EN NOU HET EK HOOP: die verhaal van die boosheid van mense.
- Ds Abe Beyers
- Mar 30, 2015
- 14 min read

Sondag 29 Maart 2015 Markus 14 – 15
EN NOU HET EK HOOP: DIE VERHAAL VAN
DIE BOOSHEID VAN MENSE
Ds Abe Beyers
ONTMOETING
Ons erken die Here God
Hy groet ons
Ons sing ‘n Lied – 393 v 1, 4
Middelpunt van ons verlange,
U bring rus in ons gemoed!
Jesus, met ons dankgesange
loof ons steeds u liefdegloed!
Op ons diepbedorwe aarde
het U, Heiland, neergedaal
en vir elke skuldbeswaarde
met u kosbaar bloed betaal.
Heer, in liefde wek U liefde,
U kom met ons vóór begin:
U laat groei in ons die visie
van 'n nuwe lewensin.
U skenk nuwe inspirasie
om te bid, te volg, te dien.
Middelpunt van ons verlange,
U het rus aan ons voorsien.
WOORD-TYD
Kleuterkerk – Linda vd Merwe
VERHOUDING
Jesus en die kruis (Psalm 143)
v3 "‘n Vyand vervolg my, hy trap my in die grond, hy hou my gevange in die donker."
Ons ervaring:
v3 (b) "Ek is soos iemand wat lankal dood is. Ek het alle moed verloor, ek is verslae."
Maar ons…
v8 " Laat my elke môre u liefde ondervind, want in U stel ek my vertroue. Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig."
v10 "Leer my om u wil te doen, want U is my God! Laat u goeie Gees my op ‘n gelyk pad lei."
Ons antwoord met Lied 164 v 1, 2
Ons is almal hier tesaam,
vergader in sy Naam, verheerlik Hom.
Tot die dood was Hy getrou
en daardeur is ons nou sy eiendom.
Kom ons leef soos wat Hy vra
en leer om te verdra
en liefde na te streef.
Loof Hom, Christus, die Heer.
Ons is almal hier tesaam,
verenig in sy Naam, verheerlik Hom.
Met ons hart en mond en hand,
ons kragte en verstand
kom loof ons Hom.
Hou ons lewend deur U Gees,
laat ons U kinders wees
en U bo alles eer.
Jesus Christus, die Heer.
WOORD-TYD
Gebed
LEES Markus 14 en 15
[Jesus se dood word beplan]
Markus 14
1 Twee dae later sou dit die paasfees en die fees van die ongesuurde brood wees. Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes was op soek na ’n plan om Jesus op ’n slinkse manier gevange te neem en dood te maak.
2 Hulle het gesê: "Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien oproer onder die volk kom nie."
[Jesus word in Betanië gesalf]
3 Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse. Terwyl Hy aan tafel was, het daar ’n vrou gekom met ’n albaste fles egte, baie duur nardusolie. Sy het die fles oopgebreek en die inhoud daarvan op sy kop uitgegiet.
4 Party van die mense het onder mekaar hulle verontwaardiging uitgespreek: "Waarvoor is hierdie vermorsing van reukolie?
5 Hierdie reukolie kon vir meer as drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir armes gegee gewees het." En hulle het teen haar uitgevaar.
6"Laat staan haar," het Jesus gesê. "Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het ’n goeie daad aan My gedoen.
7 Julle het tog altyd armes by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen, maar vir My het julle nie altyd by julle nie.
8 Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam gesalf as voorbereiding vir my begrafnis.
9 Dit verseker Ek julle: Oral waar die evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot ’n herinnering aan haar."
[Judas onderneem om Jesus te verraai]
10 Judas Iskariot, wat een van die twaalf was, het sy hulp vir die priesterhoofde gaan aanbied om Jesus in die hande te kry.
11 Toe hulle dit hoor, was hulle bly en het hulle belowe om hom daarvoor te betaal. Hy het toe na ’n plan gesoek om Hom by ’n geskikte geleentheid te verraai.
[Die paasmaaltyd word voorberei]
12 Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood, die dag waarop die Jode altyd die paaslammers geslag het, vra Jesus se dissipels vir Hom: "Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?"
13 Hy stuur toe twee van sy dissipels en sê vir hulle: "Gaan na die stad toe. Daar sal ’n man wat ’n kruik water dra, julle ontmoet. Gaan saam met hom
14 en waar hy ingaan, moet julle vir die eienaar van die huis sê: ‘Ons Leermeester vra: Waar is my kamer waar Ek die paasmaaltyd saam met my dissipels kan eet?’
