top of page

DIE OORSTEEK VAN GRENSE DEUR DIE KRAG VAN JESUS

  • Ds Abe Beyers
  • Jun 22, 2015
  • 8 min read

ONS BERGE 11.jpg

Sondag 21 Junie 2015 Markus 4 v 35-41

OORSTEEK VAN GRENSE DEUR DIE KRAG VAN JESUS

Ds Abe Beyers

ONTMOETING

  • Stemmingslied

  • Erkenning van die Here

  • Hy groet ons

  • Ons sing Psalm 146 v 1, 4, 5

Prys die Here, loof en prys Hom. Ek wil God se lof besing.

Hy is magtig; loof en prys Hom. Ek wil God my loflied bring,

en so lank ek leef Hom eer. Loof die groot en troue Heer.

Gans sy skepping sonder grense word deur Hom steeds onderhou.

So bly Hy ook aan die mense as sy maaksels steeds getrou.

Hy die bron van wat bestaan, is ook oor die mens begaan.

God gee uitkoms en bevryding, hongeriges gee Hy brood.

Hy genees ons van ons lyding en verlos uit elke nood.

Die verdrukte in gebed hoor Hy aan, sy liefde red.

WOORD-TYD

Kleuterkerk - Leon Marx

ONS VERHOUDING MET DIE HERE

  • Die Here: (Matt 28 v 18-19)

Jesus kom toe nader en sê vir hulle: "Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.

En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld."

  • Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels:

  • doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees,

  • en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het

  • Ons antwoord met Lied 466 v 1, 2, 3

Aanbiddelike Skepperheer, aan U die dank, aan U die eer;

aan U die lof met jubeling, diep uit ons harte toegebring.

Uit U is alles wat ons het: ons lewe, arbeid en gebed.

Op U, wat alles onderhou, bly ons ons hoop en toekoms bou

Gee, Heer, u seën oor al ons werk; ons krag, vermoëns is beperk.

Leer ons, soos kennis verder strek, u hand in alles te ontdek.

WOORD-TYD

Gebed

Woord – Markus 4 v 35 – 41

OORSTEEK VAN GRENSE DEUR DIE KRAG VAN JESUS

1. ONS PRENTJIE VAN JESUS

As ons vandag terugdink aan die tyd toe die Here Jesus sigbaar op die aarde was, en Hy daar in Galilea rondbeweeg het – wat is ons prentjie van wat Hy gedoen het in daardie drie of wat jaar? Waarmee was Hy besig? Ons sal sê dat Hy vir die mense geleer het, dat Hy iets gewys het van die krag van God deur mense gesond te maak. En dan nou later het Hy gehoorsaamheid gewys deur nie weerstand te bied nie.

As ons nou moet sê wat die Here Jesus vandag doen? Die meeste van ons se prentjie is maar dat die Here Jesus nou die Heerser is en dat Hy in die hemel besig is om vir ons plek te berei – en intussen sorg Hy vir ons, bewaar en beskerm Hy vir ons. Die verhale van die NT vertel dan juis van die krag van die Here om wonders te doen. En daarom bid ons as ons in die nood is vir hulp en vir krag en vir uitkoms. En dis reg so.

2. JESUS AAN DIE BEWEEG

Die verhaal wat ons vandag gaan lees, wil vir ons iets anders laat raaksien, iets wat ons dikwels mis – kom ons lees daarvan:

LEES 4 v 35 - 36

Mar 4:35 Laat daardie middag sê Jesus vir sy dissipels: "Kom ons vaar oorkant toe."

36 Hulle het toe die mense wat daar was, daar laat bly en Hom saamgeneem in die skuit waarin Hy gesit het. Daar was ook nog ander skuite by.

Die stukkie vertel dat Jesus op pad was met sy dissipels na ‘n vreemde gebied toe, na die nie-Joodse gebied. Letterlik het hulle met die skuitjie oor die see van Galilea na die anderkant toe gevaar – omtrent 10km ver. Aan die anderkant het hulle daar in die gebied van die Geraseners gaan optree. Die punt is dat Jesus sy dissipels in ‘n vreemde en ongemaklike situasie invat, na ‘n area waar hulle nie graag sou wou kom nie. Dis vreemd daar.

