top of page

DIE VERNIELDES ONDER ONS

  • Ds Abe Beyers
  • Jul 28, 2015
  • 7 min read

2 Samuel 6 v 16-23 Sondag 26 Julie 2015

Die Vernieldes Onder Ons.

Ds Abe Beyers

ONTMOETING

  • Stemmingslied

  • Erkenning van die Here God

  • Hy groet ons

  • Ons sing ‘n Lied – 200 v 1, 3

U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie - wie word daardeur nie diep getref!

Niks anders bring vir ons die heil nie - ons wil ons hart tot U verhef.

Aan U alleen ons dank en ere - U wat ons in u liefde lei.

U sal ons nooit vergeet nie, Here - U wil ons in u waarheid lei.

Sou ek, o Heer, U nie vereer nie, sou ek u goedheid nie verstaan?

Sou U my raad gee, ek nie leer nie, die weg wat U my wys nie gaan?

Nee, Heer, U rig my wil en strewe; u Woord bly my gedurig by.

Vul met u liefde ook my lewe om my in alles U te wy.

WOORD-TYD

  • Kleuterkerk – Joan Barnard

ONS VERHOUDING

  • Hoe is die Here? (2 Kor 1)

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee.

In elke moeilikheid bemoedig Hy ons.

  • En nou ons?

Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer.

  • Ons antwoord met Lied 292 v 1

My enigste troos in lewe en dood is dat ek aan Jesus Christus behoort.

Met sy kosbare bloed het Hy my vrygekoop dis my anker, my vaste hoop.

Ek behoort aan die Here. Niks sal my ooit van Hom kan skei.

Met sy kosbare bloed het Hy my vrygekoop dis my anker, my vaste hoop.

WOORD-TYD

  • Gebed

  • Woord – 2 Samuel 6

1. STUKKENDE MENSE

Sowat ‘n maand terug kry ons met ‘n vrou te doen wat normaalweg heel vriendelik is met alle mense. Maar die dag ry sy saam met ons en ons stop toe vir middagete by ‘n padstalletjie. Daar staan toe ook ‘n klompie padwerkers daar – en die vrou raak toe skielik vreesbevange en wil nie uit die kar uitklim nie. Dit blyk toe agterna dat sy jare van te vore gekaap en geskiet is - en nou dra sy steeds die gevolge van daardie gebeurtenis.

Of in ‘n gemeente daar in die Kaap was daar ‘n predikant. En sodra iemand anders as hy gedink het, of ‘n ander mening as hy gehad het, dan het hy met vreeslike aggressie sy saak gestel. Later het die mense gehoor hoe sy kinderdae was, en toe kon hulle verstaan hoekom hy so heftig gereageer het.

So kom ons soms hier in die dorp mense teë en dan hou ons nie van hulle maniere nie, of ons vermy die persoon, want die ou is so of so.

2. MIKAL

Ons vraag is vanoggend: wat gebeur met mense wanneer hulle as besittings hanteer word, wanneer hulle menswees ontken word, wanneer hulle met minagting hanteer is?

Ons kyk vanoggend na die lewe van Mikal, die dogter van koning Saul. Sy het grootgeword in ‘n huis waar haar pa soms maar uitgehaak het en dan het die jongman Dawid met lier vir die koning tot ruste gebring. En so het sy heel verlief geraak op die soldaat/digter/musikant Dawid.

LEES 1 Samuel 18 v 20 – 21

1Sa 18:20 Saul se ander dogter, Mikal, was verlief op Dawid, en toe dit aan Saul vertel is, was hy in sy skik daarmee.

21 Saul het naamlik gedink: ek sal haar aan hom gee dat sy vir hom ‘n vangstrik word en die Filistyne teen hom kan wees.

Saul wou graag van Dawid ontslae raak, want Dawid was baie meer suksesvol in die oorloë as Saul se eie weermag. So was die opdrag aan Dawid dan om 100 van die Filistyne te gaan doodmaak, dan kan hy vir Mikal kry. En Dawid het toe gou so gemaak.

Intussen is Dawid toe met Mikal getroud en dan lees ons verder van koning Saul wat soldate stuur om Dawid te gaan vang in sy huis – en Mikal bedrieg haar eie pa en vertel vir haar man, Dawid van die komplot en sy help hom die nag om te ontsnap. En so moes Dawid vlug. En sy skoonpa het hom gejag met die hele weermag.

Maar wat intussen van Mikal geword het, weet ons nie. Ons lees eers heelwat later weer van haar. Sy is sommer so vir ‘n ander man as vrou gegee.

LEES 1 Samuel 25 v 44.

1Sam 25:44 Saul het sy dogter Mikal, die vrou van Dawid, aan Palti die seun van Lajis uit Gallim gegee.

Weer weet ons nie wat van haar geword het nie. Intussen is haar pa, koning Saul dood in die oorlog. Dawid word toe as koning verkies in die suidelike Juda-gebied en generaal Abner neem intussen die leisels oor in die Noordelike Israel, ten spyte van koning Saul se seun Isboset. Daar moet toe onderhandel word of Dawid ook koning oor die Noordelike Israel moet word.

En dan blyk dit dat koning Dawid toe nooit van Mikal vergeet het nie. Hy dring toe daarop aan dat Mikal vir hom gebring moet word voordat daar enige verdere onderhandelinge kan wees.

LEES 2 Samuel 3 v 13 – 14

2Sam 3:13 Dawid het geantwoord: "Goed, ek sal ‘n ooreenkoms met jou sluit. Ek verwag net een ding van jou, en dit is dat jy nie met my moet kom onderhandel sonder om Saul se dogter Mikal saam te bring nie."

