Kerssangdiens - Brood vir die Lewe
- Ds Attie van Wyk
- Dec 3, 2015
- 13 min read

KERSSANGDIENS 2015 - ABERDEEN
Tema: Brood vir die Lewe
Ds. Attie van Wyk
1. Klokke lui 2. Carien Kruger sing: Somerkersfees strofe 2
Hoor jy hoe sag die klokke beier in eeue-oue taal. Kyk, selfs die nagtelike swye vertel die ou verhaal.
Kersfees kom, Kersfees kom - gee aan God die eer. Skenk ons ‘n helder Somerkersfees in hierdie land, o Heer.
3. Gemeentesang: Lied 358 :1 en3
4. Bybelvoorlesing: Ds. Abe Beyers Luk 2: 1-7: In daardie tyd het keiser Augustus 'n bevel uitgevaardig dat 'n volkstelling in die hele ryk gehou moet word. Hierdie eerste volkstelling het plaasgevind toe Sirenius goewerneur was in die provinsie Sirië. Almal het gegaan om hulle te laat inskryf, elkeen na sy eie stad toe. Ook Josef het gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea toe gegaan, na Betlehem, die stad van Dawid, omdat hy tot die huis en geslag van Dawid behoort het. Maria, sy verloofde, wat swanger was, het saamgegaan om ingeskryf te word. Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word. Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.
5. Vertelling : Ds Attie van Wyk
Vars gebakte brood - Daar is min dinge so aangenaam soos vars gebakte brood. Brood is so eenvoudig en tog terselfdertyd vullend en voedsaam vir miljoene mense daagliks.
Die wonder van brood is dat dit met eenvoudige bestanddele soos meel, water en sout gemaak word. Die heerlike wonderlike gebak wat hieruit voortkom, is hemels.
Dit gaan nie aldag oor brood wat ons eet nie, maar oor lewensbrood. Vriende, venootskappe, vrede en omgee. So weerklink die woorde dan van Jesus (Johannes 6) wanneer hy aan sy navolgers sê: "Ek is die brood van die lewe; wie na my toe kom, sal nooit honger kry nie."
Interessant genoeg dat die geboorte plek van Jesus – Betlehem – beteken: Tuiste van Brood. ‘n Mens wil amper sê dat God dit so profeties beplan het. God stuur sy Seun op ‘n eenvoudige manier, na ons as gewone mense hom te ontdek en vanuit sy genade te lewe.
6. Gemeentesang: Lied 353 Die Heiland is gebore (2 verse)
Lied 350 In die stad van koning Dawid (vers 1 -2)
7. Vertelling: Attie van Wyk Regdenkend, moes Jesus óf in Nasaret óf eintlik in Jerusalem, die stad van Koning Dawid, gebore word. Maar tog word hy in Betlehem gebore, amper 'uit sy plek’. Dit maak nie saak waar jy gebore is nie, ons word as't ware nuut gebore in Christus, deur die gebeure van Betlehem.
8. Gemeentesang: Lied 349 Kom kinders besing (v.1-4)
9. Voorlesing: Christa Beyers
10. Carien Kruger sing twee Kersliedere van ander wêrelddele Duitse Kerslied: Stil, stil, stil en Franse Kerslied: Met middernag
11. Vertelling: Ds. Attie van Wyk 6km té ver Dit reën sag en deurdringend, koud koud koud soos ‘n kenmerklike wintersaand hier in die Karoo. 21:00. Die teendeel is dat ons eintlik amper midde die somer staan. Ek stop voor die tipies plattelandse motorhuisdeur wat direk aan die straat grens, die karligte wat teen die afgedopte verf van die deur skyn en sien hoe die druppels duidelik grond toe sis.
My oog vang ‘n vreemdheid hier naby my op, so ent in die straat. Min straatlig en die reëntjie maak dit moeilik om regtig te kan sien. Met geïnteresseerdheid fokus my oë die donker in en drie figure ontvou in die toneel voor my. ‘n Volwasse vrou en weerskante twee kleinerige kinders, die hoogte van vier en ses jaar oud. Die een in die middel van die twee is ‘n vrou wat erg sukkellend loop.
