top of page

‘N GOEIE KONTAK

  • Ds Abe Beyers
  • Sep 28, 2015
  • 9 min read

Lukas 4 v 40 tot 5 v 16 (teks 5v9) Sondag 27 September 2015

‘N GOEIE KONTAK Ds Abe Beyers

VOORSANG met orrelbegeleiding deur ds. Attie van Wyk gaan die diens vooraf.

• Lied 157:1 Here Jesus, ons is saam, op u roepstem hier vergader; saam verenig in u Naam kan ons tot die Vader nader. Hoor die dank- en smeekgebede, Heer, van u gemeentelede.

ONTMOETING  Stemmingslied  Ons erken die Here  Hy groet ons

 Ons sing dankbaar: Psalm 146 v 1, 8 en Psalm 33 v 1 en 11

Die danklied wat volg se eerste vers word in Nederlands gesing ter herinnering aan die feit dat dit nog só gedoen was tydens die stigting van die gemeente in 1855.

Orreliste Tinneke Andersen begelei die gemeente op die traporreltjie wat steeds in die kerk staan sedert die kerk se inwyding.

Ps 146:1 Prijs de Heer met blijde galmen, Gij mijn ziel, heb rijke stof: ‘k Zal, zo lang ik leef, mijn psalmen Vrolijk wijden aan Zijn lof: ‘k Zal zo lang ik ‘t licht geniet, Hem vehogen in mijn lied

Psalm 146b:8 Dis die God der leërmagte, troue Bondsgod van weleer, God van wordende geslagte, tot in ewigheid die Heer. Sion, sing dié God ter eer, prys sy grootheid, loof die Heer!

Psalm 33 volg nou onder die pragtige begeleiding van ds. Attie van Wyk op die pyporrel.

Psalm 33:1

Sing vrolik, hef die stem na bowe Regverdiges, verhef die Heer Dit pas opregtes God te lowe en uit te jubel tot sy eer! Laat die psalmgesange – stem van sterk verlange

om die Heer te dank – By die smeltend-skone harp- en sitertone, Liefde en lof verklank Net deur sy gedagte is die Heer by magte om te laat geskied. Wat Hy doen, duur ewig. Vas staan dit en stewig soos Hy dit gebied.

VERHOUDINGS-TYD Wie is die Here: (Ps 118) "Aan sy liefde is daar geen einde nie.“

En nou ons teenoor die Here? (Psa 131:2) Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. En nou ons tussen mekaar? (Psa 131:2) Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.

ONS ANTWOORD  Verklaring van Hoop op God

Lied 260 v 1 en 11

Ek glo vas in God, die Vader, wat almagtig, wys en goed, aarde en hemel eens gemaak het, nog bestuur en trou behoed. Deur Hom leef, beweeg en is ek, Hy beskik, bestuur my lot; dít vertrou ek aan sy leiding as my Vader en my God.

Ewig, onbegryplik' Wese, U die Vader, Seun en Gees, Heer, leer my U ken al beter, u gehoorsaam kind te wees. Ons wil sing van al u liefde; in u waarheid wil ons juig. Amen! Blye evangelie! Amen, bly my hart getuig!

WOORD-TYD  Gebed  Woord – Lukas 4 – 5

1. KONTAKTE?

So ‘n tydjie terug praat ‘n boer oor sy kinders en die toekoms en boerdery – en kom toe tot die slotsom: dis nie nodig vir die kind om ‘n Landbougraad agter sy naam te hê voordat hy kan boer nie. Ja, die kind moet darem praktiese kennis hê van plaas en van vee, maar al daardie gespesialiseerde kennis van veemedisynes en voedings, van veesiektes en besproeiingstelsels – daardie kennis is hier rondom hom beskikbaar. Daar kom mense na jou toe wat vir jou die kennis kom gee soos jy dit nodig het, dis alles beskikbaar vir jou.

Dis hoekom ons in Afrikaans nogal ‘n mooi spreekwoord het wat sê: Dis nie wat jy weet nie, maar wie jy ken.

Die storie het my laat dink hoeveel kontakte ons het – kontakte wat vir ons voordelig is. As iemand vir jou vra van sy skouer wat nie meer lekker is nie, dan verwys ek hom na daardie dokter. Of as iemand iets wil weet van daardie soort kar, dan kan ek vir hom sê: “ bel daardie ou, hy weet”. Natuurlik stel ek mos nou nie belang in bv die dokter of die werktuigkundige se huislike omstandighede nie – ek stel net belang in die kennis wat daardie ou het, want dit kan ek gebruik. Meer as dit wil ek nie weet van die mens nie. Hulle is maar net vir my goeie kontakte om te hê.