15 Hy sal julle dan ’n groot bovertrek wys wat klaar daarvoor ingerig is. Daar moet julle vir ons die paasmaaltyd voorberei."
16 Die dissipels het toe gegaan en in die stad gekom en alles gekry soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die paasmaaltyd voorberei.
Een van Jesus se dissipels gaan Hom verraai
17 Die aand kom Jesus toe met die twaalf daar aan.
18 Terwyl hulle sit en eet, sê Hy: "Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet."
19 Hulle was onthuts, en een na die ander het Hom gevra: "Dis tog nie ek nie?"
20 Hy sê toe vir hulle: "Dit is een van julle twaalf, die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek.
21 Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie."
[Die instelling van die nagmaal]
22 Terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir hulle gegee met die woorde: "Neem dit, dit is my liggaam."
23 Toe neem Hy ’n beker en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle, en hulle het almal daaruit gedrink.
24 Hy sê vir hulle: "Dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word. 25 Dit verseker Ek julle: Ek sal nie weer wyn drink nie tot op daardie dag wanneer Ek die nuwe wyn in die koninkryk van God sal drink."
[Petrus sal Jesus verloën]
26 Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.
27 Toe sê Jesus vir hulle: "Julle sal almal van My afvallig word. Daar staan immers geskrywe: Ek sal die herder doodmaak, en die skape sal uitmekaar gejaag word.
28 Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruit gaan na Galilea toe."
29 Petrus het vir Hom gesê: "Al sal hulle ook almal van U afvallig word, ek sal nie."
30 Jesus sê toe vir hom: "Dit verseker Ek jou: Jy sal vandag nog, in hierdie nag, voordat die haan ’n tweede keer kraai, My drie keer verloën."
31 Maar Petrus het nadruklik gesê: "Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!"
En al die ander (dissipels) het dieselfde gesê.
[Jesus in Getsemane]
32 Toe kom hulle by ’n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: "Sit hier terwyl Ek gaan bid."
33 Daarna neem Hy vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het ontsteld en beangs geword
34 en vir hulle gesê: "Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak!"
35 Hy het toe ’n entjie daarvandaan op die grond gaan kniel en gebid dat, as dit moontlik is, die uur van lyding nie vir Hom sou aanbreek nie.
36 Hy het gesê: "Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil."
37 Hy kom toe terug en kry die drie aan die slaap en vra vir Petrus: "Simon, slaap jy? Kon jy nie eens een uur lank wakker bly nie?
38 Julle moet waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak."
39 Hy het weer gaan bid en dieselfde gebed as voorheen uitgespreek.
40 Hy kom toe terug en kry die drie weer aan die slaap, want hulle was baie vaak. Hulle het nie geweet wat om vir Hom te sê nie.
41 Toe Hy die derde keer terugkom, sê Hy vir hulle: "Slaap en rus julle nou nog? Dit is genoeg. Die tyd het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van die sondaars oorgegee.
42 Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby."
[Jesus word gevange geneem]
43 Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, wat een van die twaalf was, daar aan saam met ’n klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die skrifgeleerdes en die familiehoofde gestuur.
44 Die verraaier (Judas) het met die mense ’n teken afgespreek. Hy het gesê: "Die een wat ek sal soen, dit is hy. Gryp hom en vat hom weg. Moenie dat hy ontsnap nie."
45 Toe hy dan daar kom, het hy reguit na Jesus toe gegaan en gesê: "Rabbi!" en Hom met ’n soen gegroet.
46 Die ander het vir Jesus gegryp en Hom gevange geneem.
47 Een van dié wat daarby gestaan het, het ’n swaard uitgepluk, daarmee na die slaaf van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap.
48 Jesus sê toe vir die mense: "Het julle met swaarde en stokke gekom om My te vang asof Ek ’n rower is?
49 Dag vir dag was Ek by julle besig om die mense in die tempel te leer en julle het My nie gevange geneem nie. Maar die Skrif moet in vervulling gaan."
50 Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop.
51 ’n Sekere jongman is saam agter Jesus aan, met net ’n doek om sy lyf. Die mense gryp hom toe,
52 maar hy het die doek gelos en kaal weggehardloop.
