top of page

DIE HERE WERK BAIE GROTER AS WAT ONS DINK.

  • Ds Abe Beyers
  • May 9, 2015
  • 8 min read

AALWYNE KLIPPLAAT.JPG

Daniel 5 3 Mei 2015

DIE HERE WERK BAIE GROTER AS WAT ONS DINK.

Ds Abe Beyers

ONTMOETING

 Aanbidding

 Ons erken die Here

 Hy groet ons

Ons sing ‘n Lied -200 v 1, 2

U goedheid, Heer,

kan ons nie peil nie -

wie word daardeur nie diep getref!

Niks anders bring vir ons die heil nie -

ons wil ons hart tot U verhef.

Aan U alleen ons dank en ere -

U wat ons in u liefde lei.

U sal ons nooit vergeet nie, Here -

U wil ons in u waarheid lei.

U is die Heer wat ons gemaak het,

voor U kom ons, u skepsels, staan;

U is die Heer wat steeds gewaak het,

deur wie ons gans en al bestaan.

U bring in ons gemoed die vrede,

U sterk ons gees met nuwe krag;

U gee u lig ook oor ons rede -

dis U van wie ons heil verwag.

VERHOUDINGSTYD

 Hoe is die Here? (Matt 4v19)

"Hy sê toe vir hulle: "Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak."

En nou ons? (Joh 13:35 )

As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is."

 Ons antwoord met Lied 334 v 1, 2, 4

"God is Liefde!" juig ons harte,

en bedink wat liefde doen:

Dat Hy ons sy Seun gestuur het

om ons sonde te versoen

Hy wat eerste liefgehad het,

het in liefde ons vergeef -

nou kan ons, uit God gebore,

uit dié bron van liefde leef!

As die Vader in sy liefde

dan die sondaar maak tot kind,

mag sy Seun al meer gestalte

in ons doen en late vind!

WOORD-TYD

 Gebed

1. WAT MAAK EK HIER?

Daar is dikwels by ons die gedagte van: wat maak ek hier? Miskien is die omstandighede waarin jy is nie lekker nie, miskien is jy vasgevang in ‘n situasie of miskien wil jy eerder elders gewees het – en dan vra jy die vraag: wat maak ek hier? Wat is ek veronderstel om hier te doen waar ek is?

Wat die prentjie moeiliker maak is as ons na die groter wêreld kyk. Wêreld-statistiek vertel ‘n prentjie: China het 1.4 Biljoen mense; Indië het 1.3 biljoen mense. Dan kom die VSA met 322 miljoen. Maw China het ‘n biljoen meer mense as die VSA. En dan is daar bv. Nigerië met sy 178 miljoen mense en heelwat verder af is Suid-Afrika met sy 53 miljoen mense.

En waar pas ek in en watter rol het ek om te speel tussen al die miljoene ander mense op die planeet?

Daar in die Noord-Kaap is daar ‘n belydenis in omloop – dit begin met die woorde: “ek glo dat God vir my bedoel het om hier en nou te lewe”. Die veronderstelling is mos daarmee dat die Here oor die wêreld regeer met al sy magte en krag en selfs sy kwaad – en ek is veronderstel om waar ek is die Here se verteenwoordiger te wees. Maar soms maak dinge net nie vir my sin nie.

Of anders gevra: as ek na die wêreld in sy grootsheid kyk, hoe is die Here se heerskappy te rym met my hier in hierdie omstandighede? Hoe kom die twee gedagtes bymekaar?

Die Israeliete in besonder het ook daaroor geworstel. Hulle was in die jare 500 vC in Babilonië vagevang. 50 Jaar terug was hulle al met geweld uit hulle land uit ontwortel en weggevat Babel toe. En daarom het hulle geworstel daarmee – wat maak ons hier, wat is ons doel hier in die vreemde?

2. GROTER VISIE

Ek wil die storie van koning Belsasar vertel, soos wat ons dit daar in Daniel 5 lees. Dalk gee die Here daardeur vir ons ‘n nuwe visie van sy heerskappy – miskien sal ons dan ook anders begin bid, miskien gaan ons anders onder mekaar begin praat.

