Christus Ons Verlosser
- NG Kerk Aberdeen
- Feb 7, 2015
- 9 min read

8 Februarie 2015 Johannes 8: 1-11
CHRISTUS ONS VERLOSSER
Ds Ingrid Boshoff
VOTUM
Kom laat ons lofsing voor die Heer.
Kom laat ons jubel tot sy eer.
Ons Rots is Hy. Oor almal heers Hy.
Aan sy gesag en Koninskap kan niks en niemand ooit ontsnap nie.
Hy heers oor alles ver en naby.
Hy sorg vir ons as ons bewaker.
Amen
Lied 212 v 1-3
GELOOFSBELYDENIS
Ons glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van alle sienlike en onsienlike dinge,
die Bron van ware lewe.
Ons glo in Jesus Christus,
Die lewende Here wat deur mense gekruisig is,
Maar deur God opgewek is uit die dood.
Ons glo in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker
Wat die ganse skepping vul met die lewe van God.
Lied 241 v 1-3
Skriflesing: Johannes 8:1-11
Tema: CHRISTUS ONS VERLOSSER.
Ek glo dat van u vanoggend hier al die Christus-die-Verlosser standbeeld (Christo Redentor) gesien het wat uitkyk oor die stad Rio de Janeiro in Brasiliё. Dit is ‘n indrukwekkende standbeeld. Niemand kan dit miskyk nie.
Dit staan sowat 2,200 meter bokant Rio op die Corcovado-berg, is 30 meter hoog en gemaak van 320 ton Brasiliaanse teёls.
Die kop alleen is 3 meter hoog en die afstand van vingerpunt tot vingerpunt (die beeld het uitgestrekte hande) is 31 meter.
So groot en so hoog is hierdie standbeeld, dat al 7 miljoen inwoners van Rio dit gelyktydig kan sien.
Daar is egter 2 dinge wat vreemd aan hierdie standbeeld is. Die beeld het blinde oё. Goed, kan u sê, maar alle beelde se oё is mos blind. En u is reg. Maar dit is asof die beeldhouer van hierdie Christo Redentor beeld, bedoel het dat die oё blind moes wees, want die oё het geen pupille nie en daar is geen sirkels wat sê die beeld het oё nie. Met ander woorde, die beeld het nie oё nie. Al wat daar is, is twee niksseggende gaatjies.
Die tweede vreemde saak omtrent die beeld is die beeld se hart. Op die buitekant van die beeld se mantel is daar ‘n hart uitgekerf. ‘n Duidelike hart, ‘n hart van klip, ‘n kliphart.
En hierdie twee eienaardighede kan nie anders as om ‘n mens te laat vra nie: maar watter soort Verlosser is dit dié? Blind, wat nie een van die 7 miljoen mense onder dit sien nie en met ‘n hart van klip.
Met ‘n hart, nie aanmekaargesit met liefde nie, maar met beton, teëls en pleister. ‘n Blinde en hartelose Verlosser. Niemand kan tog so ‘n Verlosser wil hê nie!
U mag dit vreemd vind, maar daar is mense wat juis so ‘n Verlosser het. Nie dat hulle sal erken dat hulle ‘n blinde Verlosser met ‘n kliphart het nie, maar hulle het. Want vir sommiges is die Here Jesus niks meer en minder as ‘n gelukbringer nie.
Sakformaat. Handig. Gerieflik verpak. Maklik om te verstaan en te hanteer. Altyd beskikbaar as jy Hom nodig het. ‘n Ware versekeringspolis. Beleef jy ‘n krisis? Vra en Hy sal help. Het jy so bietjie min vir die eksamen geleer? Bid en Hy sal jou help. Enige ander probleem? Roep Hom in.
Maak nie saak dat jy Hom eintlik nie ken nie. Jy hoef eintlik nie ‘n verhoudiong met Hom te hê nie. Jy hoef Hom nie lief te hê nie. Vergeet van sy hart vol liefde vir jou. Hou Hom net byderhand vir die kere wat jy Hom nodig het. Maar as jy Hom nie nodig het nie, vergeet maar van Hom.
Vir ander weer is Hy die Een wat gee en gee en gee. Dit is tog sy werk. Vra net wat jy wil hê en Hy moet dit gee. Vergeet wat Hy van jou vra. Vergeet dat Hy jou liefde en toewyding vra. Vergeet dat Hy elke dag sien wat jy doen en dat Hy graag wil hê dat jy op sy liefde vir jou moet antwoord. Hou Hom net naby vir die kere dat Hy moet gee.
