KAN EK OOK ‘N GETUIE WEES?
- Ds Abe Beyers
- Jun 13, 2015
- 6 min read

Dinsdag PINKSTERDIENS 19 Mei 2015
KAN EK OOK ‘N GETUIE WEES?
Ds Abe Beyers
Handelinge 26
1. GETUIE – WIE EK?
Ons het vooraf gesê dat ons na die optrede van die apostel Paulus gaan kyk – hoe hy ‘n getuie vir die Here was onder die ander kulture behalwe die Jode. Die voor-die-handliggende is nou dat ons moet kyk hoe hy opgetree het in Antiogië of in Efese of waar ook al.
Maar ek dink dat die gedagte nie vir ons so baie gaan beteken nie. Want ons sit met die vraag: Kan ek met my geaardheid en my dinge en my goed vir die Here bruikbaar wees? Ek is dalk te stadig of ek is dalk te kort van draad of te moeilike mens – kan ek bruikbaar vir die Here wees? Kan ek vir die Here bruikbaar wees as ek nie is soos dié of daárdie persoon nie?
2. WIE WAS PAULUS?
Wie was die Paulus of soos hy ook bekend was: Saulus?
LEES Hand 26 v 9-11
Hand. 26:9 "Ek het self gedink dat ek alles in my vermoë moes doen teen die
Naam van Jesus van Nasaret.
10. Dit het ek toe ook in Jerusalem gedoen. Met die magtiging van die
priesterhoofde het ek baie van die gelowiges in tronke gestop, en as
hulle die doodstraf opgelê word, het ek daarmee saamgestem.
11. Dikwels het ek hulle in al die sinagoges laat straf om hulle te dwing om
hulle geloof af te sweer. Ek het hulle so gehaat dat ek hulle selfs in die
buitelandse stede vervolg het.
Watter woord hoor ons die meeste in die paar verse? Ja, die woord “ek”
Ons hoor hier van iemand wat baie ernstig was oor godsdiens, wat fanaties die struktuur van godsdiens wou verdedig en ten alle koste in stand wou hou. Wat selfs met geweld die kerklike strukture in stand wou hou – ‘n man wat met groot ywer gewerk het.
Kan die Here so iemand gebruik? Dan is die antwoord NEE – nie soos wat Paulus tóé was nie. Paulus se fókus moes eers verander voordat die Here hom kon gebruik as getuie.
3. PAULUS GEREFOKUS
Dan lees ons van hoe die fanatiese arrogante Paulus verander het – maar nie verander soos ons normaalweg dink nie.
LEES Hand 26 v 12 – 16
Hand 26:12-16 "Terwyl ek hieroor na Damaskus toe op reis was, met volmag
en in opdrag van die priesterhoofde,
13. het ek, U Majesteit, helder oordag langs die pad ‘n lig gesien wat uit die
hemel gekom het. Dit was helderder as die son en dit op my en
my reisgenote geskyn.
14. Ons het almal op die grond neergeval, en ek het ‘n stem in Hebreeus vir
my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Jy maak jou net seer
deur jou te verset.’
15. ‘Wie is U, Here?’ vra ek toe. ‘Ek is Jesus,’ sê die Here. ‘Dit is vir My wat jy
vervolg.
16. Maar staan op, staan regop. Ek het aan jou verskyn om jou as
my dienaar aan te stel. Jy moet getuie wees van wat jy van My gesien
het en van wat Ek jou nog sal laat sien.
Miskien is ons prentjie dat die wilde Paulus nou mak geword het, nou so ‘n vroom mannetjie geword het, wat net mooi praat en mooi dinge sê.
Alhoewel Paulus ‘n nuwe mens geword het - waar daar nie meer net die fokus op die eie ek is nie, waar dit nie meer net oor Paulus self gegaan het nie - het sy vurige geaardheid nie verander nie. Dit was nog steeds dieselfde Paulus wat nie geskroom het om te sê wat gesê moet word nie.
Ons gaan nou na ‘n paar voorbeelde kyk van hoe Paulus gemaak het – en dan sien ons sy aard het nie verander nie – dit was nog steeds die Paulus wat nie ‘n bang haar op sy kop gehad het nie – wat reg was was reg. As die Here Jesus se Naam in die gedrang gekom het, dan het Paulus ingeklim, sonder aansiens des persoons.
4. PAULUS VAT VIR PETRUS AAN
LEES Galasiërs 2 v 11-14
Gal 2:11-14 Toe Sefas egter later na Antiogië toe gekom het, het ek my openlik
teen hom verset omdat sy optrede duidelik verkeerd was.
12. Voordat daar van Jakobus se mense aangekom het, het Sefas gewoonweg
saam met nie-Joodse
gelowiges geëet. Maar toe dié mense daar aankom, het hy hom onttrek
en hom eenkant begin
hou, omdat hy bang was vir die voorstanders van die besnydenis.
