AAN ONS TOEVERTROU
- Ds Abe Beyers
- Jul 5, 2015
- 8 min read

Doopsondag - 5 Julie 2015 Eksodus 2 v 1 – 10
AAN ONS TOEVERTROU
Ds. Abe Beyers
ONTMOETING
Stemmingslied
Ons erken die Here
Hy groet ons
Ons sing Lied 509 v 1, 2, 3
Op berge en in dale en oral is my God;
waar ons ook telkemale mag swerwe, daar is God!
Waar ons gedagtes swewe of styg, ook daar is God;
omlaag en hoog verhewe ja, oral is my God!
Sy troue vaderoë sien alles van naby;
ons leef uit sy vermoë - word deur sy Gees gelei.
Die swaeltjies behoed Hy, beklee met gras die dal;
die kleinste wurmpie voed Hy, sorg vir die groot heelal.
Die diere op die aarde, die visse in die see,
die mossie en die arend, die blomme, veld en vee,
met al sy ander werke, verkondig dag en nag
sy goedheid sonder perke; die grootheid van sy mag.
DOOP-GELEENTHEID

Inlywing van Tomas Theron in die familie van Jesus Christus
Sing Lied 268
Laat, Heer, u seën op hul daal, u guns uit Sion hul bestraal!
U wat beveel en dit geskied, wil, Heer, u seën oor hul gebied.
VERHOUDINGS-TYD
ONS EN DIE HERE (Ps 10)
Ons Belewenis:
1 Waarom staan U so ver weg, Here? Waarom trek U U terug in tye van nood?
Ons hoop:
Kom tog, Here! Toon u mag, o God! Moet die hulpeloses tog nie vergeet nie.
Dankbaarheid:
16 Die Here bly altyd koning, die kwaad is verdryf.
17 U het die gesmeek van die hulpeloses gehoor, Here. U gee hulle nuwe moed. U verhoor hulle gebed.
18 U behartig die regsaak van die weeskind en van die mens in nood, sodat niemand op aarde langer in vrees hoef te lewe nie.
EN NOU ONS: (Joh 15 v 12)
Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet
Antwoord: Lied 334 v 1, 3,4
"God is Liefde!" juig ons harte, en bedink wat liefde doen:
Dat Hy ons sy Seun gestuur het om ons sonde te versoen.
Deur sy Gees, die wondergawe, laat Hy wederliefde spruit;
en dié liefde - wat volmaak is - dryf die vrees en selfsug uit.
As die Vader in sy liefde dan die sondaar maak tot kind,
mag sy Seun al meer gestalte in ons doen en late vind!
WOORD-TYD
Gebed
Woord – Eksodus 2
AAN ONS TOEVERTROU
1. EINDPUNT
As ‘n mens so deur die begraafplaas loop, dan sien jy nogal baie mooi getuigskrifte van mense. Bv iets soos: ‘n Ma wat alles gegee het, of Iemand wat liefgehad het.
As ons na Moses van die Bybel kyk, dan sien ons daar is pragtige goed oor hom aan die einde van sy lewe geskryf. Daar word bv in Deut 34 gesê dat hy die Here persoonlik geken het. Of op ‘n ander plek dat Moses die sagmoedigste mens op aarde was. Of: Moses het met die Here gepraat soos ‘n man met sy vriend.
Vanoggend is dit nou ‘n doopgeleentheid. Ma en pa of ouma en oupa dink aan die jong seuntjie en wonder wat gaan eendag oor die lewe van hierdie kindjie geskrywe word. Gaan daar ook van hom vertel word soos van Moses: die Sagmoedige Een, of iets soos: Iemand wat vir die Here God geleef het. Of: hy was ‘n Vriend van God? Of anders gevra: miskien dwaal dit in ons gedagtes: wat gaan hy eendag doen, hoe gaan sy lewe lyk?
En dis nie net hulle as familie wat wonder oor wat gaan eendag van ons kinders word nie – elkeen van ons wonder maar oor wat gaan eendag van ons kinders of selfs kleinkinders gesê word. Gaan ons ook soos ‘n tannie ‘n paar jaar terug hier in die ouetehuis gesê het ‘n dag voor sy dood is: Ek dank die Here dat elkeen van my kinders die Here Jesus ken – dis genoeg.
2. BEGINPUNT
Om nou weer van Moses te praat. Dit help ons nogal om te gaan kyk waar hy begin het, hoe sy lewe in die begin was. Dit was nou regtig nie die beste en mooiste omstandighede nie.
