top of page

WAT DOEN DIE HERE SE BELOFTES AAN JOU?

  • Ds Abe Beyers
  • Jul 20, 2015
  • 9 min read

Sondag 19 Julie 2015 2 Samuel 7

WAT DOEN DIE HERE SE BELOFTES AAN JOU?

Ds Abe Beyers

ONTMOETING

 Stemmingslied

 Ons erken die Here

 Hy groet ons

 Ons sing ‘n Lied – 509 v 1, 2

Op berge en in dale en oral is my God;

waar ons ook telkemale mag swerwe, daar is God!

Waar ons gedagtes swewe of styg, ook daar is God;

omlaag en hoog verhewe ja, oral is my God!

Sy troue vaderoë sien alles van naby;

ons leef uit sy vermoë - word deur sy Gees gelei.

Die swaeltjies behoed Hy, beklee met gras die dal;

die kleinste wurmpie voed Hy, sorg vir die groot heelal.

VERHOUDINGSTYD

 Wie is die Here? (Psalm 8)

 As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?

 En nou ons? Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!

 Ons antwoord met Lied 198 v 1, 2, 3

God is my lied, sy almag ken geen perke

Heer is sy Naam, volmaak sy skeppingswerke;

die groot heelal is sy gebied

Niks is van my, dis alles u genade;

ek sien u goedheid oral, troue Vader,

u lof sal op my lippe bly.

Waar God gebied, sal ons geen onheil vrees nie,

want niemand kan soos Hy 'n redder wees nie –

aan Hom my lof, aan Hom my lied.

WOORD-TYD

 Gebed

 Woord – 2 Samuel 7

WAT DOEN DIE HERE SE BELOFTES AAN JOU?

1. BELOFTES EN TELEURSTELLINGS

Jare gelede toe ek in st 3 was, het die onderwyseres in Januarie vir ons as klas belowe dat ons die einde van die jaar vir ‘n uitstappie Kaap toe sou gaan. Ons sou met die trein ry. En so het die jaar verloop maar die juffrou het niks weer gesê nie. Toe dit darem nou die tweede laaste dag is, toe skraap Jannie die moed bymekaar om te vra: Juffrou, wat moet ons môre saambring vir die toer Kaap toe? En die juffrou se antwoord: Nee sy weet niks daarvan nie.

Wat het toe by daardie klassie gebeur? Toe volgende jaar kom en ons is darem nou in st 4 en baie slimmer as die nuwe st 3’s - toe hulle opgewonde vertel van die toer aan die einde van die jaar, toe het ons vir hulle geantwoord: Moenie te opgewonde raak nie, kyk maar eers of dit gaan gebeur.

Ek is seker elkeen vandag hier het ook so ‘n storie – ‘n storie van teleurgestelde beloftes, en van die daaropvolgende wantroue.

- Sovele grootmense sal vir jou vertel van hulle ouers wat vir hulle dinge belowe het wat nie gerealiseer het nie. Soos: “ons sou daardie jaar Junie daar gaan vakansie hou het, en ons was vreeslik opgewonde, maar ons het toe nie gegaan nie.”

- Of huweliksbeloftes: “ek sal jou altyd en onder alle omstandighede liefhê” – en dan kort voor lank is daardie belofte skoon vergete. En sy wat agterbly vertrou geen man se beloftes meer nie – hulle is almal dieselfde, wil jou net gebruik en dan loop hulle.

- Of dink sommer aan politieke partye wat vreeslike beloftes voor die verkiesing maak, en dan gebeur dit ook maar nie. En die kiesers begin naderhand vertroue verloor.

2. DIE HERE SE BELOFTES

As teleurstelling in beloftes ons ervaring is, wat maak ons nou met die Here se beloftes? Sovele het grootgeword met teleurstellings – maar as die Here nou iets belowe, wat moet jy nou maak met die Here se woorde? Hoe reageer jy daarop?

- As die Here Jesus bv die volgende belofte maak:

LEES Matteus 6 v 31-32

Mat 6:31

"Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie.

Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.

Wat maak jy met die belofte? Bring dit in jou ‘n rustigheid, bring dit in jou gemoedsrus, of is jy maar baie skepties oor sulke beloftes?

Of wat maak ons met die belofte van die Here Jesus daar in Matteus 10

LEES Matteus 10 v 30

Mat 10:31

"Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies."

Weereens, wat maak ons met sulke beloftes. Neem ons maar net kennis daarvan? Is ons gedagte: ek moet self my situasie hanteer, want wie kan nou in vandag se lewe op sulke woorde vertrou?

