Wat Die Hart van Vol is.......
- Ds Abe Beyers
- Sep 21, 2015
- 9 min read

Sondag 20 September 2015 Genesis 39 en Johannes 15 v 4
Wat die Hart van Vol is.....................
Ds Abe Beyers
ONTMOETING Stemmingslied Ons erken die Here Hy groet ons
Ons sing ‘n loflied – Lied 198 v 1, 2, 3 God is my lied, sy almag ken geen perke Heer is sy Naam, volmaak sy skeppingswerke; die groot heelal is sy gebied.
Niks is van my, dis alles u genade; ek sien u goedheid oral, troue Vader, u lof sal op my lippe bly.
Waar God gebied, sal ons geen onheil vrees nie, want niemand kan soos Hy 'n redder wees nie - aan Hom my lof, aan Hom my lied.
WOORD-TYD Kleuterkerk
VERHOUDINGS-TYD Wie is die Here? (Psalm 50) Die Here is God, Hy alleen is God En nou ons? Lof is die offer wat jy aan God moet bring
Ps 50:16-20 16 Maar vir die goddelose sê God: "Waarom sê jy my voorskrifte een vir een op en beroep jy jou op my verbond, 17 jy wat ‘n afkeer het van wat Ek jou leer en jou nie steur aan wat Ek sê nie? 18 As jy ‘n dief raakloop, breek jy saam met hom in, en as jy die kans kry, pleeg jy egbreuk. 19 As jy jou mond oopmaak, praat jy kwaad; jou tong ryg bedrog aanmekaar. 20 Jy sit en praat teen jou broer, jou eie broer beswadder jy.
ONS SING Lied 164 v 1, 2 Ons is almal hier tesaam, vergader in sy Naam, verheerlik Hom.
Tot die dood was Hy getrou en daardeur is ons nou sy eiendom.
Kom ons leef soos wat Hy vra en leer om te verdra en liefde na te streef. Loof Hom, Christus, die Heer.
Ons is almal hier tesaam, verenig in sy Naam, verheerlik Hom. Met ons hart en mond en hand, ons kragte en verstand kom loof ons Hom.
Hou ons lewend deur u Gees, laat ons u kinders wees en U bo alles eer. Jesus Christus, die Heer.
WOORD-TYD Gebed Woord – Genesis 39
1. WAT BEPAAL MY KEUSES?
So paar maande terug was dit die Nampo-oesdag daar in Bothaville, en nou is dit ook die oesdagvieringe daar in Bredasdorp. Dis nou altyd interessant om te kyk wie kyk waarna. As jy ‘n boer is hier uit Aberdeen, en jy kom daar by Nampo oesdag, dan gaan jy bv kyk na besproeiingstoerusting, of jy gaan kyk na sonkragstelsels of dinge wat te doen het met die produksie van vee – wat ook al jou kennis is en belangstelling en ervaring is.
Aan die anderkant gaan dieselfde boer dalk ‘n stalletjie raaksien en iets moois vir sy vrou daar koop, want hy het darem ook daar tussen alles aan haar ook gedink.
Die vraag wat ons vanoggend mee besig is, is wat bepaal my optrede? Wat stuur my, wat laat my doen wat ek doen? Aan die een kant bepaal ons kennis en insig en ervaring wat ek doen. Soos die boer wat gaan kyk na die besproeiingstoerusting. Maar andersins bepaal ons verhoudings hoe ek optree. Soos die boer wat ook iets moois vir sy vrou koop omdat hy omgee vir haar, al is dit nie iets wat hy nodig het nie.
In die Bybel is daar ook baie voorbeelde van hoe mense opgetree het – maar ons kan ook by hulle sien wat het hulle keuses bepaal, hoekom het hulle gemaak soos hulle gemaak het. Ons gaan vandag na een voorbeeld kyk - Josef
2. JOSEF SE KEUSES
LEES Gen 39 v 1 – 4 Gen 39:1 Josef is na Egipte toe gebring. Potifar, ‘n amptenaar van die farao en hoof van die lyfwag, ‘n Egiptenaar van geboorte, het vir Josef by die Ismaeliete gekoop wat hom Egipte toe gevat het. 2 Die Here was by Josef en dit het baie goed gegaan met hom. Hy het in die huis van sy eienaar, die Egiptenaar, gebly. 3 Toe Potifar, Josef se eienaar, sien dat die Here by Josef is en dat die Here alles wat Josef aanpak, laat slaag, was Potifar hom goedgesind. Hy het Potifar se persoonlike slaaf geword en Potifar het hom aangestel oor sy hele huishouding, en al sy besittings is onder Josef se sorg geplaas.