En vir ander, broers en susters, is Jesus ‘n goeie ruiltransaksie. Goed, God. Kom ons maak ‘n ooreenkoms. Twee-en-vyftig Sondae elke jaar sal ek myself baadjie en das en die preek wat ek moet aanhoor verduur. En in ruil daarvoor gee u my genoeg genade en ‘n plekkie agter hemelpoort nommer drie.
Ja, broers en susters, party mense het sulke Verlossers. God die gelukbringer. God die gewer,
God met wie ek kan onderhandel. Ek stel nie belang in sy hart vol liefde nie en ek wil nie hê sy liefdevolle oë moet my volg, stuur en rig nie.
Om die waarheid te sê, ek stel nie belang om met Hom ‘n verhouding te hê nie. Al waarin ek belangstel is wat Hy vir my kan doen en dan ook net wanneer ek wil hê Hy moet dit doen.
‘n Verlosser wat nie ‘n hart hoef te hê nie en ook nie hoef te kan sien nie. Want ek sal vir Hom sê wat ek nodig het en ek sal vir Hom sê wat Hy in my lewe hoef raak te sien.
Die Verlosser van wie ons in die Woord van God lees, broers en susters, is egter nie so nie. Want vergelyk gerus vanoggend die Verlosser daar by Rio de Janeiro, en die Verlosser met die hart wat een oggend vroeg ‘n baie bang vrou se nood raakgesien het.
Lees Johannes 8:1-11
Joh 8:1 ... maar Jesus het na die Olyfberg toe gegaan.
Joh 8:2 Die volgende môre vroeg was Hy weer in die tempel en die hele volk het na Hom toe gekom. Hy het gaan sit en hulle geleer.
Joh 8:3 Die skrifgeleerdes en die Fariseërs bring toe ‘n vrou wat op owerspel betrap is, en laat haar in die middel van die kring mense staan.
Joh 8:4 Hulle het vir Hom gesê: "Meneer, hierdie vrou is op heter daad betrap waar sy owerspel gepleeg het.
Joh 8:5 Moses het ons in die wet beveel om sulke vrouens te stenig, maar u, wat sê u?"
Joh 8:6 Dit het hulle gevra om Hom uit te lok, sodat hulle iets kon kry waaroor hulle Hom kon aankla. Maar Jesus het gebuk en met sy vinger op die grond geskrywe.
Joh 8:7 Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: "Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi."
Joh 8:8 Daarna het Hy weer gebuk en op die grond geskrywe.
Joh 8:9 Toe hulle hoor wat Hy sê, het hulle een vir een begin wegloop, die familiehoofde eerste. Jesus is alleen agtergelaat saam met die vrou daar in die middel van die kring mense.
Joh 8:10 Toe het Hy regop gekom en vir haar gevra: "Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?"
Joh 8:11 "Niemand nie, Here," sê sy. Toe sê Jesus: "Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie."
Wat daardie oggend vroeg in die tempel die onderwerp was waaroor Jesus met die mense gepraat het, weet ons nie. Miskien gebed. Miskien angs of kommer. Ons weet nie. Maar daar was baie (die hele volk) wat rustig gesit en na Hom geluister het.
Ewe skielik word hierdie rustigheid onderbreek deur ‘n aantal godsdienstige leiers van daardie tyd wat opdaag en ‘n skamel geklede vrou tot voor Jesus stoot. Nog oomblike tevore was sy in die bed met ‘n man wat nie hare was nie. Was dit hoe sy haar geld verdien het? Was sy getroud? Ons weet nie. Wat ons wel weet is dat die godsdienstige leiers van Jesus ‘n oordeel eis. Want die wet van Moses is tog duidelik: sy moes gestenig word.
Daar word nie veel oor die vrou gesê nie. Hoe het sy gevoel op daardie oomblik? Wat het sy gedink? Ons weet nie. Maar wat sý gesien het kan ons miskien raai.
Geen deernisvolle blik van die godsdienstige leier nie. Net beskuldiging. Skrefiesoë. Stywe lippe. Knersende tande. Starende oë wat vonnis. Koue klipharte wat veroordeel. Klippe in die hande, gereed om met wellus te stenig.
En Jesus, toe Hy na háár kyk, wat het Hy gesien? Het Hy haar gesien soos ‘n Vader sy volwasse dogter sien waar sy by die bruilofspaadjie afstap? Of toe sy nog klein was en nog pop gespeel het? Het Hy soos ‘n Vader haar in sy gedagtes weer sien grootword – van doeke tot poppe, van klaskamers tot kêrels, van matriekafskeid tot troudag? Ons weet nie. Maar wat ons wel weet is dat dit is wat ‘n Vader sien as hy na sy dogter kyk wat hy liefhet.
