top of page

Die Twee Pilare in ‘n Kind van God se Lewe

  • Ouderling Leon Marx
  • Oct 7, 2015
  • 11 min read

Sondag 4 Oktober 2015

Die Twee Pilare in ‘n Kind van God se Lewe Ouderling Leon Marx

 Gebed

​ Stemmingslied

​ Seëngroet

 Ons sing dankbaar lied 212:1,2

1. Die Twee Pilare in ‘n Kind van God se Lewe

Julle sal met my saamstem dat daar sekere strukture in ‘n gebou is wat dit staande hou. As jy ‘n ou gebou verbreek moet jy oplet om nie die dra-mure te verwyder nie, anders val die gebou inmekaar.

Net so is daar in elke mens se lewe – en in elke situasie – sekere pilare wat hierdie geestelike gebou staande hou. Dit is waaroor ek vanmôre met jou oor wil praat.Daar is sekere dinge in ons lewens wat verseker dat jy standvastig kan wees en God kan dien , en as daardie dinge afgebreek word – hoor mooi vriende – is die huis besig om inmekaar te val.Ek praat nie van mense wat God nie dien nie. Ek praat van die Christen wêreld. Ek praat van mense wat bely dat hulle kinders van God is.

As ‘n mens na Christene se lewens kyk, kom jy dikwels agter dat daar krake in die pilare is wat die gebou moet staande hou.

Nadat die duiwel Jesus in die woestyn versoek het, staan daar:

Luk 4:13

En toe die duiwel elke versoeking geëindig het, het hy ‘n tyd lank van Hom gewyk.

Dit beteken hy het net týdelik gewyk. Hy was van plan om terug te kom, anders sou daar gestaan het dat hy van Jesus gewyk het om nooit weer terug te kom nie. Hoor mooi.. dit is nie so dat hy nooit weer terugkom nie. Ek getuig daarvan in my eie lewe en jy getuig daarvan in jou lewe… dat die duiwel aanhou en aanhou en aanhou! Hy kom aanhoudend terug om ons te versoek.

Hy wil die geestelike pilare wat jou gebou staande hou vernietig.

Hy wil Christene se huwelike uitmekaar laat val.

Hy wil besighede laat verkeerd handel.

Elke faset van jou lewe kan hierdeur beïnvloed word. Toe ek die volgende teksvers lees het ek ervaar dat die Gees van die Here met my praat.

1Pe 5:8

Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.

Ek hou van hierdie teksvers, want as ons kan verstaan hoe die duiwel werk kan ons hom teenstaan. God het vir ons die krag en outoriteit daarvoor gegee. Ons sien dit in die volgende Skrifgedeelte.

Joh 1:12

Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;

Daardie woordjie MAG is in Grieks “exousia” wat beteken ‘gedeligeerde outoriteit.’ Hoor mooi, vriende,toe Jesus gesterf het aan die kruis en jy Hom aangeneem het as jou Saligmaker en Verlosser, is jy gewas deur sy bloed en het jy ‘n kind van God geword. Dit is belangrik. Jy moet dit verstaan. Jy moet God aanneem om ‘n kind van God te word. Jy staan nie net een môre op en nou is jy ‘n kind van die Here nie. Jy moet bely, jy moet Hom erken en jy moet Hom aanneem. Wanneer jy in Joh lees dat die Here sê elkeen wat Hom aangeneem het het Hy mag gegee, beteken dit Hy het die reg aan jou gedeligeer om dieselfde te sê as wat God sê: nl. dat jy ‘n kind van God is.

Daardie woord ‘bely’ is in Grieks HOMO LOGIA. HOMO beteken ‘dieselfde soort’ en LOGIA beteken ‘woorde. ’Jy moet dus dieselfde sê as wat God sê. God het dus aan jou die outoriteit toegeken om in die Naam van Jesus vir die duiwel nee, nee, nee, te sê. Hoe het die Here die duiwel weerstaan? Hy het vir hom gesê: “jou vyand, daar staan geskrywe…..”Dit is waarom dit so belangrik is dat jy die Woord moet bestudeer. Jy moet die Woord lees en jy moet kerk toe gaan om die Woord te hoor, want hoe gaan jy die duiwel weerstaan wanneer hy jou aanval en jy weet nie wat staan in God se Woord nie?

