OM GETUIE TE WEES VAN DIE HOOP WAT ONS HET
- Ds Abe Beyers
- Jun 8, 2015
- 9 min read

Sondag 6 Junie 2015 Jeremia 32 v 1-15
OM GETUIE TE WEES VAN DIE HOOP WAT ONS HET
Ds Abe Beyers
AANBIDDING
Stemmingslied
Erkenning van die Here
Die Here groet ons
Ons sing ‘n loflied – 188 v 1, 3
Kom, dank nou almal God met hart en mond en hande;
loof Hom wat wonders doen tot in die verste lande.
Van vroeg, van kindsbeen af, het Hy ons trou bewaar
en tot vandag toe nog geseën en gespaar.
Lof, eer sing ons voor God, die bron van alle lewe -
die Vader, Seun en Gees, almagtig en verhewe.
Drie-enig God, ons roem u krag en majesteit.
O Heer, ons wil U noem: ons God in ewigheid!
LUISTERTYD
Kleuterkerk – Linda vd Merwe
VERHOUDINGS-TYD
Wie is die Here? (Ps 8)
Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!
En nou ons?
As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?
U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp
Ons antwoord met Lied 267 v 1, 2
Ons Vader op diehemeltroon aan wie ons lof en eer betoon,
ons bid ootmoedig almal saam: Gee dat u Goddelike Naam
deur ons geken, geëer, gevrees - in alles mag geheilig wees.
Laat Heer u Koninkryk steeds kom in hierdie land en oral om.
Die skepping is u magsgebied waar u volmaakte wil geskied -
vanuit die hemel om u troon tot waar ons op die aarde woon.
WOORD-TYD
Gebed
Jeremia 32
OM HOOPDRAERS TE WEES
1. IETS DEURGEE VAN DIE HERE
Die afgelope Pinkstertyd het ons weer onder die indruk gekom dat ons getuies van die Here Jesus moet wees – of te wel ons moet deur ons optrede, deur ons woorde iets deurgee van die Here. Ons het besef dat die Here Jesus moet in ons sigbaar wees, ons moet iets uitstraal van Hom. Of anders gesê: die mense rondom my moet sien dat die Here Jesus vir my belangrik is, dat die Here Jesus ‘n verskil in my maak. Hulle moet sien dat ek anders optree as ander mense omdat die Here in my is.
Nou is die vraag dadelik: Hoe is ek ‘n getuie van die Here Jesus, hoe maak ek Hom sigbaar?
SING Lied 516
Al sou dan ook die vyeboom nie bot nie,
al sou die wingerd sonder druiwe staan;
die graan verdor, die vrugteboorde wegkwyn,
die beeste, kleinvee, alles hier vergaan -
Nog sal ek juig en bly wees in my God!
Hy is my hulp, Hy gee my krag.
Hy laat my loop waar rats die ribbok gaan;
Hy laat my vas en veilig staan
‘n Getuie vir die Here is iemand wat steeds in die Here se krag erken al is daar chaos, dis iemand wat ten spyte van omstandighede wat treurig is, deurgee dat die Here steeds in beheer is. Dis iemand wat hoop op God deurgee, al het niemand anders enige hoop meer nie.
2. SITUASIES
Kom ons dink nou net aan die situasies waarin ons kom – en wat maak ons daarmee?
- Vat nou maar die situasie van Suid-Afrika. Dit was die afgelope week weer oor
die nuus dat Suid-Afrika se kredietgradering net twee punte op die skaal weg is
van "gemors”. Maw die wêreldmening van Suid-Afrika se ekonomie is dat dit
baie onveilig is om geld hier te belê, dis ‘n hoë risiko. Nou is die vraag: wat maak
jy met die inligting? Hoe praat jy daaroor?
- Of die afgelope tyd het die verslag uitgekom dat die groeikoers van die land tans
maar net so bietjie oor die 1% is. Nou is die vraag weer: wat maak jy met die
storie?
- Of wat maak jy met die inligting oor die gemors waarin Port Elizabeth se
munisipalteit is?
- Of wat maak jy met die storie rondom die Nkantla-verslag en Zuma wat nie meer
hoef op te dok vir al die werk aan sy private woning nie?
Die profeet Jeremia en al die mense van die stad Jerusalem was in groot moeilikheid. Dit was die jaar 587vC en toe was dit nie meer ‘n geval van net gerugte van oorloë nie – die weermag van die Babiloniërs het klaar die stad beleër, hulle was rondom die stad. Dus kon niemand uitgaan of ingaan nie. Niemand kon gaan boer nie en kos produseer nie. Oral was daar hongersnood. En dit was nie al nie – die weermag het al begin om walle te gooi teen die stadsmure om dan op so 'n manier binne-in die stad te kom. Ons kan ons nie eers indink in die vrees van die mense daarbinne nie, want hulle is vasgekeer binne-in die stad. Dood is hulle voorland.
