Wat Wil die Here Bereik?
- Ds. Abe Beyers
- Apr 29, 2015
- 8 min read

Daniël 4
26 April 2015
WAT WIL DIE HERE BEREIK?
Ds. Abe Beyers
ONTMOETING
Ons erken die Here
Hy groet ons
Ons sing ‘n Lied – Ps 100 v 1, 2, 3
Juig almal tot Gods lof en eer,
kom dien met blydskap God die Heer.
Kom met gejubel voor Hom saam
en dank en loof Hom, prys sy Naam.
Erken dié God en sy gesag.
Hy hou oor ons, sy kudde, wag.
Laat ons as volk die Heer aanbid.
Hy't ons gemaak as sy besit.
Gaan by sy tempel in en sing
en bring jul dank met jubeling.
Sy goedheid, liefde en sy trou
sal Hy vir altyd onderhou.
VERHOUDING ONS EN DIE HERE
Wie is die Here? (Dan 2:20)
Daniël het gesê: "Mag die Naam van God altyd geprys word, Hy aan wie die wysheid en die mag behoort, Hy wat tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel, wat aan die wyse manne die wysheid gee en die verstand aan dié wat insig het, wat ondeurgrondelike en verborge dinge openbaar en wat weet wat in die duisternis is; by Hom is die lig.
VERHOUDING ONS EN DIE HERE
En nou ons? (Dan 2:23)
“Ek loof en prys U, God van my voorvaders…”
Ons antwoord met Lied 177 (x2)
Jesus,gróót bo almal:
sterke Verlosser,
magtige Heer en Heiland,
Immanuel - God is met ons -
reddende Here, lewende Woord.
WOORD-TYD
Gebed
Woord – Daniël 4
1. WAT WIL HY BEREIK?
As ek so luister na al die gesprekke wat tans in die land aan die gang is, dan is daar ‘n bekommernis by baie – oor verhoudings wat stukkend is, oor infrastruktuur wat aan die verbrokkel is, oor gesinstrukture wat toenemend stukkend raak. Jy kan maar net die koerant lees of nuus kyk, dan raak ‘n mens skoon beswaard.
Daarom wil ons die vraag vanoggend vra: waarnatoe is die Here op pad? Wat wil Hy bereik? Waarmee is Hy besig?
Die apostel Paulus gee ‘n kort antwoord wat al daar van die profeet Jesaja af kom –
LEES Rom 14v11
want daar staan geskrywe: "So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is." (Rom 14:11)
Die Here Jesus is dus daarnatoe op pad – dat elkeen vir Hom sal erken. Natuurlik nie maar net erken en dan is dit klaar nie – erken sodat die Here vir daardie een kan nuut maak en vrede gee, sodat daar lewe kan kom.
Ek wil nou vir elkeen van julle vra om jou gedagtes so te laat gaan na die mense rondom jou, daar by die huis, die bure – maar ook na die dorp en al die ellendes en verslaafdheid en swaarkry wat daar is – die Here wil graag dat mense Hom as die Here sal erken sodat Hy hulle kan nuut maak. Of dink aan Suid-Afrika met al sy kwaad en korrupsie en geweld – en hoor dan hoe die Here daarmee besig is – dat elkeen Hom sal erken, sodat Hy hulle kan nuut maak en vrede gee.
Miskien moet ons ook krities na onsself vanoggend kyk – dis wat die Here ook in my wil bereik, dat ek Hom as die Here sal erken. Sodat Hy in my lewe en vrede en vreugde kan bring.
2. EN AS IEMAND NIE WIL NIE?
Ons kom nou by ‘n ongemaklike vraag: wat nou van die miljoene mense wat nie wil nie, wat nie die Here Jesus wil erken nie? Wat nou van daardie buurman wat met sy lewe en voorbeeld vertel dat die Here Jesus nie lewe nie, vir wie dit net om homself gaan? Wat nou van daardie verslaafde vir wie dit net gaan oor ‘n oomblik se plesier, wat van die Here Jesus niks wil weet nie?