2. JESUS GOEIE KONTAK?

Die storie wat ons vandag na gaan kyk kom uit die boek Lukas uit. Ons sien Jesus daar in die begin van sy bediening, besig om die mense te laat ontdek wie Hy is. En dis die een wonderwerk op die ander. Ons lees van een voorbeeld

Lukas 4 v 40 Luk 4:40 Met sononder het almal hulle siekes, wat aan allerhande kwale gely het, na Hom toe gebring. Hy het hulle een vir een die hande opgelê en hulle gesond gemaak.

En dan sien ons die reaksie van die mense op Jesus se wonderwerke. Hulle stroom na Jesus toe, hulle laat Hom nie met rus nie, agtervolg Hom.

Lukas 4:42 Luk 4:42 Die mense het Hom begin soek, en toe hulle by Hom uitkom, het hulle Hom probeer beweeg om nie van hulle af weg te gaan nie. Luk 5:15 Tog het die nuus oor Hom nog verder versprei, en groot menigtes het saamgedrom om na Hom te luister en van hulle siektes genees te word.

En dan sien ons Jesus reageer nogal snaaks op die mense se optrede. Dis amper asof Hy wegvlug van hulle af.

Lukas 4 v 42 en 5 v 16 Luk 4:42 Teen dagbreek het Hy uitgegaan en na ‘n eensame plek toe vertrek. Luk 5:16 Maar Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid.

En nou begin ons wonder oor hoekom die Here Jesus dan so reageer op die mense wat so agter Hom aankom? Ons sou dink dat Hy dan sy grootheid wil bekendstel, maar nou gee Hy telkens van die mense af pad.

Selfs toe die Here Jesus vir hulle begin leer wie Hy is en wie die Vader is, of van sy koninkryk – was daar nog geen reaksie by die mense nie

Lukas 5:1-3 Luk 5:1 Op ‘n dag toe Jesus langs die Gennesaretmeer staan en die skare vorentoe beur om die woord van God te hoor, sien Hy twee skuite aan die kant van die meer lê. Die vissers het uitgeklim en was besig om die nette uit te spoel. 3 Jesus klim toe in een van die skuite, die een wat aan Simon behoort, en vra hom om dit ‘n entjie van die oewer af weg te stoot. Nadat Hy gaan sit het, het Hy die skare van die skuit af geleer.

Ek dink ons weet klaar die antwoord - die mense het nie vir Jesus as die Heerser erken nie. Vir hulle was Jesus eenvoudig ‘n goeie kontak om te hê - gratis gespesialiseerde mediese dienste. Dis iemand wie se selfoonnommer jy regtig moet kry.

En skielik maak die optrede van Jesus teenoor die bose geeste ook sin.

Luk 4:41 Ook onrein geeste het uit baie uitgegaan terwyl hulle skreeu: "U is die Seun van God!" En Jesus het hulle skerp aangespreek en hulle nie toegelaat om sulke dinge te sê nie, omdat hulle geweet het dat Hy die Christus is.

Die geeste het wel geweet wie Jesus is, hulle het Hom herken, maar niks meer nie. Hulle het Hom nie aanbid nie en hulle het nie voor Jesus gebuig nie. Hulle het eerder teenoor Hom gaan staan. En dis daarom dat Jesus hulle stilmaak.

3. REGTE REAKSIE

Ons wat vandag nou die storie in die Bybel lees, wil nou so half begin bekommerd raak: is daar dan nou niemand wat vir Jesus erken vir wie Hy regtig is nie? Almal wil dan net sy goeie gawes hê, almal wil net sy seëninge hê, maar niks meer nie.

En dan lees ons genadiglik van Petrus. Kyk net na Petrus se reaksie op Jesus:

Lukas 5 v 4 – 10a Luk 5:4 Toe Hy klaar gepraat het, sê Hy vir Simon: "Vaar uit na die diep water toe en gooi julle nette uit om te vang." 5 "Meneer," antwoord Simon, "ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi." 6 En toe hulle dit doen, het hulle so ‘n groot klomp vis gevang dat hulle nette wou skeur. 7 Hulle wink toe vir hulle maats in die ander skuit om te kom help. Hulle het gekom en albei die skuite so vol gemaak dat hulle amper gesink het 8 Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: "Gaan weg van my af, Here, want ek is ‘n sondige mens." 9 Hy en almal wat saam met hom was, was stom verbaas oor die groot klomp vis wat hulle gevang het. 10 Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus wat saam met Simon gewerk het, was net so verbaas.

Die woorde: "Petrus en ander was stom van verbasing", beteken nie maar hulle was net aangenaam verras deur die goeie oes nie – hulle was eerder geskok, hulle was eerder vreesbevange, hulle was oorweldig.

