WANNEER DIE KERK JESUS SIGBAAR MAAK.
- Ds. Abe Beyers
- May 26, 2015
- 7 min read

Sondag 24 Mei 2015 PINKSTERFEES
WANNEER DIE KERK JESUS SIGBAAR MAAK.
Ds. Abe Beyers
ONTMOETING
• Ons erken die Here saam deur sang van Marlene Havenga
• Die Here groet ons
• Ons sing ‘n Lied vir die Here – 292 v 1, 2
My enigste troos in lewe en dood
is dat ek aan Jesus Christus behoort.
Met sy kosbare bloed het Hy my vrygekoop
dis my anker, my vaste hoop.
Ek behoort aan die Here.
Niks sal my ooit van Hom kan skei.
Met sy kosbare bloed het Hy my vrygekoop
dis my anker, my vaste hoop.
Die doop is die seël dat die Heilige Gees
my ‘n kind van God, die Vader laat wees.
Sy onfeilbare Woord is die gids wat ons lei;
deur sy liefde bewaar Hy my.
Ek behoort aan die Here.
Niks sal my ooit van Hom kan skei.
Sy onfeilbare Woord is die gids wat ons lei;
deur sy liefde bewaar Hy my.
Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.
Ons antwoord met Lied 308 v 1, 3, 5
Neem my lewe, laat dit, Heer,
U gewy wees meer en meer.
Laat my hart gedurig juig
en van dankbaarheid getuig.
Neem my stem en laat my sing
aan U, Here, hulde bring.
Laat my mond dié boodskap dra:
Hul sal vind wat na U vra.
Maak my hart vir U tot troon
deur u Gees wat in my woon.
Rig my wil, gevoel en daad
altyd na u wyse raad.
WOORD-TYD
1. Kleuterkerk
VERHOUDING
Wie is die Here? (Efes 1 v 18)
Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo
En nou ons? (Efes 2 v 10)
Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.
WOORD-TYD
2. OM JESUS SIGBAAR TE MAAK
Die afgelope week het ons saam gekyk na hoe mense deur hulle lewe die Here sigbaar gemaak het.
- Abram het iets vertel van die Here se omgee vir mense deur nie tot geweld oor te gaan nie.
- Paulus het die Here ontmoet en toe kon hy iets van daardie hoop deurgee aan die mense op die sinkende skip in die Middellandse see.
- Of Petrus kon iets ervaar van die Here Jesus se vergifnis en genade, wat hy toe later kon deurdra na ander mense.
- Of ons het gekyk na Barnabas wat iets van die Here kon deurgee toe hy vir Paulus eers uitgeluister het.
- Of Filippus het geduldig aangesluit by die Etiopiër se gedagtes
Maar dit was indiwiduele gelowiges – hoe kan die hele groep van gelowiges, hoe kan die kerk, die gemeente, saam iets van die Here sigbaar maak in die wêreld?
3. HOE DOEN ONS DIT?
LEES Efes 4 v 1
Ef 4:1 Ek druk julle dit op die hart, ek wat ‘n gevangene is omdat ek die Here dien: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het.
Eers sê Paulus in die algemeen dat die gelowiges se lewenswandel in lyn moet wees met die Here se verbintenis met hulle, of dan nou: dat hulle soos kinders van die Here moet lewe. Die Here Jesus het vir hulle begenadig, spesiaal uitgesonder uit baie ander uit om in ‘n verbintenis te staan met hulle. Of anders gesê: die Here Jesus het vir hulle begenadig, daarom moet hulle soos begenadigde mense leef.
Maar dit help ons vandag nie so baie nie – want ons weet die dinge mos, ons weet mos nou ons moet as kinders van die Here leef in die wêreld. Daarom moet ons verder kyk na wat Paulus skrywe
LEES Efes 4 v 2
Ef 4:2 Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde.
Hier skryf Paulus nou die detail van hoe die gemeente die Here kan sigbaar maak in hierdie wêreld waarin ons lewe. Hy gee vir ons vier woorde.
- Wees altyd beskeie. Daarmee bedoel hy iets soos: wees nederig, moenie jouself voorop druk nie, dit moenie oor jou gaan nie. Maw die gemeente as indiwiduele gelowiges, maar die gemeente as geheel se styl moet wees die van beskeidenheid, van terugstaan, nie die van mag en gesag nie.
- Wees vriendelik. Dit beteken iets soos onselfsugtigheid of sagtheid.
- Wees geduldig. Die styl van die gemeente moet iets wees van geduld met die swakheid van mense, of dan nou moenie so gou opgee op mense nie, moenie mense afskryf wat sukkel of wat nie so vinnig of goed of sterk soos jy is nie.
- En dan: verdra mekaar omdat ons vir mekaar omgee.
