top of page

Hoe Vertel Jy die Storie?

  • Ds Abe Beyers
  • Apr 23, 2015
  • 8 min read

20141215_085137.jpg

Daniël 2 v 24 – 30 19 April 2015

HOE VERTEL JY DIE STORIE?

Ds Abe Beyers

ONTMOETING

 Ons erken die Here

 Hy groet ons

 Ons vereer Hom met

Lied 198 v 1, 2, 3

God is my lied,

sy almag ken geen perke

Heer is sy Naam,

volmaak sy skeppingswerke;

die groot heelal is sy gebied.

Niks is van my,

dis alles u genade;

ek sien u goedheid oral, troue Vader,

u lof sal op my lippe bly.

Waar God gebied,

sal ons geen onheil vrees nie,

want niemand kan soos

Hy 'n redder wees

nie - aan Hom my lof, aan Hom my lied

WOORD-TYD

 Kleuterkerk – Abe Beyers

VERHOUDING

 Die Here se gesindheid: (Jes 43v4)

 Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet…

 En nou ons?

Teenoor die Here: (Miga 7v7) Respek, agting

“Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red”

Teenoor ander: (Efes 2v3)

“Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself”

Antwoord met Lied 334 v 1, 3, 4

"God is Liefde!" juig ons harte,

en bedink wat liefde doen:

Dat Hy ons sy Seun gestuur het

om ons sonde te versoen

Deur sy Gees, die wondergawe,

laat Hy wederliefde spruit;

en dié liefde - wat volmaak is -

dryf die vrees en selfsug uit.

As die Vader in sy liefde

dan die sondaar maak tot kind,

mag sy Seun al meer gestalte

in ons doen en late vind!

WOORD-TYD

 Gebed

 Woord – Daniël

1. JOU STORIES

Die afgelope twee weke was ons as gesin bevoorreg om ‘n bietjie saam te kuier daar ver in die ou Transvaal. Maar ons het ook baie vreemde mense ontmoet agv skoonseun se besigheid en ons meisiekind daar se onderwyspos. En laas Saterdagaand was daar ‘n verjaardagfunksie van iemand wat 21 geword het. Daarom het ons ook heelwat mense ontmoet wat vir ons vreemd is.

Wat nou baie interessant was, was om na mense se stories te luister – hoe vertel mense stories? Of liewer, wie is die held van die storie? Draai ek die inligting so om my beter te laat lyk in die storie?

2. JESUS SE BEGINSEL

Voordat ons nou by voorbeelde uitkom van storie-vertel, kom ons dink eers aan die Here Jesus se beginsel. Sy beginsel was eenvouding: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself (Mat 22v39). Daarmee wil Jesus mos sê: Dit moet oor die ander een gaan, nie oor jou nie.

Die apostel Paulus het hierdie beginsel van Jesus in ons kontak met mekaar so opgesom: Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig (Ef 5v21). Of op ‘n ander plek: Julle moet die een die ander hoër ag as homself. Weereens, dit moenie oor my gaan nie

3. AGTERGROND

Vanoggend gaan ons nou kyk na twee persone se verslag van wat gebeur het – die een is iemand wat in ‘n verhouding met die Here staan, en die ander een is nie.

Eerstens gaan ons kyk na ‘n man met die naam Arjok. Hy was koning Nebukadneser van Babilon se hoof van polisie, of te wel die offisier van die koninklike lyfwag. Die storie speel af so rondom 550vC in die stad Babel, daar waar die Israeliete in ballingskap was. Daniël en sy drie vriende was ook daar, hulle wat as jong Joodse mans opgelei is in die taal en skrif en kultuur van die Galdeërs.

Voordat ons nou by Arjok se storie uitkom, eers die situasie, die ding wat gebeur het waaroor Arjok nou sy storie moes gaan vertel.

Die koning het ‘n droom gehad – die droom oor die groot standbeeld wat ‘n kop van goud gehad het en voete van klei en yster. Maar die koning het vir niemand die droom vertel nie. Hy wou hê sy raadgewers moes vir hom die droom vertel en ook dan sommer die betekenis van die droom.