Dis soos my goeie vriend John Saunders die dag vertel toe die orkaan daar deur Lykso getrek het. Hy sit in die bakkie, maar toe die wind begin om die bakkie so te druk dat die wiele aan die een kant begin oplig, toe raak hy bang want hier is kragte groter as ek, nou is ek nie meer in beheer nie.

Dis soos Petrus en die ander moes gevoel het – hier is krag en mag en gesag ter sprake wat my klein maak.

En dan gebeur daar iets met Petrus: vir die eerste keer sien hy homself soos wat hy werklik is; en hy sien Jesus vir Hy werklik is. Dis asof Petrus besef (in goeie Afrikaans): Here, ek was nog net ‘n arrogante blikskottel vir wie dit net om myself gegaan net – ek het alles rondom my gebruik ter wille van my en my belange, ek was die middelpunt van alles…

En dis ‘n heel ander reaksie as wat die skares mense gehad het.

4. ONS

Die verhaal wat ons nou vandag na gekyk het dwing my om eerlik na myself te kyk – ek moet die vraag antwoord: waar pas ek in? Wie is Jesus vir my? Is Jesus vir my net ‘n goeie kontak om te hê… dis darem voordelig om ook van Hom te weet – ek kan Hom gebruik om te vra vir seëninge, ek kan Hom gebruik twv die toekoms – daar is darem so iets soos ‘n lewe hierna en ek moet daarvoor voorsiening ook maak. Ek moet darem mos ook so bietjie met die kerk ook te doen hê - net vir ingeval. Dis ‘n goeie kontak om te hê…

Maar daar is ook Petrus se reaksie: Here U is die magtige Een, ek gee my oor aan U.

5. NOU STUUR EK JOU

Maar die storie is nog nie klaar nie. Toe Petrus so die Here erken vir wie Hy is, Hom so aanbid – kyk wat doen die Here Jesus toe:

Lukas 5 v 10b nou stuur Ek jou Toe sê Jesus vir Simon: "Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang."

Eerstens troos die Here Jesus vir Petrus. Jy hoef nie bang te wees nie. Ek is nie ‘n skrikwekkende mag wat jou wil verwoes nie – Ek is die Heerser wat mense liefhet en vir hulle omgee – dus moenie bang wees nie. Jy kan kom rus in My.

Dis soos koning Dawid daar in Psalm 131 sê: “Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek by U tevredenheid gevind”.

Maar dan tweedens sê Jesus ook: Van nou af gaan Ek jou stuur. Jy is nou in My diens, want Ek is die Here. Dit gaan nou nie meer oor wat jy wil doen en bereik en verkry nie – dit gaan nou oor My saak en My koninkryk.

Natuurlik moes Petrus nog baie leer vorentoe – agter Jesus aan is toe glad nie so maklik nie – soveel so dat Jesus later weer vir Petrus moes vra: “Simon seun van Jona, het jy My waarlik lief”. Soveel kere het Petrus maar weer net aan sy eie belange gedink.

Maar weereens is die vraag aan ons: Wil ek agter Jesus aangaan, dat Hy my kan stuur waar Hy wil, dat ek my eie wil prysgee?

Sien ons kans daarvoor – daardie onvoorwaardelike oorgee aan hierdie Jesus?

MY WOORDE Lied 214 v 1, 2, 3 Here, ons sal U loof, u weldade roem. U Naam sal ons eer, almagtige Heer, want U het wonders gedoen.

Here, ons sal U loof. U het ons verlos, uit duister bevry; ons harte verbly - dit het u lewe gekos.

Here, ons sal U loof, u weldade roem. Dis U wat voorsien, ons wil U graag dien en U ons Vader noem.

DANKBAARHEID  Offergawes

UITGAAN-LIED  Lied 488 v 1, 3, 4

Helder skyn u lig vir die nasies, 'n vreugdeglans om die mense te verlig tot die hele wêreld kan sien U is die lig. Mag u lig, Heer, deur ons skyn.

Balsem bring herstel vir die wonde, 'n sagte salf vir die mense met hul seer tot die hele die wêreld kan sien dat U genees. Mag U troos, Heer, deur ons bied.

Heer, u Woord gee hoop aan die nasies; 'n hartvol hoop om die volke te verbly tot die hele wêreld kan glo dat U bevry. Mag U hoop, Heer, deur ons gee.

DIE HERE SE BELOFTE  Sy teenwoordigheid

DANKIE-SÊ  Jadre Lategan aan die woord  Danie Pienaar aan die woord

 Sing Halleluja 482 v 1

 Lied 482 God sy met u tot ons weer ontmoet; Mag sy raad ons lei en heilig, Met sy kudde ons beveilig, God sy met u tot ons weer ontmoet!

Vrede vir julle


 
 
 

Comentarios


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page