Ons kry hier vir Josef hard aan die werk vir sy nuwe eienaar. Hy is nou ‘n slaaf daar in Egipte, ver weg van sy familie af in ‘n vreemde land en ‘n vreemde kultuur.
Maar wat het dan nou sy optrede bepaal? Natuurlik het sy kennnis en ervaring ‘n rol gespeel in sy goeie bestuursvaardighede, maar vers 2 vertel mooi dat daar iets meer was as maar net sy kennis. Daar word vertel dat die Here by Josef was. Josef het die sorg en voorsiening van die Here ervaar. Daarom kan ons aflei dat sy verhouding met die Here ‘n groot rol gespeel het in sy optrede daar in die vreemde
Maar dis asof ons nog nie heeltemal oortuig is dat sy verhouding met die Here so ‘n groot rol gespeel het nie. Dan kom Josef in ‘n moeilike situasie. Hy was nogal iets vir die oog en mev Potifar was seker taamlik gefrustreerd.
LEES Gen 39 v 6b – 10 7Josef was fris gebou en mooi. Na sy bevordering in sy eienaar se huis het dié se vrou na Josef gekyk en vir hom gesê: "Kom slaap by my." 8 Maar hy wou nie en hy het vir sy eienaar se vrou gesê: "Meneer steur hom aan niks vandat ek hier is nie. Wat hy besit, het hy onder my sorg geplaas. 9 Daar is niemand wat in hierdie huis meer gesag het as ek nie. Meneer het niks van my teruggehou nie, behalwe vir u, want u is sy vrou. Hoe kan ek so ‘n verkeerde ding doen? Ek sal mos teen God sondig!“ 10 Sy het dag vir dag by Josef aangehou, maar hy het bly weier om by haar te gaan slaap.
En juis daar in die krisis sien ons dat sy verhouding met die Here baie duidelik sy optrede bepaal. Al is hy net ‘n slaaf en moet maar maak soos ander vir hom sê om te maak, is sy verhouding met die Here vir hom meer belangrik – hy kan en mag nie die Here teleurstel nie. En sy keuse om die Here eerste te stel het natuurlik vir hom baie gekos – sy eienaar het hom in die tronk laat sit daarvoor.
Maar dan lees ons van nog ‘n geleentheid waar sy verhouding met die Here sy woorde bepaal het. Ons moet nou vir ons indink in die situasie in. Josef is die plaasseun van met skaapboerdery grootgeword het – en nou kom hy in die stad, in Egipte – en daar is heeltemal ‘n ander kultuur. Daar is reuse geboue en daar is ‘n magtige stelsel van regering.
Om nou daar in Egipte iets te sê oor die die Heerser en God van Israel sou baie snaaks oorgekom het. Dit is amper soos om vandag daar in die Arabiese wêreld van Jesus Christus te praat.
Die situasie is dat Josef in die tronk sit saam met twee van die hoë amptenare van die koning van Egipte. Of eintlik is Josef daar om hulle te bedien in die tronk, want hy is maar net ‘n jong man daar en hulle twee is al groot mense.
LEES Gen 40 v 4 - 8 Gen 40:4 Die hoof van die lyfwag het Josef vir hulle beskikbaar gestel: hy moes hulle bedien. Toe hulle al lank in die tronk was, Gen 40:5 het die twee een nag gedroom. Die skinker en die bakker van die koning van Egipte het daar waar hulle in die tronk opgesluit was, elkeen sy eie droom gehad met sy eie uitleg. 6 Josef het die volgende môre by hulle gekom en opgemerk dat hulle bedruk was. 7 Hy het vir die twee wat saam met hom in die tronk was, die amptenare van die farao, gevra: "Waarom lyk julle vandag so bedruk?" 8 Hulle het hom geantwoord: "Ons het elkeen ‘n droom gehad en ons weet nie wat dit beteken nie." Toe sê Josef vir hulle: "God ken julle drome se uitleg. Vertel die drome vir my."
Die versoeking was daar vir Josef gewees dat hy kon gesê het: maar ek kan drome uitlê, ek het daardie vermoë. Maar dan doen hy dit nie.
Heel eerste erken hy daar by die twee amptenare dat dit die Here God van Israel is, die God van daardie klompie veeboere daar in Palistina – dis Hy wat drome uitlê.
