GETUIE? EN AS EK FLOP?
- Ds Abe Beyers
- Jul 16, 2015
- 7 min read

PINKSTERDIENS VAN 20 Mei 2015
Johannes 21
GETUIE? EN AS EK FLOP?
(Petrus as voorbeeld.)
Ds Abe Beyers
1. INLEIDING
Soos julle nou al goed weet teen hierdie tyd – is ons hierdie Pinkster besig met die storie van Jesus wat die dissipels uitgestuur het – hulle moet gaan getuig van Hom, of te wel, hulle moet Jesus uitstraal waar hulle ookal beweeg.
Lees weer Handelinge 1 v 6-8
Hand 1:6
Toe hulle ‘n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: "Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?"
1:7
Hy het hulle geantwoord: "Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie.
1:8
Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld."
2. DIE BRAVADE v PETRUS
Maar om Jesus uit te straal, om so te fokus op Hom dat dit nie meer oor my gaan en wat ek wil nie – dit is nie maklik nie. Dikwels onderneem ons met die grootste erns dat ek nou net vir die Here Jesus gaan lewe, ek gaan nou net doen wat Hy wil. Soos Petrus:
LEES Markus 14 v 26 - 29
Mar 14:26
Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.
27
Toe sê Jesus vir hulle: "Julle sal almal van My afvallig word. Daar staan immers geskrywe: Ek sal die herder doodmaak, en die skape sal uitmekaar gejaag word.
28
Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruit gaan na Galilea toe."
29
Petrus het vir Hom gesê: "Al sal hulle ook almal van U afvallig word, ek sal nie."
Ons sal nou vanaand dink dat dit tipies van die voorvarendheid van Petrus was wat gemaak het dat hy hierdie verklaring van trou teenoor die Here gemaak het – soort van: Petrus praat maklik, maar as dit by dóén kom…
Maar ons moenie so ligtelik vir Petrus afmaak nie, of dan nou sommer so vir hom veroordeel nie. Dink nou maar net hoeveel beloftes is met die grootste erns hier voor die kansel gemaak in die teenwoordigheid van die Here en van die gemeente:
- Baie het belydenis van geloof afgelê, maar daar het ook maar niks van gekom nie.
- Hoevele het huweliksbeloftes afgelê, en van die ewige liefde het daar ook maar nie veel gekom nie.
- Hoevele het belowe dat hulle hulle kinders sal onderrig in die Christelike geloof, maar daar het ook maar niks van gekom nie.
- Hoevele het ook maar belowe dat hulle erns sal maak met kerkraad, en daar het ook maar niks van die beloftes gekom nie.
3. PETRUS VAL
Maar miskien moet ons nie onsself en vir mekaar so veroordeel nie – so asof ons totale mislukkings is en niks vir die Here beteken nie. Genadiglik is die Here getrou, loop Hy ‘n pad met ons. Dis soos wanneer jy begin kyk of daardie 7 maande oue babatjie nie dalk al haar eerste treetjies wil gee nie. En as sy val, dan veroordeel jy haar nie. Jy as ouer is so dankbaar vir elke stukkie vordering wat die kleinding maak.
Kom ons lees wat verder met Petrus gebeur het.
LEES Markus 14 v 66-74
Mar 14:66
Terwyl Petrus onder in die binnehof was, kom een van die hoëpriester se diensmeisies daar.
67
Toe sy vir Petrus sien, besig om hom warm te maak, kyk sy na hom en sê: "Jy was ook saam met die man van Nasaret, die Jesus."
68
Hy het dit egter ontken deur te sê: "Ek ken Hom nie en ek verstaan ook nie wat jy sê nie." Toe het hy na die deur se kant toe gestaan. En daar het ‘n haan gekraai.
69
Die diensmeisie het hom gesien en weer vir dié wat daar by gestaan het, gesê: "Hy is een van hulle."
70
Maar hy het dit weer ontken. ‘n Rukkie later het dié wat daar by gestaan het, vir Petrus gesê: "Werklik, jy is een van hulle, want jy is mos ook ‘n Galileër."
71
Toe begin hy vloek, en hy sweer: "Daardie man van wie julle praat, ken ek nie."
72
En onmiddellik het die haan ‘n tweede keer gekraai. Dit het Petrus toe bygeval wat Jesus vir hom gesê het: "Voordat die haan ‘n tweede keer kraai, sal jy My drie keer verloën." En hy het in trane uitgebars.
Dit is een van die groot hartseerstories in die Bybel – toe Petrus, die leierfiguur, daar in die vreesaanjaende oomblik, terwyl daar die verskriklike vyandigheid rondom hom was, die beskuldiging hoor: "jy is ook een van hulle." – Wel toe het Petrus nie kans gesien om hom te assosieer met Jesus nie.
