top of page

Lyding? Job kry ‘n antwoord wat hy nie verwag het nie.

  • Ds Abe Beyers
  • Oct 20, 2015
  • 8 min read

Sondag 18 Oktober 2015 Job 38

Lyding? Job kry ‘n antwoord wat

hy nie verwag het nie.

Ds Abe Beyers

ONTMOETING • Stemmingslied • Ons erken die Here • Hy groet ons

• Ons sing lied 175 Majesteit, glansryke heerlikheid! Ons wil Jesus, die koning, hulde bewys! Majesteit, hemelse heerlikheid! Van waar ons woon,tot by sy troon, wil ons Hom prys. Kom ons loof, kom ons besing die Naam van Jesus! Kom ons loof, kom ons aanbid die Here ons God! Majesteit, heilige heerlikheid! Hy het gesterf, ons heil verwerf, Hy het oorwin!

WOORD-TYD Kleuterkerk Sieg Nel

VERHOUDINGS-TYD  Om die Here raak te sien (storie)  En nou ons (Psalm 8) As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp:

 Ons antwoord met Lied 164 v 1, 2 Ons is almal hier tesaam, vergader in sy Naam, verheerlik Hom. Tot die dood was Hy getrou en daardeur is ons nou sy eiendom. Kom ons leef soos wat Hy vra en leer om te verdra en liefde na te streef. Loof Hom, Christus, die Heer.

Ons is almal hier tesaam, verenig in sy Naam, verheerlik Hom. Met ons hart en mond en hand, ons kragte en verstand kom loof ons Hom. Hou ons lewend deur u Gees, laat ons u kinders wees en U bo alles eer. Jesus Christus, die Heer.

WOORD-TYD  Gebed  Woord – Job 38

1. WAAROM?

Vrydagmiddag ry ek en Christa gou Graaff-Reinet toe. En daar op die vlakte voor GRT sien ons ‘n gedoente langs die pad. Dit blyk toe ‘n kar te wees wat se band gebars het – jy kan die skuurmerke op die pad sien – die kar het die pad verlaat en gerol. Ons probeer ons toe indink in die situasie van die mense binne-in die kar. Dalk was hulle nog vrolik aan die gesels en die volgende oomblik rol die kar – en nou sit hulle daar verdwaas en geskok. So skielik Miskien vra hulle later: Hoekom Here, hoekom die verskriklike ding?

So ‘n week of twee terug daar in die Murraysburgdistrik was daar die jong vrou – kort in die dertigs – en nou is sy dood aan kanker. En nou vra ons as mense: waarom? Wat is die sin daarvan, hoekom? Kon die Here dit nie maar gekeer het nie – daar is dan so baie vir haar gebid?

Of ‘n tydjie terug tref die weerlig iemand se grond en sy plaas brand af en hy vra: Hoekom, waarom? Waarom tref dit vir my, wat het ek gemaak om dit te verdien?

Of jy is nog jonk en jy skryf eksamen en die dinge loop die heeltemal verkeerd die dag - jy vergeet alles en op die ou end druip jy daardie vak en nou wil jy ook weet: hoekom, waarom het dit met my gebeur? En is mos onskuldig, ek het mos my deel gedoen, ek het mos geleer. Hoekom het dit nou met my gebeur?

Of daar in Baghdad loop die mense mark toe, ‘n doodnormale oggend op die mark – en ‘n selfmoordbom ontplof en ‘n 100 mense is dood. En ook daar vra mense; Hoekom, waarom – ons is mos onskuldig?

So probeer ons sin kry uit al die lyding rondom ons, so wil ons probeer antwoorde vind.

2. JOB: ... DAN IS DIT MOS DIE HERE

Die man Job het selfs verder gegaan om ‘n antwoord te probeer kry vir sy Hoekom-vraag. Nadat hy alles verloor het - sy gesin, sy besittings – en daaroor getreur het – probeer hy nou sin maak uit die omstandighede. As daar net ‘n rede kan wees, as daar net ‘n sinvolle antwoord kan kom.

