top of page

GETUIE VIR DIE KONINGSKAP VAN JESUS – WIE EK?

  • Ds. Abe Beyers
  • May 18, 2015
  • 8 min read

kANSEL pragtig_edited.JPG

17 Mei 2015 Matteus 14 v 22 – 33

GETUIE VIR DIE

KONINGSKAP

VAN JESUS – WIE EK?

Ds Abe Beyers

ONTMOETING

 Ons aanbid die Here met

Lied 214 v 1, 2, 3

Here, ons sal U loof, u weldade roem.

U Naam sal ons eer, almagtige Heer,

want U het wonders gedoen.

Here, ons sal U loof. U het ons verlos,

uit duister bevry; ons harte verbly -

dit het u lewe gekos.

Here, ons sal U loof, u weldade roem.

Dis U wat voorsien, ons wil U graag dien

en U ons Vader noem

ONTMOETING

 Hy groet ons

 Ons sing tot sy eer Lied 205 v 1, 2

Bring lof aan die Vader, verheerlik die Seun,

vir liefde, genade, verlossing en steun –

dat elkeen wat glo nie verlore mag gaan

maar ewig voor Hom as verloste kan staan.

Loof die Heer, loof die Heer - sing, gelowiges, saam!

Loof die Heer, loof die Heer - prys sy heilige Naam!

Hy kom uit genade ons sondes versoen

dat ons Hom vrymoedig ons Vader kan noem.

Ons lof aan die Skepper wat altyd getrou

sy kerk hier bewaar, dit vernuwe en bou –

ons bly inspirer en ons stuur deur sy Gees

om sout en om lig vir die wêreld te wees.

Refrein:

VERHOUDINGSTYD

 Kleuterkerk – Magda Smit

 Wie is die Here?

Ons sing lied 212 v 1

Loof die Heer, Hy is goed, loof sy heilige Naam;

laat alles in die groot heelal die Here loof.

Ek wil die Here loof (ek wil die Here loof),

loof met my hele hart (loof met my hele hart)

Hy gee hul wat roep, weer nuwe krag.

Hy't my sonde vergeef en Hy maak my sy kind -

laat alles in die groot heelal die Here loof.

Refrein:

WOORD-TYD

 Gebed

 Woord – Matteus 14 v 22 – 33

GETUIE VIR DIE KONINGSKAP VAN JESUS – WIE EK?

1. JESUS IN DIE HEMEL

Iemand vra onlangs: “waar is Jesus nou, wat doen Hy?” Nou ons almal sal dadelik antwoord: wel Jesus is nou in die hemel – ons het dan nou Donderdag die dag herdenk toe Jesus opgevaar het na die hemel toe.

Voor ons die vraag beantwoord oor wat Jesus daar doen, moet ons eers weer dink oor waar is die hemel dan nou? En daarop moet ons nou verrassend antwoord: nie ver nie, sommer hier rondom ons, binne hoorafstand – ons kan dit net nie sien nie.

En nou die vraag: wat doen Jesus dan nou daar in die hemel, of dan, wat doen Hy hier rondom ons vanuit sy hemelwêreld? Die Bybel gebruik drie woorde om te vertel wat die Here Jesus doen:

- Hy is soos ‘n Profeet wat die Vader se woorde aan ons oordra

- Hy is soos ‘n Priester wat ons nood en gebede en gedagtes aan die Vader oordra

- Hy is soos ‘n Koning wat heers oor die natuur, oor die kwaad

En dan is die volgende vraag: Waar kom ons nou in die prentjie, wat het Jesus se werk nou met ons te doen, en wat moet ons doen? Die Here Jesus kon self sy werk hier gedoen het – Hy is mos Profeet, Priester en Koning – maar die Here Jesus het verkies om ons in te trek in sy werk in. Ons kan daarvan lees in Handelinge:

LEES Handelinge 1v6-8

Hand 1:6 Toe hulle ‘n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: "Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?"