LEES Eksodus 1 v 22 – 2 v 4
Eks 1:22 Daarna het die farao sy hele volk beveel: "Julle moet elke pasgebore seuntjie in die Nyl gooi, maar spaar die dogtertjies se lewe."
2:1 ‘n Man uit die stam Levi was met ‘n Levitiese meisie getroud.
2 Die vrou het swanger geword en ‘n seuntjie in die wêreld gebring. Toe sy sien hoe mooi is hy, het sy hom drie maande lank weggesteek.
3 Langer kon sy hom nie wegsteek nie. Daarom het sy vir hom ‘n biesiemandjie gekry en dit met klei en pik dig gemaak. Sy het die seuntjie daarin neergelê en dit tussen die riete aan die kant van die Nyl gesit.
4 Sy suster het op ‘n afstand gaan staan om te sien wat met hom gebeur.
Moses se lewe begin onder die wolk van ‘n doodsdreigement – elke Egiptenaar kry die opdrag om elke Joodse babaseuntjie wat hy in die hande kry, dood te maak. En daarom word Moses vir drie maande weggesteek.
Nou kan ons ons net indink in die angs en vrees wat daar onvermydelik by Moses se ma was, en dalk is die angs ook nog oorgedra aan Moses, al was hy nog ‘n babatjie. Moses se lewe begin in hierdie totale onsekere situasie.
En dan moes die jonge Moses ook nog alleen gelos word in ‘n mandjie tussen die riete langs die rivier – met sy ouer suster wat naby wegkruip om te kyk wat gaan gebeur met haar huilende bababoetie.
Weereens – nie die ideale omstandighede vir ‘n babatjie nie.
Wie kan nou hoop hê vir ‘n lewe vorentoe as dinge so begin?
Watter kans het die jonge Moses om groot te word as dinge so begin?
3. TUSSEN-IN
Ons het so ‘n bietjie gekyk na waar Moses se lewe geëindig het en hoe swaar dit begin het – maar wat het in die tussen-tyd gebeur? Wat het gemaak dat dinge so uitgewerk het?
Watter faktore het ‘n rol gespeel, wat het in daardie tyd ingekom in Moses se lewe?
Die eerste faktor is natuurlik die Here God self. Hy het van dag een af ‘n plan vir Moses se lewe gehad. En dit was nou nou nie omdat Moses juis iemand besonders was nie. Die Here het eenvoudig van babatjiedag af ‘n plan met Moses gehad.
Ons kan ook sien hoe die Here God beskik in die lewe van Moses. Kyk nou net hoe ongelooflik vreemd gebeur dinge.
LEES Eksodus 2 v 5-9
Eks 2:5 ‘n Dogter van die farao het afgegaan Nyl toe om te swem, en die jongmeisies wat haar vergesel, het aan die kant van die rivier geloop. Toe sy die mandjie tussen die riete sien, stuur sy haar diensmeisie om dit te gaan haal.
6 Met die oopmaak sien sy dit is ‘n seuntjie en hy huil. Toe kry sy hom jammer en dink: dit is seker een van die Hebreeuse seuntjies.
7 Sy suster kom sê toe vir die farao se dogter: "Mag ek vir u ‘n vrou gaan roep, ‘n Hebreeuse vrou met ‘n pasgebore baba, dat sy die seuntjie vir u kan laat drink?"
8 Die dogter van die farao het haar geantwoord: "Ja, goed!" Die meisie het toe die seuntjie se ma gaan roep.
9 Toe beveel die farao se dogter die ma: "Neem hierdie seuntjie en laat hom vir my drink. Ek sal jou daarvoor betaal."
- Die prinses kom net mooi daar aan toe Moses in die mandjie lê
- Moses se suster dink daaraan om haar ma voor te stel om die babatjie
groot te maak
- Moses se ma word betaal om haar eie kind groot te maak
En dan kan ons verder lees hoe die Here dit so beskik het dat Moses die beste opleiding kry wat daar destyds beskikbaar was vir die rol wat die Here vir hom in gedagte gehad het. Hy moes toe as seun daar in die paleis van die Farao opgelei word as prins, met al die kennis wat daarmee saamgaan.
Ons kan maar net verwonderd staan hoe die Here God toutjies trek om dinge te laat gebeur.
Maar dit is ook vir ons die groot troos as ons wonder oor die toekoms van ons kinders.
Maar dan was daar ook ‘n ander faktor. Dit was die rol wat Moses se Ma gespeel het.