Die storie speel af in die jaar 538vC in die stad Babilon. En koning Belsasar gee vir sy hoofamptenare – ‘n hele 1000 hooggeplaasdes – ‘n feesmaal. En tot die wyn is “op die huis”. Terloops, dit was nie ongewoon nie, dit was redelike algemene praktyk in die regerings van daardie tyd. Ons lees ook in die boek Ester in die jaar 480 vC was daar ook so ‘n feesmaal.

En dan, tydens die feesmaal, dink iemand aan die pragtige bekers wat daar in die skatkamers lê wat destyds van Jerusalem af gekom het – kom ons drink daaruit wyn – dis mos nou styl. As sulks is dit baie vreemde gedrag – want een godsdiens van daardie tyd het nie ‘n ander godsdiens se toerusting gebruik nie, want dit was mos nou “onheilig”.

Dan gebeur daar iets dramaties, iets baie vreemd.

LEES Daniel 5v5-6

Dan 5:5 Meteens verskyn daar toe ‘n mensehand wat op die gepleisterde muur van die paleis skryf, reg teenoor die kandelaar. Die koning het die hand gesien terwyl dit skryf.

6 Toe het die koning bleek geword, hy was baie bang, sy bene het gebewe en hy was lam van die skrik.

En die koning is skoon verskrik, hewig ontsteld, want heelwaarskynlik het die hand hier teen die muur by hom geskrywe, in die helder lig van die kandelaar.

En hy roep sy raadgewers dat hulle dringend moet kom help, want hier is nou ‘n bo-natuurlike ding aan die gebeur. Maar niemand van hulle kan die skrif lees nie.

Toe hoor die koningin, heelwaarskynlik die koning se ma, van die lawaai en kom in om te kom kyk wat aangaan en sy gee toe duidelike raad wat om te doen.

LEES Daniel 5 v 12

Dan 5:12 Hierdie man Daniël vir wie die koning die naam Beltsasar gegee het, het buitengewone bekwaamheid en kennis en insig om drome uit te lê, probleme op te los en moeilike dinge te ontrafel. Laat haal nou vir Daniël, en hy sal vir u die uitleg gee."

En Daniel gee toe die uitleg van wat daar staan. Kyk net die vrymoedigheid van Daniel.

LEES Daniel 5 v 23b-28

Dan 5:23

U het verwaand opgetree teenoor die Here in die hemel: die bekers uit sy tempel is na u toe gebring en u en u hoofamptenare, u vrouens en u byvrouens het daaruit wyn gedrink. U het die gode van silwer en goud, en van brons, yster, hout en klip geprys, gode wat nie kan sien nie en nie kan hoor nie en niks weet nie. U het nie die God geëer van wie u die lewensasem ontvang en wat oor u lewe beskik nie.

24 Daarom is die hand deur Hom gestuur en is hierdie woorde geskrywe

En daarna kom die eenvoudige maar dramaties aankondiging:

25 "Dit is die woorde wat geskrywe is: ‘Getel, getel, geweeg en verdeel.’

26 En dit is die betekenis van die woorde: ‘Getel’: God het die jare van u koningskap getel en ‘n einde daaraan gemaak.

27 ‘Geweeg’: u is geweeg en te lig bevind.

28 ‘Verdeel’: u koninkryk is verdeel en aan die Mediërs en die Perse gegee."

LEES Daniel 5 v 30

Dan 5:30 “Daardie nag is koning Belsasar van die Galdeërs vermoor.”

Maar dis nie die einde van die storie nie. Dalk het julle nou al gewonder oor wie het dan die koning vermoor? Is dit dalk een van sy jaloerse amptenare? Was dit ‘n staatsgreep? Die antwoord staan in die geskiedenisboeke.

Wat die nag daar gebeur het, is dat terwyl die hoofamptenare fees gevier het, het die buurland aan die oostekant, die Mediers, vir Babel ingeval sonder slag of stoot, sonder dat daar enige weerstand was – en toe is die koning deur die vyanderlike weermag tereggestel.

3. WAARMEE IS DIE HERE BESIG?

Is dit nou maar net ‘n tipiese inval deur vyandelike magte of was die Here ook hierby betrokke? Werk die Here ook op hierdie vlak, in regerings, deur en in weermagte?

