OM NIE MEER PRESIES TE WEET NIE.
- Ds Abe Beyers
- Jun 30, 2015
- 7 min read

Eksodus 3: 1 – 14 28 Junie 2015
OM NIE MEER PRESIES TE WEET NIE.
Ds Abe Beyers
ONTMOETING
Stemmingslied
Ons erken die Here
Hy groet ons
Ons sing ‘n danklied - 175
Majesteit,
glansryke heerlikheid!
Ons wil Jesus,
die koning, hulde bewys!
Majesteit,
hemelse heerlikheid!
Van waar ons woon,tot by sy troon,
wil ons Hom prys.
Kom ons loof, kom ons besing
die Naam van Jesus!
Kom ons loof, kom ons aanbid
die Here ons God!
Majesteit,
heilige heerlikheid!
Hy het gesterf, ons heil verwerf,
Hy het oorwin!
VERHOUDINGSTYD
Hoe is die Here? (Hebr 12)
… ons wat ‘n onwankelbare koninkryk ontvang het
En nou ons?
Laat ons dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil
Want…ons God is ‘n verterende vuur
Ons antwoord met Lied 528 v 1, 2
Leer my u wil, Heer, u doel met my -
U, Pottebakker, met my, die klei.
Vorm my en maak my volgens u wil;
op U vertrou ek, nederig stil.
Leer my u wil, Heer, u plan vir my;
laat ek nie doelloos, nutteloos bly.
Hou my erkentlik, Heer, in u werk:
As ek dan swak is, maak U my sterk.
LUISTER-TYD
Gebed
Woord – Eksodus 3
1. ONS WEET PRESIES
Ons het nou gister lekker basaar gehou en saam gekuier en geëet en gesels. En in die voorafgaande maande is daar gewoel en gewerk en bymekaar gemaak en georganiseer en dinge is gedoen – van koek en terte en gaarkos en vleis en braaivleis en wat nog alles.
Alhoewel dinge hier en daar vasgehaak het en ons dan moes vra hoe nou, het ons tog gou weer rigting gekry en die reëlings het reggekom en aangegaan. Maar eintlik het ons presies geweet wat om te doen. Daar moet wors en maalvleis wees, daar moet braaitjops en sosaties wees, daar moet hout en braaigoed vir die vuur wees, daar moet koeke en pannekoeke en terte en melkterte en kos wees en daar moet koek vir die kafee wees. Ons weet presies wat ons moet doen.
En dis nie net met die basaar nie. Dink nou maar aan die boerdery. Elke boer weet presies wat om te doen op sy plaas – hy weet om sy vee te versorg en wol te skeer – ja soms haak die proses bietjie vas en daar is dingetjies wat nie lekker is nie, maar ons weet tog presies wat ons moet doen. Of jy het dalk ‘n besigheid in die dorp en jy gaan aan met die bestuur daarvan – want jy weet presies wat om te doen. Of jy werk waar ook al – en jy weet wat jy vandag moet doen en jy weet hoe jy dit moet doen.
2. MOSES KRY ‘n NUWE OPDRAG
So het Moses amper 4000 jaar terug daar in die suide van die Arabiese skiereiland sy skoonpa se skaap opgepas, daar in die gebied van die Medianiete.
LEES Eksodus 3 v 1
Eks 3:1 Moses het die kleinvee van sy skoonpa Jetro, ‘n priester van Midian, opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag totdat hy by Horeb, die berg van God, gekom het.
En natuurlik het Moses presies geweet wat hy moet doen en hoe hy die skape moet versorg. Die prentjie wat ons kry is dat Moses soos gewoonlik aangegaan het om die skape te versorg maar hy het ook nuwe inisiatief geneem en die skape verder die woestyn ingejaag twv beter weiding vir die skape.
Maar dan kom die Here met ‘n nuwe werk vir Moses, ‘n nuwe fokus. En nou is die dinge nie meer lekker nie – skielik weet Moses nou nie meer hoe nou nie.
LEES Eksodus 3 v 7 – 8a, 10, 16
Eks 3:7 Daarna sê die Here: "Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem.
8 Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ‘n goeie en uitgestrekte land, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.
10 Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.“ >>>
16 "Gaan roep nou die leiers van Israel bymekaar en sê vir hulle: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob, het aan my verskyn en gesê: Ek weet van julle en Ek weet ook wat julle aangedoen word in Egipte.
Moses kry twee dinge om te doen:
- eerstens moet hy na die leiers van Israel toe gaan en vir hulle gaan sê
wat die Here se plan is, of te wel, hy moet die Israeliete weer as ‘n
gemeente gaan saamsnoer, eenheid bring onder hulle;
- en die tweede opdrag wat Moses kry is om die Farao van Egipte te gaan
aandurf, die onreg teë te staan
En daar staan Moses skielik baie ongemaklik. Tot op die punt het hy presies geweet wat om te doen en hoe om dit te doen – maar nou haak hy vas. Dis een ding om daar skaap op te pas en wyding te soek in die woestyn en wolwe en ander goed te verdrywe – maar dis ‘n ander ding om die onderlinge verhoudings van die gemeente op te bou, dis nie so eenvoudig en duidelik om die gemeente tot erkenning van die Here God te bring en hulle tot ‘n eenheid saam te snoer nie.