3. KONING DAWID ONTVANG ‘n BELOFTE

Vanoggend gaan ons kyk na koning Dawid se reaksie op die Here se belofte.

Die storie vertel van koning Dawid se gedagte om destyds vir die Here ‘n tempel, ‘n plek van aanbidding, te bou. Hy vertel toe vir die profeet Natan daarvan.

LEES 2 Samuel 7 v 1 – 2

2Sa 7:1 Toe koning Dawid in sy eie huis woon, nadat die Here hom rus gegee het van al sy vyande in die omgewing, sê hy vir die profeet Natan: "Kyk, ek woon in ‘n huis wat met sederhout versier is, maar die ark van God staan in ‘n tent."

En Natan se eerste reaksie is: dis ‘n mooi gedagte, maak so, maar dan gee die Here sy antwoord aan Dawid. Dit klink amper asof die Here self verbaas was:

LEES 2 Samuel 7 v 4 – 7

2Sa 7:4 Dieselfde nag het daar egter iets gebeur: die woord van die Here het tot Natan gekom en vir hom gesê:

5 "Gaan sê vir my dienaar Dawid: So sê die Here: Wil jy vir My ‘n huis bou om in te woon?

6 Vandat Ek die Israeliete uit Egipte laat trek het tot nou toe het Ek nog nooit in ‘n huis gewoon nie. Ek het in tent en tabernakel rondgeswerf saam met al die Israeliete. Het Ek ooit vir een van die stamme wat Ek beveel het om die leiding van my volk Israel op hom te neem, gesê: ‘Waarom bou julle nie vir My ‘n huis wat met sederhout versier is nie?’

En dan kom die Here met sy belofte aan koning Dawid:

LEES 2 Samuel 7 v 8 – 13

2Sa 7:8 "Nou moet jy vir my dienaar Dawid sê: So sê die Here die Almagtige: Ek het jou uit die weiveld agter die kleinvee weggevat om oor my volk Israel te heers.

9 Oral waar jy gegaan het, was Ek by jou; al jou vyande het Ek voor jou oë uitgedelg. Ek het jou so beroemd gemaak soos die grotes op die aarde.

10 Ek het ‘n woonplek aan my volk Israel gegee en hom gevestig, sodat hy sonder vrees in sy plek kan woon. Slegte mense sal hom nie meer verdruk soos voorheen toe Ek leiers oor my volk Israel aangestel het nie.

Ek sal jou rus gee van al jou vyande. Ek maak aan jou bekend dat Ek vir jou ‘n koningshuis gaan vestig.

12 Wanneer jy te sterwe kom en jy by jou voorvaders rus, sal Ek een van jou nageslag, jou eie seun, koning maak en aan hom ‘n bestendige koningskap gee.

13 Hy sal vir my Naam ‘n huis bou, en Ek sal sy koningskap vir altyd laat voortbestaan.

Dit was nou die Here se belofte aan koning Dawid: Ek sal jou koningskap bevestig, vasmaak, en dan sal iemand uit jou nageslag, jou eie seun die koningskap by jou oorvat as jy eendag te sterwe kom. En daarmee het die Here vir Dawid baie gesê – Ek sal vir jou vir ‘n toekoms sorg, Ek die Here sal jou naam in ere laat voortbestaan…

4. DAWID SE REAKSIE

En nou kom ons by koning Dawid se reaksie op die Here se belofte.

Kyk net sy opgewondenheid, sy verwondering dat die Here sowaar vir hom hierdie belofte gee:

LEES 2 Samuel 7 v 18 – 19

2Sa 7:18 Daarna het koning Dawid ingegaan en voor die Here gaan sit en gesê: "Wie is ek, Here my God, en wie is my nageslag dat U my só ver gebring het?

19 Selfs dít was vir U nog nie genoeg nie, Here: U het ook nog vir die nageslag van u dienaar tot in die verre toekoms beloftes gemaak. Wat ‘n toesegging aan ‘n mens, Here my God!

En dan is daar die dankbaarheid, die aanbidding van hierdie Here.

LEES 2 Samuel 7 v 20 – 22

2Sa 7:20 "Wat sou ek, Dawid, nog verder vir U kon sê? U ken immers u dienaar, Here.

21 U het hierdie groot ding gedoen omdat dit u besluit en wil was en boonop het U dit nog aan u dienaar bekend gemaak.

22 Daarom, groot is U, Here my God! Daar is niemand soos U nie. Buiten U is daar geen God nie, van hoeveel gode ons ook al gehoor het.

