Hoe Lyk jou Here?
- Ds Abe Beyers
- Nov 2, 2015
- 10 min read

Job 42v 1-7 en 10-17 Sondag 25 Oktober 2015
HOE LYK JOU HERE? Ds Abe Beyers
Dear English friends, we are also adding an English summary of the sermon at the bottom of the page for your convenience.
ONTMOETING Stemmingslied Ons erken die Here Hy groet ons
Ons sing ‘n loflied – 184 1, 3, 4
Lofsing die Here, die Ewige, sing tot sy ere! Lofsing die Koning, die Skepper, die Vader, die Here! Loof almal saam - groot is sy heilige Naam! Loof Hom, die Heer van die here!
Lofsing die Here, dis Hy wat u kroon met sy seën! Hy skenk die lewe, die wasdom, die sonlig, die reën! O sterfling, weet: Hy wat Almagtige heet, het ons in liefde bejeën.
Lofsing die Here, ja, almal kom loof nou die Here! Alles wat asem het, hier tot in tydlose sfere! Hy is die Lig; ons oog bly op Hom gerig: Hy is die Heer van die here!
INLYWING IN DIE FAMILIE VAN CHRISTUS Doopgeleentheid - Ike Edwards - Zayden van Rensburg
Gemeente sing hulle toe – Lied 268 v 1
Laat, Heer, u seën op hul daal, u guns uit Sion hul bestraal! U wat beveel en dit geskied, wil, Heer, u seën oor hul gebied!
LUISTERTYD Kleuterkerk – Miems van Loggerenberg
VERHOUDINGSTYD Ons reaksie op die Here (Ps 126) 1. ‘n Pelgrimslied. Toe die Here die lot van Sion verander het, was dit vir ons soos ‘n droom. 2. Ons het gelag en gesing.
3. Die Here hét groot dinge aan ons gedoen; ons was bly.
Verwondering so groot dat… Onder die nasies het hulle gesê: "Die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen."
Ons antwoord met Lied 308 v 1, 2, 4
Neem my lewe, laat dit, Heer, U gewy wees meer en meer. Laat my hart gedurig juig en van dankbaarheid getuig.
Neem my hande, maak hul sterk diensbaar in u goeie werk. Neem my voete, skoei hul, Heer, met bereidheid tot u eer.
Neem my goud en silwer, Heer niks noem ek my eie meer. Al my kennis en verstand stel ek in u vaderhand.
WOORD-TYD Gebed Woord – Job 42
1. VOORSTELLINGS VAN GOD
As ons so na mekaar luister, dan kom ons agter elkeen van ons het ‘n ander prentjie van die Here God.
So sal die een vertel dat die Here vir hom soos ‘n Pappa is wat liefhet en omgee en beskerm en versorg.
Of die ander een se prentjie is waar hy of sy soos ‘n klein kindjie in die arms van sy pa toegevou word tsv wat in die wêreld gebeur.
Aan die ander kant sal iemand vertel van die moeilikheid wat hy gehad het en hy wonder wat hy gedoen het om dit te verdien? Maw die Here is iemand wat na jou kyk om ‘n fout by jou te soek – as jy iets nie reg gedoen het nie, dan gaan Hy jou straf. Amper soos die liedjie: “God is watching us from a distance”.
Die man Job waarvan ons in die Bybel lees, het ook ‘n prentjie van die Here gehad. Toe dit aanvanklik goed gegaan het, en sy huisgesin vrolik saam was en sy besittings oorvloedig was – toe het Job sy respek vir die Here getoon en was hy baie versigtig gewees dat iemand tog nie iets verkeerds van die Here sê nie – tipies van daardie tyd se respek en agting vir Belangrike Mense. Dis amper soos wat ons sou dink oor die baas van ‘n maatskappy – iemand wat mag en gesag het maar wie ek tog mee kan saampraat.
Lees Job 1v5 Ná so ‘n reeks partytjies het Job dan sy seuns en dogters beveel om hulle vir die bring van offers te reinig, en vroeg die môre het hy vir hulle almal ‘n brandoffer gebring, "want," het Job gesê: "miskien het my kinders gesondig en God in hulle gedagtes gevloek." Job het dit elke keer gedoen.
2. 'n NUWE ONTDEKKING
En toe kom daar moeilikheid – Job verloor alles. En dis verskriklik, dis oorweldigend, dis pynlik. Job gaan sit op ‘n ashoop. Maar ons weet mos nou dat die die kwaad en verkeerde nie van die Here af gekom het nie, alhoewel Job so gedink het.
En nou sit Job met die worsteling: Wie is die Here dan? Hoe is dit moontlik dat die Here so iets aan hom kon gedoen het? Dit kan mos nie wees nie.
Maar na ‘n lang worsteling en baklei en redeneer en dreig ontdek Job wie die Here is, hoe Hy is.