Die situasie word net met so twee versies beskrywe
LEES Jeremia 32 v 1-2
Jer 32:1 Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het in die tiende regeringsjaar van koning Sedekia van Juda. Dit was die agtiende regeringsjaar van koning Nebukadnesarvan Babel wie se leër juis toe vir Jerusalem beleër het. Die profeet Jeremia was in daardie tyd ingeperk in die binneplaas van die paleiswag van Juda.
3. 'n GETUIE SOOS JEREMIA
Die vraag is nou: hoe is jy ‘n getuie vir die Here in so ‘n situasie? Hoe praat jy dan?
Jeremia het eerstens van versoening gepraat en in toe in groot moeilikheid by sy eie koning gekom.
LEES Jeremia 32 v 3-5
Jer 32:3 Koning Sedekia van Juda het vir Jeremia daar ingeperk en gevra: "Waarom sê jy die dinge as profeet? Jy sê: So sê die Here: Ek gee hierdie stad in die mag van die koning van Babel. Hy sal dit verower.
4 Koning Sedekia van Juda sal nie vrykom uit die mag van die Galdeërs nie. Hy sal beslis uitgelewer word aan die koning van Babel en persoonlik met hom praat en hom met sy eie oë sien.
5 Die koning van Babel sal vir Sedekia na Babel toe vat, en hy sal daar bly, sê die Here. Dit is my straf vir hom. As julle teen die Babiloniërs oorlog maak, sal julle die neerlaag ly.“
Maar die woorde help ons nog nie baie nie. Die stukkie kan ons anderdag na kyk. Ons wil vandag weet wat moet ons sê in die moeilike situasies waarin ons kom?
LEES Jeremia 32 v 6-15
Jer 32:3 Koning Sedekia van Juda het vir Jeremia daar ingeperk en gevra: "Waarom sê jy die dinge as profeet? Jy sê: So sê die Here: Ek gee hierdie stad in die mag van die koning van Babel. Hy sal dit verower.
4 Koning Sedekia van Juda sal nie vrykom uit die mag van die Galdeërs nie. Hy sal beslis uitgelewer word aan die koning van Babel en persoonlik met hom praat en hom met sy eie oë sien.
5 Die koning van Babel sal vir Sedekia na Babel toe vat, en hy sal daar bly, sê die Here. Dit is my straf vir hom. As julle teen die Babiloniërs oorlog maak, sal julle die neerlaag ly.“
Jer 32:6 Jeremia het vir Sedekia geantwoord: "Die woord van die Here het tot my gekom:
7 Jou oom Sallum se seun Ganamel sal na jou toe kom en sê: ‘Koop my stuk grond wat in Anatot is vir jou, want volgens die lossingsreg moet jy dit koop.’
8 "Soos die Here gesê het, het my neef Ganamel na my toe gekom in die binneplaas van die paleiswag en vir my gesê: ‘Koop tog my stuk grond wat in Anatot is in die gebied van Benjamin. Dit is jou reg om dit te besit, jy het die lossingsreg. Koop dit vir jou.’ Ek het toe geweet dit is die woord van die Here
vir Baruk seun van Nerija, seun van Magseja, en ek het die stuk grond wat in Anatot is, by my neef Ganamel gekoop. Ek het vir hom twee honderd gram silwer afgeweeg.
10 Nadat ek die kontrak geskryf en die seël daarop gesit het en dit deur getuies laat teken het, het ek die silwer vir hom afgeweeg op ‘n skaal.
11 Toe het ek die koopkontrak met die voorwaardes en die bepalings daarop, die kontrak met die seël en die afskrif sonder seël, gevat en in die teenwoordigheid van my neef Ganamel en van die getuies wat dit geteken het en van al die Judeërs wat in die binneplaas van die paleiswag gesit het, gegee.
13 "In hulle teenwoordigheid het ek vir Baruk beveel:
14 ‘So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Vat hierdie dokumente, die koopkontrak met die seël en die afskrif sonder seël en sit hulle in ‘n kleipot sodat hulle lank kan hou, want so sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Daar sal weer huise en grond en wingerde in hierdie land gekoop word.’