Sommer net so terloops – let op dat Paulus nie sê dat almal in die gemeente dieselfde moet wees nie. Daar is verskille, almal is nie ewe ver gevorderd nie, almal doen nie dinge dieselfde nie, almal se aard is nie dieselfde nie, almal het nie dieselfde opleiding of kennis nie – maar dis juis die groot advertensie van ‘n gemeente – die klomp uiteenlopende mense is saam met mekaar in vrede, en kan ons dit waag om te sê: hoe groter die verskille in die gemeente, hoe groter is die advertensiewaarde vir die Here.
Dit gaan daaroor dat mense van buite sien dat die Here Jesus regtig wonderlik is wat so ‘n ou spul in vrede kan laat saamleef.
En daarom kom Paulus met sy volgende opdrag
LEES Efes 4 v 3
Ef 4:3 Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.
Weereens – Paulus sê nie dat ons nie verskille het nie, dat almal dieselfde moet wees nie, maar hy sê dat ons in vrede moet saamleef – dat ons almal die een fokus op die Here moet hê, een van gedagte oor die Here.
My goeie ou vriend het dit so gestel: Moenie dat julle verskille geskille word nie
4. HULPMIDDELS
Om in hierdie vrede met mekaar te lewe het die Here Jesus genadiglik ook vir ons ‘n klompie hulpmiddels gegee.
LEES Efes 4 v 11 - 12
Ef 4:11 En dít is die "gawes" wat Hy "gegee het": apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars.
12 Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus.
Die Here se plan is nou om mense af te sonder en toe te rus, sodat hulle ook weer ander kan toerus, kan help, kan vertroos – alles sodat die gemeente in vrede en liefde leef, sodat die gemeente nie deur die dinge daarbuite oorweldig word nie, sodat ons nie ontstig en ontstel word en ontwrig word deur die goed wat gebeur nie – want ons moet mos as gemeente iets uitstraal van die Here Jesus.
5. LIGGAAM
Ek wonder of een van julle al die boek gelees het van: Die siel van die mier (Eugene Marais)? Maar wat hy daarin vertel is dat ‘n miernes wat vir ons so deurmekaar lyk, gaan nie oor indiwiduele miere nie – hulle vorm saam een liggaam wat totaal as ‘n eenheid werk, die liggaam soek kos en die liggaam produseer.
Die kerk kan vergelyk word daarmee – dis ‘n eenheid wat ten doel het om iets sigbaar te maak van die Here Jesus.
Paulus praat ook daarvan:
LEES Efes 4 v 16
Ef 4:16 en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ‘n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde
Of soms sien ‘n mens swerm voëls wat so saam in die lug vlieg. Dit bestaan uit duisende voëls wat elk afsonderlik vlieg, maar hulle vorm saam ‘n groot wolk van voëls wat soos ‘n organisme beweeg. Maar daarvoor het ons hulp nodig - die hulp van die Heilige Gees.
6. OPROEP
Daarom word ons almal opgeroep om net soos die gelowiges destyd na Jesus se hemelvaart vir die Here te bid dat die Gees weer vir ons hier in Aberdeen ‘n nuwe fokus sal gee – ‘n fokus op Hom sodat ons duidelike getuies vir Hom sal wees - bid vir nuwe passie om Jesus sigbaar te maak.
ONS ANTWOORD
Ons antwoord deur die Lied van Marlene
Saamsing – Lied 253 v 1 en 2
U het die brood gebreek eens by die meer
breek nou die lewensbrood vir my ook, Heer.
Wil steeds u waarheid meer aan my ontvou
tot ek ook in u Woord my Heer aanskou.
U is die lewensbrood, Heiland, vir my.
U is die waarheid, Heer, U maak my vry.
U beeld straal uit die Skrif so helder voort -
U soek ek, Heer, Uself,
o Lewend' Woord.
HERINNERINGS-ETE
Aan tafel
DANKBAARHEID
Offergawes
Laaste Lied – 488 v 1, 3, 4, 5
Helder skyn u lig vir die nasies,
'n vreugdeglans om die mense te verlig
tot die hele wêreld kan sien
U is die lig.
Mag u lig, Heer, deur ons skyn.
Balsem bring herstel vir die wonde,
'n sagte salf vir die mense met hul seer
tot die hele die wêreld kan sien
dat U genees.
Mag U troos, Heer, deur ons bied.
Heer, u Woord gee hoop aan die nasies;
'n hartvol hoop om die volke te verbly
tot die hele wêreld kan glo dat U bevry.
Mag U hoop, Heer, deur ons gee.
U is Koning, Heer, oor die aarde.
Die mense vra na u wil om U te eer
Tot die hele wêreld kan juig dat U regeer
Laat u ryk, Heer, in óns kom!
Laat u ryk, Heer, deur óns kom!
Laat u ryk, Heer, oral kom!
BELOFTE
Die Here is met sy krag by ons teenwoordig
Comentarios