Wat heel eerste gebeur is dat Job laat los sy stryd met die Here God, hy kom tot berusting, hy gee oor.
Lees Job 39 v 36 – 37 36. Job het toe vir die Here gesê: "Ek is nie opgewasse teen U nie. Hoe sou ek U kon antwoord? Ek sal liewer stilbly. 37. Ek het gepraat, maar ek kon nie ‘n antwoord vind nie, ek het weer geprobeer, maar nou sal ek stilbly."
En dan vertel Job ook verder van hierdie oorgee aan die Here God
Lees Job 42 v 1 – 6 1. Daarna het Job vir die Here gesê:
2. "Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit. 3. Wie is dit wat u bedoelinge wou dwarsboom sonder dat hy die insig gehad het? Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie: u wonderdade was te groot vir my, ek het dit nie verstaan nie. 4. U het mos gesê: Luister terwyl Ek praat, Ek sal vra, antwoord jy My. 5. Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien, en nou verag ek myself, nou sit ek vol berou, in sak en as."
Maar dis nog nie vir ons lekker duidelik oor wat Job ontdek het nie. Hoe is die Here dan anders as wat hy van tervore ervaar het?
(1) Job ontdek dat die Here se weë nie sy weë is nie.
- Die Here is oneindig groter en magtiger as wat hy kon sien.
- Die Here werk op ‘n groter vlak as wat Job kan verstaan.
- Die hele skepping is in die Here se hande en selfs die skrikaanjaende groot dinge van die natuur is vir die Here speelgoed.
Dis nou goed en wel om die grootsheid van die Here te ontdek, die ontsagwekkendheid van God, sy mag en krag – maar Job het nog meer ontdek.
(2) Die Here is ook die Een wat dinge omkeer, wat verander, wat nuut maak, wat lewe gee uit die dood. Die Here is die Een wat weer vir Job lewe gebring het, wat die werk van die bose omgekeer het, wat hom nuut gemaak het.
Lees Job 42 v 10-11 10. Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here die omstandighede van Job verander en hom twee keer soveel gegee as wat hy gehad het. 11. Al sy broers en susters en sy vriende wat hom vroeër geken het, het gekom en saam met hom in sy huis geëet. Hulle het hulle medelye kom betoon en hom getroos oor al die rampe wat die Here oor hom gebring het. Elkeen het vir hom ‘n stuk silwer en ‘n goue ring gegee.
En hierdie woorde moet ons hoor vandag – dis hoe die Here is, Hy is die Skepper van Lewe.
Lees Johannes 1v5 "Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie."
DOOPOUERS
Ons het vanoggend twee kindertjies gedoop en ingelyf in die familie van die Here. En die ouers het hierdie kindertjies soort van prysgegee aan ons lewendmakende God – omdat hulle die Here vertrou.
Maar nou gee die Here weer die kindertjies terug aan die ouers en sê vir hulle: gaan vertel, gaan wys vir daardie kindertjies dat Ek die liefdevolle Heerser is wat nuutmaak, wat lewe bring, wat vrede en vreugde wil skep in die kwaad van die wêreld. Lewe die vrede van God uit teenoor daardie kindertjies.
Tinus en Erika Edwards bring hulle pragtige dogtertjie Iké ten doop en so bring ook Christa Drotskie en haar dogter Thandi hulle seuntjie en kleinseun Zayden van Rensburg om ingelyf te word in die gemeente van Jesus.
MATRIEKS
Ons ander spesiale gaste is ook vanoggend ons klompie Matrieks – julle wat op die drumpel staan van ‘n lewe buite die skool en koshuis van ‘n wye wêreld daar buite – gaan vertel vir die wêreld daar buite van hierdie Here op wie julle vertrou – dat Hy die Een is wat lewe bring, wat vreugde en vrede vir mense in gedagte het, wat dinge omdraai.
3. SELF BEGIN LEWE
Maar die storie van Job is nog nie klaar nie. Toe Job die dag die Here ontmoet het, het daar iets met Job gebeur: Hy het verander. Iemand wat die magtige maar liefdevolle God wat omgee vir mense, ontmoet – kan nie dieselfde bly nie.
Kyk hoe het Job verander: Van iemand wat die stukkende van die lewe met hom saamgedra het, wat daaraan bly vashou het, wat die onreg en die seer soos ‘n kombers om hom gedraai het – het hy verander na iemand wat… vir sy vriende begin bid het.
Lees Job 42 v 10
" Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here die omstandighede van Job verander en hom twee keer soveel gegee as wat hy gehad het."
En dan lees ons nog verder van hoe Job verander het – kyk net wat staan in vers 15
Lees Job 42 v 15 " Nêrens in die land was daar vroue so mooi soos Job se dogters nie. Hulle pa het hulle saam met hulle broers laat erf."
