Alles is Onseker
- Ds. Abe Beyers
- Aug 12, 2015
- 9 min read

Sondag 2 Augustus Matteus 24 v 1 – 14
ALLES IS ONSEKER Ds Abe Beyers
ONTMOETING Stemmingslied Ons erken die Here Hy groet ons
Ons sing in erkenning – Lied 205 v 1, 2
Bring lof aan die Vader, verheerlik die Seun, vir liefde, genade, verlossing en steun – dat elkeen wat glo nie verlore mag gaan maar ewig voor Hom as verloste kan staan.
Refrein: Loof die Heer, loof die Heer - sing, gelowiges, saam! Loof die Heer, loof die Heer - prys sy heilige Naam! Hy kom uit genade ons sondes versoen dat ons Hom vrymoedig ons Vader kan noem.
Ons lof aan die Skepper wat altyd getrou sy kerk hier bewaar, dit vernuwe en bou - ons bly inspirer en ons stuur deur sy Gees om sout en om lig vir die wêreld te wees. Refrein.
WOORD-TYD Kategese
VERHOUDING Wie is die Here? (Mat 24) 27 Die koms van die Seun van die mens sal wees soos ‘n weerligstraal wat in die ooste uitslaan en die hele lugruim tot in die weste verlig. 36 "Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.
En nou ons? (Mat 24) 42 Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie. 44 Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie."
Ons antwoord met Lied 497 v 1, 2 Ek is u kind, U roep my, Heer, om U te loof en eer. U wil dat ek 'n loflied sing, my hulde aan U bring.
U het in liefde my gelei, my deur u sorg bevry. Maar ek dwaal weg en skend u eer, tog roep ek na U, Heer!
WOORD-TYD Gebed Woord – Matteus 24
ALLES IS ONSEKER Ds Abe Beyers
1. ONSEKERHEID VAN ONS BESTAAN
Ek praat die week met die kinders daar in Johannesburg – en skielik het ek weer onder die indruk gekom van die onsekerheid van ons bestaan. Die afgelope ses maande kon hulle nie voorbly met al die werk wat hulle moes doen nie. Die 16 werktuigkunidges het omtrent dag en nag gewerk – en skielik in die afgelope weke maak die Mittal staalwerke daar in Vereniging toe, met wie hulle die grootste dienskontrak gehad het. En skielik is dinge nou anders – nou die span werktuigkundiges vir mekaar en kyk.
Of so loop ons nog rustig rond, en jy kom by die dokter oor ‘n seerplekke en jy ontdek die suikersiekte het jou gevang. Of jy kuier nog rustig en die skielike pyn is toe ‘n hartaanval. Of jy ry heel lekker en ‘n koedoe spring voor jou in en skielik is alles anders.
Of die week vertel iemand van daardie verskriklike dag toe die plaas afgebrand het. Of die nag toe daardie koue westewind gekom het en ‘n onverwagse reentjie en soveel honderd angorabokke is dood.
Elke dag word ons maar net weer gekonfronteer met die onsekerheid van ons lewe. Jy dink nog jy het alles onder beheer en dan die volgende oomblik is alles chaos. (Full control to zero control in 2 sec).
En nou wat maak ons daarmee, hoe hanteer ons hierdie onsekerheid? Hoe moet ons die onserheid rym met ons verhouding met die Here Jesus? Is Hy dan nie die Here wat beskik nie?
2. DISSIPELS SE WERELD
So lees ons van die dissipels van die Here Jesus destyds. Hulle is daar in Jerusalem en so verwonder die klompie manne daar ver uit die platteland hulle oor die reuse geboue – en dis vir hulle ‘n wonderlike ervaring. Die grootse bouwerke bring ‘n rustigheid, ‘n sekerheid by hulle – soort van: hier is iets groots – teken van die Here se troue sorg vir hulle.
En dan kom die skokkende aankondiging van die Here Jesus:
LEES Matt 24 v 1 – 2 Mat 24:1 Toe Jesus van die tempel af weggaan, het sy dissipels nader gekom en sy aandag op die tempelgeboue gevestig. 2 Maar Hy antwoord hulle: "Julle sien al hierdie dinge? Dit verseker Ek julle: Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word."