7 Hy het hulle geantwoord: "Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie.

8 Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld."

Daar val die klem nou op – “gaan U nou die nuwe wêreld oprig?” – dan kom die antwoord: “Nee, julle gaan My getuies wees”.

Maw – ons werk hier op aarde as kinders van die Here is om Getuies te wees van Jesus, van hoe Hy is; ons werk is om mense heen te wys na Jesus toe, om ‘n advertensie te wees van wat Hy doen.

Ons kan dit so verduidelik: Ons moet nou self soos ‘n Profeet wees wat die woorde van die Here kom deurgee aan mense; of ons moet nou self ‘n Priester wees wat die nood van mense aan die Vader gaan oordra; of ons moet nou self soos ‘n Koning wees wat heers oor die kwaad in en rondom ons – dan wys ons mos Jesus vir die mense, dan wys ons mos wat Jesus doen, dan is ons mos Getuie van die Here Jesus.

2. VOORBEELD VAN KONINGSKAP

Kom ons kyk nou na ‘n voorbeeld van destyds toe Jesus vir die dissipels gewys het dat Hy die Heerser is, dat Hy Koning is oor die kwaad in die skepping.

LEES Matteus 14 v 22-27

Mat 14:22 Net daarna het Jesus sy dissipels in die skuit laat klim om solank voor Hom uit te vaar na die oorkant toe terwyl Hy nog eers die mense huis toe laat gaan.

23 Nadat Hy die mense weggestuur het, het Hy alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen.

24 Die skuit was reeds ‘n paar kilometer van die kus af en is deur die golwe geteister, want die wind was van voor.

25 Met dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom

Dis nou ‘n pragtige storie van die krag van die Here Jesus – Hy loop op die water, Hy is Here ook oor die kragte van die natuur.

26 Toe sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle groot geskrik en gesê: "Dis ‘n spook!" Van angs het hulle hard begin skreeu.

27 Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê. "Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie."

3. NOU ONS

Maar nou kom dit nou mos na ons kant toe. Ons moet mos nou Getuies wees van die Heerskap van Jesus – nou HOE moet ons dit nou doen?

Daar is twee maniere: of ons kan die storie vertel van die mag en krag van die Here Jesus – sodat mense op Hom kan vertrou. Of ons kan dit self doen, self die koningskap, die krag wys.

En die een voorbarige dissipel van Jesus, dis nou Petrus wou toe ook soos Jesus sy heerskappy wys oor die krag van die natuur.

LEES Matteus 14 v 28-30

Mat 14:28 Toe sê Petrus vir Hom: "Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom."

29 "Kom!" sê Hy. Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom.

30 Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: "Here, red my!"

Nou is die vraag dadelik: Hoe moet ons nou vandag die heerskappy oor die magte wys vir mense? Hoe moet ons nou hierin Getuie wees van Jesus?

Ek dink nie dis vir ons nodig om oor ons swembad of die dam daar op die plaas te loop om Jesus se krag ten toon te stel nie… Daar is soveel eenvoudige maniere om die krag van die Here te wys – en daarmee sukkel ons ook maar net so baie.

Dink nou maar aan die opdrag van die Here Jesus: moet julle nie bekommer nie, moenie paniekbevange raak nie. Nou is daar ‘n moeilike situasie, daar is onsekerheid – en nou moet jy deur die krag van die Gees van God wat in jou werk, nie toelaat dat die angs jou oorweldig nie. En jy bly staan, en jy bly vol hoop – en dan kom daar skielik weer nog ‘n storie wat iemand aandra van dit of dat wat gebeur het, en daar raak jy skoon paniekbevange en angstig – en daar sink jy soos Petrus.

Of dink nou aan die opdrag van die Here Jesus: moenie kwaad met kwaad vergeld nie, moenie wraak neem nie. Nou moet jy getuie van die krag van die Here wees deur nie wraak te neem nie. En dit gaan goed, jy verdra die aanslae en beskuldigings – maar skielik kom iemand met so ‘n dwars opmerking – en daar, wel, sink jy soos Petrus.