Ons lees weer die teks:

1Pe 5:8 Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.

In Grieks beteken hierdie woordjie ‘waaksaam’ om op jou hoede te wees. Jy moet wakker wees want daar is gevaar. Hoor mooi, Petrus sê daar is gevaar. As ek vanmôre na die kinders van die Here kyk, dan bid ek: “ag Here, help ons dat ons kan wakker wees. Dat ons kan nugter wees..”Wees waaksaam, want julle teenstander is teen julle! Hierdie woord ANTIDEACAST beteken (anti = teen en deacast = geregtigheid). Hoor dus mooi vanmôre, die duiwel is teen jou geregtigheid. Hy wil hê jy moet God verloën, en Hy wil hê jy moet jou rug draai op God. Petrus vermaan ons dus om wakker te wees. Jy moenie slaap nie. Jy moet nugter wees.

Het jy al iemand gesien wat onder die invloed van alkohol is?

Hy sê goed wat hy nie moet sê nie.

Hy praat goed wat hy nie moet praat nie.

Hy reageer soos hy nie moet reageer nie.

Nou kom Petrus en sê jy moet nugter, wakker en op jou hoede wees, want jou teenstander wil beheer hê oor jou lewe en hy gee nie moed op nie. Die duiwel – in Grieks is die woord DIA BALLOS – gee nie moed op nie. ‘Dia’ beteken penitreer en ‘ballos’ beteken om aan te hou en aan te hou en aan te hou. Die oomblik as jy verstaan wat die woord duiwel beteken – dit is soos om ‘n klip te vat en te gooi, en jy hou aan gooi, en jy hou aan gooi en jy hou aan gooi, want jy wil penitreer. Dit is wat die duiwel wil doen; hy wil penitreer. Hy wil ingang vind in jou lewe.

Dit is waarom Petrus sê dat jy moet nugter en waaksaam wees.

Ek wil vanoggend met jou praat oor die twee pilare in ons lewens wat so belangrik is. Die pilare wat ons geestelike dak bo hou – as ek dit so kan stel.

1. Die eerste pilaar in jou geestelike lewe is dat jy ‘n kind van God moet wees;

2. En die tweede pilaar is jou jou teenstand teen die wêreld – dit beteken dat jy die duiwel se liste moet weerstaan.

Jou Verhouding met God.

Om jou geloofspilaar staande te hou moet jou verhouding met God gesond en sterk wees. Ek wil vanmôre vir jou ‘n waarborg gee; die oomblik wat jou verhouding met God verkrummel, begin jou dak gly. Anders as die duiwel het die Here gekom dat ons lewe in oorvloed kan hê.

Petrus skryf:

2 Pe 1:2

Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die kennis van God en Jesus, onse Here!

Ons moet God dus ten volle ken om sy karakter te verstaan en in ‘n verhouding met Hom te wees. Want die oomblik wat jy kan verstaan hoe God dink en reageer en hoe God na jou kyk, versterk dit jou geloof. Baie mense dink God kyk na jou en wil jou net slaan en verdelg. Nee, nee, nee. Dis nie hoe God na ons kyk nie. Hy begeer vir ons ‘n hoopvolle toekoms en het gedagtes van guns en seën vir ons. God het ‘n plan vir jou lewe.

In Jer 29:11 verklaar Hy:

Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.

Ek kan ongelukkig nie vandag vir jou sê: "alles is wel, gaan maar net aan soos jy aangaan nie. Daar sal nie meer versoekings kom nie, maar ek moet vr jou sê: “ wees wakker en waaksaam want die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu om te kyk wie hy kan verslind.” As jy vanmôre hierdie woord verslind verstaan, dan sal jy ook verstaan dat die duiwel nie jou speelmaat is nie. Hierdie woordjie verslind in die oorspronklike taal is PEANO, wat beteken om iets op te slurp. In Engels word dit gesê: "he wants to devour you".