So het Job begin sê: maar niks wat ek gedoen kan hierdie vreeslike ding verklaar nie, dit maak nie sin nie. En daarom gaan hy verder met sy gedagtes: as hy wat Job is dan onskuldig is, as hy dan niks verkeerds gedoen het nie, dan is dit mos die Here God wat onregverdig is, wat onbillik is. Job sê selfs dat die Here wreed is. Vir ons is dit skokkend dat iemand dit durf waag om so iets teenoor die Here te sê.

En asof dit nie genoeg is nie gaan Job nog verder met sy gedagtes. Hy beskuldig nou nie net meer vir die Here God nie – in hfst 13 daag Job vir die Here God uit: Kom ons begin met ‘n regsaak dan, kom ons kyk wie is skuldig.

LEES Job 13 v 22 - 23 Job 13:22 "Roep my, en ek sal antwoord, of anders, laat ék praat en antwoord U my: 23 Hoeveel misdade en sondes het ek begaan? Wys my wat my oortredings en my sondes is!

3. EN TOE PRAAT DIE HERE !

Job het lank gewag en geworstel om te verstaan hoekom. En hy beskuldig en verwyt die Here. En asof dit nie genoeg is nie, daag hy die Here uit om te antwoord

.... en toe antwoord die Here – eers in hoofstuk 38

Maar as jy nou vanoggend gedink het dat jy vir eens en altyd ‘n antwoord gaan kry op die vraag oor hoekom die Here dan sulke swaarkry toelaat, gaan jy teleurgesteld wees - die Here antwoord glad nie die vraag nie.

Maar kyk net wat antwoord die Here toe vir Job:

LEES Job 38 v 1 – 7 Job 38:1

Toe het die Here vir Job aangespreek uit ‘n stormwind uit: 2 "Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig dat hy geen insig het nie? Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy My. 4 Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die antwoord het. 5 Wie het die aarde afgemeet? Weet jy dit? Wie het ‘n maatlyn oor hom gespan? 6 Waarop is sy voetstukke neergesit? Wie het hom aanmekaargesit (7) daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al die hemelinge gejubel het?

En daarmee wil die Here vir Job laat verstaan: Job, Ek is die Skepper-god, die Almagtige . Ek is nie ‘n antwoord aan jou verskuldig nie, Ek hoef jou nie te antwoord nie.

Miskien is jy vangoggend nou teleurgestel – dalk het jy gehoop om ‘n antwoord te kry op daardie seer in jou lewe, op daardie onbeantwoorde vrae, op die onreg van die lewe.

Maar as ons nou weer dink oor die Here se antwoord, dan is daar tog iets anders in. Job moes iets anders hoor.

- Job, voor jy nog daar was, was Ek daar gewees, was Ek God die Almagtige. Ek is God van die begin af. - Maar, Job, Ek is ook nou God die Almagtige . Ek gee reën op die dorre kluite, Ek stuur die wolke en Ek stuur die weerligstrale

Maar nog meer, Job: Ek, God die Almagtige is nie net bý jou nie, Ek gee ook om vir jou . (v36) - Ek stuur die hoenderhaan om die nuwe dag vir jou aan te kondig - Ek stuur die ibisvoël om vir jou teen die vloed te waarsku.

4. SY TROOS

Die meeste van u ken die verhaaltjie van die man wat die droom gehad het. En in die droom het hy sy lewe gesien soos twee voetspore. En toe sien hy daar in die moeilike tye is daar net een ry voetspore. En hy vra toe vir die Here: hoe is dit dan nou, waar was U dan toe dit so moeilik was, kyk daar, ek was toe alleen. Nee sê die Here, dit is nie jou spore daardie nie, dit is My spore - die een ry spore was toe Ek jou gedra het ...

En wat nou van ons vandag? As mense kanker kry; of jy verloor alles; of jou man gaan dood… Wat moet ek dan sê? Hoekom die goed met jou gebeur, kan ons nie sê nie. Wat ons wel kan sê is: die Here is daar in die moeilikheid saam met my, die Here gee vir my om...