Ek stoot my kar terug en ry nader om te sien wat hier aangaan. Ek sien dat die ouer kind aan die linkerkant van die vrou ‘n Shoprite sak dra-sleep en ek sien hoe die ma in die middel haar kinders se hande vashou. Die kleiner kind loop aan haar regtekant, ook sukkelend en moeg, wil nie meer loop nie...kan dalk nie meer loop nie, besef ek. My hart sak diep en my trane lê vlak, want toe ek die kleintjie sien, besef ek wat hier voor my afspeel. Die kleinste kindjie is aangetrek soos ‘n leeu in haar konsert kostuum . . . Eindjaarliks hou die pre-primêre skooltjie in die dorp hulle kinder konsert. Almal in die skool neem deel. Hulle het hoofsaaklik drie verhale wat hulle opvoer en dan drie jaarliks sirkuleer. Ek dink dit wissel tussen Pinocchio, Rooikappie en Hansie en Grietjie. My onsekerheid is omrede die verhale redelik vervleg kan raak met mekaar asook die diversiteit van die kinders en hul persoonlikhede wat elk geval op ‘n natuurlike kinder wyse die storielyn herskryf en tot lewe bring.
Tersyde en ter agtergrond: So twee jaar terug moes ek self op kort kennisgewing instaan vir die juffrou wat die klavierbegeleiding moes doen. Sonder bladmusiek of amptelike vasgestelde diep riglyne, het ek gou agtergekom dat die verhaal van Pinocchio baie meer insluit as wat ek ooit self as kind op die kassie gesien het. Die klavier het onder voor die verhoog gestaan, ek op die klavierstoel. ‘n Juffrou het agter my gestaan en vooruit vertel wat volgende op die verhoog gaan gebeur – hiervolgens moes ek musiek improviseer wat bypassend sou meegaan. Behalwe die ‘tema- en agtergrondmusiek’ het die juffrou dan ook die liedjies wat die groepe volgende moes sing, in my oor geneurie en hier ooreenkomstig moes ek optree.
Die aand tydens die konsert het ek verseker die meeste gelag. Pinocchio was die betrokke jaar ‘n langerige maer swart dogtertjie met al haar voor tande uit – net die oogtandjies wat nog sit – of soos my ma sou verwys na die mense op die “Cape flatse”: die hek is oep, dis nerrie hoek pale wat nog staan. Die hoogtepunt van my lag was natuurlik toe Pinocchio op die verhoog verskyn - reg voor in die middel – en verstar nadat ek vir haar die inleiding van ‘Houtkabouter, jy’s ‘n stouter’ gespeel het. Niks gebeur nie. Niks. En weereens speel ek die houtkaboueter-tema, maar Pinocchio swyg. Teen die vierde keer se inleiding kom ‘n juffrou van agter die verhoog te voorskyn en beweeg na Pinocchio – dit voel vir my pre-primêre personeel het ‘n sesde sintuig om dinge te weet en te sien van ‘n kind se siel wat ons gewones nie aldag kan sien nie. Elk geval die juffrou kom by Pinocchio en vra saggies wat fout is. Dis toe dat Pinocchio redelik duidelik laat weet dat sy ‘n piepie het!
Ja selfs houtkabouters moet toilet toe gaan as die nood druk. Ek het deur die lag en lagtrane die tema van Pinocchio gespeel terwyl die hoofkarakter gou gaan ‘kamer verlaat’ het. Terug by die opvoeringaand het ek gesien dat elke liewe kind deel is van die skoolkonsert, want op ‘n stadium kom Pinocchio in ‘n bos en raak aan die slaap. Hy droom dan dat hy in die sirkus is asook in ‘n paar ander tonele met klomp interessante dinge wat ek nie eers kan onthou nie. Die doel hiervan is dat elke kind betrek word. In die sirkus is daar iets van alles, of dit nou inpas of nie, panda bere, apies, leeus, hondtjies, feetjies, besems, hoola-hoop-meisies, visblikke en vele meer. Elke kind het ‘n bypassende kostuum aan, sing, dans, waai sonder skaamte vir hulle ma’s en pa’s in die gehoor en hulle geniet die lewe. ‘n Fees! . . . en nou is ek terug by die kleintjie in haar leeu kostuum wat saam met haar ma en sussie in die donkerte sukkelend voort beweeg.