14 Dawid het ook boodskappers na Saul se seun Is-Boset toe gestuur om te sê: "Gee my vrou Mikal terug wat ek as vrou verkry het in ruil vir honderd Filistyne

En dit blyk toe dat haar verhouding met Palti nie sleg was nie – want sy is sommer weggevat van Palti af en hy is huil-huil agter haar aan totdat hy ook weggejaag is.

LEES 2 Samuel 3 v 15 – 16

2Sa 3:15 Is-Boset het gestuur en haar laat wegvat van haar man, Palti seun van Lajis.

16 Hy het saam met sy vrou geloop, huil-huil agter haar aan tot by Bagurim. Toe sê Abner vir hom: "Gee pad! Loop terug!" Hy het toe maar omgedraai

3. MIKAL NOU ANDERS

Ons sal nou dink dat Mikal nou weer heel gelukkig by haar eerste liefde sal wees, maar dit blyk toe nie te wees nie. Iets het verander. Ons begin die gevolge sien van al die rondgooiery, die rondskuiwery van Mikal – so asof sy ‘n kar is wat jy kan koop en verkoop.

Ons lees weer van Mikal daar waar sy nou die vrou van koning Dawid is – Dawid het intussen die Filistyne verdryf, en is as koning oor die hele Israel gekroon en die ark van God is in Jerusalem ingebring.

LEES 2 Samuel 6 v 14 – 16

2Sa 6:14 Met volle oorgawe het Dawid voor die Here gedans met net ‘n linneskouerkleed aan.

15 Hy en die hele Israel het die ark van die Here met gejuig en onder die geklank van die ramshoring ingebring.

16 Terwyl die ark die Dawidstad ingekom het, het Saul se dogter Mikal deur die venster afgekyk. Sy het koning Dawid gesien terwyl hy spring en dans voor die Here en sy het hom in stilte verag.

Almal vier fees, almal is dankbaar en bly – ‘n nuwe fase het aangebreek in die land – maar Mikal deel nie in die vreugde nie. Daar is by haar, wel niks nie, sy kan nie meer saam bly wees nie.

Inteendeel, sy is net kwaad. Sy verwyt en beskuldig vir Dawid

LEES 2 Samuel 6 v 20

2Sa 6:20 Hierna is almal huis toe,

en Dawid het teruggegaan om sy gesin te seën. Saul se dogter Mikal het hom tegemoet gegaan en smalend gesê: "Hoe waardig het die koning van Israel hom vandag gedra! Hy het hom die heeldag voor die slavinne van sy onderdane ontbloot soos ‘n onbeskaamde mens wat hom sommer ontbloot."

Dan staan daar verder die tragiese woorde: “Tot die dag van haar dood het Mikal nie ‘n kind gehad nie”. Of dit nou was omdat sy en Dawid toe uitmekaar is, en of sy as gevolg van emosionele redes nooit kinders kon hê nie, weet ons nie. Maar dis ‘n tragiese verhaal van iemand wat rondgegooi is, wat ook soveel verliese gely het in haar lewe. Dis ‘n verhaal wat vertel van hoe iemand verwoes is in die magspel van die grotes van daardie tyd, van iemand wat ‘n politieke speelbal geword het.

4. EN NOU ONS?

Hoekom moet ons kennis neem van die storie?

(1) Miskien omdat dit vandag iemand hier se storie is, iemand wat ook soos Mikal deur mense rondgegooi is, verwerp is, nooit gehoor is nie – en op die ou einde verbitterd en kwaad gelaat is.

(2) Aan die anderkant word die storie vir ons vertel as ‘n waarskuwing – kyk wat gebeur met mense as hulle so hanteer word. En dis nie wat die Here Jesus vir mense in gedagte het nie. Dis nie soos Hy dit wil hê nie. Mense is die kroon van sy skepping – nie die vloerlappe nie.

(3) Maar ek dink die storie wil vir ons wat vandag in vreugde en blydskap hier sit sê dat ons genadig moet kyk na mense wat so verwoes is. Miskien is die Here Jesus se gesindheid hier van belang: Hy het na die skare mense gekyk wat rondgemaal het soos skape wat nie ‘n herder het nie – en hulle innig jammer gekry.

Hier is so baie stukkende verwoeste mense in Aberdeen – miskien wil die Here net weer vir ons die prentjie voorlê: “kyk en gee om”

ONS ANTWOORD

  • Lied 214 v 1, 2, 3

Here, ons sal U loof, u weldade roem.

U Naam sal ons eer, almagtige Heer, want U het wonders gedoen.

Here, ons sal U loof. U het ons verlos,

uit duister bevry; ons harte verbly - dit het u lewe gekos.

Here, ons sal U loof, u weldade roem.

Dis U wat voorsien, ons wil U graag dien en U ons Vader noem.

DANKBAARHEID

  • Offergawes

  • Laaste Lied – 267 v 1, 4

Ons Vader op die hemeltroon aan wie ons lof en eer betoon,

ons bid ootmoedig almal saam: Gee dat u goddelike Naam

deur ons geken, geëer, gevrees - in alles mag geheilig wees.

Lei ons nie in versoeking, Heer; laat ons u Naam bly loof en eer;

verlos ons van die bose mag. Beskerm ons, Here, deur u krag.

Aan U behoort die koninkryk, die krag en eer in ewigheid

DIE HERE SE BELOFTE

Sy teenwoordigheid


 
 
 

Comments


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page