Iemand wat dit baie goed verstaan het, is juis koning Dawid. Psalm 23: “Al gaan ek ook deur donker dieptes, Sal ek nie bang wees nie Want U is by my, in U hande is ek veilig.”

Daardie Opel wat daar op pad Graaff-Reinet toe gerol het – was die Here wel daar gewees? Natuurlik was Hy daar ook. Die kar het weer op sy wiele te staan gekom. Of daardie Yolanda wat dood is, was dit Here in die prentjie gewees? Natuurlik was Hy daar, elke oomblik.

5. EN NOU?

Maar daar is tog nou nog iets wat ons vir mekaar moet sê:

As jy nou weet en onthou dat die Almagtige Here is steeds saam met jou daar in die moeilike tye, dat Hy daar is as dinge verkeerd loop, dat Hy daar by jou is as jy nie meer in beheer is nie - wat gaan jy nou maak met die inligting?

Die eenvoudige antwoord is: - gaan vertel dit vir ander wat swaar kry, vir ander wat moedeloos is. - Gaan vertel dit vir hulle wat nie meer kans sien om aan te gaan nie - jy het die boodskap gehoor - gaan gee dit vir ander. o Vir jou kinders wat wonder of God nog daar is. o Vir jou buurman wat worstel met een of ander siekte. o Vir jou vriend wat alles verloor het.

- Vertel dat God in sy Almag saam met hom of haar in die ding is.

Maar meer nog - gaan en gaan help - want God in sy mag en krag is ook by jou. Die Here wil juis deur jou werk om vir ander lewe te bring.

ONS ANTWOORD

 Lied 518 v 1

Voel jy soms of die Here te vér is? Twyfel jy soms aan God se bestaan? Jy moet glo dat die Heer met jou saamloop, dat sy Gees oral met jou sal gaan.

Jesus sê Hy kom weer, Hy kom uit die hemel neer, met basuin en geskal kom Hy al sy mense haal.

Deur sy Woord weet ons Jesus gaan t'rugkeer, na ons wêreld met alles daarin. Wat gebreek is, sal Jesus kom heelmaak; deur sy Woord weet ons alles maak sin.

Hoor hoe sag waai die wind, kyk die glimlag van 'n kind. Maak jou los van die kwaad; dis jou Skepper wat hier praat.

Voel jy soms of die Here te vér is? Twyfel jy soms aan God se bestaan? Jy moet glo dat die Heer met jou saamloop, dat sy Gees oral met jou sal gaan.

DANKBAARHEID  Offergawes

 Laaste Lied – 577 v 1, 2, 3, 5 Die Heer, my herder, sorg vir my, Hy laat my rustig wei; langs waters waar daar vrede is, sal Hy my veilig lei. Die Heer gee my weer nuwe krag en Hy sal met my gaan; Hy lei my op die regte pad ter ere van sy Naam.

Al lê daar donker dieptes voor, tog hoef ek nie te vrees, want U's by my, en in u hand sal ek steeds veilig wees.

Net goedheid, liefde, lewenslank, gee U, o Heer, vir my; by U's ek tuis, en in u huis sal ek vir ewig bly.

DIE HERE SE BELOFTE  Die Here gee sy teenwoordigheid

Dear English friends, we are adding an English summary for your convenience.

Job 38 – Job did not receive the answer from the Lord that he had expected.

Do you want an answer as to the “why” of your suffering? Job did, after he had lost everything he had. He looked for a reason, an explanation for all that he had to go through. He reasoned that his suffering could not be the result of his actions; he is therefore innocent and the Lord must be the guilty One (chapter 13).

After Job had searched for answers in vain, though, the Lord finally answered him (chapter 38), but not in the way

he expected. The Lord said that He does not have to explain his deeds to Job. He also said that He as the Almighty God cares for Job and will be at his side throughout all crises.

That is our consolation, even today – as king David said in Psalm 23: “Even though my path leads through the deepest darkness, I will not fear, because You are with me, in your hands I am safe”. We should share this good news with everyone.


 
 
 

Comments


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page