek verdien, sal kan dra nie. Daarom, voor ek vir reën vra, smeek ek om U genade en vergifnis. Ek bid ook vir wysheid om tussen goed en sleg te kan onderskei. Ek bid veral Here dat ek nooit arrogant sal word nie, want alle eer kom U toe. Ek bid ook vir wysheid en krag vir die hele gemeenskap om op die regte manier deur hierdie droogte te kom.
Ek verstaan nog steeds nie hoe die gemsbok in hierdie tyd so sterk kan bly nie, maar ek bid dat u ons almal die gemsbokke van hierdie droogte sal maak. Here nou dat U my hart ken smeek ek by U: “Gee asseblief vir ons almal reën en gee asseblief vir ons almal genoeg reën!” Amen
GELEENTHEID VIR GEBED
DANKBAARHEID Offergawes
Lied 267 v 1, 2 Ons Vader op die hemeltroon
aan wie ons lof en eer betoon, ons bid ootmoedig almal saam: Gee dat u goddelike Naam deur ons geken, geëer, gevrees - in alles mag geheilig wees.
Laat Heer u Koninkryk steeds kom in hierdie land en oral om. Die skepping is u magsgebied waar u volmaakte wil geskied - vanuit die hemel om u troon tot waar ons op die aarde woon.
DIE HERE SE BELOFTE Sy teenwoordigheid
LASTING ENTHUSIASM Romans 12 v 10 to 12: (1 Kings 19; Rev 3 v 1 to 18) 15 November 2015
The Bible in many places (e.g. in Romans 12 v 11) encourages us as believers to remain steadfast in our enthusiasm for the Lord, meaning that we also remain steadfast in our living relationship with Him.
There are, however, various reasons why this relationship with the Lord can deteriorate. In the life of the prophet Elijah too many things went wrong over too long a time; he just could not cope (1 Kings 19).
In Revelations 3 v 17 we read that the pursuit of riches caused the congregation of Laodicea to lose their enthusiasm for the Lord. In Rome it might have been all the underlying tensions in the congregation that eroded their enthusiastic involvement with the Lord.
Wonderful it is, though, that in each case the Lord God Himself renews and re-enlivens the relationship – He gave Elijah food to eat, He called on the congregation in Laodicea to find new life in Him.
The apostle Paul (Romans 12 v 12) puts this idea of renewal of enthusiasm in an exceptional way; he says: hope makes the soul glad, meaning that in spite of problems and difficulties we can remain positive and enthusiastic in expectation of what the Lord our God will do.
Rom 12:12
"Rejoice in hope,....."
ESV
Commenti