top of page

Wat word van die Here se genade in ons?

  • Ds Abe Beyers
  • Sep 7, 2015
  • 10 min read

Rigters 6 en 7 en 8 5 September 2015 Wat word van die Here se genade in ons? Ds Abe Beyers

ONTMOETING  Stemmingslied  Ons erken die Here  Hy groet ons

 Ons sing ‘n loflied – Ps 100 v 1, 2, 3

Juig almal tot Gods lof en eer, kom dien met blydskap God die Heer. Kom met gejubel voor Hom saam en dank en loof Hom, prys sy Naam

Erken dié God en sy gesag. Hy hou oor ons, sy kudde, wag. Laat ons as volk die Heer aanbid. Hy't ons gemaak as sy besit.

Gaan by sy tempel in en sing en bring jul dank met jubeling. Sy goedheid, liefde en sy trou sal Hy vir altyd onderhou

KLEUTERKERK  Linda vd Merwe

ONS VERHOUDING MET HOM  Wie is die Here? (Psalm 139) Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. 2 Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. 3 Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend. 4 Daar is nog nie ‘n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees. 5 U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. 6 Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.

En nou ons?

Om te ontdek wie Hy is  Soos Dawid  Soos Tomas (Johannes 20)  Soos Paulus (Hand 9)

Ons antwoord met Lied 164 v 1, 2

Ons is almal hier tesaam, vergader in sy Naam, verheerlik Hom. Tot die dood was Hy getrou en daardeur is ons nou sy eiendom Kom ons leef soos wat Hy vra en leer om te verdra en liefde na te streef. Loof Hom, Christus, die Heer.

Ons is almal hier tesaam, verenig in sy Naam, verheerlik Hom. Met ons hart en mond en hand, ons kragte en verstand kom loof ons Hom. Hou ons lewend deur u Gees, laat ons u kinders wees en U bo alles eer. Jesus Christus, die Heer.

WOORD-TYD  Gebed  Woord Rigters 6 - 8

1. DIE HERE WERK

Die meeste van ons ken die Bybelse verhaal van die man met die naam Gideon. Maar darem net so bietjie meer oor hom – hy was een van die “rigters” wat deur die Here geroep is om die Israeliete, in die tyd toe daar nie ‘n koning was nie, uit die mag van die Midianiete te bevry.

Die verhaal bied vir ons baie troos juis vandag om weer te hoor hoe die Here God ingryp in situasies in – en vir mense bevryding bring

Maar vanoggend se fokus gaan nie wees op die Here se reddende genade nie – ons gaan kyk na wat al die genade en seën aan Gideon gedoen het, wat was die uitwerking daarvan op hom. En dit is taamlik ontstellend om die storie uit daardie hoek te lees – wat het Gideon met die genade van die Here gemaak, of te wel wat het van Gideon geword?

2. OPBOU

Ons gaan eers lees wat die agtergrond is, wat was die toestand van Israel, wat was die situsasie.

(Rigter 6v2-5) Hulle het die Israeliete hard behandel, en daarom het hulle langs die bergstroompies, in grotte en in ander ontoeganklike plekke gaan bly.

3 Wanneer die Israeliete iets gesaai het, het die Midianiete teen hulle opgetrek saam met die Amalekiete en ander mense uit die ooste.

4 Dan slaan die Midianiete kamp op en vernietig die opbrengs van die land selfs tot by Gasa se wêreld. Hulle het nie 'n dier in Israel lewend agtergelaat nie, nie 'n skaap of 'n bees of 'n donkie nie. 5 5. Die Midianiete het met hulle veetroppe gekom en kom tent opslaan. Hulle was so baie soos sprinkane: hulle en hulle kamele kon nie getel word nie. Hulle het die land kaalgestroop. 6Hulle het die Israeliete arm laat word. Ons kry die donker prentjie van die Israeliete wat in terme van die ander volke destyds net mooi nul was, hulle was magteloos en is verniel deur al wat nasies is. Die Midianiete en die Amalakiete het hulle eenvoudig gedurig gestroop. En baie van die Israeliete het maar gevlug en daar in die berge gaan bly om darem net te kan oorleef.

En ons held Gideon? Die Here het intussen begin om ‘n plan te maak om Israel weer lewe te gee – en so begin die Here met die man Gideon, om hom voor te berei vir die rol wat Hy vir hom in gedagte het.

Maar Gideon is nog nie die held wat hy kan wees nie – hy is nog stukkend en nog boonop nog kwaad ook oor die situasie waarin hulle is.

(Rigter 6 v 15) 15 Maar Gideon sê vir Hom: “Ekskuus, Meneer, waarmee sal ek die Israeliete gaan red? Die familie waaraan ek behoort, is die armste in die hele Manasse, en van my pa se kinders het ek die minste aansien

Gideon voel maar net soos die meeste ander Israeliete – nikswerd, minderwaardig.

Die eerste opbouaksie (Rigt 6v 14) 14 Toe het die Here na Gideon toe gedraai en vir hom gesê: “Gaan met die krag wat jy het en gaan red die Israeliete uit die mag van die Midianiete! Toe, Ek stuur jou!”

