OORWINNING IN HIERDIE WêRELD
- Ds. Abe Beyers
- May 14, 2015
- 10 min read

10 Mei 2015 1 Johannes 4 v 16 – 5 v 5
(Moedersdag)
OORWINNING IN HIERDIE WêRELD
Ds. Abe Beyers
ONTMOETING
Ons erken die Here vir wie Hy is
Hy groet ons
Ons sing ‘n loflied – 205 v 1, 2
Bring lof aan die Vader,
verheerlik die Seun,
vir liefde, genade,
verlossing en steun -
dat elkeen wat glo
nie verlore mag gaan
maar ewig voor Hom
as verloste kan staan.
Loof die Heer, loof die Heer -
sing, gelowiges, saam!
Loof die Heer, loof die Heer -
prys sy heilige Naam!
Hy kom uit genade
ons sondes versoen
dat ons Hom vrymoedig
ons Vader kan noem.
Ons lof aan die Skepper
wat altyd getrou
sy kerk hier bewaar,
dit vernuwe en bou –
ons bly inspireer
en ons stuur deur sy Gees
om sout en om lig
vir die wêreld te wees.
Refrein
WOORD-TYD
Kleuterkerk – Miems v Loggerenberg
VERHOUDING
Ons verwagting vd Here: (Hand 1v6)
Toe hulle ‘n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: "Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?“
Sy verwagting van ons: (Hand 1v 8)
…en julle sal my getuies wees
Sy belofte: julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom
Ons antwoord met Lied 308 v 1, 2, 3
Neem my lewe, laat dit, Heer,
U gewy wees meer en meer.
Laat my hart gedurig juig
en van dankbaarheid getuig.
Neem my hande, maak hul sterk
diensbaar in u goeie werk.
Neem my voete, skoei hul, Heer,
met bereidheid tot u eer.
Neem my stem en laat my sing
aan U, Here, hulde bring.
Laat my mond dié boodskap dra:
Hul sal vind wat na U vra.
LUISTER-TYD
Gebed
Woord: 1 Johannes 4 en 5
OORWINNING IN HIERDIE WêRELD
1. EK GLO en IS GERED
Die meeste van ons wat vanoggend hier sit, sal verklaar dat ons glo in die Here Jesus Christus – miskien het ons dit lank gelede verklaar, miskien dalk meer onlangs – maar ons het verklaar dat ons glo in die Here Christus.
En dan gaan die meeste van ons se gedagtes verder – die saak van die ewige lewe, of te wel die kwessie van wat met my sal gebeur die dag as ek hier doodgaan.
Maar ook daaroor voel ons redelik gerus, want daar is mos die belofte van die apostel Petrus – “glo in die Here Christus en jy sal gered word” (handelinge 2). Die apostel Johannes praat ook in sy brief van die saak met die Here God, en van die vrede en van die oordeelsdag waaroor ons niks te vrees het nie:
LEES 1 Joh 4 v 16a en 17a1 Jn 4:16
16a "En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin…………..
17a Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te
vrees vir die oordeelsdag nie……………."
Nou wil ek nie krities klink nie, maar dit gebeur dikwels onder ons dat ons nou redeneer: ek glo in die Here Jesus Christus, Hy is my Verlosser – daarom is die saak van godsdiens en ewige lewe afgehandel. Dieselfde gedagte kom by baie jongmense voor wat hier voor die kansel kom staan het en bely het dat hulle glo in die Here Jesus - en dis dan die laaste sien van hulle, want daardie saak is mos nou afgehandel. Ons wil inval by Johannes wat sê: Ek ken die liefde wat God vir ons het, ek glo in daardie liefde vir ons as mense.
En nou wat van die daaglike probleme en bekommernisse en krisisse? Wat van die sukkel met verhoudings en met mense en wat van die probleme in die werk, en wat van die korrupsie in die land en al die vreeslike goed wat gebeur? Ons antwoord is dan: die goed hanteer ek soos dit na my kant toe kom – as daar moeilikheid is in my verhoudings, wel dan hanteer ek maar die goed soos my pa gemaak het. Oor die moeilikheid in die land het ek nie ‘n oplossing nie – die politici moet mos die dinge op daardie vlak hanteer.
Terloops, julle wat nou al jare getroud is, sal weet hoe ons as die dinge ongemaklik raak, terugval op ons patrone wat ons aangeleer het in ons kinderdae. Dis baie min dat iemand dit regkry om uit daardie patroon te kom.
2. DAAR IS MEER
Die apostel Johannes wil egter vir ons vandag laat verstaan dat die verhouding met die Here God meer behels as net maar die saak van die ewige lewe, of die saak van die toekoms, of van die dag as ek begrawe word. As ek die dag tot geloof in die Here kom, as ek die dag Hom erken as Here, dan is dit maar net die begin – dan moet die Here my van daardie punt stappie vir stappie nuut maak, vir my verander, vir my al meer laat word wat ek kan wees
– en dan, terwyl ons nou daarvan praat kan ons ook bysê: hoe meer Hy my verander en nuut maak, hoe meer kan Hy deur my begin doen in hierdie ou stukkende wêreld waarin ons bly.
