Die Drie Bedelings in die Koms van die Koninkryk van God.
- Ds. Piet Venter
- Apr 14, 2015
- 11 min read

12 April 2015
Lees: Galasiër 5:13 - 26
Teks: Lukas 13:20 en 2
Sing: Lied 184:1, 2, 3 en 4
Lied 442:1 en 2
Lied 454 : 1.2 en 3
Die openbaring van die koms van God se koninkryk toon ‘n stygende lyn:
in die Ou Testament is dit vaag in simbole en seremonies;
in die Evangelies word dit duideliker in
die Seun van God wat mens geword het;
daarna breek dit kragtig deur in die Gees wat ons leer om alles te onderhou wat die Here Jesus sy dissipels beveel het om te doen
Die Drie bedelings in die koms van die koninkryk van God.
Ds. Piet Venter
Lees Galasiërs 5:13 – 26.
In die natuur ken ons 4 seisoene …. 4 seisoene wat die een van die ander verskil.
En daarom weet ons as boere om die regte ding in elke seisoen te doen.
Ons geestelike lewe het ook seisoene. Vier maande gelede was dit die Kersseisoen gewees.
So pas het ons die Paasseisoen agter die rug, en nou beweeg ons aan na Pinkster toe.
En ook wat ons geestelike lewe betref, hou ons ons in elke seisoen met die regte ding besig …. met dit wat by die seisoen pas.
Vanmore vra ek julle aandag vir die seisoene in die koms van God se koninkryk op aarde.
Ons teks is Lukas 13:20 en 21.
Daar lees ons – in die 1953-vertaling – dat Jesus op ‘n dag vir sy dissipels gevra het:
“Waarmee sal Ek die koninkryk van God vergelyk? Dit is soos suurdeeg wat ‘n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is.”
Die koninkryk van God is soos suurdeeg wat in drie mate meel ingewerk word.
Hoekom in drie mate meel?
Want die koninkryk van God op aarde word oor 3 seisoene, oor 3 tydperke .... die Bybel sê: oor 3 bedelings toenemend sigbaar – van die skepping van die wêreld af tot met die wederkoms van Jesus, wanneer alles aan Hom onderwerp sal wees, en God dan alles in almal sal wees. (1 Korintiërs 15:27 en 28)
Dit is vir hierdie waarheid wat ek vanoggend julle aandag vra, met al die implikasies daarvan vir elkeen van ons.
Ek het gesê: oor 3 periodes …. oor 3 bedelings word die Gesalfde van die Here, die Verlosser van die wêreld al hoe duideliker aan die mensdom geopenbaar.
Oor 3 bedelings:
• Die eerste bedeling was die tyd van die Ou Testament. Toe was die openbaring van Jesus nog vaag en verborge, maar in tekens en wonders, in offers en feeste, in wette en godsdienstige seremonies het die profiel van die Messias al hoe duideliker geword vir die wat oë het om te sien en ore om te hoor. Want Hý, Jesus, was die manna in die woestyn, Hy was die rots, Hy was die water, Hy was die paaslam, Hy was die taber- nakel in die middel van die tentedorp, Hy was die slang op die paal, ens, ens, ens.
Dat dit só is, word deur Jesus self aan die Emmaus-gangers uitgelê – beginnende by Moses en al die profete, en ook al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het. Jesus kon met reg in Lukas 24:27 sê: Die Skrif (d.w.s. die Ou Testament) getuig van My.
Dit was in die eerste bedeling.
• Daarna volg die tweede bedeling: die bedeling van die Seun van God op aarde.
Johannes die Doper kondig sy koms aan met: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” (Matteus 3:2) Hoekom? Want die Koning is hier!
En Jesus sluit by sy wegbereider aan deur hierdie oproep woordeliks te herhaal: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” (Mat 4:17)
Binne die beperkte omgewing van Jerusalem en Judea en Samaria en Galilea tree Jesus kragtig op as rabbi. Hy leer die mense …. en Hy doen onder hulle wonderwerke wat die tekens was van die krag van sy koninkryk: “Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig”. (Matt 11:5)
In die bedeling van die Seun van die mens …. in hierdie tweede maat meel, maak God sy koninkryk kragtig sigbaar hier op aarde tussen die mense – en elkeen wat dit sien en hom bekeer, word gered.
“Aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo het Hy die reg gegee om kinders van God te word”. (Johannes 1:12)
• En daarop volg dan die derde seisoen van die openbaring van Jesus. Dit is die bedeling wat begin met Pinkster, en wat sal eindig met Jesus se wederkoms.
In hierdie bedeling is die koninkryk van God nou binne-in ons. (Lukas 17:21) Jesus het dit gesê, en Paulus getuig ook hiervan in Kolossense 1:27 met: die geheimenis van die evangelie is dit: “Christus is in julle”.
Daarom kon Jesus sy dissipels in Johannes 14:26 belowe dat “wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het”. Hy belowe selfs: Júlle sal groter dinge doen as wat Ek doen.
Na sy oorwinning aan die kruis oor die magte van die dood en die doderyk, bemagtig die opgestane Jesus sy dissipels met krag uit die hoogte (Lukas 24:49), sodat hulle nou in staat is om sy werk in die derde bedeling, voort te sit. Hiervoor word hulle toegerus deur Hom aan wie alle mag in die hemel en op die aarde behoort!
Die dissipels, en al die gelowiges ná hulle, word toegerus met hierdie krag van die Gees van die opgestane Jesus. Net soos Paulus, is ons vandag ook tot alles in staat (Filip 4:13) – nié in ons eie krag nie, maar in die krag van die Gees. En daarom verstaan en verwag elkeen wat ore en oë het, dat daar in hierdie derde bedeling méér en duideliker en voller vrug in God se koninkryk sigbaar sal wees as in die eerste én in die tweede bedeling.
Dit is dan die 3 bedelings: die Ou Testament; Jesus hier op aarde; christene wat deur die Heilige Gees bemagtig word om jesus se werk voort te sit in die wêreld.
In die geval van hierdie 3 bedelings is daar dus nie terugkerende seisoene wat jaarliks aan ons die geleentheid bied om beter te doen as verlede seisoen nie. Daar is nie nog ‘n bedeling hierna nie. As hierdie een verby is, dan volg die wederkoms. Die Jesus wat nou deur sy Gees kragtig aan die werk is in sy kerk, sal binnekort – dit kan more wees – voor ons verskyn in persoon …. en lewendes en dooies sal dan rekenskap moet gee oor hoe ons op God se openbaring gereageer het – almal: dws die mense wat in die eerste bedeling gelewe het, sowel as die mense van die tweede bedeling, en ook ons wat nou tussen Pinkster en sy wederkoms leef.
Nou, in hierdie derde bedeling waarin óns lewe, is daar 3 openbaringe van wat Jesus Christus in en deur sy kerk tot stand bring – deur die Heilige Gees. Daar is die vrug van die Gees, daar is die gawes van die Gees, en daar is die bedieninge van die Gees.
1. In die eerste plek noem ek die vrug van die Gees, waarvan ons in Gal 5:22 gelees het.
“Die vrug van die Gees is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid,
goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.”
Hierdie vrug van die Gees is die teken daarvan dat ons ‘n wedergebore kind van God is – dit is die bewys dat ons ou natuur saam met Jesus gesterf het, en dat ons nou deur die Gees leef. (Rom 6:8 -12) Ons is nie meer slawe van die sonde nie, maar ons lewe word deur God se Gees beheers …. met die 9 kenmerke wat dit meebring.
En let daarop: dit is net één vrug – maar die één vrug het 9 geure, 9 eienskappe. Maw ons kan dus nie sommige hiervan begeer, en onsself van ander distansieer nie. Ons kan nie net sekere happies uit die vrug neem, omdat ons daarvan hou nie. Dis één vrug.
2. Wat die gawes van die Gees betref, is dit anders, want só lees ons in 1 Korintiërs 12:7:
“Aan elkeen afsonderlik word ‘n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal”.
Waar die vrug van die Gees in my lewe ‘n aanduiding is dat ek deel is van God se koninkryk, toon die gawes van die Gees dat die krag van sy koninkryk ook in my lewe aan die werk is .... die krag van die koninkryk. Dit besef ons dadelik as ons oor die voorbeelde van hierdie gawes in 1 Korintiërs 12–14 begin nadink: dat hulle almal bo-natuurlike geskenke van God aan sy kerk is. Want luister net wat hierdie gawes behels: dis ‘n woord van wysheid, en ‘n woord van kennis, en geloof, en genadegawes van gesondmaking, en om wonders te doen, om te profeteer, om tussen die geeste te onderskei, en om in tale te praat, en om dit uit te lê – almal gawes wat Jesus in hierdie bedeling waarin ons lewe, aan sy kerk gee sodat die wêreld kan sien hóé en wáár God vandag nog genesend en bevrydend aan die werk is – net soos toe sy Seun self in die vlees in die wêreld teenwoordig was.