Of dink nou aan die Vrugte van die Gees wat daar in Galasiers 5 genoem word – en hoe gereeld sink ons maar net soos Petrus

- Liefde, maar ag ek het toe net weer aan myself gedink en nie omgegee vir iemand anders nie

- Vreugde, maar ag ek het toegelaat dat die woede my hele wese oorweldig

- Vrede, maar ag, ek het al weer kwaad gesaai, verhoudings verwoes

- Geduld, maar ag, ek het al weer die Here vooruit geloop en iemand gaan regsien

- Vriendelikheid, maar ag, ek het al weer vir my toegemaak vir ander mense

- Goedhartigheid, maar ag, ek het al weer die kwaad in ander gesien

- Getrouheid/Nederigheid/Selfbeheersing, maar ag ek het al weer gesink soos Petrus

Let op net wat die apostel Paulus verder daar in Galasiers 5 sê:

LEES Gal 5 v 24

Gal 5:24 Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig.

25 Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.

4. SY OORWINNING OOK DEUR MY SWAKHEID

Genadiglik is die storie van Petrus nie klaar nie. Die wonderlike van heerskappy van die Here Jesus is dat Hy sy krag toon ook daar waar ons misluk, daar waar ons ons doel mis, of te wel daar waar ons sink soos Petrus.

LEES matteus 14 v 31-33

Mat 14:31 Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: "Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?"

32 Hulle het toe in die skuit geklim, en die wind het gaan lê.

33 Die manne in die skuit het voor Jesus gekniel en gesê: "U is waarlik die Seun van God."

En weereens toon Jesus sy krag en heerskappy deur die sinkende Petrus te gryp en weer op te tel – en weer vir hom die lewe te gee.

Die troos in die laaste stukkie is dat selfs as ons misluk, as ons oorweldig word deur die omstandighede en daar sink ons soos Petrus, dat die Here vir ons gryp en optel – en daardeur word sy krag en genade sigbaar – sodat ons ook baie verleë moet erken dat Jesus die Seun van God is, dat Hy die Here is.

Maar daar is ook die anderkant: die Here wil ons leer om staande te bly, om ‘n getuie vir sy krag en mag te wees, al val ons ook soos ‘n babatjie wat leer loop.

Mag die Gees van die Here dan ook elke dag vir jou die krag gee om staande te bly, om oorwinnend oor die kwaad te lewe. Amen

ERKENNING

Lied 440 v 1,2,3,4

Die Here salf ons met sy Gees tot diens en heiligheid -

tot koning, priester en profeet, tot ware Christen-wees

Die Gees van God bly wonderbaar voortdurend inspireer -

dat ons met Hom en met mekaar in liefde kan verkeer.

Die Heil'ge Gees gee uit die skat, deur Christus self verdien -

sy liefde, blydskap, vrede, guns kom Hy aan ons voorsien

Wie hul laat lei deur God se Gees, leer iets van Christen-wees -

Hy leer ons bid, getuig en dien en liefhê sonder vrees.

DANKBAARHEID

 Offergawes

 Laaste Lied – 486 v 1, 3

Bring aan die volke die boodskap van hoop en bevryding!

So sê die Here, verkondig al verder die tyding:

"Daar is my kneg! Hy bring aan nasies die reg -

volg Hom getrou in sy leiding."

Hy wat verstaan, sal die riet wat geknak is, nie breek nie.

Hy laat die swakke, verdrukte nie vrugteloos smeek nie.

Die Kneg is Heer! Duisende wag op sy leer -

laat ons hul nood nie vergeet nie.

DIE HEER SE BELOFTE

 “Julle sal krag ontvang wanneer die HG oor julle kom en julle sal My getuies wees”


 
 
 

Bình luận


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page