GOD SE NUWE GEMEENSKAP
- Ds Abe Beyers
- Jun 17, 2015
- 8 min read

Sondag 14 Junie 2015 Markus 3v35
GOD SE NUWE GEMEENSKAP
Ds Abe Beyers
ONTMOETING
Stemmingslied
Erkenning van die Here
Hy groet ons
Ons sing ‘n Lied vir Hom – 205 v 1, 3
Bring lof aan die Vader, verheerlik die Seun,vir liefde, genade, verlossing en steun
dat elkeen wat glo nie verlore mag gaan, maar ewig voor Hom as verloste kan staan.
Loof die Heer, loof die Heer - sing, gelowiges, saam!
Loof die Heer, loof die Heer - prys sy heilige Naam!
Hy kom uit genade ons sondes versoen
dat ons Hom vrymoedig ons Vader kan noem.
Ons lof, ons aanbidding, o Vader, ons lied is nietige klanke, deur kinders gebied.
Tog sien U ons nood en verhoor ons gebed - oneindig die liefde wat U vir ons het.
Loof die Heer, loof die Heer - sing, gelowiges, saam!
Loof die Heer, loof die Heer - prys sy heilige Naam!
Hy kom uit genade ons sondes versoen
dat ons Hom vrymoedig ons Vader kan noem
VERHOUDINGS-TYD
Wie is die Here? Ps 146:6
6 Die Here het die hemel en die aarde gemaak, die see en alles daarin. Hy bly vir altyd getrou,
7 Hy laat reg geskied aan verdruktes en gee brood aan dié wat honger ly. Die Here bevry die gevangenes, die Here laat blindes sien, Hy ondersteun dié wat bedruk is. Die Here het die regverdiges lief.
9 Hy beskerm vreemdelinge en help weeskinders en weduwees, maar Hy versper die pad vir die goddeloses.
10 Die Here regeer vir altyd. Sion, jou God regeer van geslag tot geslag. Prys die Here!
En nou ons? (Psalm 146)
1 Prys die Here! Ek wil die Here prys.
2 Ek wil die Here prys so lank ek lewe, ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is.
3 Moenie op magtiges vertrou nie, nie op ‘n mens nie; hy kan jou nie red nie.
Antwoord: Lied 168 v 1, 2
Heilige Jesus, Heer van die here, U is verhoog tot die hemeltroon.
Ons bring U ere, Christus, die Here! Met heerlikheid is U gekroon.
Mooi is die aarde,dit het groot waarde, maar is gering voor u grootheid, Heer.
U is ons lewe, U is ons vrede. U Gees moet ons hier lei en leer.
WOORD-TYD
Gebed
Woord – Markus 3
ONS REAGEER
Lied 436 v 1, 2
Herskep, o Gees, laat leef, o Gees, laat kom die koninkryk met mag,
laat mense tot bekering kom, oorreed deur u oortuigingskrag
O Gees, verlig ons, laat ons vind die waarheid wat u Woord ons leer
dat ons met God en met mekaar in Gees en liefde kan verkeer.
1. OM TE VERANDER of RAAK TE SIEN WAARMEE GOD BESIG IS
Laas Sondagaand was die toneelstuk daar in Graaff-Reinet opgevoer deur Frank Opperman – die Klaagliedere van ds Tienie Benade. Die storie handel oor ‘n middestadsgemeente waarvan die ou lidmate weggetrek het en ander vreemde mense ingetrek het – en die predikant en die gemeente kon nie aanpas daarby nie, kon nie die Here se plan sien nie. Hulle kon nie die nuwe situasie hanteer nie.
Die kerk sukkel soms maar om regtig te begryp waarmee die Here besig is. So het ‘n jong teologiese student met die naam Pietie Victor aan die einde van die jare 60 begin om daar in Kaapstad te werk onder die straatmense. Daar was ‘n vertrek onder ‘n gebou gehuur en daar is koffie vir die straatmense wat wil kom gesels gegee. En daar is spanne mense in die nag uitgestuur om die prostitute en die ander gure karakters te gaan innooi, om na hulle storie te luister, om vir hulle uit te nooi na Jesus toe. Daar het wonderlike dinge gebeur. Mense het tot vernuwing gekom, kinders van die Here geword, van die strate af gekom.