Na sy ontmoeting met die Here God het Job soveel verander dat hy selfs teen die tradisie en gewoontes van daardie tyd ingaan en dinge anders begin doen as wat die mense destyds gedoen het – Job het begin omgee vir ander – soveel so dat hy sy dogters ook saam met sy seuns laat erf. So iets was net nie gedoen daardie tyd nie, maar Job het begin omgee vir mense, begin liefde uitstraal – want hy het die liefde en omgee van die Here ontdek
4. OORWINNING
Maar die storie van Job wil nog nader aan ons kom.
Hoevele van ons loop vandag rond met ‘n storie van wat mense jou aangedoen het. - daardie een het vir my dié verskiklike dinge gesê, - of die een het my ingeloop en nou sit ek met die skade.
Elkeen van ons het sulke verhale en stories. Maar wat maak ons daarmee?
Vertroetel ons die seer uit die verlede, dra ons dit soos ‘n kombers om ons? Ek kan nou nie meer lag nie, want daardie mens het my kwaad gemaak, ek kan nou nie meer omgee vir ander nie, want ek is self ‘n slagoffer. En ek wil nou nie meer in die kerk kom nie, want daardie een het my dit aangedoen.
Ek mag dalk nou onsensitief klink, so asof dit wat mense jou aangedoen het nie verskiklik is nie – maar die Here wil nie hê jy moet daarin vasgevang bly nie – Hy wil vir jou nuwe lewe gee, Hy wil vir jou vreugde gee. As iemand êrens in die verlede vir jou iets aangedoen het, verbreek die houvas van daardie ou dinge op jou, laat dit gaan – sodat jy weer in vreugde kan lewe. Die verlede mag nie die toekoms bepaal nie...
Kyk hoe stel die apostel Paulus dit. Hy skryf aan die gemeente in Efese van al die kwaad en verkeerde en moeilikheid - maar deur die krag van die Gees van God moet ons juis daarteenoor staan, juis daarteen weerstand bied – want die Here God wil opbou, nuut maak, vrede en vreugde gee.
Lees Efes 4 v 29 – 30 29. "Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom. 30. En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie."
en Gal 5 v 22 22. "Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing."
5. LEWE VREUGDE
Die storie van Job wil vir ons ‘n prentjie voorhou van wie die Here is – die Een wat lewe bring, wat vreugde in gedagte het vir jou.
- Gee jou oor aan hierdie God en laat los daardie dinge uit die verlede. - Laat toe dat Hy jou nuutmaak en vrede en vreugde bring.
ANTWOORD Lied 214 v 1, 2, 3
Here, ons sal U loof, U weldade roem. U Naam sal ons eer, almagtige Heer, want U het wonders gedoen.
Here, ons sal U loof. U het ons verlos, uit duister bevry; ons harte verbly - dit het u lewe gekos.
Here, ons sal U loof, U weldade roem. Dis U wat voorsien, ons wil U graag dien en U ons Vader noem.
ONS OMGEE Matrieks - Solosang – Lizelle Nel - Aanmoediging – Jadre Lategan - Lied
DANKBAARHEID Offergawes
Laaste Lied – 284 v 1, 2, 3
Laat Heer u vrede deur my vloei Waar haat is, laat ek daar U liefde bring. Laat ek in pyn en smart vertroostend wees En krag gee deur geloof in U, o Heer
Refrein O Heer, help my om altyd so te leef – om ander hoër as myself te ag, Ja, om lief te hê – ander bo myself – en ook eerder te gee as te verwag.
Laat Heer u vrede deur my vloei en laat ek hoop gee waar daar twyfel is. Ek wil u lig in duisternis laat skyn. Laat ware vreugde altyd uit my straal
Refrein
Laat, Heer, u vrede deur my vloei… leer my om ook soos U te kan vergeef Maak my bereid om aan myself te sterf, dat ander U al meer in my kan sien.
DIE HERE SE BELOFTE Sy teenwoordigheid
Job 42 v 1-7 and 10-17 Sunday 25 October 2015
WHAT DOES YOUR LORD LOOK LIKE?
Each one of us has our own image of the Lord God. While the going was good, Job imagined God as the “Big Boss” to be respected and acclaimed, then due rewards will follow. It was only when things started to go wrong, though, that Job discovered who the Lord God really is.
Job started on this road of discovery when he realized his own smallness before God and subjected himself to this mighty God. Furthermore Job discovered that this mighty Ruler also loves and cares for him. God’s love freed Job to such an extent that he started to care and pray for others. He even went against the tradition of his time and made his daughters his heirs.
This is what the Lord God also has in mind for us, who so often and easily wrap ourselves in the blanket of past pain and wrongs. God wants us to become free of the hold of the past and live joyfully and peacefully again. In Galatians 5 v 22 Paul describes this new life as the fruit of the Holy Spirit that manifests in us as love, joy and peace.
Comments