Natuurlik was daar groot ontsteltenis onder die raadgewers oor die koning se opdrag. Hulle gedagte was dat dit maklik is om die betekenis van die droom uit te lê, maar wie kan nou vertel wat iemand anders gedroom het?

So vervies die koning hom oor die hopelose klomp raadgewers wat nie eers kan vertel wat hy gedroom het nie – en hy gee die opdrag dat hulle almal tereggestel moet word.

En Daniël en sy vriende tel ook onder die raadgewers van die koning – en daarom is daar ook by hulle groot ontsteltenis. Daniël gaan toe na die koning toe en vra vir uitstel van die teregstelling. Daarna gaan roep hy sy drie vriende en vra dat hulle ernstig vir die Here moet vra dat die Here God tog die droom vir hulle moet gee. En daardie nag gee die Here toe vir Daniël die droom. Die groot geheim is bekend. En Daniël skryf ‘n gedig om aan die Here dankie te sê.

4. ARJOK

En nou kom ons by die storie van vandag – hoe word die wonderlike nuus nou aan die koning vertel? Wat haal elkeen uit die storie uit vir homself?

LEES Daniël 2 v 24 – 25

Dan 2:24 Toe is Daniël na Arjok toe vir wie die koning beveel het om die koninklike raadgewers dood te maak, en hy het vir hom gesê: "Moenie die koninklike raadgewers doodmaak nie. Vat my na die koning toe, en ek sal sy droom vir hom uitlê."

25 Arjok het toe dadelik vir Daniël na die koning toe gevat en gesê: "Ek het iemand onder die Judese ballinge gekry wat die droom vir die koning kan uitlê."

Die eerste wat vir ons opval in die stukkie is hoe Arjok die storie aan die koning oorvertel: Ek het iemand gekry…” - Arjok was mos net die boodskapper. Dit was mos Daniël wat na Arjok toe gegaan het en Daniël wat die nuus het. Arjok wil vir homself probeer krediet kry in die oorvertel van die storie. Hy moet homself probeer beter laat lyk voor die koning.

Nader na ons toe. Die styl en manier van om onsself beter te wil laat lyk voor ander mense, is baie nader aan ons as wat ons dink. Dink nou maar net hoe ons die storie oorvertel? Of ons is die held van die storie, of ons moet vertel hoe sleg die ander mense is sodat ons beter kan lyk – in alles vergeet ons van die Here se opdrag: dit moet oor die ander een gaan, nie oor myself nie.

5. DANIëL

Maar genadiglik is daar ook ‘n positiewe voorbeeld in die hele storie.

LEES Daniël 2 v 26 – 27

Dan 2:26 Die koning het toe vir Daniël, wat Beltsasar genoem is, gevra: "Kan jy vir my sê wat die droom is wat ek gehad het en wat sy uitleg is?"

27 Daniël het die koning geantwoord: "Die raadgewers, die voorspellers, die towenaars en die sterrekykers is nie in staat om die droom waaroor u navraag doen, vir u te vertel nie.

28 Maar…

En dan begin die volgende vers: Maar… wat verwag ons nou sou Daniel vir die koning sê? Ons verwag mos dat Daniël vir die koning sal sê: Maar ék kan… ek is beter as al daardie ander. Maar Daniël doen dit nie. Hy weerstaan die versoeking.

LEES Daniël 2 v 28

Dan 2:28 Maar daar is ‘n God in die hemel wat geheime kan openbaar en wat aan u, koning Nebukadnesar, wil bekend maak wat in die toekoms gaan gebeur. In u slaap het u ‘n droom, ‘n visioen gehad.

