top of page

Fokus op die Here

  • Ds Abe Beyers
  • Oct 12, 2015
  • 7 min read

Jakobus 5 v 13 – 20 Sondag 11 Oktober 2015

FOKUS OP DIE HERE Ds Abe Beyers

ONTMOETING  Stemmingslied  Ons erken die Here  Hy groet ons

Ons sing ‘n Lied – 205 v 1, 2 Bring lof aan die Vader, verheerlik die Seun, vir liefde, genade, verlossing en steun – dat elkeen wat glo nie verlore mag gaan maar ewig voor Hom as verloste kan staan. Loof die Heer, loof die Heer - sing, gelowiges, saam! Loof die Heer, loof die Heer - prys sy heilige Naam!

Hy kom uit genade ons sondes versoen, Dat ons Hom vrymoedig ons Vader kan noem.

Ons lof aan die Skepper wat altyd getrou sy kerk hier bewaar, dit vernuwe en bou - ons bly inspireer en ons stuur deur sy Gees om sout en om lig vir die wêreld te wees. Refrein:

VERHOUDINGS-TYD  Wie is die Here? Die Here is my Herder… – ek kom niks kort nie (Psalm 23) Maar as dinge nie lekker is nie? “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Psalm 22) “U het my gebed verhoor. Ek sal tot eer van U Naam getuig in die gemeente” (Ps 22v23)

Ons antwoord met Lied 212 v 1, 3 Loof die Heer, Hy is goed, loof sy heilige Naam; laat alles in die groot heelal die Here loof. Ek wil die Here loof (ek wil die Here loof), loof met my hele hart (loof met my hele hart) Hy gee hul wat roep, weer nuwe krag.

Loof, o hemel, die Heer, al die engele saam - laat alles in die groot heelal die Here loof. Refrein:

WOORD-TYD  Gebed  Woord – Jakobus 5

1. FEES

Dis nou twee weke terug dat die gemeente Aberdeen sy feesvieringe gehad het. En het ons nie lekker gekuier nie. Daar was allerhande geleenthede en ons het mekaar geniet. Die Saterdagoggend was ‘n paar kinders nogal verras dat ou ooms so ‘n vir hulle kon wegstap op die staptog. En daar was saam-kuier saans en saam-eet, daar was vrolikheid en daar was onthou-jy-nog stories onder mekaar. Van die oud-lidmate het daar in die kerksaal rondgedraai en gekyk na hul gesiggies in die skoolfotos van lank gelede.

Maar wat nou? Waarmee moet ons ons nou besig hou? Dalk kan ons raad kry by Jakobus

2. GEMEENTE

As Jacobus nou sy brief skrywe, dan staan daar dat hy dit aan al die gelowiges van al die destydse gemeentes 2000 jaar terug skryf. Maar as ons dan verder in die brief lees, dan haal hy sulke spesifieke voorbeelde aan, dat ‘n mens begin wonder of hy nie maar ‘n spesifieke gemeente in gedagte gehad het nie, of dan nou ten minste ‘n gemeente wat hy geken het nie.

As jy deur die brief lees dan blyk dit dat daar maar baie moeilikheid tussen daardie gelowiges was – daar was hoogmoedigheid en kwaad-praat van mekaar, daar was spesifieke probleme rondom mense wat nie meer die Here so erken het nie, wat van Hom vergeet het.

En nou kom roep hy daardie gelowiges op om te bid vir die spesifieke probleme in daardie gemeentes: Ons lees daarvan

Jak 5:13 As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid. As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing.

En dis nou nie net dat hy die mense oproep om te bid vir die siekes nie – ook wanneer iemand opgeruimd en vrolik en bly is, dan moet hy die Here dank. Want sang is ook maar ‘n vorm van gebed. Hulle moet dus onder alle omstandighede die Here aanbid en erken – of dit nou is wanneer iemand in die nood is of wanneer iemand dankbaar is.

Jak 5:14 As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here.

En dan lees ons ook dat as iemand siek is, dan word moet die ouderlinge kom en vir daardie een bid. Natuurlik is die bedoeling nie hier om ‘n resep te gee van hoe siekes hanteer moet word nie – bv die ritueel van olie en wat nog alles nie. Dis nie ‘n prosedure wat hy bepleit nie, maar gebed.

Jak 5:16 Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.

Hier word die gemeente opgeroep om te bid vir die herstel van verhoudings – as mense teenoor mekaar gesondig het, mekaar seer gemaak het, dan moet hulle dit bely en dan vir mekaar bid.

Jak 5:19 My broers, as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom terugbring, weet dan dat hy wat ‘n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red en maak dat ‘n menigte sondes vergewe word.

En hier hoor ons van mense wat dan nou van die woorde van die Here af wegbeweeg het, of te wel van iemand wat van die Here Jesus vergeet het – en dan moet die gemeente probeer om daardie een terug te bring en weer in verhouding met die Here Jesus te bring.

