top of page

Het U gekom, Here?

  • Ds Abe Beyers
  • Jan 1, 2016
  • 6 min read

Sondag 27 Des 2015 Lukas 7 v 18 – 23

Het U gekom, Here?

Ds Abe Beyers

1. AARDE VOL VAN GOD?

Die afgelope kersfees het dit my nogal opgeval – dis asof die Kersdagervaring al hoe minder word. Bv ‘n paar jaar terug nog het jy Kersdag baie SMSe gekry en mense het mekaar gebel – en die bewus-wees van die Kersdag was groot. Maar dis nie meer daar nie, dit word al hoe minder, selfs advertensies met kersfees as tema is baie minder.

Miskien hang die ervaring saam met ons wonder oor die Here God. Dis asof ons gedagtes net al hoe stiller raak – want ons sien so min van die teenwoordigheid van die Here God, ons ervaar so min van sy kragtige werking.

Daar in Jesaja 6 sing die engele: “Die hele aarde is vol van die magtige teenwoordigheid van die Here God”.

LEES Jesaja 6v3 Isa 6:3 Die serafs het mekaar telkens toegeroep: "Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid."

Ek het so vinnig getel in die OT en daar is sowat 35 keer waar daar gepraat word van die Magtige Teenwoordigheid van die Here God – waar die Here op ‘n sigbare manier, as ‘n soort van ligglans verskyn het aan die gemeente Israel.

In die NT lees ons daar in die boek Handelinge van die Heilige Gees wat in die vorm van vuurvlamme sigbaar teenwoordig was.

En dan begin ons ook nog meer verlang na die sigbare teenwoordigheid van God. Die frustrasie raak meer: kan die Here Jesus nie maar weer sigbaar verskyn nie? Ons verwondering oor die Here God is so half laag – daar is meer wonder oor die Here as wat daar verwondering is oor Hom.

2. OORSAAK?

Hoekom verlang ons so na die sigbare teenwoordigheid van die Here? • Dalk is dit net maar hierdie tyd van die jaar en ons is moeg en beswaard. • Dalk is dit agv al die skokke wat ons van die staat se kant af kry – die waarde van ons geldeenheid wat in die afgelope 10 jaar met tenminste die helfde verswak het – en ons beleef so ‘n nikswerd-gevoel. • Dalk is dit al die geweld in die wêreld, dalk die geweld wat naby aan ons gekom het • Dalk is die kwaad en seer wat mense in hulle saamdra

Wat ook al die rede, ons verlang na die Magtige Teenwoordigheid van die Here God

3. JOHANNES OOK

As ons so deur die Bybel blaai, dan sien ons dat dit nie maar net ons is wat vandag wonder oor die Here en wat graag die Magtige Teenwoordigheid van die Here sal wil beleef nie.

LEES Psalm 77 v 3, 11 Psa 77:3 In my nood soek ek hulp by die Here; ook in die nag bly my hande in gebed uitgestrek sonder om moeg te word; maar ek vind geen troos nie.

Psa 77:11 En ek sê: "My grootste smart is dat die Allerhoogste nie handel soos voorheen nie."

En die bekende en beroemde Johannes die Doper ook – ook hy het geworstel om die groostheid van die Here God te verstaan in sy omstandighede.

So ‘n bietjie meer oor Johannes die Doper.

Here Jesus vertel juis dat Johannes die Doper iemand was wat die “paaie vir die Here reguit gemaak het, wat die weg voorberei het vir die Here Jesus se koms”.

  • En dit is Johannes die Doper wat die Gees van God in die vorm van ‘n duif sien neerdaal het op Jesus.

  • Dis Johannes die Doper wat besef het dat die Gesalfde van God voor hom staan, die Een wie sy skoene hy nie eers werd is om los te maak nie.

  • Dis Johannes die Doper wat verklaar het: “Hy moet meer word en ek minder."

In die storie wat ons vandag gaan lees, het Johannes baie “minder” geword – hy sit in die tronk omdat hy op die politieke regeerders van die dag kritiek gelewer het. En nou maak dit nie vir hom sin nie - hy wat die wegbereider vir die Here Jesus was, en hierdie Jesus wat die Groot Heerser is, wat die wêreld sal kom regmaak het – hoe is dit moontlik dat hy wat Johannes is, nou in die tronk sit?