Maar die kerk het destyds gesukkel om die werk van die Here daar raak te sien. Naderhand het die ring van Wynberg darem vir Pietie Victor ‘n proponent gemaak – maar die kerk het vir dekades gesukkel om die werk daar amptelik te maak – want waar is die kerkgebou, waar is die gemeente en waar is die kerkraad? Dis mos nou nie soos ‘n tradisionele gemeente lyk nie
2. JESUS AAN DIE WERK
Dit is nie net die kerk van vandag wat sukkel om die werk van die Here raak te sien nie.
Toe Jesus as mens op aarde was, het die mense en die amptelike kerk net so gesukkel om die werk van die Here raak te sien.
Wat doen Jesus toe daar, waar werk Hy toe?
LEES Markus 3 v 1-2, 5-6
Mar 3:1 Jesus het weer na die sinagoge toe gegaan. Daar was ‘n man met ‘n gebreklike hand.
2 Die Fariseërs het vir Jesus dopgehou om te sien of Hy hom op die sabbatdag sou gesond maak, sodat hulle vir Jesus daaroor kon aankla.
5 Hy het hulle rondom Hom kwaad aangekyk en was diep bedroef oor hulle verhardheid. Hy sê toe vir die man: "Steek jou hand uit!" Hy het sy hand uitgesteek en dit was gesond.
6 Die Fariseërs het uitgegaan en dadelik met die Herodiane ‘n komplot teen Jesus gesmee om Hom om die lewe te bring.
Ons lees nou van Jesus wat iemand daar gesond gemaak het – en die Fariseers as die amptelike kerk kon nie die Here deur Jesus aan die werk sien nie – en wou toe van Hom ontslae raak, want Jesus tree op in liefde, maar teen hulle tradisies en gewoontes in.
LEES Markus 3 v 11
Mar 3:11 As mense wat van onrein geeste besete was, Hom sien, het hulle voor Hom neergeslaan en geskreeu: "U is die Seun van God!“
En hier lees ons ook dat Jesus as Seun van God die bose magte aangevat het.
Maar kyk nou net die weerstand teen die werk van Jesus. Tot Jesus se letterlike familie, sy moeder en sy broers het gedink Jesus het van sy kop af geraak.
LEES Markus 3 v 20-21
Mar 3:20 Daarna het Jesus huis toe gegaan. ‘n Menigte mense het weer saamgedrom, sodat daar selfs nie geleentheid was om ‘n stukkie te eet nie.
21 Toe sy familie hiervan hoor, het hulle gegaan om Hom te gaan haal, want hulle het gesê: "Hy het van sy kop af geraak."
En die skrifgeleerdes daar van Jerusalem het ‘n kommissie van ondersoek afgevaardig om te kom kyk na Jesus en toe raak dinge sommer lelik.
LEES Markus 3 v 22
Mar 3:22 Die skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, het gesê: "Hy is van Beëlsebul besete!" en "Dit is met die hulp van die aanvoerder van die bose geeste dat hy bose geeste uitdrywe."
En dan antwoord die Here Jesus vir hulle ernstige beskuldigings met net so ernstige dreigement:
LEES Markus 3 v 28 – 30
Mar 3:28 "Dit verseker Ek julle: Alles sal die mense vergewe kan word, al die sondige lastertaal wat hulle praat.
29 Wie egter teen die Heilige Gees laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie maar bly ewig skuldig aan die sonde."
30 Dit het Hy gesê omdat hulle gesê het: "Hy is van ‘n onrein gees besete."
3. NUWE GEMEENSKAP
En dan vertel Jesus waarmee is Hy besig, wat is Hy besig om te doen.
LEES Markus 3 v 31 – 35
Mar 3:31 Sy moeder en sy broers het toe gekom. Hulle het buite bly staan en ‘n boodskap na Hom toe gestuur om Hom te roep.
32 ‘n Menigte mense het rondom Hom gesit. Hulle sê toe vir Hom: "Kyk, u moeder en u broers en u susters daar buite soek U."
33 Maar Hy sê vir hulle: "Wie is my moeder en my broers?"
34 Hy het die mense aangekyk wat in ‘n kring om Hom sit en gesê: "Hier is my moeder en my broers!
35 Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder."
Eerstens is Jesus besig om die wil van die Vader uit te voer, of te wel die Here God se groot reddingsplan waar die Seun van God Homself verneder en onder mense kom woon en deur hulle vernietig word – Jesus wat aan die Vader se wil gehoorsaam bly tot in die dood. So was dit vir Jesus baie moeilik, Hy wou soms moed opgee om nie hierdie wil van die Vader na te volg nie.