Daarom wil ek graag die verhaal vertel van koning Nebukadneser – en hoe die Here met hom gewerk het. Soos ons laas Sondag ook vertel het, die verhaal speel af in Babilonië, die land van die Galdeërs sowat 500 jaar voor Christus – die meeste van die vooraanstaande Jode is soontoe weggevoer uit Israel uit.
Die Babiloniese godsdiens het behels dat die natuurgod Marduk wat hulle geskep het, aanbid moes word. Hoofstuk drie van die boek Daniël vertel dat die koning nou ‘n beeld gemaak het van die afgod en hy het opdrag gegee dat die mense almal voor die afgod moes buig.
LEES Daniel 3 v 1, 6
"Koning Nebukadnese het ‘n goue beeld laat maak, 30 m hoog en 3 m breed, en dit laat oprig in die Duradal in die provinsie Babil… wie nie buig en die beeld aanbid nie, sal onmiddellik in ‘n brandende oond gegooi word."
Of die koning nou hierdie beeld laat oprig het ter ere van die afgod Marduk, en of hy dit laat oprig het ter erkenning van sy eie mag en gesag weet ons nie – maar ek kry die idee dat dit gegaan het oor die koning se mag, oor die erkenning van hom as die koning, oor sy status.
Die res van hoofstuk 3 vertel die bekende verhaal van Daniël se drie vriende wat nie die koning se beeld wou aanbid nie en toe in die brandende oond gegooi is, maar dat ‘n engel hulle daarbinne beskerm het teen die vuur. Die koning was nogal beïndruk met hulle en met die God van die drie manne, tot so ‘n mate dat hy opdrag gegee dat niemand van hulle drie se God mag kwaad praat nie. Deur die lyding en weerstand van die drie manne het koning Nebukadneser bewus geword van die Here God.
Maar die Here God was nog nie klaar met koning Nebukadneser nie – die Here wou gehad het dat die koning juis vir Hom as die Here sal erken. Maar natuurlik wou die koning nie, want dit sal vir hom sy status kos. En wie wil nou teen die aanvaarde sosiale gedagte ingaan van die tyd, wie wil nou vreemd optree?
En dan kom ons by hoofstuk 4. Nou is die koning self aan die woord.
LEES Daniel 4 v 4-5
Dan 4:4 "Ek, Nebukadnesar, het rustig en voorspoedig in my paleis gewoon, maar toe het ek ‘n droom gehad wat my ontstel het, visioene in my slaap, wat deur my kop gemaal en my laat bang word het"
Die droom het gegaan oor ‘n groot boom wat van oral af sigbaar was, wat vir almal vrugte gelewer het – en toe in die droom word die boom afgekap, maar die stomp moet bly staan - en die koning moet soos ‘n dier in die veld gaan lewe.
En toe is Daniël laat roep en hy moes toe die droom vir die koning uitlê.
3. WAARSKU
Maar Daniël het nie net die droom vir die koning verduidelik nie, Daniël het besef dat die Here besig is met die koning, dat die Here die erkenning van die koning soek – en daarom kom hy met die waarskuwing aan die koning:
LEES Daniel 4 v 27
Dan 4:27 Daarom, U Majesteit, luister na my raad: breek met u sonde en u ongeregtigheid, doen wat reg is en bewys barmhartigheid teenoor dié wat in nood is. Dan sal u voorspoed aanhou."
Maar soos dit maar met mense gaan, ook aan dié waarskuwing het die koning hom nie gesteur nie. En lees ons dat die dinge hét toe gebeur wat oor die koning aangekondig is.
LEES Daniel 4 v 28 – 32
Dan 4:28 " Maar alles het oor koning Nebukadnesar gekom.
29 Na twaalf maande, terwyl hy op die dak van die paleis geloop het, het hy gesê: "Kyk net hoe groot is Babel! Deur my groot mag het ek daarvan ‘n koningstad gemaak, tot my eer en roem."
31 Sy woorde was nog nie koud nie toe kom daar ‘n stem uit die hemel: "Daar is besluit, koning Nebukadnesar, dat jy uit jou koningskap onthef gaan word.
32 Jy sal uit die menslike samelewing uitgestoot word en saam met die wilde diere moet leef en gras moet eet soos beeste. Dit sal sewe tydperke lank oor jou kom. Dan sal jy moet erken dat die Allerhoogste mag het oor die koninkryke op aarde en dit gee aan wie Hy wil."