- Die Here gee vir Gideon ‘n direkte opdrag. Maw die Here ag hom goed genoeg om die werk te doen.

- Nogal besonderse woorde: gaan met die krag wat jy het, toe, Ek stuur jou.

Die tweede opbouaksie (Rigt 6 v 16) 16Die Here het hom geantwoord: “Ek is by jou, en jy sal die Midianiete verslaan asof hulle nie meer as een is nie.”

- die Here gee vir Gideon ‘n belofte van sy teenwoordigheid. Aangrypend, om te dink die Here gee self vir Gideon ‘n direkte belofte van sy nabyheid soos Hy vir die grotes voor Gideon ook gesê het, mense soos Abraham en Moses

Die derde opbouaksie (Rigt 6 v 18)

18 Moenie hiervandaan af padgee nie dat ek tog net gou 'n offer voor U kan kom neersit.” Toe sê die Here: “Ek sal wag tot jy terug is.” - en dan die pragtige stukkie: Gideon wil darem vir die Here erkenning gee en dan vra hy vir die Here om asb te wag – hy wil gou iets gaan voorberei. En die Here antwoord sowaar vir hom: “Ek sal wag tot jy terugkom”. Dit moes sekerlik geweldig baie vir Gideon beteken het – die Here wag vir hom!

Die vierde opbouaksie (Rigt 6 v 21) Hy het so gemaak,

21 en toe raak die Engel van die Here met die punt van die stok in sy hand aan die vleis en die brood. 'n Vuur het uit die rots uit opgevlam en die vleis en die brood verteer. Daarna is Hy van Gideon af weg.

- En daar gebeur toe ook nog ‘n dramatiese wonderwerk – die Here steek self die offer aan die brand. Net soos die Here destyds met die grote vader Abraham gemaak het.

3. DIE GELOOFTOETS

Maar die Here is nog nie klaar met Gideon nie. Gideon moet nog ingeoefen word. Hy moet nog leer om in geloof en vertroue op te tree. En Gideon kry sy eerste werksopdrag.

(Rigt 6 v 25 – 26) 25 Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Vat 'n groot bul, die sewe jaar oud bul van jou pa, sy tweede bul, breek jou pa se altaar vir Baäl af en kap die gewyde paal daar langsaan af. 26Bou dan 'n netjiese altaar vir die Here jou God bo-op daardie versterkte plek en vat die bul en offer dit as brandoffer. Jy moet die hout gebruik van die gewyde paal wat jy afgekap het.” Al doen Gideon die werkie in die nag, ten minste het hy dit gedoen, risiko en al.

4. NOG VERSTERKING VAN GIDEON

Maar die Here is nog besig met Gideon. Gideon is nog nie goed genoeg voorberei en opgebou vir wat hy moet doen nie.

( Rigt. 6 v 36 – 40)

36-37 Gideon het vir God gesê: “Ek sal weet dat U deur my vir Israel wil red soos U beloof het, as ek 'n stukkie vlieswol op die dorsvloer sit en daar kom dou op die wol terwyl die grond droog bly.” 38 En dit het toe gebeur: toe Gideon die volgende môre opstaan, het hy die stukkie wol uitgedraai en dou daaruit gedruk, 'n hele kom vol water. 39 Toe sê hy vir God: “Moet asseblief nie vir my kwaad word nie! Ek wil nog 'n keer iets vra. Laat my tog net nog een toets met die vlieswol toe: net die wol moet droog wees, terwyl daar oral op die grond dou is.” 40 Daardie nag het God dit so laat gebeur: net die wol was droog en oral op die grond was daar dou.

Ook deur hierdie stukkie is die Here nog steeds besig met Gideon – hy moet versterk word in sy geloof, sy vertroue in die Here moet opgebou word

Maar dis nog steeds nie genoeg nie.

(Rigt 7 v 9 – 11) 9Dié nag het die Here vir hom gesê: “Kom, gaan na die Midianiete se laer toe. Ek gee hulle in jou mag oor. 10Maar as jy bang is om hulle aan te val, moet jy en jou slaaf Pura eers in hulle kamp ingaan. 11Luister wat hulle sê, dan sal jy moed skep en hulle aanval.”

Gideon en sy slaaf Pura is toe sowat vyftig tree in die Midianiete se kamp in.

Die soldaat van die Midiatiete het ‘n droom gehad oor ‘n garsbroodjie wat in die kamp van die Midianiete ingerol kom en hulle tente kom platvee. Sy vriend lê toe die betekenis van die droom vir hom uit – en Gideon hoor dit. Dit alles gebeur sodat hy nie hoef bang te wees nie en dat hy kan leer om die Here te vertrou.

5. EERSTE KRAKE

Maar dan sien ons so tussendeur dat die Gideon wat so minderwaardig was, se gesindheid verander – iets gebeur met hom. En wat die storie nou besonders maak is dat die Here ook gesien het wat kom, dat Gideon aan die verander is – en daarom begin die Here so tussendeur vir Gideon waarsku dat hy wakker moet wees, dat hy moet let op wat aan die gebeur is ook met hom wat Gideon is.