En dan verduidelik Jesus – elkeen wat by hierdie plan inval, elkeen wat deel word van hierdie wilsplan van die Here God, word deel van die groot nuwe familie van Jesus – elkeen wat die wil van God doen is my broer en my suster en my moeder; elkeen wat die wil van God doen, elkeen wat inval by die plan van God, is my familie.
Maw, Jesus is besig om ‘n nuwe gemeenskap, ‘n nuwe groep mense te skep.
Hoe lyk die nuwe groep mense, hierdie nuwe familie van Jesus?
LEES weer Markus 3 v 35
35 Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder."
Jesus sê sy nuwe familie is sy moeder en broers en susters. Die beskrywing van Jesus is radikaal nuut en anders as wat dit destyds was. As Jesus volgens die ou patrone van destyds gepraat het, sou Hy net gepraat het van sy broers. Maar in Jesus se familie word grense oorgesteek - daar nie die grense wat ons as mense gewoonlik skep nie; mense word nie in klasse en groepe geplaas soos ons gewoonlik doen nie. Dis ‘n nuwe familie, ‘n nuwe groep, wat ander insluit wat ons normaalweg uitsluit.
Maar meer nog, dis ‘n familie van mense wat in die verlede vyande was, wat nou in vrede saamleef. Dis ‘n familie van mense wat oop is vir mekaar, wat geduldig en vriendelik is teenoor mekaar.
4. ONS?
Wat het die gedagte van Jesus met ons te doen? As ons kyk hoe die kerk deur eeue gesukkel het om te verstaan waarmee Jesus besig is, dan moet ons steeds elke dag vra: dit wat ek doen, dit wat ons as gemeente doen – is dit nog in lyn met die plan van die Here Jesus, of is ek besig om die tradisie en tipies menslike gewoontes na te volg?
Die naam van hierdie gemeente is NG kerk Aberdeen. Die “G” staan vir Gereformeerd. Dit beteken ons is gedurig besig om terug te gaan na die Woord toe, ons is gedurig besig om te soek of ons nog in lyn is met dit waarmee Jesus besig is.
Om Jesus se plan nog nader na ons toe te bring moet ons vra: word ons optrede, ons besluite gestuur deur die prentjie wat Jesus hier vir ons geteken het? Dink nou maar hoe praat ek mét mense, hoe besluit ek óór mense, hoe praat ek ván mense, en wat dóén ek? Word al my optrede van elke dag gekleur deur die prentjie van Jesus en sy nuwe familie?
5. WAAR BEGIN DIT?
‘n Laaste opmerking – waar begin hierdie nuwe familie van die Here Jesus? Hoe word ek deel van hierdie familie?
Koning Dawid het daar in Psalm 131 die prentjie gebruik van ‘n kindjie. Soos ‘n kindjie tevredenheid by sy moeder gevind het, so het ek tevredenheid by die Here gevind.
Koning Dawid se gedagte was om by God te ruste te kom, tevredenheid te vind en oor te gee aan Hom.
So vra Jesus dan ook vir ons vandag opnuut: As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink – strome lewende water sal uit sy binneste vloei
ONS REAGEER
Lied 436 v 1, 2
Herskep, o Gees, laat leef, o Gees, laat kom die koninkryk met mag,
laat mense tot bekering kom, oorreed deur u oortuigingskrag
O Gees, verlig ons, laat ons vind die waarheid wat u Woord ons leer
dat ons met God en met mekaar in Gees en liefde kan verkeer.
DANKBAARHEID
Offergawes
Laaste Lied – 464 v 3, 4
U Seun word mens; in ons gebroke wêreld, kom vestig Hy sy koningheerskappy.
Hy maak weer heel wat sonde hier gebreek het.
Hy bring weer hoop en redding - ook vir my
Dan moet ek juig, my Redder en my God!
Hoe groot is U; hoe groot is U!
Want deur die hele skepping klink dit saam: hoe heerlik, Heer,
u grote Naam!
U maak ons deel van al u grootse werke. U laat ons bid, Heer, dat u ryk mag kom.
En kom U weer, in heerlikheid op wolke, maak U volkome nuut u eiendom
Dan moet ek juig, my Redder en my God!
Hoe groot is U; hoe groot is U!
Want deur die hele skepping klink dit saam: hoe heerlik, Heer,
u grote Naam!
DIE HERE SE BELOFTE
Sy teenwoordigheid
Comentários