Toe Jesus op die skuitjie geklim het om oor te vaar na Gadara toe, het die storm opgekom want die vyand het geweet Jesus is op pad na ‘n belangrike oorwinning. Hoor mooi vanmôre, die oomblik wanneer die duiwel sien jy het rigting, jy is gefokus, dan is dit die tyd dat hy sal rondloop soos ‘n brullende leeu om jou te verslind en jy sal moet sê, nee, nee, nee.

In Efesiërs 6:10 lees ons:

Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte.

Efe 6:11 Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.

As jy vanmôre kan verstaan wat beteken hierdie ‘liste’ van die duiwel, en jy verstaan die woord Dia Bollos – iemand wat aanhou – dan weet jy dat jy die wapenrusting nodig het, want soos sy naam aandui is hy iemand wat jou gedagtes wil penitreer en sal aanhou en aanhou en aanhou.

Joh 10:10

Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.

Anders as die Here het hy vir jou niks goed in die gedagte nie. Hy wil hê jy moet verloor, maar die Here het gekom dat jy lewe in oorvloed kan hê.

Die tweede Pilaar in ‘n kind van God se lewe is dus om te waak teen die versoekings van die wêreld.

Daar is baie mense wat probeer om met die een voet God te dien en met die ander een die wêreld. Kort voor lank belewe jy ‘n stryd tussen God en die wêreld en jy weet nie watter kant toe nie. Die eerste ding wat God na my bekering vir my gesê het, was: “Leon, jy kan nie twee gode dien nie. Of jy sal die een haat en die ander liefhê, of die een aanhang en die ander een verag.” As jy vanmôre hierdie stryd beleef, slaan dan ag op wat Joh 1:4 ons leer; dat ons outoriteit het om die duiwel in die Naam van Jesus te weerstaan. Neem ‘n besluit en vertrou die Here. Hy sal jou nie los nie.

Die bose tas ons selfs in ons liggame aan. (Sien in hierdie verband die dagstukkie oor Job van Carel Anthonissen)

So 'n tyd gelede het ek met my bakkie teen die berg afgestort. Ek moes dood gewees het, maar wat doen God? Hy stuur sy engele om my te beskerm. So so twee weke gelede kry ek tydens 'n dosering per ongeluk dodelike gif in. Ek voel hoe dit in my keel afloop - maar weereens het die Here my beskerm. Plaas jou hoop op Hom. Hy sal jou nie los nie.

Rom 12:2

En word nie gelykvormig aan die wereld nie… Paulus sê dat ons nie moet toelaat dat die wêreld ons vorm nie. As jy daar tussen verkeerde vriende is, praat en lyk jy later net soos hulle. Dis ‘n pilaar in jou lewe om vir die wêreld te sê, NEE.

Vriende, hoor mooi vanmôre; om vir die dinge van die wêreld ‘nee’ te sê, maak jou sterk in Christus. Om nee te sê maak jou nie ‘n swakkeling nie, maar jou gemoed en denke word vernuwe sodat jy vir die Here kan vra: “ek soek meer van U, ek wil meer van U weet."

”In Rigters 16:26 gebeur daar iets.

Daarop sê Simson aan die dienaar wat hom aan die hand hou: (In die oorspronklike taal verwys hierdie dienaar na ‘n seun, of ‘n kind.) Laat my staan, en laat my die pilare betas waar die huis op rus, dat ek daarteen kan leun.

Rigt 16:27 En die huis was vol manne en vroue, en al die vorste van die Filistyne was daar, en op die dak omtrent drie duisend manne en vroue wat kyk hoe Simson speel.

Rigt 16:28 Toe roep Simson die HERE aan en sê: Here, HERE, dink tog aan my en versterk my tog net hierdie keer, o God, dat ek my oor een van my twee oë op die Filistyne kan wreek!

Rigt 16:29 En Simson slaan sy arms om die twee middelste pilare waar die huis op gerus het, die een met sy regter— en die ander met sy linkerhand, en leun teen hulle aan.