LEES Eksodus 2 v 9 – 10
9 Die vrou het die seuntjie geneem en vir hom gesorg.
10 Toe hy oud genoeg was, het sy hom na die dogter van die farao toe gebring, wat hom as haar eie seun aangeneem het. Sy het hom Moses genoem, "want," het sy gesê, "ek het hom mos uit die water gehaal."
Die eerste wat my opval is die gesindheid van Moses se Ma. Vir Moses om te kon word wat die Here vir hom in gedagte gehad het, moes daar iemand wees wat vir Moses afgee, prysgee. Vir Moses om te kon kom waar hy gekom het, was daar iemand nodig wat kon besluit – die kind is deur die genade van die Here aan my geleen. Die Here gebruik my as ouer om iets van hierdie kind te maak, ek staan in die Here se diens twv hierdie kind.
4. DOOP
En dis die gesinheid wat deur die doop ook vertel word. Ek as ouer kom staan hier voor die Here en ek gee my kind aan die Here prys – ek kom vra vir die Here: Here, hier is my kind, ek vertrou my kind toe aan U. Deur hierdie prysgawe van die kind erken ek: Here U is die magtige Een, U is die Een wat lewe gee.
Ons kan hierdie gesindheid baie meer prakties maak. Hoe dra ek hierdie gesindheid teenoor die Here aan my kind oor? Dis nie maar net ‘n geval dat ek uit die kinderbybel vir my kind die storie van Moses en al die ander Bybelfigure voorlees nie. Ek as ouer is die held in my kind se lewe, hy kyk op na sy pa as die sterke een, as die een wat hom kan optel en rondswaai – maar nou moet ek as ouer vir kind laat raaksien dat Iemand Anders vir my ook belangrik is, dat daar Iemand groter is as ek.
Kom ons stel dit nog duideliker. Dink net wat gebeur as hierdie kindjie op ‘n dag net sien: my pappa bid, my pappa wil probeer uitvind wat wil die Here hê.
Dink net watter ontdekking maak die ou seuntjie as hy sien en hoor dat sy pappa die Bybel lees om te probeer uitvind wat die Here wil. Dink net wat gebeur in die seuntjie se gedagtes as hy sien: my pappa weet dat daar ook iemand groter is as hy.
Dis hierdie gesindheid van geloof, van die erkenning van die Here God, wat jy oordra aan jou kind.
5. AANSTELLING
Net nog ‘n laaste opmerking.
LEES Eksodus 2 v 9b Die vrou het die seuntjie geneem en vir hom gesorg
Om te dink dat die Here God, in al sy mag en krag en grootsheid, besluit het om ‘n babatjie, ‘n klein bondeltjie mens aan julle toe te vertrou. Die Here het dus besluit dat julle goed genoeg is om hierdie seuntjie groot te maak. Hy het besluit dat julle die beste ouers is om vir hierdie seuntjie iets van Hom bekend te maak. Die Here het dit goed gedink om julle in te skakel by sy groot plan vir hierdie kindjie.
En daarom – as daar moeilike dae kom, dae wat julle nie antwoorde het nie, wat julle nie weet wat om nou te maak nie – dan kan julle op daardie dag ook vir Here wat vir julle aangestel het, hulp vra – want die seuntjie is mos eintlik die Here s’n, hy is net geleen aan julle.
Maar daarom kan julle ook met groot verwagting uitsien na die toekoms van hierdie seuntjie – want hy is reeds ingeskakel by die Here se plan.
TOEWYDING
Lied 177 (x2)
Jesus,gróót bo almal:
sterke Verlosser, magtige Heer en Heiland,
Immanuel - God is met ons -
reddende Here, lewende Woord.
DANKBAARHEID
Offergawes
Laaste Lied – 488 v 1, 2, 3
Helder skyn u lig vir die nasies,
'n vreugdeglans om die mense te verlig, tot die hele wêreld kan sien U is die lig.
Mag u lig, Heer, deur ons skyn.
Vrolik klink ons lied vir die volke,
'n pryslied bring al die nasies om ons saam, tot die hele wêreld kan jubel oor u Naam
Mag u lof, Heer, deur ons klink.
Balsem bring herstel vir die wonde,
'n sagte salf vir die mense met hul seer, tot die hele die wêreld kan sien dat U genees.
Mag U troos, Heer, deur ons bied.
DIE HERE SE BELOFTE
Sy teenwoordigheid
Comments