Die afgelope week het ek ‘n gulde geleentheid laat verbygaan om die Here die erkenning te laat kry. Ek het die sleutels van die kinders se kar in my sak omdat ek daaraan gewerk het, maar ry toe later met my kar dorp toe – kom toe terug en parkeer daar op die gras. Later die aand soek ek weer die kinders se kar se sleutels, maar dis weg – en ek weet ek het dit gehad. Loop toe uit met die flits en gaan soek en bid baie benoud. En daar kry ek die sleutels in die gras aan die anderkant van die kar. Maar wat vertel ek? Die sleutels was weg en ek het dit in die kar gekry. Niks van die wonderwerk om die sleutels in die donker in die gras raak te sien nie…

6. BEWUS VAN KEUSE

Terug na Daniël – dit was nie ‘n geval dat hy maar net ondergespeel het en die Here die erkenning gegee het nie. Kyk net hoe sien Daniël homself self in die volgende stukkie:

LEES Daniël 2 v 29 – 30

Dan 2:29 Toe u gaan slaap het, het u gedink oor wat in die toekoms sal gebeur, en Hy wat geheime kan openbaar, het aan u bekend gemaak wat gaan gebeur.

30 Dit is nie omdat ek meer wysheid het as ander mense dat hierdie geheim aan my geopenbaar is nie, maar omdat die uitleg aan u bekend moet word sodat u ‘n antwoord kan kry op die vrae waaroor u gedink het.

Daniël begin vir die koning vertel van die droom, maar dan onderbreek hy homself om eers sy eie posisie vir die koning duidelik te maak: Die Here wil vir die koning laat bewus word van wat gebeur – hy wat Daniël is, is net die boodskapper.

7. GETUIES

Vanoggend het ons twee jongmense wat wil verklaar dat hulle in die Here glo, dat die Here vir hulle baie belangrik is. In die verhaal van vanoggend het ons ‘n voorbeel van iemand vir wie dit om die Here gegaan het – nie oor homself nie. En dis ook wat julle vanoggend wil verklaar hier in die erediensdit gaan vir julle om die Here God en sy eer en sy Naam, dit gaan nie oor julleself nie – mag die Here vir ons elkeen help om so tot sy eer te leef.

8. NABY HOM

‘n Laaste opmerking. Het Daniël se erkenning van die Here sommer so vanself gekom? Was hy van nature so godsdienstig? Nee – ons lees later in die boek hoe Daniel elke dag die teenwoordigheid van die Here opgesoek het, elke dag na die Here geluister het, elke dag met Hom gepraat het – en daarom, omdat Daniel so naby aan die Here geleef het, so besef het wie die Here is – daarom kon hy ook voor koning Nebukadneser verklaar dat daar ‘n God is.

ONS ANTWOORD

 Lied 200 v 1, 3

U goedheid, Heer,

kan ons nie peil nie -

wie word daardeur nie diep getref!

Niks anders bring vir ons die heil nie -

ons wil ons hart tot U verhef.

Aan U alleen ons dank en ere -

U wat ons in u liefde lei.

U sal ons nooit vergeet nie, Here -

U wil ons in u waarheid lei.

Sou ek, o Heer, U nie vereer nie,

sou ek u goedheid nie verstaan?

Sou U my raad gee, ek nie leer nie,

die weg wat U my wys nie gaan?

Nee, Heer, U rig my wil en strewe;

u Woord bly my gedurig by.

Vul met u liefde ook my lewe

om my in alles U te wy.

VERKLARING VAN VERTROUE

 Steph-Mari Moore

 Riandre van Heerden

GEMEENSKAP VAN GELOWIGES

 Gemeente sing vir hulle Lied 268

Laat, Heer,

u seën op hul daal,

u guns uit Sion hul bestraal!

U wat beveel en dit geskied,

wil, Heer, u seën oor hul gebied!

DANKBAARHEID

 Offergawes

 Laaste Lied – 284 v 1, 2, 3

Laat Heer u vrede

deur my vloei

Waar haat is, laat ek daar U liefde bring.

Laat ek in pyn en

smart vertroostend wees

En krag gee deur geloof in U, o Heer

O Heer, help my om altyd so te leef –

om ander hoër as myself te ag,

Ja, om lief te hê – ander bo myself –

en ook eerder te gee as te verwag.

Laat Heer u vrede deur my vloei

en laat ek hoop gee waar daar twyfel is.

Ek wil u lig in duisternis laat skyn.

Laat ware vreugde altyd uit my straal

DIE HERE SE BELOFTE

 Sy teenwoordigheid en sy verbintenis


 
 
 

Comments


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page