top of page

As daar Berge Is - Oor Geloof en Gebed

  • Ds Abe Beyers
  • Aug 14, 2015
  • 9 min read

MATTEUS 21: 18 - 22 Sondag 9 Augustus 2015

AS DAAR BERGE IS - OOR GELOOF EN GEBED Ds Abe Beyers

ONTMOETING  Ons erken die Here  Hy groet ons

 Ons sing ‘n Lied – 176 (x2)

Halleluja! U is Koning. Ons aanbid U in u woning. U's die Alfa en Omega, daarom sing ons: Halleluja!

Hoe is die Here? (Joh 1:14) Die Woord het mens geword en onder ons kom woon En nou ons? (Efes 5:21) Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.

Ons antwoord met Lied 267 v 1, 3

Ons Vader op diehemeltroon aan wie ons lof en eer betoon, ons bid ootmoedig almal saam: Gee dat u goddelike Naam deur ons geken, geëer, gevrees - in alles mag geheilig wees.

Gee ons, o Heer, ons daagliks brood; bewaar ons van gebrek en nood. Bewys aan ons barmhartigheid en skeld ons, Heer, ons skuld tog kwyt soos wat U ook van ons vereis om só u liefde te bewys.

VERKLARING VAN VERTROUE  Ek glo dat die enige God wat in die hemel woon ook vir my geskape het en vir my bedoel het om hier en nou te lewe

WOORD-TYD  Gebed  Woord – Matteus 21

AS DAAR BERGE IS - OOR GELOOF EN GEBED

1. DIE SITUASIE

Soms weet ons presies wat en hoe dinge gedoen moet word – maar soms is dinge glad nie duidelik nie. Bv Vanoggend na die erediens moet die dagbestuur bymekaar kom om ‘n voorstel te bespreek oor die organisering van die gemeente – en dis nog glad nie duidelik die hoe en wat daarvan nie. Die afgelope week was ek daar in ‘n wykbyeenkoms op ‘n plaas en soos een koor het die mense aldaar hulle bekommernis deurgegee oor die situasie op die plase – die mense wat so vasgevang is in gesinsgeweld en magsmisbruik en allerhande soort verslawing en wat nog alles – hoe maak ek, hoe hanteer ek dit? Of vandag herdenk ons vrouedag – en sovele vroue sal vir jou vertel van die moeilike situasies waarin hulle is en hulle magteloosheid.

Hoe nou gemaak daarmee, hoe hanteer ek dit? Jesus wil vandag weer vir ons ‘n verhaal van hoop deurgee

LEES Matt 21 v 18 – 22 Mat 21:18 Vroeg die môre op pad terug stad toe het Jesus honger gekry. 19 Toe Hy ‘n alleenstaande vyeboom langs die pad sien, gaan Hy daarheen, maar Hy het niks anders as blare daaraan gekry nie. Hy sê toe vir die boom: "Jy sal in der ewigheid nooit weer vrugte dra nie." En die vyeboom het dadelik verdroog. 20 Toe die dissipels dit sien, was hulle verbaas en het hulle gevra: "Hoe het die vyeboom dan so skielik verdroog?" 21 Daarop antwoord Jesus hulle: "Dit verseker Ek julle: As julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle kan doen wat Ek aan die vyeboom gedoen het. Meer nog: Julle sal vir hierdie berg kan sê: ‘Lig jou op en val in die see!’ en dit sal gebeur. 22 As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra."

2. DIE VYEBOOM

Daar word baie geredeneer oor hoekom Jesus dan nou die boom so vervloek het dat dit daar en dan doodgegaan het? Sommige sê dat Jesus sy mag en krag misbruik het. Ander sê dat Jesus die Jode in gedagte het wat nie gereageer het op sy boodskap nie en wat nie vrugte gedra het wat by die bekering pas nie - en die storie dien dan as ‘n waarskuwing vir die Jode om erns te maak met hulle lewe.

Maar dit lyk asof Matteus van hierdie gebeurtenis vertel om vir ons iets te sê oor geloof en die gebed wat daarmee saamgaan - wie geloof in God het en nie twyfel nie, sal groter dinge doen as dit, sê Jesus - hy sal sommer vir die berg sê om in die see te gaan val.

Hoe moet ons die woorde van die Here Jesus verstaan ? Wat beteken ‘n geloof wat berge kan versit (soos die spreekwoord in Afrikaans sê)?