Wat was die situasie? As ons nou op ander plekke lees in die Bybel, bv Psalm 137, dan hoor ons van die gebede van die Jode, die Israeliete wat daar in Babel vasgevang is – hulle gebede dat die Here tog vir hulle daaruit sal bevry en weer terugvat Jerusalem toe, na die beloofde land toe.

Fase een van die Here se plan met die Israeliete was om koning Nebukadneser tot inkeer te bring, om die magtige koning te laat besef en te laat erken dat daar net een Here is, en dis die God van die Israeliete.

Fase twee was die terugbring van die Israeliete na hulle beloofde land toe, terug na Jerusalem toe. Die beëindiging van die regering van Babel, of dan nou van die mag van die Galdeërs was deel van die Here se beplanning om sy belofte uiteindelik te laat gebeur. Natuurlik was dit nog nie die bevryding waarna die Jode so gesoek het nie, maar die Here was besig daarmee – die Mediërs se regering moes uiteindelik plek maak vir die regering van Persië, wat baie meer verdraagsaam was, wat baie meer toegewende mense was – sodat Israel onder die Persiese regering toegelaat was om huis toe te gaan.

4. GOD REGEER OP ALLE VLAKKE

Ek hoop die storie van vandag laat ons weer besef dat die Here se heerskappy baie groter is as wat ons ooit kan dink – al moet Hy soms gebruik maak van vreemde weermagte en maniere en mense wat die Jode in hulle wildste drome nie kon voorsien nie – maar die Here het hulle gebede verhoor.

Nader na ons toe – ek wil weer die vraag vra: “wat maak ek hier, het ek ‘n rol te speel?” Dan sien ons uit die storie dat die Here se heerskappy groter is as wat ons ooit kan dink, dat Hy op vlakke werk wat ons ons nie eers kan indink nie. Aan die anderkant vertel die storie ook vir my dat ek nie verniet op die plek is waar ek is nie – die Here wil my hier gebruik om getuie te wees van sy mag en heerskappy. Hier waar ek is wil die Here my gebruik om sy lewenswyse na te streef, om in sy diens te wees – en hier waar ek is skakel Hy my in in sy plan – hoe weet ek nie.

Daarom:

– moet ons aanhou bid vir Aberdeen, vir die maatskaplike probleme, vir die werkloosheid.

- maar daarom moet ons aanhou bid vir Suid-Afrika, vir die ellendes en kwaad en korrupsie.

- maar daarom moet ons ook aanhou bid vir die Here se ingryping in die situasies van mense

oor die wêreld heen.

Want die Here voer sy plan uit, maar Hy doen dit nie sonder my nie.

BELYDENIS

 Lied 519 v 1, 2, 3, 4

Wees stil en weet:

Ek is die Heer.

Ek spreek en wind

en golwe bedaar,

Ek sal ook jou getrou bewaar.

Wees stil en weet:

Ek is die Heer.

Ek ken jou pyn,

jou donkerste nag.

Ek is by jou, Ek gee jou krag.

Wees stil en weet:

Ek is die Heer.

Kom bring na My

jou kommer en vrees.

Ek sal vir jou ‘n toevlug wees.

Wees stil en weet:

Ek is die Heer.

Bly waak en bid;

volhard in geloof.

Ek is by jou soos Ek beloof.

ERKENNING

 Verklaring van Hoop op die Here

DANKBAARHEID

 Offergawes

 Laaste Lied – 464 v 1, 4

O Heer my God,

as ek in eerbied wonder -

en al u werke elke dag aanskou:

die son en maan,

die aarde, sterre, wolke,

hoe U dit elke dag so onderhou...

Dan moet ek juig,

my Redder en my God!

Hoe groot is U; hoe groot is U!

Want deur die hele skepping klink dit

saam: hoe heerlik, Heer, u grote Naam!

U Seun word mens;

in ons gebroke wêreld

kom vestig Hy sy koningheerskappy.

Hy maak weer heel

wat sonde hier gebreek het.

Hy bring weer hoop

en redding - ook vir my.

Dan moet ek juig,

my Redder en my God!

Hoe groot is U; hoe groot is U!

Want deur die hele skepping klink dit

saam: hoe heerlik, Heer, u grote Naam!

DIE HERE SE BELOFTE

 Hy regeer


 
 
 

Comments


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page