top of page

OM VANUIT ‘N ANDER AGTERGROND TE PRAAT

  • Ds Abe Beyers
  • Aug 31, 2015
  • 8 min read

Sondag 30 Augustus 2015 Efesiers 1 v 15 – 21

OM VANUIT ‘N ANDER AGTERGROND TE PRAAT

Ds. Abe Beyers

ONTMOETING

 Stemmingslied  Ons erken die Here se grootsheid  Hy groet ons

Ons sing ‘n Loflied – 464 v 1, 3

O Heer my God, as ek in eerbied wonder - en al u werke elke dag aanskou: die son en maan, die aarde, sterre, wolke, hoe U dit elke dag so onderhou Dan moet ek juig, my Redder en my God! Hoe groot is U; hoe groot is U! Want deur die hele skepping klink dit saam: hoe heerlik, Heer, u grote Naam!

U Seun word mens; in ons gebroke wêreld kom vestig Hy sy koningheerskappy. Hy maak weer heel wat sonde hier gebreek het. Hy bring weer hoop en redding - ook vir my. Dan moet ek juig, my Redder en my God! Hoe groot is U; hoe groot is U! Want deur die hele skepping klink dit saam: hoe heerlik, Heer, u grote Naam!

VERHOUDINGS-TYD  Wie is die Here? (Hebr 4) 15 Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie.

En nou ons? 16 Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word. 14 Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely.

Ons antwoord met Lied 309 v 1, 2, 3 My lewe bly aan U gewy, o Vader van genade! U rig omhoog my hart en oog beskerm my teen die kwade.

My lewe bly aan U gewy, o Seun van God, die Vader! Ons prys u Naam en juig tesaam waar ook u volk vergader My lewe bly aan U gewy, o Gees, so vol ontferming! Waar ek moet stry, waar ek moet ly - gee altyd u beskerming

WOORD-TYD  Gebed  Woord – Efes 1 v 15 - 21

1. HOE HANTEER EK…?

Ek kom so paar weke terug by ‘n boer aan en hy vertel sommer dadelik vir my: “weet jy, die land is in sy moer in”. En hy gaan voort om die Rand-dollor wisselkoers te verduidelik; en te vertel van die korrupsie in die staatsdepartemente en van Escom en van Prasa en Transnet, en, en.

Nou is ons vraag: hoe hanteer jy hierdie soort gesprek?

Of iemand kom vertel vir jou van die buurman wat in so ‘n groot moeilikheid is – hy het sy besigheid verloor en nou is almal vir hom kwaad en nou kan hy nie meer dinge verwerk nie, dit gaan sleg daar – en nou hoe hanteer jy die gesprek, wat maak jy daar in die situasie?

Of jyself het groot moeilikheid of een of ander krisis – en nou wat maak jy daarmee, hoe hanteer jy dit, hoe praat jy daaroor?

2. SITUASIE DESTYDS

Die apostel Paulus skryf die Efese-brief aan die gelowiges daar in die Klein-Asie gebied. Ons weet nie spesifiek wat die situasie van die gelowiges daar was nie, maar dat dit nie maklik was om destyds in ‘n kultuur wat ander gode aanbid het ‘n Christen te wees nie, is duidelik. Baie dae het hulle sekerlik maar moedeloos geword en gewonder of dit die moeite werd is om steeds Christen te bly. En dan was daar ook nog die gespanne verhouding met die Jode wat dan ook Christene geword het. Die gelowiges was dus heelwaarskynlik uitgeworpe deur hulle voormalige familie en vriende, en dan aan die anderkant is hulle ook nie lekker aanvaar deur die Joodse Christene nie.

En nou wil die apostel Paulus vir hierdie mense ‘n boodskap deurgee – hoe moet ek hierdie moeilike omstandighede hanteer. Hoe moet ek lewe as dinge so gaan?

3. LIEFDE EN GELOOF

LEES Efes 1 v 15 – 16a Ef 1:15 Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie.

Ons vraag is vanoggend: hoe hanteer ek die negatiewe omstandighede, die moeilike situasies, daar waar mense moedeloos en beswaard geraak het – wat maak ek daarmee?

Maar hierdie woorde van Paulus – oor die geloof en die liefde help ons nog nie. Dis wonderlik as daar liefde vir die medegelowiges is, en dis wonderlik as ons geloof in die Here God het – die wêreld sal ‘n wonderlike plek wees as mense maar net in geloof en liefde kan leef - maar Paulus sê daar moet meer wees. Of te wel die Here God het meer vir ons in gedagte.

Ek weet mense kan my nou hieroor verkeerd verstaan – die bedoeling is nooit nie om te sê dat liefde en geloof nou minderwaardig is en nou moet jy hoër op beweeg nie – allesbehalwe.

LEES Efes 1 v 16b – 17 Wanneer ek in my gebede aan julle dink, bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken.

4. LEER KEN

En dis wat die apostel Paulus in gedagte het vir ons – dat ons die Here God sal leer ken. As ons nou praat van om die Here te leer ken, dan is die gedagte ook nie om maar net meer van Hom te weet nie. As ek nou vra of jy dalk vir FW de Klerk ken, dan sal almal kan saamstem dat hulle van hom weet, maar meer as dit is dit nie. Daar is mos nou nie ‘n persoonlike verhouding met die man nie.

Paulus se gebed is dat ons in ‘n al hoe duideliker verhouding met die Here sal staan, dat die verhouding tussen jou en die Here al hoe meer openliker en intiemer sal word. Dis soos wanneer jy iemand ontmoet, maar jy weet nog niks van hom af nie – en soos die tyd aangaan en julle kontak met mekaar het, dan leer julle mekaar al hoe beter ken.