Ek maak die kar stil staan langs hulle en vra deur die oop ruit: “Where are you going?” Die ma antwoord dat hulle oppad Lingilihle toe is. Ek kan mos sien dat Lingilihle nog ver lê vir haar en die twee kinders. Terwyl ons Lingelihle toe ry, vra ek of die konsert lekker was. Ja, antwoord die kinders en die ma voeg by; “It is the best, it is the best, it is very good for da kids.” Die ma vra verskoning dat ek hulle huis toe neem en verduidelik dat hulle nie ‘n ryding het. Haar voete is erg seer en die artritis kry haar onder. Ek sien beide die leeutjie en haar sussie is nogal moeg, maar opgewonde om te vertel van die konsert. In die stukkende Shoprite sak, sien ek dat die ouer sussie haar kleinsus se gewone klere gedra het huis toe. Vir my voel dit of ons ‘n lang tyd ry om by hulle huisie uit te kom – klein ‘hop’-huis, pienk geverf toe die kar se ligte daarop val. Ek leer ondermeer tydens die rit dat die ma self ‘n skoolhoof van ‘n swart laerskool naby aan hulle huis is en verseker kom ek agter dat sy hard werk om die pot aan die kook te hou. Dis net ses kilometer van waar ek hulle opgetel het tot by hulle huis. Toe ek terug ry het die trane geloop, want ek het soveel dinge besef. Dat dit wel net ses kilometer was, maar dit was ses kilometer te ver vir vier en ses jarige kinders om by hulle huis te kom.
Dis ses kilometer te ver as jou ma sukkel om te loop en jou eie bene jou nie meer kan dra nie. Dis ses kilometer te ver as daar nie straatligte is nie en jy in die reën en koue die getal van jou ouderdom in kilometer moet stap om eers laatnag by jou huis te kom. Hierdie ma het haar bes gedoen om haar kind te ondersteun. Haar kind was nie die hoofkarakter nie, maar ‘n kantlyn leeu en die ma se woorde: “It is the best, it is the best, it is very good for da kids.” Hoe ver stap ons in die lewe om kwaliteit tot ander se lewens by te voeg? Sou jy die afstand van jou ouderdom deur donker strate, ‘n plakkerskamp, in koue wind en reën, laatnag gestap het om vir iemand anders die lewe te gun? Nege en twintig kilometer sou te ver wees vir my. Maar hierdie ma en kinders het dit vir mekaar gedoen.
Sou jy swaarkry terwille van ander. Ek het nie antwoorde nie, maar ek dink na oor die lewe. Wat ek wel weet en verwonderd oor staan is dat die Here dit gedoen het vir my. Brood vir die wat honger is, Brood om te lewe. Brood vir die wat honger is.
12. Carien Kruger sing: O kom o kom Immanuel
O kom, o kom, Immanuel, verlos u volk, u Israel. Verlos hul wat in nood en pyn die ure tel tot U verskyn. Wees bly, wees bly, o Israel. Hy kom na ons, Immanuel.
O kom, o kom, kom by ons bly dat niks ons ooit van U kan skei - sodat ons, soos u Woord beloof, U altyddeur kan prys en loof. Wees bly, wees bly, o Israel. God is met ons - Immanuel.
13. Gemeentesang: Lied 354 O Christus ons verlange (1 vers)
14. Bybelvoorlesing: Ds Abe Beyers Lukas 2:8-14
Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. Meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik. Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! En dit is vir julle die teken: julle sal 'n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in 'n krip lê.” Skielik was daar saam met die engel 'n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy 'n welbehae het!”