Wat Jesus beslis ook gesien het, was die omstanders. Elkeen anders, nie een dieselfde nie. Hy het gesien hoe God almal wat daardie oggend daar was, gemaak het. Met harte om ander lief te hê. Met tonge om mekaar te bemoedig. Met hande om mekaar vas te hou.
En wat sien Hy nou? Mense met tonge wat gebruik word om mekaar soos dolke te steek. Met harte wat brand van haat en oordeel. Met hande vol klippe om dood te maak.
En hoe antwoord Jesus? Hy kon gevra het hoekom hulle die man nie ook gebring het nie, want volgens die wet is hy immers ook skuldig. Hy kon gevra het hoekom hulle skielik die stof van ‘n baie ou bevel afgeblaas het wat eeue al ongebruik op die rak gestaan het. Hy kon hulle gevra het hoekom hulle nie maar net eerlik is en erken dat hulle die vrou gebruik om Hom by te kom nie. Maar Hy het nie.
Hy rig ‘n uitnodiging. “Ek skat as julle nog nooit self ‘n fout gemaak het nie, julle die reg het om hierdie vrou te stenig." Daar was stilte. Iemand het keel skoongemaak asof hy iets wou sê. Voete het geskuifel. Oë het afgekyk. En toe het die klippe in die hande een vir een op die grond begin val. En een vir een het hulle verdwyn. Almal. Tot net Jesus en die vrou oor was.
“Is daar niemand oor om jou te veroordeel nie?” het Hy gevra. ”Niemand nie, Here.” “Dan veroordeel Ek jou ook nie. Gaan maar, moet van nou af nie meer sonde doen nie.” Die vrou het omgedraai en in naamloosheid weggeloop. Ons lees nêrens weer van haar in die Bybel nie. Maar van een ding kan ons seker wees: daardie oggend het sy Jesus gesien, en Hy vir haar.
En as ons haar daar na Rio toe kon neem tot voor daardie standbeeld op die Corcovadoberg, sou sy heel waarskynlik gesê het: “hierdie is nie die Jesus wat ek gesien het nie. En sy sal reg wees, want die Jesus wat sy gesien het, het nie ‘n harde hart gehad nie, en die oë wat haar gesien het, was nie blinde oë nie.
Aan die ander kant: as ons haar na daardie dag op Golgota na die kruis kon bring, sou sy gesê het: “Dit is Hy! ” Sy sou sy hande herken. Die enigste wat nie klippe vasgehou het nie. Sy sou sy stem herken het, die stem wat gesê het: “Vader, vergewe hulle.” Sy sou die oë herken het. Oë wat haar nie gesien het soos sy was nie, maar soos sy bedoel was om te wees. Sy sou ons Verlosser gesien het, nie met ‘n kliphart nie en nie met blinde oë nie.
Liewe broers en susters, net soos hierdie vrou, net soos die skare, net soos die godsdienstige leiers van daardie tyd, staan ons ook vanoggend weer voor God, en voor ‘n Verlosser met ‘n hart vol liefde, met oë wat sien: oë wat nie sien wie en wat ons is nie, maar wat ons kan wees.
Broers en susters, wat gaan gebeur wanneer ons vanoggend hier uitstap? Gaan ons betrokke raak en help?
Gaan ons maar terug na ons huise toe en sê: “Ek het darem vanoggend kerk bygewoon, so nou is ek eers weer fine/gered/goed?”
Of gaan julle soos die vrou, bly, en bly, en weer kom, en weer, om te hoor: “jy is vergewe. Ek maak jou nuut. Gaan. Gaan probeer weer, en moenie gaan sondig nie.”
Waarvoor gaan julle julle oë gebruik? En julle hande? Wat gaan julle maak met die feit dat God julle elkeen uniek gemaak het, elkeen met sy besondere gawes, vermoëns en talente? Hierdie vrae moet elkeen van julle vanoggend ernstig in julleself antwoord.
Vir my persoonlik bly een vraag onbeantwoord: hoe kan iemand, soos dit met ons almal vanoggend weer gebeur het, hoor van God se hart van liefde, en onder sy oë kom wat die goeie in ons sien, en maar net wegstap? Hoe tragies is dit nie, en hoe alleen moet dit nie wees nie.
Broers en susters, gaan sit nou net so ‘n minuut of twee in stilte by hierdie Jesus van liefde se voete, en tree met Hom in gesprek.
OFFERGAWE
Lied 202 v 1-3
SEëN: Mag die liefde van die Here Jesus ons na Hom toe trek.
Mag die krag van die Here Jesus ons sterk maak in sy diens.
Mag die vreugde van die Here Jesus ons vervul. Mag die seën van die Almagtige God, Vader, Seun en Heilige Gees, met ons wees en vir altyd bly.
Amen
Comments