En ons kan dit nogal verstaan – die soldate het Jesus al daar verniel, en die skare is oral teen die Jesus. En wat gaan nou gebeur as Petrus hier tussen die mense sê: “Ek assosieer met daardie Mens wat nou daar onder die oordeel staan”? Petrus gaan mos dan ook behandel word soos hulle Jesus behandel het.
4. JESUS IS ANDERS
Genadiglik is die Here Jesus anders as ons. Soos Paulus dit later sou skryf: ‘Al is ons ontrou, God is getrou…’ En hierdie getrouheid van die Here Jesus sien ons daar in Johannes 21.
LEES Johannes 21 v 15 – 17
Joh 21:15
Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: "Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?" "Ja, Here," antwoord hy Hom, "U weet dat ek U liefhet." Hy sê toe vir hom: "Laat my lammers wei."
21:16
Jesus vra hom weer ‘n tweede keer: "Simon seun van Johannes, het jy My baie lief?" "Ja, Here," antwoord hy Hom, "U weet dat ek U liefhet." Hy sê toe vir hom: "Pas my skape op."
21:17
Jesus vra hom die derde keer: "Simon seun van Johannes, het jy My lief?" Petrus het bedroef geword omdat Jesus hom die derde keer gevra het: "Het jy My lief?", en hy antwoord Hom: "Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet." Hy sê toe vir hom: "Laat my skape wei.
Wat doen Jesus met Petrus? Eerstens hou Jesus aan om vir Petrus oor sy respek vir Hom as Here uit te vra. En dan na die derde maal, dan kom Petrus tot inkeer, tot erkenning: “Ag Here, U weet alles…”
Maar dan gaan Jesus verder om nie vir Petrus af te skryf of te veroordeel nie – inteendeel, Hy stel vir Petrus aan as getuie, as verteenwoordiger – Laat my skape wei. Maw Jesus veroordeel Petrus nie omdat hy gevou het nie. Hy vergewe vir Petrus en gee wéér vir hom die verantwoordelikheid om ‘n getuie te wees.
5. ONS
Nou weer terug by ons. Ons is mos getuies van die Here Jesus, ons moet iets van sy aard uitstraal daar waar ons kom. Soos Christa gisteraand daarop gewys het hoe die apostel Paulus ‘n rustigheid uitgestraal het in die chaos van die storm – omdat hy in verbinding met die Here Jesus was.
Maar hierdie storie van vanaand vra van ons om dieselfde gesindheid as die Here Jesus uit te straal daar waar ons kom. Dink nou net aan hoeveel mense het nou al vir ons teleurgestel? Miskien het jy ‘n groot verwagting gehad en toe het daardie een gevou. Dit kan kinders of familie wees, dit kan vriende wees, dit kan kollegas wees, of iemand wat vir jou werk. Nou wat maak jy dan – straal jy iets van die Here Jesus se gesindheid uit in jou kontak met mense?
Êrens vra Petrus mos by geleentheid vir die Here Jesus – lank voor die drama rondom die kruisiging: Here hoeveel maal moet ek vergewe, selfs sewe keer? En dan antwoord die Here Jesus: Nee, 70 x 7 keer. En toe Petrus self ervaar dat hy vir Jesus teleurgestel het, toe wys Jesus vir Petrus wat vergifnis beteken – en Petrus kon ervaar – ek ontvang weer die lewe.
6. SCHALK EN FLOORS
Daar in die Noord-Weste was die twee figure. Die een se naam was Floors. Hy het ‘n polisieagtergrond gehad en het toe later op sy skoonpa se grond gaan boer. Die ander een se naam was Schalk. Hy was ook soldaat in die tweede wêreld oorlog en het toe na die oorlog ‘n plaas baie goedkoop gekry van die regering destyds. Maar die twee het so deur die jare geboer daar rondom die plekkie Lykso.
En eendag by die kerk gebeur daar iets – die een maak een of ander opmerking teenoor die ander een en net daar is die twee smoorkwaad vir mekaar. En ek kom by die een en hoor: hoe kan Schalk dan sulke goed van my sê? En dan kom ek by Schalk en hoor: hoe kan Floors dan sulke goed van my sê? So het daar ‘n maand verbygegaan waar die twee ou vriende mekaar vermy het.
En later kon Floors dit nie meer hou nie en vra toe vir my of hulle nie maar daar by die pastorie bymekaar kan kom om die ding reg te maak nie? En die afspraak word toe met albei gemaak vir die Dinsdagmiddag 3 uur. So kom Schalk al ‘n halfuur voor die tyd daar aan om tog nie in Floors vas te loop nie. En Schalk se spanning is maar hoog.
En drie-uur kom Floors daar aan - en nou vir die groot oomblik: Toe hy inkom by die deur… steek hy sy hand uit na Schalk toe en vra: OK? En Schalk antwoord: OK.
En daar gesels hulle verder oor Floors se Brahmane wat so wild is en Schalk se Bonsmaras wat nou swaar kry in die droogte.
Comments