4. ERKENNING
En dan uiteindelik, na die koning al die verskriklike goed moes deurmaak, nadat hy alles verloor het, lees ons dan die wonderlike goeie nuus – die eens magtige koning soek sy hulp by die Here, erken die Here se grootheid – en word weer herstel. Hy ontvang weer sy koningskap.
LEES Daniel 4 v 34
Dan 4:34 "Toe die vasgestelde tyd verby was, het ek, Nebukadnesar, na die hemel opgekyk om hulp en het ek my verstand teruggekry. Ek het die Allerhoogste geprys, ek het Hom wat ewig leef, geloof en geëer. Aan sy heerskappy is daar geen einde nie, sy koninkryk bestaan oor al die geslagte heen."
5. ONWEERSTAANBAARHEID
Nader na ons kant toe. Wat het die storie met ons vandag hier in Aberdeen te doen? Dit lyk vir my dat die Here se genade eenvoudig onweerstaanbaar is. As die Here met iemand besig raak, gaan niemand dit keer nie. Die Here kan omkeer wie Hy wil. Dink net aan die bekende verhaal daar in Handelinge 9 van Saulus of te wel Paulus wat deur die Here Jesus voorgekeer is - en Paulus moes maar net daar tot erkenning kom van die Here Jesus. Of nou die verhaal van koning Nebukadneser.
As dit dan nou waar is dat die Here se genade onweerstaanbaar is, dan beteken dit mos nou dat as ons vir die Here vra om so en so tot inkeer te bring, dan kan die Here dit mos nou doen. As ons as gemeente nou saam bid vir iemand se bekering, dan gaan die Here dit mos nou doen – niks is vir Hom onmoontlik nie, niemand kan voor Hom standhou nie.
Wie wil jy vandag uitsonder, op wie is jou fokus vandag? Dalk iemand in hoë regeringskringe? Dalk iemand naby aan jou, iemand daar in jou gesin? Of dalk iemand hier in die dorp wat verslaaf is?
Vandag is Suid-Afrika op voorbiddingslys van die Christelike kerke van oor die wêreld. Om te dink dat miljoene mense vandag saam bid vir Suid-Afrika. Die Here gaan nogal ‘n besige tyd vorentoe hê met al die gebede wat opgaan vir Suid-Afrika.
Maar ‘n laaste opmerking – en dit kom nog nader na ons toe: As jy nog nie vrede gemaak het met die Here God nie, maak dan vrede met Hom – en liewer eerder as later. Want die Here gaan dit doen, al moet Hy ook die skroef sterk aandraai.
Daar staan geskryf:
So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig en elke tong bely dat Ek God is.
ANTWOORD
Lied 175
Majesteit,
glansryke heerlikheid!
Ons wil Jesus,
die koning, hulde bewys!
Majesteit,
hemelse heerlikheid!
Van waar ons woon,tot by sy troon,
wil ons Hom prys.
Kom ons loof, kom ons besing
die Naam van Jesus!
Kom ons loof, kom ons aanbid
die Here ons God!
Majesteit,
heilige heerlikheid!
Hy het gesterf, ons heil verwerf,
Hy het oorwin!
DANKBAARHEID
Offergawes
Laaste Lied – 267 v 1, 2, 4
Ons Vader op die
hemeltroon
aan wie ons lof en eer betoon,
ons bid ootmoedig almal saam:
Gee dat u goddelike Naam
deur ons geken, geëer, gevrees -
in alles mag geheilig wees.
Laat Heer u Koninkryk steeds kom
in hierdie land en oral om.
Die skepping is u magsgebied
waar u volmaakte wil geskied -
vanuit die hemel om u troon
tot waar ons op die aarde woon.
Lei ons nie in versoeking, Heer;
laat ons u Naam bly loof en eer;
verlos ons van die bose mag.
Beskerm ons, Here, deur u krag.
Aan U behoort die koninkryk,
die krag en eer in ewigheid.
DIE HERE SE BELOFTE
Hy bly by ons in liefde
Comments