Ons ervaring is juis dat ons geloof in God maar dun is. Dit lyk so asof ons Hom nie volkome vertrou nie. Waarvan praat Jesus as Hy van sulke geloof praat ? Dit klink asof Jesus amper verbaas is dat die dissipels daaroor verwonderd is … dit is mos sommer niks ...

3. OM BERGE TE VERSIT - FOKUS OP DIE HERE, NIE OP DIE BERG NIE

Ons kan sekerlik nie die woorde van Jesus letterlik verstaan nie. Jesus het min belang daarby dat hope klippe rondgeskuif moet word, Jesus is in elk geval nie in die grondverskuiwings-bedryf nie. Die berge waarvan Jesus praat is sekerlik die dinge wat vir ons bedreig - probleme, krisisse, ellendes, iets wat jy moet doen, iets wat die Here van jou verwag. Ons het mos ook ‘n spreekwoord wat sê: dit lê soos ‘n berg voor my. Nou belowe Jesus dat ons geloof sal hê wat berge sal versit ...

Alhoewel ons sal saamstem dat die berg ook soms iets letterlik kan beteken - ‘n krisis, ‘n gevaar

= die eerste gedgte rondom die geloof wat berge versit is - moenie op die berg fokus nie - kyk op na Hom wat berge kan versit

Kom ons luister na die verhaal wat ‘n sekere predikant vertel - miskien verstaan ons dan wat die “moenie op die berg fokus nie” beteken

Hy vertel dat hy genooi is om ‘n sendingaksie daar in Indië by te woon. In die week wat hy toe daar was het die leier van die aksie hom gevra om klein groepies toe te spreek en vir hulle te help met Bybelstudies – wat hy nou glad nie moeilik gevind het nie.

Maar die Vrydagaand is die hoofbyeenkoms - en in ‘n groot park sit hulle ‘n verhogie op en dan word daar ‘n diens gehou. En so gedurende die aand vra die leier: maar jy moet vir ons vanaand die hoofboodskap lewer! Daar sit 20 000 mense en hy moet met hulle praat en dis Moslems en Hindoes en wat nog alles, en boonop moet hy deur ‘n tolk praat en dit is ook nog ‘n ander kultuur - en die arme predikant raak benoud!

Hy vertel dat hy al hoe meer ernstig vir die Here vra soos die tyd naderkom: Here laat dit asb reën dat die byeenkoms afgestel kan word – en nog later: hy glo nie in die wegraping nie, maar vanaand sal dit welkom wees. Ag Here: kan daar nie maar een of ander weerligstraal my tref of ‘n berg op my val nie? Sy senuwees is klaar en hy noem vir die Here hoe onmoontlik dit is om daar met die skare mense te gaan praat.

So deur die harwar en angs hoor hy so vaagweg dat dat ‘n sangeres ‘n lied sing in die 10 minute sedert die vorige spreker opgehou het - en so vaagweg hoor hy die woorde wat sy sing: Groot is U trou o Heer; word ons ontrou, dan bly U getrou. En dít bly toe in sy kop vassteek.

En so dring die besef tot sy gedagtes deur: die hele dag het hy net aan sý dinge gedink: sý probléme - die taalhindernis, die kultuurverskille, dat die mense mos nie gaan lag vir die dinge waarvoor hy lag nie. As hy ‘n grappie vertel gaan hulle dit nie verstaan nie. En hy besef: maar ek het nog net in die berg vasgekyk – ek het nie na God wat so getrou is, gekyk nie En net daar besluit hy dat hy nou die fokus van sy gebed moet verander. En Hy begin om God te dank vir sy trou en sy krag en die groot dinge wat die Here al in die verlede gedoen het.

Toe hy opstap na die kateder om te begin praat is hy ‘n ander mens. Hy het nog altyd gewens dat hy maar kan verdwyn, maar die paniek en angs was weg - want hy het ontdek en besef dat God groter en sterker as hierdie situasie is - en hy kon toe met die skare van 20 000 mense praat

4. EN NOU ONS?

Nou nader na ons toe. Ons het netnou van die krisisse en probleme gepraat – van die probleme daar in ons eie lewe en gesinne, vanaf die in die gemeente, tot by die van die provinsie en die land se probleme. Ons manier is mos dat as daar een of ander krisis of probleem is, dan draai ons gedagtes net dáárom. Ons dink net daaraan en ons sal in gebed vir die Here in detail uitspel hoe groot ons moeilikheid is. Ons sal vir die Here die berg beskryf asof Hy glad nie kan sien hoe groot dit is nie.