En dan kom daar nog iets by. Dan begin koning Dawid vir die Here vra: Here dit gaan nie oor my nie, as U sou anders besluit, dan is dit goed so, maar voer hierdie belofte uit twv die ander mense wat dit gehoor het, sodat die mense U grootsheid kan raaksien, sodat die mense U kan aanbid en erken.

LEES 2 Samuel 7 v 25 – 26

2Sa 7:25 En nou, Here God, bevestig tog vir altyd wat U oor u dienaar en sy nageslag gesê het. Doen tog soos U belowe het, sodat u Naam vir altyd groot kan wees as daar gesê word: ‘Die Here, die Almagtige, is God van Israel.’ "Laat die nageslag van u dienaar Dawid voor U voortbestaan.

En dan kom daar nog iets by. Koning Dawid sien toe kans om in die openbaar sy vertroue in die Here se woorde te verklaar. Hy plaas sy eie naam op die spel, hy verklaar voor almal dat Hy die Here se woorde vertrou.

LEES 2 Samuel 7 v 28 – 29

2Sa 7:28 "En nou, Here, U is God. U woorde sal bewaarheid word. U het hierdie goeie belofte aan u dienaar gemaak.

29 Begin tog nou en seën die huis van u dienaar om vir altyd in u diens te wees! Here my God, U het gepraat en omdat U seën, is die koningshuis van u dienaar vir altyd geseën."

5. EN NOU ONS?

Ons kan nou baie maak van die verskillende prosesse wat koning Dawid deurgegaan het, van sy opgewondenheid, van sy dankbaarheid, van sy aanbidding van die Here, van sy verklaring van vertroue in die Here – maar ons hoef vanoggend net op een ding te fokus: wat maak ek vandag met die beloftes van die Here? Die vraag is dus: verander die belofte van die Here my gedrag, my optrede hier tussen die mense waar ek bly? Daar staan bv in Filippense 4:

LEES Fil 4 v 6 – 7

Fil 4:6 Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.

7 En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Dan is die vraag: verander die belofte my optrede van elke dag, of vertrou ek nie die belofte van die Here nie? Of anders gevra: maak die beloftes van die Here my nog opgewonde, so opgewonde dat ek vir ander sal vertel daarvan? Of is ons reaksie eerder een van: ek neem kennis van die Here se beloftes, maar ek sal maar wag en kyk wat gebeur, want wie is ek nou om my kop uit te steek en te sê: maar die Here het mos belowe. Netnou doen die Here dit nie, en dan het ek myself belaglik gemaak.

Iemand vertel vir my die week die storie van sy ouma. Hy sê toe: ek wens ek kon die vertroue in die Here gehad het wat my ouma gehad het. Ouma het ‘n losieshuis gehad – en die bepaalde oggend is daar nie meer melk nie, en daar is ook nie meer geld om te gaan melk koop nie. Nou hoe wil jy vir loseerders ontbyt voorsit sonder melk? En Ouma sê toe: “ek het vir die Here gevra om vir ons melk te laat kry. Wees nou rustig, die Here sal voorsien”. En so ‘n halfuur voor die kos op die tafel moet wees, klop iemand aan die deur en sê: “ek het nou ingekom dorp toe van die plaas af en ek het sommer vir jou ‘n kannetjie melk saamgebring.”

Mag die Here weer vir ons so aanspoor dat ons kan opgewonde raak oor die beloftes van die Here, dat ons Hom weer op sy woord kan vat.

ONS ANTWOORD

 Lied 509 v 4

Roem, Christen, heel my lewe is veilig in my God;

waar alles my begewe, of waar ek ly, is God;

waar troue vriendehande nie red nie, daar is God;

selfs in die dood se bande ja, oral is my God!

DANKBAARHEID

 Offergawes

 Laaste Lied – 464 v 1, 2

O Heer my God, as ek in eerbied wonder -

en al u werke elke dag aanskou:

die son en maan, die aarde, sterre, wolke,

hoe U dit elke dag so onderhou

Dan moet ek juig, my Redder en my God!

Hoe groot is U; hoe groot is U!

Want deur die hele skepping klink dit saam: hoe heerlik, Heer, u grote Naam!

Ek sien die veld - die bosse, berge, vlaktes.

Ek hoor hoe fluister grasse, stroom en wind.

O Heer, U sorg vir klein, vir groot, vir alles

en U sorg dag na dag vir my, u kind.

Dan moet ek juig, my Redder en my God!

Hoe groot is U; hoe groot is U!

Want deur die hele skepping klink dit saam: hoe heerlik, Heer, u grote Naam!

DIE HERE SE BELOFTE

 Sy teenwoordigheid


 
 
 

Commenti


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page