3. FOKUS OP GOD

As ons nou die oproepe hoor tot gebed vir die verskillende sake en probleme in die gemeente, wat Jakobus vra, dan gaan dit nie maar oor riglyne tot gebed nie. Baie het van hierdie stukkies ‘n model gemaak – bv as iemand nou siek is, dan moet hierdie tegniek gebruik word om hom gesond te kry, of as verhoudings nie lekker is nie, dan moet hulle dit so hanteer soos Jakobus hier voorstel.

Maar dis nie wat Jacobus onder ons aandag wil bring nie. Hy wil ons as gelowiges, ons as gemeente oproep om te bly fokus op die Here.

- Soos die Here Jesus ook daar in Johannes 15 bepleit het: "julle moet in My bly soos Ek in julle – as die loot nie in die wingerdstok bly nie, kan hy nie vrugte dra nie – so julle ook nie as julle nie in my bly nie." - Of soos Lukas daar in die boek Handelinge vertel van die eerste gemeente wat bly volhard in die gebed. Dan is die bedoeling ook duidelik nie dat die gemeente niks gedoen het nie, en net die hele dag toe oë daar gesit het en gebid het nie. Dit gaan om ‘n fokus op die Here, ‘n in lyn wees met Hom, ‘n bewus wees van wat Hy mee besig is, om naby Hom te leef, om te soek wat wil die Here hê. - Of nog ‘n voorbeeld: Die apostel Paulus was eers ywerig besig met die saak van die Here soos hy dit verstaan het – ywerig besig om die kerk reg en skoon te hou – totdat Paulus daar op die pad na Damaskus die Here Jesus self ontmoet het – en toe moes hy vra: Here, wat wil U hê moet ek doen? Dit is hierdie fokus op die Here wat Jakobus dan ook bepleit.

En ek dink dat ons dit weer moet hoor in Aberdeen – hierdie oproep om die Here Jesus eerste te stel.

Die kerkraad het op sy vergadering van Augustus ‘n besluit geneem – en ek haal aan: Die N G Gemeente Aberdeen word as wyke, groepe en as indiwidue opgeroep tot voorbidding dat die gemeente meer die Here kan ontdek en in verwondering kom oor wie Hy is. Ongelukkig is die besluit nog nie aan die gemeente oorgedra nie, en is daar nog niks daadwerkliks aan die oproep tot gebed gedoen nie.

Maar dis dieselfde wat Jakobus van ons vra: ons as gelowiges, ons as gemeente moet dit ons erns maak om te fokus op die Here God.

4. HOE OM TE FOKUS OP GOD

Maar nou is die volgende vraag: hoe doen ons dit, hoe fokus ‘n gemeente op die Here Jesus en wat Hy wil?

Ons kan nou allerhande tegnieke en metodes hier voorstel - maar ek dink dat ons dit eenvoudig kan stel: - Daar moet by ons die een gesindheid wees, die een begeerte: Here wat wil U hê moet ek doen? Dit gaan oor hierdie een van gesindheid, een van fokus: om die wil van die Here te wete te kom.

- Miskien kan die ouderlinge hulle wyke laat bymekaar kom en vir hulle vra: kom ons bid vanaand en ons vra almal vir die Here dat Hy vir ons sal lei vorentoe.

- Miskien kan die pa’s en ma’s daar aan die etenstafel die gewoonte inbring om behalwe vir die kos dankie te sê, sommer ook vir die Here te vra vir sy leiding vir die gemeente hier in en rondom Aberdeen

- Miskien kan ons Sondae hier in die erediens geleentheid gee dat ons saam kan rustig word en vir die Here vra wat wil Hy hê moet ons hier doen.

5. DIE BELOFTE:

As ‘n laaste woord wil ek graag vers 17 lees

“Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking”.

ONS GEBED Herskep, o Gees, laat leef, o Gees, laat kom die koninkryk met mag, laat mense tot bekering kom, oorreed deur u oortuigingskrag.

Herskep, o Gees, laat ons herleef, maak wakker elkeen in u kerk. Laat ons uit God se liefde leef, en dankbaar waak en bid en werk.

DANKBAARHEID

Laaste Lied – 513 v 1, 3​ Soek in God jou sterkte; kry by Hom jou krag; met sy wapenrusting klee Hy ons met mag. Nie teen medemense is ons worstelstryd, maar ons veg teen Satan en sy sluwe listigheid. Hy stuur bose magte in die wêreld in, maar met God se wapens kan ons hul oorwin

Doen dit alles biddend, soos die Gees ons lei. Laat ons altyd waaksaam en gelowig bly! Almal wat bly volhou, saam bly bid en werk deel in die geheim van God se koninkryk en kerk. Hy maak ons vrymoedig, swakkes gee Hy krag - met sy wapenrusting klee Hy ons met mag!

DIE HERE SE BELOFTE  Sy teenwoordigheid


 
 
 

Comments


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page