Wat doen Jeremia hier? In die verskriklike situasie waar almal in vrees en angs is, gee hy op ‘n baie praktiese manier ‘n boodskap van hoop deur. Net om te verduidelik. Destyds was geld in die vorm van silwer- of goud-stukke. Dis iets wat jy met jou kon saamneem en die waarde daarvan het orals gegeld. Nie soos ons geld vandag nie. Maar as ‘n land destyds op die punt was om totaal verwoes te word, het niemand grond gekoop nie – want wat het eiendomsreg nou beteken as die vreemde nasie alles kom verwoes het? Jeremia doen dus ‘n dom ding uit ‘n besigheidsoogpunt.
Maar wat hy doen is om ‘n boodskap van hoop deur te gee – dat al is die omstandighede hoe droewig, die Here se mag is groter as die moeilikheid. Hy bring ‘n boodskap van hoop.
4. HOE KAN ONS GETUIES WEES?
Kom ons maak dit nou prakties. Hoe kan ek vandag ‘n boodskap van hoop deurgee?
n Paar weke gelede is daar die Sondagaand op RSG ‘n program waar die finansies van die land bespreek word. Die een ekonoom pak toe uit van hoe sleg dinge is, die groeikoers van die land is minder as twee present en die werkloosheid is so vreeslik hoog, ens. En toe val iemand die ekonoom in die rede en sê: “weet jy, daar is darem ook dinge wat reg gedoen is, dinge wat goed is – kyk net na hierdie syfers, kyk net wat het daar gebeur”
Dis vir my ‘n voorbeeld van iemand wat positief is, wat hoop bring, wat lig in die donker bring. Dis ‘n voorbeeld van iemand wat hoop bring by mense, wat deurgee dat die alles nie verlore is nie.
Wat Christen-wees beteken is dat ons draers van hoop moet wees. Wanneer mense in vrees verval, beangs raak – dat jy dan die draer van die hoop moet wees.
5. ONS MOET NIE IN ONTKENNING WEES NIE
Dit mag nou klink asof getuie-wees beteken dat ek as daar moeilikheid is, my kop in die sand moet steek soos ‘n volstruis, maar dis nie waaroor dit gaan nie. Die profeet Jeremia het presies geweet wat aangaan. Wat hy gedoen het was om te sê: dit is die situasie, maar daar is hoop by die Here, daar is ‘n toekoms saam met die Here. Hy het hoop gebring in die situasie.
6. ERKENNING
Dit was nie net die profeet Jeremia wat so die grootsheid en mag en krag van die Here erken het in die situasie nie. Dié styl sien ons dwarsdeur die Bybel
Dink nou maar aan die Here Jesus daar in Matteus 6.
LEES Matteus 6 v 31-33
Mat 6:31 "Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie.
32 Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.
33 Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.
Of dink aan die apostel Paulus daar in Filippense
LEES Filippense 4 v 4-7
Fil 4:4 Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!
5 Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby.
6 Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.
7 En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
‘n Laaste storie. Die bekende Amor Bekker van RSG probeer toe die dag tydens ‘n inbelprogram vir die mense aanmoedig om positiewe dinge te vertel, om te vertel van iets wat reg is, wat goed gaan, wat mooi is. Sy het maar naderhand die program gestop, want die mense wat inbel het niks positiefs om te sê nie, hulle kan dit nie doen nie.
7. OPROEP
Dit maak mens soms moedeloos om by ‘n groep mense te kom en al wat hulle oor kan praat is hoe sleg dinge is, hoe verskriklik daardie mense is – alles net negatief.
En daarom wil ek elkeen vandag uitnooi om weer te begin werk daaraan om met jou styl te getuig dat die Here daar is, dat Hy die magtige een is.
ANTWOORD
Lied 433 v 1, 4
Kom, Skepper-Gees, kom gee u seen en laat die oes sing in die reën.
Die boom dra vrugte by 'n stroom en mense pluk 'n nuwe droom.
U, Skepper-Gees, kom by ons bly,dring ons om ons aan God te wy.
Leer U ons om met hoop te sug, ons oë op ons Heer te rig.
DANKBAARHEID
Offergawes
Laaste Lied – 488 v 1, 2, 4
Helder skyn u lig vir die nasies, 'n vreugdeglans om die mense te verlig
tot die hele wêreld kan sien U is die lig.
Mag u lig, Heer, deur ons skyn.
Vrolik klink ons lied vir die volke,'n pryslied bring al die nasies om ons saam
tot die hele wêreld kan jubel oor u Naam
Mag u lof, Heer, deur ons klink.
Heer, u Woord gee hoop aan die nasies; 'n hartvol hoop om die volke te verbly
tot die hele wêreld kan glo dat U bevry.
Mag U hoop, Heer, deur ons gee.
DIE HERE SE BELOFTE
Sy magtige teenwoordigheid
Comments