En die arme dissipels is behoorlik ontsteld. Vir hulle het die verwoesting van die tempel wat Jesus toe aangekondig het, die ineenstorting van hulle hele wêreld beteken. Nie maar net die geboue wat verwoes sal word nie, maar dit was dan nou juis die tempel, die simbool van die Here se teenwoordigheid - en dit word dan nou verwoes – en so word hulle hoop op wat die Here kan doen daarmee saam verwoes.
En nou kom soek hulle troos by die Here Jesus – soos ons ook maar sovele kere maak.
LEES Matt 24 v 3 Mat 24:3 Nadat Jesus op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom toe en vra: "Sê vir ons, wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat sal die teken van u koms en van die einde van hierdie wêreld wees?"
3. JESUS VERDUIDELIK
Heel eerste gee die Here Jesus vir hulle die versekering: Al is daar ook hoeveel chaos en dinge wat verkeerd loop, Hy wat Jesus is, is steeds die Here, Hy is steeds die Aangewysde, die Verlosser, die Christus.
LEES Matt 24 v 4 – 5 Mat 24:4 Jesus antwoord hulle: "Pas op dat niemand julle mislei nie. 5 Baie sal onder my Naam kom en sê: ‘Ek is die Christus,’ en hulle sal baie mense mislei.
En natuurlik moet ons kennis neem van wat die Here Jesus ook met die woorde sê. Dis nie net trooswoorde nie. Dis ook woorde wat vir ons wil waarsku om te sê dat ons moet lig loop – want sovele gaan jou probeer mislei om vir jou hy of sy bring vir jou die lewe, die sekuriteit, die toekoms. Die geskiedenis is vol verhale van mense wat hulle voorgedoen het as die groot redder – en dan was hulle nie.
Maar nie net politieke redders nie – dink aan mense wat vir hulle voordoen as ekonomiese redders. Dink selfs aan al die selfoonboodskappe wat ons gereeld kry dat jy soveel duisend gewen het in een of ander trekking – jy moet net soveel admingeld vir hulle betaal.
Maar ook godsdienstige redders – mense wat vir jou laat verstaan dat jy net hierdie goed moet doen, dan is daar vir jou groot lewe vorentoe…
Dan moet ons maar weer hoor wat Jesus sê: Hy alleen is die Een wat die lewe bring.
En dan kom die Here Jesus met sy tweede opmerking aan die ontstelde dissipels. Asof dit nie genoeg is om te hoor van die tempel wat verwoes gaan word nie, vertel Jesus nog ook vir hulle dat daar groot onstabilitiet voorlê – van groot geweld en verwoesting.
LEES Matt 24 v 6-7 Mat 24:6 Julle sal die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor. Pas op, moenie verskrik word nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie. 7 Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander; daar sal op baie plekke hongersnode en aardbewings wees.
En hoor ons nie elke dag die onstelde goed nie. As dit nie moorde is sommer hier in die dorp nie, dan is dit ‘n gewelddadige staking in PE. Of as jy verder luister dan het die Islamitiese Staat weer soveel bomme laat ontplof in een of ander land, of ‘n terroriste organisasie het op ‘n ander plek soveel mense ontvoer. Elke dag is daar geweld orals oor die wêreld.
En dan kom Jesus ook nog met sy derde opmerking. Dis nie net die mense daar buite wat geweldadig is en verwoes nie. Die kwaad en ellende is ook sommer in die kerke. Ook hulle is nie gevrywaar van ellendes nie. Net omdat jy ‘n gelowige is, beteken nie dat jy al die pad vrede op aarde gaan hê en alles net met jou voorspoedig sal gaan nie.
LEES Matt 24 v 9 – 12 Mat 24:9 "Die mense sal julle oorlewer om mishandel te word, en hulle sal julle doodmaak. Julle sal deur al die nasies gehaat word omdat julle my Naam bely. 10 In daardie tyd sal baie mense van die geloof afvallig word, en hulle sal mekaar verraai en mekaar haat. 11 "Daar sal baie vals profete kom, en hulle sal baie mense mislei. 12 Omdat die minagting van die wet van God sal toeneem, sal die liefde by baie verkoel
4. WATTER HOOP IS DAAR DAN?
En nou is ons nog net so ontsteld soos die dissipels. Watter hoop is daar dan? Die Here Jesus gee dan sy trooswoord.
LEES Matt 24 v 8 en 13 – 14 Mat 24:8 Al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd. 13 Maar wie tot die einde volhard, sal gered word. 14 En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom."