3. En in die derde plek: in hierdie laaste bedeling – die bedeling van die Gees – bemagtig die Here sy kerk met 5 kragtige bedieninge. Toe Jesus na die hemel toe opgevaar het – só lees ons in Efesiërs 4:8–11 – het Hy 5 gawes aan sy kerk gegee, nl. apostels, profete, evangeliste, herders en leraars.
Hiermee het Jesus Homself aan die kerk gegee, want
– Hy is dié apostel, die Gestuurde van die Vader,
– Hy is die groot Profeet wat sou kom (Deut 18:18),
– Hy is die dié Evangelis, self die inhoud van die Blye Boodskap,
– Hy is die Goeie Herder,
– Hy is die hoogste Leraar.
Jesus gee Homself dus in hierdie vyf bedieninge aan sy kerk, en daarom sy duidelike en herhaalde opdragte aan sy volgelinge, soos byvoorbeeld:
In Matteus 12:1.
“Jesus het sy twaalf dissipels nader geroep en hulle mag gegee om onrein geeste uit te dryf en om elke soort siekte en kwaal gesond te maak.”
En in Markus 6:7 – 13.
“Jesus het die twaalf nader geroep en hulle twee-twee begin uitstuur. Hy het aan hulle mag oor onrein geeste gegee. Verder het Hy hulle bevel gegee om niks vir die pad saam te vat nie, net ‘n kierie – geen kos, geen reissak, geen geld in die beursie nie.
Hulle moes wel skoene aantrek maar nie nog ‘n kledingstuk saamvat nie. Daarby het Hy vir hulle gesê: ‘Waar julle in ‘n plek kom en in ‘n huis ontvang word, bly daar totdat julle van die plek af weggaan. En as ‘n plek julle nie wil ontvang en die mense nie na julle luister nie, gaan dan daarvandaan weg en skud selfs die stof onderaan julle voete af as aanklag teen hulle.’
Hulle het toe gaan verkondig dat die mense hulle moet bekeer. Daarby het hulle baie bose geeste uitgedrywe en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak.”
Ook in Matteus 28:18 – 20.
“Jesus kom toe nader en sê vir hulle: ‘Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.’”
En as laaste voorbeeld, Markus 16:15 – 20.
“Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom. Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word. Die volgende wondertekens sal voorkom by dié wat glo: in my Naam sal hulle bose geeste uit-drywe; in ander tale sal hulle praat; met hulle hande sal hulle slange optel, en as hulle iets drink wat dodelik giftig is, sal dit hulle geen kwaad doen nie; hulle sal siekes die hande oplê, en dié sal gesond word.”
Nadat die Here Jesus dit vir hulle gesê het, is Hy in die hemel opgeneem en het Hy aan die regterhand van God gaan sit. Hulle het toe die evangelie oral gaan verkondig, en die Here het met hulle saamgewerk en hulle prediking bekragtig deur die wondertekens wat daarop gevolg het.
Gemeente van Aberdeen: daar is drie bedelings, en ek is seker ons almal wat vandag hier saam is, besef in watter bedeling ons nou leef: dis die bedeling van die volledigste en die rykste openbaring van Jesus Christus wat daar nog was, en ook wat ooit sal wees.
En by sy wederkoms sal Hy van ons rekenskap vra (Romeine 14:12):
Het jou oë gesien, het jou ore gehoor, het jou hart verstaan,
en was jy gehoorsaam aan my Gees .... waarsonder jy my opdrag nie kon uitvoer nie?
Liewe Broer en Suster, wat is jóú antwoord as Hy vandag sou kom?
Hoe reageer jy .... nou .... in hiérdie bedeling .... op die Here se Gees .... op wat Hy in jóú lewe wil doen? Want daar is ‘n paar moontlikhede. Die Woord van die Here sê:
– Ons kan die gees bedroef (Ef 4:30) deur te dink dat die Gees mý nie bemagtig om heilig en onberispelik te lewe nie (Ef 1:4). Ek is nou maar eenmaal ‘n sondaar, en daar is talle christene wat baie erger dinge doen as ek.