Maar dis nog nie vir ons duidelik nie – wat het my hantering van situasies nou met die ken van die Here te doen?

Ons kan nou verder lees oor wat die ken van die Here alles insluit, wat dit beteken en wat die gevolge daarvan is:

LEES Efesiers 1 v 18 – 19a 18-19a Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.

Paulus sien drie dinge wat gaan voortvloei uit jou intieme verhouding met die Here God.

- Daar gaan hoop kom. Hoe meer jy die Here God leer ken, hoe meer gaan jy op Hom hoop, en hoe meer gaan jy ‘n verwagting kry van wat die Here God gaan doen. Die Christelike hoop is nie maar so ‘n vae gedagte dat iets moontlik gaan gebeur nie, dis ‘n vaste sekerheid - omdat die Here die Almagtige is, sal dinge so en so verloop.

Ek dink dis op hierdie punt dat julle al so vaagweg begin agterkom waarnatoe die storie loop vandag. Ons vraag was: “hoe hanteer ek die negatiewe donker stukkende situasies?” As ek mos nou die Here ken en ‘n vaste hoop op Hom het, dan gaan ek mos nou anders begin praat oor die dinge wat aan die gebeur is. Al vertel die feite so en so, dan het ek mos as gelowige, as iemand wat HOOP op God, ‘n ander prentjie.

En dit beteken nie ek is sommer net naïef nie – ek begin leef en praat soos iemand wat die onsienlike sien.

- Die tweede gedagte wat kom uit my verhouding met die Here is dat ek nie moedeloos raak oor omstandighede nie, want ek weet watter erfenis daar wag vir die gelowiges. Noem dit maar die nuwe hemel en die nuwe aarde. Ek doen en praat en luister soos iemand wat sien wat gaan kom, wat weet waarnatoe dinge op pad is.

- En dan die derde. Dis vir Paulus die belangrikste. Hoe meer intiem my verhouding met die Here God raak, hoe meer sien ek die krag raak van God wat in en deur mense werk.

Kyk hoe beskryf Paulus die krag van God:

LEES Efesiers 1 v 19b-20 19b – 20 Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het:

5. SY KRAG

Ek lees die week die storietjie wat Carel Antonisen vertel: ‘n jong man kom baie ontsteld na hom toe: die jongman vertel toe van sy neef wat in die afgrond van dwelms ingeval het. En Kobus sê toe verder: hulle het toe saam gebid en twee jaar later, na nog baie gebed en hartseer en teleurstellings is die neef toe bevry uit die houvas van die dwelms.

Net ‘n storietjie wat vertel van die krag van God wat in ons werk – om die houvas van die bose om te keer.

In die gemeente is hoevele kere konflik tussen mense, en dan kom ons weer saam hier vandag – juis as mense wat deur die krag van God verander is.

Daar is sovele verhale rondom ons – waar dinge verander het deur die krag van God, waar mense verander het.

6. ONS STORIES

En daarom bepleit die apostel Paulus so ernstig dat ons die Here Jesus beter sal leer ken.

Kyk net wie is die Here Jesus

LEES Efesiers 1 v 21 21 Jesus, hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom.

Dink net daaraan – hoe meer jy hierdie Here sal leer ken, hierdie Jesus, hoe meer anders gaan jou stories en reaksies word. As jy by iemand kom wat in sak en as sit, wat moedeloos is – en jy is so onder die indruk van die krag van God – jy gaan mos anders praat, want jy weet wat die Here kan doen, jy weet van sy krag. As die teenwoordigheid van die Here jou oorspoel het, oorweldig het, dan gaan jy mos anders praat.

7. LOFPRYSING

Ek wil nou vanoggend vir elkeen uitnooi om saam met die apostel Paulus ‘n loflied vir die magtige Heerser Jesus sing – want hy wat Paulus was was ook oorweldig deur die krag van God.

LEES Efesiers 3 v 20 – 21a Ef 3:20 Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe.

ERKENNING  Lied 175 Majesteit, glansryke heerlikheid! Ons wil Jesus, die koning, hulde bewys!

Majesteit, hemelse heerlikheid! Van waar ons woon,tot by sy troon, wil ons Hom prys. Kom ons loof, kom ons besing die Naam van Jesus! Kom ons loof, kom ons aanbid die Here ons God! Majesteit, heilige heerlikheid! Hy het gesterf, ons heil verwerf, Hy het oorwin!

DANKBAARHEID  Offergawes Laaste Lied – 284 v 1, 2, 3

Laat Heer u vrede deur my vloei Waar haat is, laat ek daar U liefde bring. Laat ek in pyn en smart vertroostend wees En krag gee deur geloof in U, o Heer

Refrein O Heer, help my om altyd so te leef – om ander hoër as myself te ag, Ja, om lief te hê – ander bo myself – en ook eerder te gee as te verwag

Laat Heer u vrede deur my vloei en laat ek hoop gee waar daar twyfel is. Ek wil u lig in duisternis laat skyn. Laat ware vreugde altyd uit my straal

Refrein O Heer, help my om altyd so te leef – om ander hoër as myself te ag, Ja, om lief te hê – ander bo myself – en ook eerder te gee as te verwag.

Laat, Heer, u vrede deur my vloei… leer my om ook soos U te kan vergeef Maak my bereid om aan myself te sterf, dat ander U al meer in my kan sien.

DIE HERE SE BELOFTE Sy teenwoordigheid


 
 
 

Comments


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page