Rigt 16:30 En Simson sê: Laat my sterwe saam met die Filistyne! En hy buig hom met krag, sodat die huis inval op die vorste en op al die mense wat daarin was. So was dan die dooies wat hy by sy sterwe gedood het, meer as die wat hy in sy lewe gedood het.

Simson vra vir hierdie seun om hom te neem na waar die twee pilare is. Onthou dat Simson blind was omdat sy oë uitgesteek was. Die seun vat hom dus na die twee pilare toe. Ek wil vir julle iets wys in hierdie gedeelte wat my verstom het. Ek praat vandag met julle oor die twee pilare in julle lewens, nl :

1. Ons verhouding met God.

2. Om weerstand te bied teen die wêreld.

Dit maak dat jou geestelike huis sterk is. Dit maak dat jy geestelik as ‘n Christen groei. Dit maak dat jy sterk staan teen die versoekings van die duiwel. Hoor mooi vanmôre, ek het nog nooit in die Christenwêreld gesien – en ek bedien by baie kerke dwarsoor die land – dat iemand wat in verslawing is groei in God nie. Dit gebeur nie want die vyand hou jou terug. Jy kan nooit tot jou volle potensiaal in God kom nie. Een van die vroue in Simson se lewe het by hom aangehou om aan haar te verduidelik waar sy krag vandaan kom. Hy vertel telkens ‘n leuen waarmee hy haar planne om hom te verraai fnuik. Maar sy hou aan en aan. Net soos die duiwel ook aanhou en aanhou.

Vroëer was die Filistyne bang vir Simson, hulle het hom gevrees, maar nou stuur hulle ‘n kind om vir Simson te gaan haal, en daardie kind vat Simson tot by die twee belangrikste pilare in die gebou. Vers 30 lui: “ en hy buig hom met krag ( krag wat van God af kom) sodat die huis inval op die vorste… So oorwin hy die vyand selfs in die dood. Wanneer jy versoek word, gaan na die pilaar van krag in jou lewe, nl. God, wat jou instaat stel om versoekings te weerstaan.

Toe jy tot bekering gekom het, het God jou verlos van pornografie, drank, dwelms, egbreuk, vuil taal, voorhuwelikse seks, skinder en nog baie ander dinge. Maar ek wil afsluit met ‘n baie belangrike waarskuwing.

Mat 12:43

En wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en vind dit nie.

Mat 12:44

Dan sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit leeg, uitgeveeg en versier.

Mat 12:45

Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hy self met hom saam, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste. Só sal dit ook wees met hierdie bose geslag.

As jy nie jou skoon huis vul met die dinge van die Here nie, kan jy verval tot jou ou onbekeerde toestand. Oppas vir die dinge wat jy moes eenkant toe stoot. Oppas vir daardie Internet. Oppas vir daardie verkeerde vriende. Oppas vir daardie verkeerde plekke. As jy nie daardie versoekings weerstaan nie sê die Woord:

"Dan gaan hy en neem 7 ander geeste met hom saam…."

Kyk vanmôre na jou verhouding met God en kyk na jou verhouding met die wêreld .Die Here het vir jou sy gedeligeerde outoriteit gegee om vir die vyand te kan sê, nee, nee, nee.

Amen

Daar is nou ‘n geleentheid om vir die Here iets terug te gee deur ons offergawes.

Seënbede

Die Here kom vanmôre vrywillig na jou toe en sê: “My Kind, ek is so life vir jou.

Al jou vreugde kan jy by My vind. Dis nou die tyd.

Verheug jou in My heerlikheid.

Ek dink nie meer aan jou foute nie. Ek bly getrou.

My liefde vir jou sal nooit vergaan nie.

Ek staan en wag met ope arms vir jou.

Laat My liefde jou seer genees.

Met al jou foute gee ek om.

Jy kan jou hele lewe aan My toevertrou.

Ek droog jou trane, vind rus by My.

Al dwaal jy rond, jy kan rigting kry.

Laat Ek jou wys, kom kniel by die kruis.

Jy bly My kind, Ek is so life vir jou.

Kan Ek jou vanmôre aan die hand vat, kan Ek jou lei?

Amen


 
 
 

Comments


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page