13. Die ander Joodse gelowiges het ook saam met hom begin huigel, en selfs
Barnabas het hom deur
hulle huigelary laat meesleep.
14. Toe ek sien dat hulle van die reguit pad van die evangeliese waarheid
afwyk, het ek daar voor
almal vir Sefas gesê: "Jy is ‘n Jood, en jy hou jou nie meer aan die Joodse
gebruike nie. As jy self leef asof jy nie ‘n Jood is nie, hoe kan jy dan mense wat nooit Jode was nie, wil dwing om te lewe asof hulle Jode is?"
En so vat die Paulus toe die erkende kerkleier van daardie tyd aan, vir Petrus, en selfs vir die bekende Barnabas – en dit nogal in die openbaar – omdat Petrus meer besorg was oor die goeie verhouding met die Jode daar uit Jerusalem as oor die nuwe lewe wat Jesus Christus kom skep het.
Wat is die punt van die storie – ek hoef nie soos Paulus te wees om ‘n getuie vir die Here te wees nie. Ek hoef ook nie ‘n Petrus of ‘n wie ook al te wees om vir mense heen te wys na die Here Jesus nie.
- As ek iemand is wat my verhouding met die Here uitleef deur emosies, deur
opgewonde te wees oor Hom en wat Hy doen, dan is dit nie verkeerd nie – want
dit gaan nie oor my nie, maar oor die Here Jesus Christus.
- As ek iemand is wat eerder wil iets dóén vir die Here, wat eerder wil kos kook
of wil hulp gee vir mense, dan is dit goed so, want dit gaan nie oor my nie, maar
oor die Here Jesus – ek wil iets van Jesus deurgee aan mense.
- As ek iemand is wat in stilte en afsondering die Here wil aanbid, dan is dit
goed so.
- Of as ek iemand is wat goed my woord kan doen, dan is dit goed so – want dit
gaan nie oor my nie maar oor die Here Jesus.
Dink aan die voorbeeld van Marta en Maria in die Bybel – die Here Jesus het nie ‘n probleem gehad met die hardlopende Marta nie. Die Here Jesus het wel ‘n probleem gehad omdat Marta gedink het dat Maria, wat by die voete van Jesus gesit het, verkeerd was.
Die Here Jesus wil ons graag gebruik om sy getuies te wees in hierdie wêreld – juis nét soos ons is.
Ons kan nog baie voorbeelde noem van hoe die apostel Paulus opgetree het – bv 1 Kor 6 – daar skel hy die gemeente uit oor die dinge wat daar onder hulle gebeur.
5. DEUR DIE KRAG VAN DIE HERE
‘n Volgende vraag wat dalk in julle gedagtes broei is: Gaan ek maar net aan as gelowige om maar my dinge te doen en hopelik in die proses is ek ‘n getuie vir die Here? Anders gevra: is die Here ook betrokke by my optredes?
So het die Paulus later in die hofsaak daar in Jerusalem aangedring daarop om in Rome voor die keiser verhoor te word. En toe word hy vervoer as gevangene op ‘n skippie Rome toe oor die Middellandse see – met ‘n vreeslike storm.
Lees Handelinge 27 v 22-25
Hand 27:22 - 25 Selfs in hierdie omstandighede vra ek julle: Hou moed!
Niemand van julle sal sy lewe verloor nie. Net die skip sal vergaan.
23. Verlede nag het daar ‘n engel aan my verskyn van die God aan wie ek
behoort en wat ek dien.
24. Die engel het vir my gesê: ‘Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet nog
voor die keiser verskyn.
En ter wille van jou spaar God in sy goedheid die lewe van almal wat hier
saam met jou op die skip is.’
25. Daarom, hou moed, manne! Ek vertrou op God dat alles net so sal gebeur
soos Hy vir my gesê het.
Die storie vertel dat die Here sy engel gestuur het om vir Paulus en die ander te bemoedig – want dis die Here Jesus self wat vir Paulus in Rome wil hê – en daarom beskerm die Here vir Paulus sodat hy daar in Rome die boodskap kan bring.
Lees Handeling 28 v 30 – 31
Hand 28:30 Paulus het ‘n volle twee jaar lank in die huis gebly wat hy gehuur
het, en hy het almal ontvang wat hom kom besoek het.
31. Hy het die koninkryk van God verkondig en die mense alles oor die Here
Jesus Christus geleer.
Dit het hy gedoen met die grootste vrymoedigheid en sonder
enige verhindering.
6. ONS
Wat hoor ons vanaand? Net maar dit – dit is die Here wat my en my unieke geaardheid gebruik soos ek is, om vir Hom ‘n getuie te wees. Dis Hy wat my gebruik waar Hy my nodig het soos wat ek is.
Amen
Comments