– Of ons kan die Gees uitblus ....ons kan sy werk in ons lewe teëstaan (1 Tess 5:19 – 22), deur die gawes wat die Gees gee, te minag of deur hulle uitsoekerig te hanteer.
Miskien beproef ons wel alle dinge, maar dan kies ons net dié waarmee ons bekend is, waarmee ons gemaklik en veilig voel .... en nie noodwendig dié wat die kerk van die Here vandag nodig het nie.
– Die derde moontlikheid wat die Skrif noem, is dat ons teen die Gees kan laster.
Soos die Fariseërs wat in Matteus 12 voor hulle oë sien dat die koninkryk van God
magtiger is as Satan se koninkryk, want Jesus dryf ‘n bose gees uit ‘n man uit.
Maar dan draai hulle minagtend weg en beskuldig Jesus dat Hy dit gedoen het met die
hulp van Beëlsebul, die aanvoerder van die bose geeste.
Jesus se antwoord aan hulle, maak op ‘n manier vir ons die verskil tussen die drie bedelings duidelik, want Hy antwoord hulle in verse 31 en 32 soos volg:
“Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering kan die mense vergewe word, maar die lastering teen die Heilige Gees kan nie vergewe word nie. As iemand iets teen die Seun van die mens sê, kan dit hom vergewe word; maar as iemand iets teen die Heilige Gees sê, kan dit hom nie vergewe word nie, nie in hierdie bedeling nie en ook nie in die toekomstige nie.”
Jesus se antwoord kom hierop neer:
• Tydens die eerste bedeling was daar mense gewees wat Jesus nié in al die offers en tekens en godsdienspraktyke herken het nie.
Hy sê: dit kan hulle vergewe word.
• Dan was daar in die tweede bedeling mense wat met ongeloof gereageer het op die wonders en die tekens wat Jesus onder hulle gedoen het – want hulle oë en ore was toe gewees, sodat hulle nie besef het dat Hy die Messias is nie.
Dít kan húlle ook vergewe word – sê Jesus.
• Maar dan voeg Hy daaraan toe: as iemand die kragtige werk van die Heilige Gees misken .... as iemand iets teen die Heilige Gees sê, kán dit hom nie vergewe word nie, nie in hiérdie bedeling (dws die tweede een) nie, en ook nie in die toekomstige nie – dus ook nie as dit in die derde, in die laaste bedeling gebeur nie. (Vergelyk Markus 3:29: “Hy bly ewig skuldig aan die sonde.”)
Liewe Gemeente van Aberdeen, Broers en Susters in die Here –
Daar is drie bedelings.
“Die koninkryk van God is soos suurdeeg wat ‘n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is.”
• In die eerste maat, die Ou Testament, was die openbaring van Jesus vaag .... as’t ware met ‘n sluier bedek.
Tog was daar enkeles wat Hom herken het – soos Henog, Noag, Abraham, Moses, Dawid, Elia .... 7000 wat nié die knie voor Baäl gebuig het nie.
• In die tweede maat toe Jesus in ons vlees verskyn het, het mense op grond van wat Hy gesê en gedoen het, Hom as die Verlosser van die wêreld herken (sommige onmiddellik, ander eers later) – en hulle het in Hom geglo.
• In die derde maat breek sy Gees met krag deur .... só kragtig dat mense wat vir die Heilige Gees gelieg het, net daar dood neergeval het! (Handelinge 5:1 – 11)
Dit is in hierdie bedeling wat ons vandag nog lewe.
En daarom die vraag aan elkeen van ons vanmore:
• Hoeveel erns maak ek met die werk van die Heilige Gees in my lewe?
• Ag ek die werk van die Heilige Gees belangrik genoeg dat ek myself inspan om met die Gees vervul te word – waartoe Paulus óns ook in Efesiërs 5:18 oproep?
• Laat ek die Gees van die waarheid tóé om my in die héle waarheid te lei – soos wat Jesus beloof het dat Hy sal doen? (Johannes 16:13)
• En lê ek my tóé op die gawes van die Gees, maar veral daarop om te profeteer – soos wat Paulus die gemeente in Korinte daartoe aanmoedig? (1 Kor 14:1)
Dít is die vrae wat die Here vanmore op elkeenvan ons se kart kom lê.
Kom ons bid saam.
Comments