Die eerste stap van geloof is om jou gedagtes te rig op die Een wat die berge kan versit, en nie op die berg self nie. Geloof beteken mos om weg te kyk van jouself af na wat God kan doen. Geloof is mos om in God te glo - en daarom moet ek in die situsie opkyk na God toe, op Hóm fokus en my gedagtes op Hóm rig.

3. GOD VRA VAN JOU DIE EERSTE TREE

Geloof wat berge versit het ‘n volgende stap, of dan nou ‘n ander kant. Geloof beteken ook om in vertroue op God ‘n eerste tree te gee, om in die onbekende in te gaan, om te waag. En so algaande voorsien God vir jou.

Kyk na die bekende voorbeeld van die priesters in Josua 3.

Die Israeliete staan op die wal van die Jordaanrivier en hulle moet daardeur. Die Jordaanrivier is nou nie die grootste rivier op aarde nie, maar daar word geskryf dat die rivier in vloed is, in die reënseisoen, hy loop kant en wal vol - en die Israeliete moet deurgaan – hulle is op pad na die beloofde land toe.

Die Here kon vir hulle ‘n brug gebou het of een of ander ding gedoen het maar die Here verkies om vir hulle droogvoets deur die Jordaan te laat stap. En nou vra die Here snaakse goed van hulle: die priesters moet die verbondskis vat en daarmee in die water instap en dan, eers dán … sal die water opdroog. Nou kan ‘n mens dink wat dit van hulle moes gevra het - eerstens het hulle sekerlik nog nie ‘n rivier gesien nie, hulle kom uit die woestyn. En sekerlik kon hulle ook nie geswem het nie. En agter hulle is die hele ganse menigte mense op pad. En die Here doen niks ... totdat hulle voete in die water is, tóé eers droog die water op sodat hulle onder in die bedding kon gaan staan. Hulle het geen bewyse gehad vooraf nie, maar God was getrou.

LEES Josua 3 v 15 – 16 Jos 3:15 Die draers van die ark het by die Jordaan aangekom. Gedurende die hele oestyd is die Jordaan gewoonlik vol, oor al sy oewers. Toe die voete van die priesters wat die ark dra, in die vlakwater kom, het die water wat afkom, gaan staan. Dit het op een hoop gaan staan, ver boontoe by Adam, die stad langs Saretan. Die water wat afloop na die see in die Jordaanvallei, die Soutsee, was heeltemal afgesny. Die volk het regoor Jerigo deurgetrek.

5. BELOFTES

Geloof wat berge versit beteken dan om die eerste tree te gee in die onbekende in. Maar die eerste stap is om juis nie in die berg vas te kyk nie, maar jou gedagtes te rig op God, om op sy krag en almag te fokus. Selfs vir die Israeliete daar op die wal van die Jordaanrivier het die Here herinner: Ek gaan nou vir jou My krag en almag en sterkte toon… Vers 10 : hieraan sal julle weet dat die lewende God tussen julle is.

God vra nie van jou om die berg op te tel en in die see te gooi nie. God vra van jou: kyk op na My, Ek sal dit doen, Ek sal doen wat nodig is.

ANTWOORD  Lied 528 v 1, 2, 3 Leer my u wil, Heer, u doel met my - U, Pottebakker, met my, die klei. Vorm my en maak my volgens u wil; op U vertrou ek, nederig stil.

Leer my u wil, Heer, u plan vir my; laat ek nie doelloos, nutteloos bly. Hou my erkentlik, Heer, in u werk: As ek dan swak is, maak U my sterk.

U gee u gawes net soos U wil; almal is diensbaar, elk met verskil. Vul met u Gees my, breekbare kruik, dat U my oral nuttig gebruik.

VROUEDAG  Uit erkenning gaan die mans sing Lied 268 Laat, Heer, u seën op hul daal, u guns uit Sion hul bestraal! U wat beveel en dit geskied, wil, Heer, u seën oor hul gebied!

DANKBAARHEID  Offergawes

 Laaste Lied – 284 v 1, 2, 3 Laat Heer u vrede deur my vloei Waar haat is, laat ek daar U liefde bring. Laat ek in pyn en smart vertroostend wees En krag gee deur geloof in U, o Heer

O Heer, help my om altyd so te leef – om ander hoër as myself te ag, Ja, om lief te hê – ander bo myself – en ook eerder te gee as te verwag.

DIE BELOFTE VAN DIE HERE

 Sy teenwoordigheid


 
 
 

Komentáře


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page