En die Here Jesus is nog vandag steeds daarmee besig – Hy vat ons gedurig na vreemde nuwe ongemaklike situasies toe. Nie net nuwe plekke nie, maar in nuwe situasies in, waar jy nog nie voorheen was nie. Jesus is gedurig besig om met jou grense oor te gaan. Ek onthou van jare terug in ‘n ander gemeente waar ‘n klompie boere maandeliks bymekaar gekom het vir ‘n biduur. En dieselfde mense het dieselfde dinge gedoen. Die een wat voorgesing het, het voorgesing, die een wat voorgebid het het voorgebid, die een wat gelees het, het steeds gelees. Tot eendag – toe gee die predikant die dag ‘n lysie uit van onderwerpe waaroor elkeen iets vir die Here moet sê – die een oor die land se politiek en die ander oor die boerdery en die ander oor siekes, ens. En daardie aand gebeur iets wonderlik: skielik ontdek Piet maar hy kan ook iets vir die Here vra, en die ander een ontdek iets anders – maar dis hoe die Here werk: Hy vat ons gedurig verder, na nuwe situasies.

OF twee boere was kwaad vir mekaar, en dis spanning en ongemaklikheid- tot een die moed het om te sê: maar kom ons kom bymekaar en maak vrede. En hulle het dit toe gedoen.

Of dink aan die NG kerk die afgelope jare. Van die nuwe situasie daar in 1986 toe die sinode besluit het die NG kerk is oop vir almal, of toe daar besluit is vrouens moet ook ouderlinge en diakens wees. Aanvanklik chaos. Of toe daar besluit is dat kinders van gelowige ouers kan ook aan die Nagmaal deelneem. Of nou die afgelope tyd rondom die proses van hereniging van die NG kerk familie.

Die Here is gedurig besig om met sy kerk aan te beweeg, te vernuwe.

Maar nou weet ons mos dat as ons so in ‘n nuwe situasie inbeweeg, dan is daar mos nou onsekerheid, en dan is daar vrees en dan is daar spanning. Dink nou maar aan daardie eerste geleentheid toe jy daar op hoërskool voor die res van die klas ‘n toespraak moes lewer, of sommer toe jy daar voor die kansel gestaan het om te trou – hoe op jou senuwees was jy nie net nie.

Die dissipels was natuurlik net so gespanne toe die dinge nie lekker verloop daar op die see van Galiea nie:

LEES Markus 4 v 37 - 38

Mar 4:37 Skielik het daar ‘n groot storm losgebars, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat die skuit al begin vol word het.

38 Jesus het op die bank in die agterstewe gelê en slaap. Hulle maak Hom toe wakker en sê vir Hom: "Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?"

Hulle was so gespanne en beangs en benoud dat hulle sommer kwaad is vir Jesus en daar met Hom beklei. En dis ook nie vir ons vreemd om so met die Here Jesus te baklei as dinge nie so lekker vir ons verloop nie – omdat ons bang en benoud is en nie weet wat gaan gebeur nie, omdat ons onseker is – daarom baklei ons met die Here Jesus – want ons wil hê die boodjie moet altyd sag oor die water gly en daar moet nie eers ‘n rimpelingtjie wees nie. Ons hou nie daarvan as dinge buite ons beheer is nie.

Aan die anderkant – kyk vir Jesus: Hy is glad nie ontsteld oor die slegte situasie nie, daar is by Hom glad nie onsekerheid nie. Soveel so dat Hy daar in die agterkant van die skuit slaap.

3. JESUS HANTEER ONSEKERHEDE

Maar dan hanteer die Here Jesus die onseker situasie, dan bring Hy verandering.

LEES Markus 4 v 39

Mar 4:39 Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: "Hou op! Bedaar!" Die wind het gaan lê en daar het ‘n groot stilte gekom.

Omdat Hy die magtige Een is, omdat Hy die Here is, kan en sal Hy vir jou deurvat deur die moeilike nuwe situasie, om jou te kry daar waar Hy jou wil hê. Of Hy maak die storm letterlik stil, of Hy vat jou net veilig deur – maar Hy is die magtige Een om jou deur te vat.