En dis waarvan Johannes praat – hierdie meer wat die Here vir ons in gedagte het
LEES (weer) 1 Joh 4 v 16 – 17
1Jn 4:16 En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.
17 Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus.
En dan kan ons ook verder lees hoe Johannes in elke vers wat hy skrywe, die twee kante beklemtoon:
- Aan die een kant:
ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, die toekoms-gedagte, die lewe hierna
- Maar dan ook aan die anderkant:
die nuwe lewe wat ons nou kan en moet leef, die lewe in liefde.
LEES 1 Joh 4 v 18-21, 1 Joh 5 v 1-2
1Jn 4:18 Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.
19 Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.
20 As iemand sê: "Ek het God lief," en hy haat sy broer, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie.
21 En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê>>
Ons kan nou in detail gaan kyk na enige van hiedie gedagtes, maar ek wil graag vandag die klem plaas op vers 18, sommer omdat dit Moedersdag is
– waar liefde is, is daar geen vrees nie.
1Jn 5:1 Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is ‘n kind van God; en elkeen wat vir die Vader liefhet, het ook die ander lief wat kinders van die Vader is.
2 Hiéraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie onderhou.
As ons nou dink aan die verhoudings waarin mense leef. Dink aan die samelewing daar buite. Daar werk dit soos die weermag en die polisie waar daar vreeslike dissipline is - jy doen wat jou bevelvoerder sê omdat jy bang is vir die straf, omdat die mense bo jou mag het oor jou – jy tree op uit vrees - maar dis nie soos ‘n verhouding van liefde werk nie.
In die verhoudings waar daar liefde is, is daar geen vrees nie. Soos die apostel Paulus dit stel: in die Christelike verhouding moet die een die ander een hoër ag as homself; of wees onderdanig aan mekaar. Die een gee om vir die ander een in die verhouding, en daarom is daar vrede en vreugde, daarom is daar geen vrees nie.
3. OORWINNING
Dis nou goed en wel om te hoor dat ons moet lewe in liefde, dat ons moet lewe soos die Here Jesus Christus – maar hoe kry ek dit reg, hoe gebeur dit, hoe verander ek?
En dan is die antwoord dat die Here dit doen deur sy Gees – wie glo in Jesus, wie Jesus se grootsheid erken, of te wel wie sy eie kleinheid elke dag voor Jesus erken, hy of sy word deur Jesus al hoe meer verander.
4. MOEILIKHEID
Ons het in die begin gepraat van die moeilikheid wat daar rondom ons is – van die kwaad, die boosheid, die verdagmakery, die lyding en ellende en hongersnood en al die vreeslike goed. Wat daarvan?
- Wat het dit nou met ons te doen as die Islamietiese Staat 1000e Christene al
doodgemaak het?
- Wat het dit met ons te doen as daar korrupsie en magsmisbruik is op
Internasionale Beurse?
- Wat het die aardbewing in Nepal met ons te doen?
- Of wat het dit met ons te doen as die naam van die Here uit die grondwet van die
land uitgeskrywe is?
- Of wat het die bendeoorloë op die Kaapse Vlakte met ons te doen hier in
Aberdeen?
- Of wat het die dwelmmisbruik hier in Aberdeen met ons te doen?
- Of wat het die moeilikheid tussen die gesinne rondom my nou met my te doen?
LEES 1 Joh 5 v 4 – 5
1Jn 5:4 want enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof.
5 Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?
Johannes praat van oorwinning – elkeen wat kind van God is kan die sondige wêreld oorwin – nou hoe werk dit, waar gebeur dit?
Die eenvoudige antwoord is
– daar waar ek as kind van God kom,
- daar waar ek liefde betoon en nie kwaad nie,
- daar waar ek as kind van God vrede maak, ander se belange op die hart dra,
- daar behaal die Here oorwinning deur my.
Eerstens bereik die Here oorwinning binne-in my. Stukkie vir stukkie breek die Here my selfsugtige aard af sodat ek kan vry kom van myself en begin fokus op ander. Dis ‘n lewenslange proses, dit vra stryd in my teen my eie aard en gewoontes.
Maar die Here behaal ook oorwinning in die stukkende wêreld deur my
– daar waar ek in situasies kom,
- daar waar ek in verhoudings optree,
- daar behaal die Here oorwinning oor die kwaad deur die iemand wat in liefde
optree.
- Of groter gesê: die Here behaal sy oorwinning deur gelowiges, waar hulle ook al
is, op watter vlak hulle ook al optree, daar behaal die Here sy oorwinning oor die
kwaad in die wêreld.