Of om na die verdere opdrag van Moses te kyk – dis nie so duidelik hoe om die kwaad in die samelewing, die onreg en ellende en uitbuiting en verkeerde dinge te hanteer nie, dis nie so maklik en eenvoudig en duidelik om die magtiges wat onreg doen teë te staan nie.
En daar staan Moses, totaal onseker, totaal buite sy “comfort zone”
3. WAT MOET GEBEUR?
Wat ek dink wat by ons weer moet gebeur, is dit wat by Moses gebeur daardie tyd.
LEES Eksodus 3 v 2 – 5
Eks 3:2 Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in ‘n vlam binne-in ‘n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie.
3 En Moses sê vir homself: "Ek wil tog ‘n bietjie nader gaan om hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie?"
4 Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: "Moses! Moses!" En hy antwoord: "Hier is ek."
5 Die Here sê toe vir hom: "Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond."
Natuurlik sal dit nou wonderlik wees as die Here op ‘n sigbare en dramatiese bo-natuurlike manier aan ons verskyn. Dit sal vir ons ‘n wonderlike ervaring wees.
Maar selfs die wonderlike ervaring het nie vir Moses aan die beweeg gekry nie. Kyk net hoe kla Moses oor die opdrag:
LEES Eksodus 3 v 11
Eks 3:11 Toe sê Moses vir God: "Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?"
Wat ek dink wat moet gebeur by ons hier in die gemeente Aberdeen is dat ons weer magteloos voor die Here God moet kom staan - soos Moses.
LEES Eksodus 3 v 5
Eks 3:5 Die Here sê toe vir hom: "Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond."
Die prentjie wat hier van Moses in die woestyn gegee word, is dat Moses dinge kan doen, in beheer is van omstandighede, al is dit ook hoe warm en is die wêreld daar hoe vol klippe – maar as jy nou daar in die woestyn jou skoene moet uittrek, dan is jy redelik magteloos en hulpeloos. (probeer nou maar net in die hitte van die somer kaalvoet op warm woestynsand staan).
En ek dink dat ons weer met daardie gesindheid voor die Here God moet kom staan
– ek verneder my voor die Here God, ek gee my mag en gesag en aansien en naam prys, ek word hulpeloos voor die Here God die Almagtige.
4. DAN KAN DIE HERE VORENTOE GAAN
Daar is sovele wonderlik verhale in die res van die Bybel van mense wat so by wyse van spreke skoene uitgetrek het voor die Here:
– dink nou maar aan die bekende Paulus daar in die boek Handelinge
(hfst 9).
Paulus wat presies geweet het wat hy moet doen en hoe hy dit moet doen – en toe hy hom verneder voor die Here Jesus, toe het Jesus voorgegaan – en kyk net wat het die Here alles tóé deur Paulus gedoen.
Ons kan nog baie voorbeelde noem in die Bybel en selfs in ons dag – maar die punt is net
dat ons as gemeente weer God se grootsheid moet erken, dat ons weer ons spreekwoordelike skoene voor Hom moet uittrek soos Moses.
Want dan kan die Here deur ons die vrede bring,
- dan kan die Here begin om deur ons verhoudings te herstel;
- dan kan Hy deur ons die kwaad omkeer soos wat Hy destyds daar in Egipte gedoen het.
Al weet ons nie presies hoe nie en al moet ons in onbekende situasies ingaan, wanneer ons onsself voor Hom verneder kan Hy dinge deur ons laat gebeur.
ANTWOORD
Lied 267 v 1, 2
Ons Vader op die hemeltroon aan wie ons lof en eer betoon,
ons bid ootmoedig almal saam: Gee dat u goddelike Naam
deur ons geken, geëer, gevrees - in alles mag geheilig wees.
Laat Heer u Koninkryk steeds kom in hierdie land en oral om.
Die skepping is u magsgebied waar u volmaakte wil geskied -
vanuit die hemel om u troon tot waar ons op die aarde woon.
DANKBAARHEID
Offergawes
Laaste Lied – 488 v 1, 2, 3
Helder skyn u lig vir die nasies,'n vreugdeglans om die mense te verlig
tot die hele wêreld kan sien U is die lig.
Mag u lig, Heer, deur ons skyn.
Vrolik klink ons lied vir die volke, 'n pryslied bring al die nasies om ons saam
tot die hele wêreld kan jubel oor u Naam
Mag u lof, Heer, deur ons klink
Balsem bring herstel vir die wonde,'n sagte salf vir die mense met hul seer
tot die hele die wêreld kan sien dat U genees.
Mag U troos, Heer, deur ons bied
BELOFTE VAN DIE HERE
Ek is met julle.
Comments