Ons moet net eers hier verduidelik – as die Here Jesus nou hier praat van die dinge wat in die toekoms gaan gebeur, dan is Hy nie besig met voorspellings nie. Voorspellings is n verklaring van iets wat spesifiek op ‘n sekere dag gaan gebeur in die toekoms. Byvoorbeeld: dit gaan op daardie dag volgende jaar soveel reen. Maar as dit gebeur het, of as dit nie gebeur het nie, dan is daardie voorspelling klaar. Maar die Here Jesus is hier besig met beloftes, met ‘n profesie – iets wat weer en weer gaan gebeur, iets wat elke keer groter en groter gaan gebeur.
En nou sê Jesus: die chaos, die oorloë en gerugte van oorloë is soos geboortepyne. Soos ‘n vrou die verskriklike pyn beleef voordat die wonderlike geboorte plaasvind, so is die chaos van die lewe ook soos geboortepyne – die afgelope 2000 jaar al, elke dag en orals. Maar die troos is daarin dat daar wel ‘n nuwe tyd kom, verseker. Die chaos sal nie vir altyd aanhou nie.
En dan is daar nog ‘n trooswoord: die Goeie Nuus van die Here Jesus sal steeds verkondig word, sy Woorde sal uitgeddra word al is daar ook hoeveel chaos en geweld. En daarom sal daar by mense nuwe lewe kom, sal mense uit die kwaad uitgehaal word.
Die woorde van Jesus is nie ‘n voorspelling van wanneer die einde sal wees nie – dis ‘n belofte dat die Goeie Nuus steeds sal voortgaan, al is daar hoeveel chaos en moeilikheid.
5. ONS HOOPVOL
En daarom kan ons vanoggend hoopvol wees, ons kan blymoedig wees – te midde van al die onsekerheid – Jesus is steeds die Here. Daarom kan ons vir mense troos en bemoedig: al is daar moeilikheid en chaos, die Here is steeds aan die werk en Hy is besig om sy doel te bereik, al verstaan ons dit nie en maak dit nie vir ons sin nie.
Ons vier vanoggend die Nagmaal – wat ook vir ons wil vertel van die Here Jesus se voortdurende oorwinning – so seker as wat ons die brood eet en die wyn drink, so seker het ons deel aan Christus, aan sy sterwe en sy opstanding.
ONS ANTWOORD Lied 514 v 1, 2 Ek weet vir seker: Jesus is Heer - Hy het my sonde uit liefde vergeef. Ek was verlore, maar is gevind; nou het ek vrede - ek is Gods kind. Hy is my leidsman - Hy laat my leef. Hy is oorwinnaar - Hy is die Heer. Uit sy genade, liefde en trou, weet ons hoe God sy kinders behou.
Lig is sy las en sag is sy juk. Hy gee vermoeides die ware geluk. Selfs as ek struikel, en dit berou - Hy sal vergewe, Hy bly getrou. Hy is my leidsman - Hy laat my leef. Hy is oorwinnaar - Hy is die Heer. Uit sy genade, liefde en trou, weet ons hoe God sy kinders behou
HERINNERINGSMAALTYD Verduideliking
Lied 253 v 1, 2 U het die brood gebreek eens by die meer breek nou die lewensbrood vir my ook, Heer. Wil steeds u waarheid meer aan my ontvou tot ek ook in u Woord my Heer aanskou.
U is die lewensbrood, Heiland, vir my. U is die waarheid, Heer, U maak my vry. U beeld straal uit die Skrif so helder voort - U soek ek, Heer, Uself, o Lewend' Woord.
DANKBAARHEID Offergawes
Laaste Lied – 509 v 1, 2, 4
Op berge en in dale en oral is my God; waar ons ook telkemale mag swerwe, daar is God! Waar ons gedagtes swewe of styg, ook daar is God; omlaag en hoog verhewe ja, oral is my God!
Sy troue vaderoë sien alles van naby; ons leef uit sy vermoë - word deur sy Gees gelei. Die swaeltjies behoed Hy, beklee met gras die dal; die kleinste wurmpie voed Hy, sorg vir die groot heelal.
Roem, Christen, heel my lewe is veilig in my God; waar alles my begewe, of waar ek ly, is God; waar troue vriendehande nie red nie, daar is God; selfs in die dood se bande ja, oral is my God!
DIE HERE SE BELOFTE Sy teenwoordigheid – tot die einde
Comments