LEES Lukas 7 v 16 – 20 Luk 7:16 Almal is met ontsag vervul en het God geprys deur te sê: "‘n Groot profeet het onder ons opgestaan," en "God het na sy volk omgesien." Luk 7:17 Die berig oor wat Hy gedoen het, het deur die hele Joodse land en die omliggende gebied versprei. Luk 7:18 Die volgelinge van Johannes het hom van al hierdie dinge vertel. Hy laat toe twee van sy volgelinge roep Luk 7:19 en stuur hulle na die Here toe om te vra: "Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?" Luk 7:20 Toe die manne by Hom kom, sê hulle: "Johannes die Doper het ons na U toe gestuur om te vra: Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?"

4. JESUS ANTWOORD

Ons kan ons nogal inleef in die vraag van Johannes die Doper – ons sal die vraag net so bietjie anders verwoord: Here, het U gekom, is U hier?

En dan antwoord die Here Jesus met die volgende van Johannes – en daarmee saam ook vir ons.

LEES Lukas 7 v 21 – 22 Luk 7:21 "Op daardie oomblik het Jesus juis baie mense gesond gemaak van siektes en kwale en bose geeste, en baie blindes het Hy laat sien. Luk 7:22 Sy antwoord aan die boodskappers was: "Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig."

Ons hoor in die antwoord van die Here Jesus op ons vraag twee dinge: Aan die een kant is daar ‘n ‘alreeds’; en aan die anderkant is daar ‘n ‘nognie’.

  • Jesus vertel vir Johannes dat Hy besig is om tekens op te rig van die Here God se Nuwe Wêreld, van sy teenwoordigheid in die wêreld – en Jesus wys die mense op God se wêreld wat rondom hulle is, wat naby aan hulle gekom het.

  • Aan die anderkant moet Johannes ook verstaan dat daar ‘n ‘nognie’ is, dat God se Koningsheerskappy nie nou al ten volle sigbaar gaan word nie. Mense is gesond gemaak, vrede is gebring; maar nog nie vir almal dadelik nie.

En dis wat ons ook vandag moet hoor, dis ook die antwoord vir ons. As ons mooi oplet, dan sien ons sommer hier rondom ons wonders gebeur – mense wat siek was en nou gesond geword het; mense wat in ellende verkeer het en nou lewe; mense wat in onvrede en kwaad geleef het en nou weer vrede met mekaar gemaak het.

Ons sien mense wat amper oorweldig is deur die seer, maar tog weer die krag gekry het om aan te gaan.

Natuurlik sien ons nog baie van die kwaad, van die ‘nog-nie-nuut-nie’. En dit sal ons nog steeds bly sien tot op die laaste dag – die dag wanneer die nuwe hemel en die nuwe aarde gaan verskyn – maar tot dan moet ons moed hou – die Here is besig om te oorwin, Hy is besig om sy Nuwe Wêreld in hierdie ou kwade stukkend wêreld in te wurm.

5. HOOP BRING

Maar Jesus het nie klaar gepraat nie. En daarmee wil Hy nog iets vandag ook vir ons deurgee, ons wat so moedeloos raak oor al die dinge wat gebeur.

LEES Lukas 7 v 23 ( Lees verkieslik die woorde van NDV) Luk 7:23 En gelukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie." (1983 vertaling)

Alhoewel die woorde op die oog af klink na ‘n verwyt, is dit nie die bedoeling van die Here Jesus nie.

Ek lees daarin ‘n belofte: wie die Nuwe Wêreld van die Here gaan sigbaar maak, gaan al hoe meer God se teenwoordigheid beleef.

Eenvoudig gesê: gaan wees vir iemand anders vrede, gaan doen vir iemands anders iets, gaan help iemand anders, gaan wys die Here se omgee vir mense aan iemand anders – en jy gaan die Here God se teenwoordigheid daar beleef.

Miskien is ons gesindheid iets van: niemand gee my niks nie; niemand help my nie – en daarom beleef ons ook nie die Here nie. Wat Jesus wil deurgee is: gaan wees vir iemand iets – en jy gaan God só belewe. Of anders gesê: Gee jouself prys, en God gee vir jou die lewe.

En daarom wil die storie van Johannes die Doper weer vir ons oproep: gaan wys vir iemand anders wie God is, sy liefde en omgee – en jy gaan God self ondervind.

6. NUWEJAARSVOORNEME

Ek weet dit mag dalk nou vir ons mooi klink om die vroom nuwejaarsvoorneme te hê van meer liefde en meer omgee vir ander, ens. Maar Jesus het nie verniet gesê: Gee en vir jou sal gegee word nie.

Daarom, ons wat so moedeloos geraak het, wat so swaarmoedig is, ons wat so min sien van God se teenwoordigheid – gaan maak God se Nuwe Lewe aan iemand anders sigbaar en kyk wat gebeur met jou!

Amen


 
 
 

Comments


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page