top of page

ABRAHAM GETUIG VAN DIE HERE

  • Ds Abe Beyers
  • May 31, 2015
  • 7 min read

Ingang na Aberdeen_edited.jpg

Maandag Genesis 12 en 13

PINKSTERDIENS Maandag 18 Mei 2015

ABRAHAM GETUIG VAN DIE HERE

Ds Abe Beyers

1. GETUIES

Lees Handeling 1 v 6-8

Hand 1:6 Toe hulle ‘n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: "Here, is dit nou die tyd dat U die Koninkryk vir Israel weer gaan oprig?"

7. Hy het hulle geantwoord: "Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie.

8. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld."

Die opdrag: julle sal My getuies wees, is natuurlik nie iets wat vir die eerste keer 2000 jaar terug daar buite Jerusalem gesê is nie. Dit was die Here se bedoeling van die begin af dat ons as gelowiges sal heenwys na Hom toe, vir Hom ‘n getuie wees. Ons lees al in Genesis 1 dat die Here die mense as sy beelddraers geskep het – om van die begin af iets van die Here uit te dra waar hulle kom.

Ons gaan nou vanaand kyk na die bekende Abraham se getuienis – wat het hy van die Here af oorgedra na die mense toe waar hy gekom he?, Hoe lyk die prentjie wat sy lewe en doen en late van die Here vertel het?

Miskien help dit vir ons vanaand om weer opnuut te kyk na onsself, na ons getuienis.

2. OPDRAG EN BELOFTE

LEES Genesis 12 v 1 – 3

Gen 12:1 Die Here het vir Abram gesê: "Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.

2. Ek sal jou ‘n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ‘n seën wees.

3. Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees."

Kom ons kyk eers na die Opdrag wat die Here in die paar woorde aan Abraham gee:

- Trek weg van jou land en jou mense af

- Jy moet tot ‘n seën wees,

Ons kan die eerste opdrag heel goed verstaan, dis baie eenvoudig. Die tweede opdrag is egter so ‘n bietjie moeiliker om duidelik te omskryf. Dit is iets soos: jy moet tot die welwese van mense optree waar jy kom, of dan nou: jy moet sorg dat hulle regverdig behandel word, dat vir hulle voorsien word liggaamlik. Wat ook al die detail daarvan is, ons hoor dat Abraham moet omgee vir die mense waar hy kom. Of dan anders gesê: Abraham moenie maak soos tipies was van die heersers van daardie tyd om met geweld ‘n pad skoon te maak en almal voor die voet te verwoes nie – hy moet omgee vir die mense waar hy kom.

Maar dan lees ons van al die Beloftes wat die Here gee vir Abraham.

- Die Here sal vir Abraham wys waarnatoe om te trek

- Die Here sal vir Abraham ‘n toekoms gee, sy lewe gaan voort deur sy kinders

- Die Here sal vir Abraham ‘n invloedryke persoon maak

- Die Here sal vir Abraham beskerm teen die aanslae van mense en dinge

- Die Here sal van Abraham ‘n verteenwoordiger maak

En nou kan ons kyk na hoe het Abraham die opdragte van die Here uitgevoer, of te wel, toe hy in die verskillende situasies kom, het hy hom toe steeds aan die opdragte van die Here gehou en was hy in al die situasies waar hy gekom het, ‘n getuie van die Here?

3. TOETS EEN

Die eerste toets was nou die stukkie van die wegtrek van sy eie mense af.

LEES Gen 12 v 4-5

Gen 12:4 Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here, en Lot het saam met hom getrek. Abram was vyf en sewentig toe hy uit Haran weggetrek het.

5. Hy het sy vrou Sarai en sy broerskind Lot en al die besittings wat hulle bymekaargemaak het en al die slawe wat hulle in Haran aangeskaf het, saamgevat en hulle het weggetrek na Kanaän toe. Nadat hulle in Kanaän aangekom het,

Dit klink nou so eenvoudig – Abraham het getrek – maar dit was nie so eenvoudig nie. Jy het nie net vir Biddulphs gebel dat hulle jou meubels kom laai en jyself het in jou Toyota geklim en daar gaan jy nie. Dink nou net aan al sy familie-verbintenisse, of aan sy vrou se familie. Daardie dae het mense nie rondbeweeg soos ons nie. As jy wou reis, moes jy loop. En Abraham was nie meer jonk nie. En wat dan nou van al sy besittings en dinge?

Maar Abraham het gelowig weggetrek met sy diere en besittings en al, sonder om presies te weet waarnatoe.

En daarmee het hy iets vertel van die betroubaarheid van die Here – as die Here vir jou iets sê, dan kan jy Hom op sy woord neem.

4. TOETS TWEE

Abraham het toe uiteindelik in die land Kanaan aangekom – van die reis soontoe weet ons niks nie. Maar hy kom toe in die vreemde land aan. En nou is die vraag: wat gaan hy daar doen? Die gedagte in daardie dae was dat jy op jou grond bly en dan het jy jou god daar wat vir jou sorg – die gode van die Kanaänniete was die gode van daardie gebied, en jy respekteer dit – in Kanaän maak jy soos die Kanaäniete.

LEES Gen 12 v 6-8

Gen 12:6 Nadat hulle in Kanaän aangekom het, het Abram deur die land getrek tot by Sigem se aanbiddingsplek by die groot waarsêersboom. In daardie tyd het die Kanaäniete die land bewoon.