Ons weet dikwels nie hoe nie, maar op die ou einde staan ons verbaas – soms dramaties, maar meestal stilweg is die Here aan die werk – deur die gelowiges wat in liefde optree
5. Stories
Lew Wallace (1827-1905), destydse goewerneur van die Amerikaanse deelstaat Nieu-Meksiko, het 'n boek teen Jesus Christus geskryf, maar het in die proses tot geloof in Jesus as Here gekom.
Hy het sy verhaal aan 'n vriend vertel:
"Ek was altyd 'n agnostikus (iemand wat sê ons kan nie weet of daar 'n God is, of nie) en het die Christelike geloof ontken," vertel Wallace. "Robert Ingersoll, 'n beroemde agnostikus, was een van my nabye vriende. Op 'n keer sê hy vir my: 'Kyk, Wallace, jy is 'n geleerde man en 'n denker. Hoekom maak jy nie materiaal bymekaar en skryf 'n boek wat die valsheid van geloof in Jesus Christus bewys nie? Skryf dat so 'n man nooit geleef het nie, en nog veel minder die bron was van die lering wat in die Nuwe Testament gevind word nie. So 'n boek sal jou beroemd maak. Dit sal 'n meesterstuk wees, en 'n bydrae lewer om die gekheid van geloof in die sogenaamde Christus uit te wys.'"
Wallace is huis toe en het sy vrou van die nuwe projek vertel. Sy, 'n lidmaat van die Metodistekerk, het glad nie van die idee gehou nie. Wallace het egter materiaal oor die tyd waarin Jesus geleef het uit biblioteke regoor die wêreld begin versamel. Dit het 'n paar jaar geneem, waarna hy begin skryf het. Hy het die eerste vier hoofstukke klaar gehad, vertel hy, toe dit vir hom duidelik word Jesus was net so 'n werklike mens as Plato, Sokrates of Caesar. "My oortuiging het al hoe sterker gegroei en het 'n vaste sekerheid in my geword, want al die feite oor Jesus het geklop met die tyd waarin Hy geleef het."
Wallace het homself eerlik begin afvra: "As Jesus 'n werklike persoon was, was Hy nie ook die Seun van God nie, en die Redder van die wêreld nie?" Geleidelik het dit duidelik geword, en het die oortuiging gegroei, dat Jesus nie net 'n werklike mens was nie, maar dat sy aansprake oor Homself ook inderdaad waar was.
"Ek het een aand vir die eerste keer in my lewe op my knieë neergeval, en God gevra om Homself aan my te openbaar, my sonde te vergewe en my te help om 'n volgeling van Jesus Christus te word. Soos die oggend nadergekom het, het die lig in my deurgebreek. Ek het na ons slaapkamer gegaan, my vrou wakker gemaak, en haar vertel ek het Jesus Christus as Here en Verlosser ontmoet."
"Lew," het sy gesê, "ek het hiervoor gebid vandat jy my vertel het jy wil hierdie boek skryf. Ek het gebid jy moet die Here vind terwyl jy jou boek skryf."
STORIE
Kerkvader Augustinus het in Noord-Afrika geleef wat destyds - in 380 nC - deel van die Romeinse Ryk was.
Hy het 'n losbandige lewe gelei en uit 'n verhouding wat hy op 17 jarige ouderdom met 'n meisie het is 'n kind gebore.
Maar sy ma het aanhoudend vir hom bly bid – en toe eers op 32 jarige ouderdom ontmoet hy die Here.
Wonderlik genoeg het hy een van die groot kerkvaders van die vroeë kerk geword.
ERKENNING
Lied 436 v 1, 2, 3
Herskep, o Gees, laat leef, o Gees,
laat kom die koninkryk met mag,
laat mense tot bekering kom,
oorreed deur u oortuigingskrag.
O Gees, verlig ons, laat ons vind
die waarheid wat u Woord ons leer
dat ons met God en met mekaar
in Gees en liefde kan verkeer.
Herskep, o Gees, laat ons herleef,
maak wakker elkeen in u kerk.
Laat ons uit God se liefde leef,
en dankbaar waak en bid en werk.
DANKBAARHEID
Offergawes
Laaste Lied – 284 v 1, 2, 3
Laat Heer u vrede
deur my vloei
Waar haat is, laat ek daar U liefde bring.
Laat ek in pyn en
smart vertroostend wees
En krag gee deur geloof in U, o Heer
O Heer, help my om altyd so te leef –
om ander hoër as myself te ag,
Ja, om lief te hê – ander bo myself –
en ook eerder te gee as te verwag.
Laat Heer u vrede deur my vloei
en laat ek hoop gee waar daar twyfel is.
Ek wil u lig in duisternis laat skyn.
Laat ware vreugde altyd uit my straal
Refrein
Laat, Heer, u vrede deur my vloei…
leer my om ook soos U te kan vergeef
Maak my bereid om aan myself te sterf,
dat ander U al meer in my kan sien.
SY BELOFTE
Sy oorwinning oor die kwaad
Comments