Om die naam van die Here daar in daardie geselskap te noem sou inderdaad vreemd oorgekom het. Om die Here God te erken daar in Egipte, was totaal taboe. In Egipte was die songod Ra as die magtige een erken.
Dalk wonder julle hoekom doen Josef so anders, hoekom staan hy so uit? Kyk net wat het gebeur toe hy daar in die tronk gekom het. Lees Gen 39 v 21 (20b – 21) 21Terwyl Josef daar in die tronk was, was die Here by hom, en Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind, sodat die tronkbewaarder hom goedgesind geword het.
Die woord “troue Liefde” beteken: om vir iemand om te gee en lief te hê ondanks foute en teleurstellings. En nou word vertel hoe Josef daar in die tronk die volgehoue liefde van die Here God ervaar het ondanks sy teleurstelling van die Here in die verlede.
3. JESUS SE PLEITREDE
Ons het nou ‘n mooi prentjie van hoe hierdie Josef se optrede elke dag bepaal is deur sy verhouding met die Here. Sy verbintenis met die Here het gemaak dat hy so opgetree daar in die vreemde Egipte.
As ons nou verder blaai deur die Bybel, dan sien ons die Here Jesus het juis so ‘n intieme verhouding met Hom bepleit. Bv daar in Johannes 15 v 4 sê Jesus vir die dissipels: “Julle moet in My bly en Ek in julle – ‘n loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie”.
Of daar in Johannes 17 – wat ons laas Sondag na gekyk het, pleit Jesus by die Vader dat ons aan Hom toegewy sal wees.
Die Here Jesus het destyds die invloed van ons verhouding met Hom op nog ‘n manier beskrywe. Hy het gesê: “wat die hart van vol is loop die mond van oor”.
Heel eenvoudig – as my gedagtes vol is, oorweldig is deur die liefde van die Here God, dan sal my mond en my hande mos oorloop daarvan.
4. ONS?
Ek dink dat ons nou redelik tot die besef gekom het dat die storie vir ons oproep om erns te maak met ons verhouding met die Here God
– want hoe nader ek aan die Here lewe, hoe meer gaan ek omgee wat Hy dink, hoe meer gaan ek Hom in ag neem as ek dinge doen.
Maar daarom wil die verhaal nie net vir my aanmoedig om erns met my verhouding met die Here te maak nie – die verhaal wil ook vir my krities na myself laat kyk: as ek dink aan wat borrel by my mond uit, wat doen ek elke dag, hoe praat ek tussen mense, dan wil die verhaal ‘n spieël voor my hou dat ek kan sien en besef hoe my verhouding met die Here is.
Maar dit gaan nie net oor ons as indiwidue nie. Dit gaan ook oor ons as ‘n groep, ‘n gemeente – wat straal ons uit?
Volgende naweek is die gemeente se feesnaweek – en van orals oor gaan mense hier aankom. Gaan hulle ondervind dat ons hier oorloop van dankbaarheid teenoor die Here wat vir ons 160 jaar lank sy troue liefde laat ondervind het?
ONS ANTWOORD Lied 334 v 1, 2, 3, 4 "God is Liefde!" juig ons harte, en bedink wat liefde doen: Dat Hy ons sy Seun gestuur het om ons sonde te versoen.
Hy wat eerste liefgehad het, het in liefde ons vergeef - nou kan ons, uit God gebore, uit dié bron van liefde leef!
Deur sy Gees, die wondergawe, laat Hy wederliefde spruit; en dié liefde - wat volmaak is - dryf die vrees en selfsug uit.
As die Vader in sy liefde dan die sondaar maak tot kind, mag sy Seun al meer gestalte in ons doen en late vind!
VERKLARING VAN VERTROUE 12 Artikels van die Christelike geloof
DANKBAARHEID Offergawes
Laaste Lied – 579 v 1, 3, 4, 6
Ons harte is verheug dat God, beskikker van ons deel en lot, ons lewe in sy hande hou - Hom kan ons alles toevertrou.
God ken alleen die regte pad wat uitloop op die hemelstad; Hy weet of voor- of teëspoed die beste is vir ons gemoed
Waar niemand anders help, help Hy; as mense wyk, staan Hy ons by. in rus en vreugde, nood en stryd bly Hy dieselfde deurentyd.
Kom, tree ons dan bemoedig voort; die Here rig ons deur sy Woord. Al lei ons pad deur smart en vrees, sal ons nie meer kleinmoedig wees.
DIE HERE SE BELOFTE Sy teenwoordigheid
Comments