7. Toe het die Here aan Abram verskyn en vir hom gesê: "Aan jou nageslag gee Ek hierdie land." Abram het daar ‘n altaar gebou vir die Here wat aan hom verskyn het.

8. Van daar af het Abram verder getrek na die bergwêreld toe, oos van Bet-El, waar hy tent opgeslaan het met Bet-El aan die westekant en Ai aan die oostekant. Daar het hy ‘n altaar vir die Here gebou en die Naam van die Here aangeroep.

Maar die wonderlike nuus is dit: Abraham staan vas – daar in die vreemde, tussen die Kanaäniete bou hy ‘n altaar vir die Here en hy roep die Naam van die Here aan; hy erken die teenwoordigheid en almag van die Here God.

Sekerlik sou die Kanaäniete gevra het: wat maak julle nou? En miskien het Abram toe vir hulle vertel, maar dit weet ons nie.

Sommer net so terloops – ek luister laasjaar na die storie van jagters wat ver weg van die huis af kom jag het hier in Aberdeen – dit lyk vir my nogal dat mense, as hulle op ‘n vreemde plek kom daar waar niemand vir hulle ken nie, dat hulle so ‘n bietjie uithaak…

5. TOETS DRIE

Tot hiertoe was die omstandighede waarin Abraham geleef het, nog goed gewees – dit het nie so naby aan sy vel gekom nie. Sy boerdery het goed aangegaan en die vee het kos gehad. Maar toe verander die omstandighede; daar kom droogte en daar is nie meer kos nie en dinge gaan agteruit en nou moet Abraham ‘n plan maak, want dit lyk nie of die belofte van die Here se versorging meer so duidelik is nie.

Lees Gen 12 v 10 – 13

Gen 12:10 Daar was hongersnood in die land, ‘n baie swaar hongersnood, en Abram het na Egipte toe getrek om daar ‘n heenkome te vind.

11. Toe hy op die punt staan om Egipte binne te gaan, sê hy vir sy vrou Sarai: "Ek weet jy is ‘n mooi vrou.

12. Wanneer die Egiptenaars jou sien, sal hulle sê: ‘Dis sy vrou,’ en hulle sal my doodmaak, maar vir jou sal hulle laat bly lewe.

13. Sê tog maar jy is my suster dat dit met my goed kan gaan oor jou, en my lewe deur jou toedoen gespaar word."

En daar, sien ons, gebeur die hartseerstorie – Abraham los die land Kanaän waar die Here vir hom beloof het dat Hy sal sorg en hy sit met alles af Egipte toe. En daardeur het Abraham getuig dat as dit droog is, as jou ekonomiese omstandighede nie so seker is nie, dan kan die Here nie vir jou versorg nie.

En dan ook nog verder: as daar lewensbedreigende omstandighede is, so vertel Abraham met sy optrede, dan kan die Here ook nie meer beskik en beskerm nie, dan moet jy maar ‘n halwe waarheid vertel om jouself te red, want die Here kan jou dan nie meer beskerm nie.

Die goeie nuus vir ons is dat die Here nie sy belofte aan Abraham verbreek het nie, al het Abraham so van die Here vergeet. Die Here het dit toe so beskik dat Abraham weer terug is in Kanaän. (ek gaan nie daardie hele storie lees nie, gaan lees dit maar self. )

6. TOETS VIER

En nou is die vraag – wat was die uitwerking van hierdie hartseer episode in Abraham se lewe? Het hy meer van die Here se trouheid geleer toe hy juis so ver weg van die Here af was?

Dit lyk of Abraham toe juis die meeste van die Here se omgee en trou geleer het, juis toe hy daar was waar hy nie moes wees nie.

LEES Gen 13 v 8-9

Gen 13:8 Toe sê Abram vir Lot: "Daar behoort nie ‘n getwis te wees tussen my en jou en tussen my veewagters en joune nie, want ons is familie.

9. Die hele land lê oop voor jou. Gaan jy liewer weg van my af. As jy links gaan, gaan ek regs; en as jy regs gaan, gaan ek links."

In dié storie sien ons ‘n ander Abraham: hy kon, omdat hy die oudste is (Lot se oom) die eerste keuse kry, hy kon vir hom die beste kies – maar Abraham staan terug: hy laat vir Lot eerste kies. En Lot kies natuurlik vir hom die beste grond – die grond daar onder langs die Jordaanrivier waar daar volop water is.

Maar dan kom die wonderlike oomblik: Toe Lot so oor die bult verdwyn af Jordaan toe, toe kom staan die Here by Abraham en Hy bevestig weer vir Abraham: “Ek sal vir jou sorg”.

7. ONS

Ons kan nou nog verder deur die getuienis van Abraham blaai – maar ek dink ons het iets gesien van hoe moeilik dit aan die een kant is om in alles situasies vir die Here ‘n getuie te wees.

- Dis moeilik om iets van die sorg van die Here oor te dra aan mense, as dit aan jou lewe kom vat,

- dis moeilik om jou vertroue in die Here uit te leef as die situasie ongemaklik is.

Maar ook die wonderlike is, is dat die Here getrou bly al is ons ontrou.

Mag die Here in sy groot genade weer vanaand vir ons bewus gemaak het van sy troue liefde

– daarvan kan en moet ons getuies wees.

Amen


 
 
 

コメント


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page