15. Gemeentesang: Lied 365: Hoor die blye eng’lelied ( v 1&2)
16. Vertelling: Attie van Wyk
Skaapwagters in die tyd van die Jesus, was gewoonlik mense wat randfigure was. Heel dikwels was dit mense wat uitkoms gesoek en wou wegvlug van die lang arm van die gereg. So het hulle dan buite gemeenskappe dikwels as skaapwagters gewerk. Dit maak sin dat Jesus in die Johannes evangelie juis kwalifiseer dat hy nie net ‘n gewone herder is nie, maar die Goeie Herder. Hy is anders. Ek kan my net indink hoedat die herders hulle boeglam geskrik het toe die engele en helder lig hulle omring het! Juis daarom is die eerste boodskap van die Here aan hierdie beangstes: Moenie bang wees nie! Ons moet in gedagte hou dat God eintlik in die werksplek, in hulle tuiste die boodskap van vrede na hierdie randfigure gebring het. Hierin lê die wonderlike boodskap, dat die Here na elkeen van ons uitreik, enige plek waar ons is. Soms voel ons ook dalk soos hierdie herders; verward, bang of verstote, maar God word nie gekeer deur menslike begrensing nie. Hy het sy Skepsels innig innig lief.
17. Gemeentesang: Lied 364: Herders op die ope velde (v 1-3) Lied 344 O die goeie tyding (3 verse)
18. Sang: Kersfeestyd (Tiané Lombard)
19. Bybelvoorlesing: Abe Beyers Mat 2:1-12 Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”
Toe koning Herodes hiervan hoor, was hy, en die hele Jerusalem saam met hom, hewig ontsteld. Hy het toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar geroep en hulle uitgevra oor waar die Christus gebore sou word. Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur 'n profeet geskrywe: “En jy, Betlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie. Uit jou sal 'n leier voortkom wat vir my volk Israel 'n herder sal wees. ” Daarna het Herodes die sterrekykers in die geheim ontbied en noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster verskyn het. Hy het hulle na Betlehem toe gestuur met die woorde: “Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom kry, laat my weet, sodat ek ook aan Hom hulde kan gaan bewys.”
Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was. Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre. En omdat God hulle in 'n droom gewaarsku het om nie na Herodes toe terug te gaan nie, het hulle met 'n ander pad na hulle land toe teruggegaan.
20. Vertelling: Ds Attie van Wyk
Wanneer ons lees en hoor van die sterrekykers of wysemanne, is dit interessant om te weet dat hulle nie by die geboorte van Jesus in die stal was nie, maar hom eers later as Kind in 'n huis - soos die teks van Matteus 2 dit stel - ontdek.
Hierdie sterrekykers was bekend as magiërs ("magic) wat uit die Midde-Ooste sou kom. Hulle was beskou as adelik en van vername herkoms. Hoe kan ons dit weet? Net persone wat aansien gehad het en wat adelik was sou toegelaat word in 'n koningshuis soos die van Herodes. Hierdie manne, word deur Koning Herodes ontvang in sy paleis. Nie enige een kon sommer die koning spreek nie, maar hierdie mense was gereken as belangrike individue wat toegelaat is, om dit te doen. Magiërs was in die Antieke-Bybelse tyd gereken as mense wat goed onderleg was in filosofie, wetenskap en sterrekunde. Hulle was gewoonlik geleerd en wel af - so getuig die duursame geskenke wat hulle aan Jesus bring, ook daarvan (goud, wierook en mirre).
Hierdie sterrekykers leer ons iets van die lewe - dat lewenswysheid meer vra as bloot net om kennis op te doen. Dit vra dat ons 'n voordurende soeke na waarhede en die Waarheid (God) sal hê. Hulle leer ons om in ons soeke, meer te ontdek en raak te sien as gewone lewensreisigers.