(Rigt 7 v 2) 2 "Die Here het vir Gideon gesê: “Ek kan Midian nie oorgee in die mag van soveel manne by jou nie. Israel sal teenoor My spog en sê: ‘Ek het myself gered." Die Here gee vir Gideon ‘n boodskap oor die soldate wat dalk gaan grootkop kry oor prestasies, dat hulle nie die wonder daarvan gaan raaksien nie. Maar die boodskap is ook vir Gideon, hy moet dit ook hoor.

Aan die anderkant is die bose ook so tussendeur besig om aan Gideon te werk. Dieselfde droom word ook vir Gideon ‘n versoeking.

(Rigt 7v14) 14 "Die maat het geantwoord: “Dit is beslis die swaard van die Israeliet Gideon seun van Joas."

So sien die soldaat wat die droom uitlê vir Gideon as die magtige een – dis die swaard van Gideon wat ons gaan verwoes… En Gideon het daardie stukkie ook ernstig opgevat.

6. GIDEON SE VAL Dat Gideon se posisie toe na sy kop toe gegaan het, sien ons duidelik in die volgende stukkies:

(Rigt 7 v 18) 18As ek en almal by my die ramshoring blaas, moet julle almal wat rondom die kamp is, dit ook doen en dan moet julle uitroep: Vir die Here en vir Gideon!”

En dan lees ons verder ook hoe Gideon nou iemand geword het. Toe die oorlog verby is en die Midianiete verdryf is en die leiers doodgemaak is, vra die volk vir Gideon en sy familie hulle moet nou koning oor die land word. Maar baie mooi weier Gideon die eer. Nee, sê Gideon: die Here moet regeer.

As die storie tog maar net daar gestop het, dan was dit pragtig, maar dan dring hy aan op erkenning. Soort van: iets moet darem ook na my toe kom: “julle kan vir my die goud gee...”

(Rigt 8 v 23 – 24) 23Maar hy sê vir hulle: “Ek kan nie oor julle regeer nie, ook nie my nageslag nie. Die Here regeer oor julle.”24Gideon het verder vir hulle gesê: “Ek wil julle egter een ding vra: elkeen van julle moet vir my 'n oorring gee uit die buit wat julle by die Midianiete afgevat het; hulle dra mos goue oorringe.”

En dan sien ons nog iets waar sy posisie finaal na sy kop toe gegaan het:

(Rigt 8 v 29 – 30) 29 "Jerubbaäl seun van Joas (Gideon) het na die oorlog teen Midian in sy huis gaan woon. 30Hy het sewentig seuns gehad, almal sy eie kinders, want hy het baie vrouens gehad."

Ja dit was die kultuur van daardie tyd dat iemand meer as een vrou kon hê, maar die Bybelskrywers wil iets meer daarmee sê: Die gedagte daaraan was net dat hy nou magtig geword het en vir hom ‘n ewige lewe deur sy kinders geskep het – ek is mos nou net die man, die magtige Gideon en daarom kan ek…

7. EN NOU ONS?

Nader na ons toe – dit wat met Gideon gebeur lê nader aan ons lyf as wat ons dink. So maklik val ons ook vir die strik om te begin dink: ek is ‘n trappie hoër as ander; ek is darem die … As ons soveel oorvloedige seën van die Here ontvang, wat doen dit aan ons – word ons dan magtiges, of bly daar steeds die nederigheid in ons?

En daarom die oproep vanoggend weer aan ons elkeen: om steeds nederig te bly.

ONS ANTWOORD  Lied 168 v 1, 2, 3 Heilige Jesus, Heer van die here, U is verhoog tot die hemeltroon. Ons bring U ere, Christus, die Here! Met heerlikheid is U gekroon.

Heilig, heilig, heilig, Heerser vir ewig; groot is u Naam U die Vader, Seun en Gees. Grote God, ons eer U, met u hele skepping. U wat in liefde God regverdig is.

Heilig, heilig, heilig, Heer, so weldadig, groot is u guns, want U buig U tot ons neer! Heilig, heilig, heilig, magtig en genadig. U wás en ís en sál vir ewig wees.

STORIE VAN DIE HERE SE WERK  Geopende Deure – Frans Goosen

DANKBAARHEID  Offergawes Laaste Lied – 436 v 1, 2, 3 Herskep, o Gees, laat leef, o Gees, laat kom die koninkryk met mag, laat mense tot bekering kom, oorreed deur u oortuigingskrag.

O Gees, verlig ons, laat ons vind die waarheid wat u Woord ons leer dat ons met God en met mekaar in Gees en liefde kan verkeer. Herskep, o Gees, laat ons herleef, maak wakker elkeen in u kerk. Laat ons uit God se liefde leef, en dankbaar waak en bid en werk.

DIE HERE SE BELOFTE  Sy teenwoordigheid


 
 
 

Σχόλια


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page