Iemand vertel my die storietjie van hoe hulle jonk getroud was en toe in ‘n huisie ingetrek het – en na ‘n paar maande kom Oupa en Ouma vir die eerste keer vir hulle kuier. Hulle was baie opgewonde. Maar hulle het ook geweet Ouma loop nie meer so lekker nie – en hoe gaan hulle nou maak met die stoeptrappies? Maar dink hulle daaraan om vir Ouma om te vat na die sydeur toe – daar is nie trappies nie. En toe Ouma-hulle stop voor die deur, toe begelei hulle vir Ouma om na die sydeur toe. Daar is geen bekommernis by die kinders nie, want hulle weet presies hoe om vir Ouma te help.

Die storietjie vertel iets vir ons van die Here Jesus. Hy weet presies waar ons moet uitkom, en Hy begelei ons soontoe – maar ons weet nie hoe nie.

4. NIE ONTSTELD RAAK NIE

Maar daar is ‘n stertjie aan die storie. Hoe moet ons die vreemde situasie waarin ons kom hanteer? Hoe moet ons dit hanteer as die Here vir ons of vir die gemeente of vir die kerk laat aanbeweeg na nuwe situasies toe?

LEES Markus 4 v 40-41

Mar 4:40 Toe sê Hy vir hulle: "Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?"

41 Hulle is met groot ontsag vervul en het vir mekaar gesê: "Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?"

Die laaste vers sê dat die dissipels met ontsag vervul is vir die Here Jesus, hulle het nou regtig besef wie Hy is. Maar dis nie die doel van die krisis nie. Die gedagte is nooit dat ons paniekbevange moet raak in die onseker situasie sodat ons net maar kan ontdek hoe magtig die Here regtig is nie. Ons verwondering is nie die einddoel nie.

Wat in die eerste plek moes gebeur het, is dat die dissipels nie ontsteld moes geraak het nie. Hulle moes nie beangs en benoud geraak het nie. Dit was geensins nodig om bang te raak nie, want die Here Jesus, wat hulle al soveel kere sien optree het teen magte en kragte en dinge - Hy is naby om hulle daardeur te help.

Natuurlik het die Here Jesus later self bang geraak die aand voor die kruisiging, maar dan oorwin Hy die vrees en angs deur Hom oor te gee aan die Vader – “laat die beker by My verbygaan, moet nogtans nie doen wat Ek wil nie” – en toe het Hy daarvandaan sonder enige vrees die moeilike situasie ingegaan.

Daarom vertel die storie vandag ook vir ons:

Die Here Jesus is gedurig besig om ons as gelowiges; as kerk; na nuwe situasies te vat, om gedurig grense oor te steek. Natuurlik hou ons nie daarvan nie, maar omdat Hy daar is, omdat Hy alreeds aan die anderkant van die situasie is, daarom hoef ons ons nie te laat ontstel deur die omstandighede nie.

ANTWOORD

Lied 519 v 1,2,3 en 4

Wees stil en weet: Ek is die Heer.

Ek spreek en wind en golwe bedaar,

Ek sal ook jou getrou bewaar

Wees stil en weet: Ek is die Heer.

Ek ken jou pyn, jou donkerste nag.

Ek is by jou, Ek gee jou krag.

Wees stil en weet: Ek is die Heer.

Kom bring na My jou kommer en vrees.

Ek sal vir jou ‘n toevlug wees

Wees stil en weet: Ek is die Heer.

Bly waak en bid; volhard in geloof.

Ek is by jou soos Ek beloof

DANKBAARHEID

  • Offergawes

  • Laaste Lied 513 v 1, 3

Soek in God jou sterkte; kry by Hom jou krag;

met sy wapenrusting klee Hy ons met mag.

Nie teen medemense is ons worstelstryd,

maar ons veg teen Satan en sy sluwe listigheid.

Hy stuur bose magte in die wêreld in,

maar met God se wapens kan ons hul oorwin

Doen dit alles biddend, soos die Gees ons lei.

Laat ons altyd waaksaam en gelowig bly!

Almal wat bly volhou, saam bly bid en werk

deel in die geheim van God se koninkryk en kerk.

Hy maak ons vrymoedig, swakkes gee Hy krag -

met sy wapenrusting klee Hy ons met mag!

DIE HERE SE BELOFTE

  • Hy gaan vooruit


 
 
 

Comments


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page