Hierdie wysemanne was werklik lewenswys, want nie alleen het hulle navorsing en kennis ingewin oor die ster wat verskyn het nie, maar hulle verder gegaan en seker gemaak dat dit wat hulle van kennis gedra het, die waarheid is. Die teks vertel vir ons dat hierdie ster, spesifiek die ster was van die Koning van die Jode, wat gebore is. Vooraanstaandes, geestelike leiers en regeerders van die dag in Jerusalem en Betlehem mis uit op die geboorte van Jesus, omdat die soeke na God se wil en boodskap nie vir hulle van belang was nie. Dit is opmerklik dat God 'n ongehoorsame koning soos Herodes gebruik om hierdie vreemde heidense wysemanne te help om Jesus te vind.
Daar word gereken dat die ster nie so 'n helder ster was nie en dat die wysemanne aangeneem het dat die Koningskind in Jerusalem was, by die koningshuis. Maar dit is dan Herodes se raadgewers wat help deur te sê, dat volgens hulle bron - die profeet Miga - sal die Christus in Betlehem gebore word. So vind die soekers (wysemanne) die Waarheid in Betlehem.
21. Gemeentesang: Lied 345 Kom alle getroues (v 1-3) Lied 355 Al was ek nie daar nie (v 1-2)
22. Vertelling: Attie van Wyk
Daar waar jy tuis is, kom Christus vir jou as brood vir die lewe. Op 'n Grootse, dog eenvoudig wyse kom voed en sorg hy vir ons.
In die Joodse vergifnis tradisie werk dit as volg: Wanneer 2 party sou stry kry of mekaar leed aandoen en vergifnis moet geskied, sê hulle nie net vir mekaar "jammer" nie. Opregte vergifnis geskied wanneer hulle saam aan tafel kan sit en saam eet. Iets eenvoudigs soos brood. Die simboliek daarin is dat hulle bereid is om van dieselfde brood te eet, dieselfde energie te ontvang en wat ook as teken dien dat daar geen gif in die kos/brood is nie. Met ander woorde, totale vryspraak en die reg wat aan mekaar gegun word om aan te gaan met die lewe.
Hoe wonderlik is dit nie dat Jesus soveel keer met sondaars saam eet nie. Ek dink an Saggeus waarvan Jesus vir hom gesê het, klim af uit die boom, ek moet saam met jou eet.
Ander tollenaars en sondaars waaroor Jesus uitgehaal is deur die Skrifgeleerdes en Farisieers omdat hy saam met hulle aan huis was en saam met hulle geëet het.
Ek dink aan Marta en Maria. Die aand voor Jesus se kruisdood, eet hy saam met sy dissipels, alhoewel hy geweet het dat hulle hom nog in die steek sou laat.
By Jesus kom vergifnis onvoorwaardelik. Sy woorde: Ek is die Lewensbrood, gee sin aan ons lewe. Dit impliseer sy vergifnis en voortgaande genade in ons lewe. Juis daarom kan ons hierdie vergifnis en genade aan diegene op ons paaie uitdeel en mag ons ook as't ware lewensbrood deur die hand van God, vir ander wees.
23. Sang: The Prayer. (Maryke Lategan)
24. Naggebed ek glo dat U God is oor die lig en die nag ek glo dat U God is oor die donker en die dag U is en daar is nêrens waar U nie is nie geen diepte kan U uithou nie geen donker kan U weghou nie orals waar daar plek of ruimte is en orals waar U is, is U God en orals waar U is, is dit reg en orals waar U is, is dit goed as ek nie kan sien nie as ek nie kan hoor nie as ek nie verstaan nie wees by my ek glo dat U God is oor die engel en die stof ek glo dat U God is oor my klagte en my lof U is en daar is nêrens waar U nie is nie geen swakheid kan U uithou nie geen skande kan U weghou nie orals waar ek boos of heilig is en orals waar U is, is U God en orals waar U is, is dit reg en orals waar U is, is dit goed as vrae onbeantwoord bly as deure ongeopen bly en dinge word te veel vir my wees by my want orals waar U is, is U God en orals waar U is, is dit reg en orals waar U is, is dit goed in die nag wanneer ek nie weet nie sal ek weet U weet U hoor U sien U is en daarom is daar lig ook in die nag
25. Gemeentesang: Lied 348 (v1-3) Stille nag
26. Seënbede
Comments