[Jesus voor die Joodse Raad]
53 Hulle het Jesus weggelei na die hoëpriester toe. Die priesterhoofde en die familiehoofde en die skrifgeleerdes het almal daar saamgekom.
54 Petrus het op ’n afstand agter Hom aan gegaan tot binne-in die binnehof van die hoëpriester se woning. Daar het hy hom saam met die wagte by die vuur gesit en warm maak.
55 Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het geprobeer om ’n aanklag teen Jesus te kry om Hom dood te maak, maar hulle het niks gekry nie.
56 Baie mense het vals getuienis teen Hom afgelê, maar die getuienis het nie ooreengestem nie.
57 Sommige van hulle het na vore gekom en vals getuienis teen Hom afgelê deur te sê:
58" Ons het hom hoor sê: Ek sal hierdie tempel, wat deur mense gemaak is, vernietig en binne drie dae ’n ander een bou wat nie deur mense gemaak is nie."
59 Maar ook hieroor het hulle getuienis nie ooreengestem nie.
60 Toe het die hoëpriester in die Raad opgestaan en Jesus begin ondervra. "Verweer jy jou glad nie?" het hy gesê. "Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?"
61 Maar Jesus het niks gesê nie en Hom glad nie verweer nie.
Die hoëpriester het Hom verder ondervra. "Is jy die Christus, die Seun van Hom aan wie die lof toekom?" het hy Hom gevra.
62 "Ek is," het Jesus geantwoord, "en julle sal dieSeun van die mens sien waar Hy sit aan die regterhand van Hom wat magtig is, en wanneer Hy kom op die wolke van die hemel."
63 Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: "Waarvoor het ons nog getuies nodig?
64Julle het die godslastering gehoor. Hoe lyk dit vir julle?"
Hulle het Hom eenparig veroordeel: "Hy verdien die dood!"
65 Party van hulle het begin om op Hom te spoeg. Hulle het sy oë toegebind, Hom met die vuis geslaan en vir Hom gesê: "Profeteer ’n bietjie!"
Ook die wagte het Hom geklap toe hulle Hom wegvat.
[Petrus verloën Jesus]
66 Terwyl Petrus onder in die binnehof was, kom een van die hoëpriester se diensmeisies daar.
67 Toe sy vir Petrus sien, besig om hom warm te maak, kyk sy na hom en sê: "Jy was ook saam met die man van Nasaret, die Jesus."
68 Hy (Petrus) het dit egter ontken deur te sê: "Ek ken Hom nie en ek verstaan ook nie wat jy sê nie." Toe het hy na die deur se kant toe gestaan. En daar het ’n haan gekraai.
69 Die diensmeisie het hom gesien en weer vir dié wat daar by gestaan het, gesê: "Hy is een van hulle."
70 Maar hy het dit weer ontken.
’n Rukkie later het dié wat daar by gestaan het, vir Petrus gesê: "Werklik, jy is een van hulle, want jy is mos ook ’n Galileër."
71Toe begin hy vloek, en hy sweer: "Daardie man van wie julle praat, ken ek nie."
72 En onmiddellik het die haan ’n tweede keer gekraai. Dit het Petrus toe bygeval wat Jesus vir hom gesê het: "Voordat die haan ’n tweede keer kraai, sal jy My drie keer verloën." En hy het in trane uitgebars.
[Jesus voor Pilatus]
Markus 15
1 Die môre vroeg het die priesterhoofde saam met die familiehoofde en die skrifgeleerdes dadelik as volle Joodse Raad ’n vergadering gehou. Hulle het Jesus geboei en Hom toe weggebring en aan Pilatus uitgelewer.
2 Pilatus het vir Hom gevra: "Is jy die koning van die Jode?" Jesus antwoord hom: "Dit is soos u sê."
3 Die priesterhoofde het Hom van baie dinge beskuldig.
4 Pilatus het Hom toe verder ondervra. "Verweer jy jou glad nie?" het hy gevra. "Kyk waarvan beskuldig hulle jou alles."
5 Jesus het egter niks meer gesê nie, sodat Pilatus verbaas was.
[Pilatus lewer Jesus oor om gekruisig te word]
6 Elke paasfees het Pilatus vir die mense een gevangene, die een wat hulle gevra het, losgelaat.
7 Daar was ’n man met die naam Barabbas in die tronk saam met ander opstandelinge. Hulle het tydens die opstand moord gepleeg.
8 Daar het toe juis ’n klomp mense gekom en Pilatus gevra om vir hulle te doen wat hulle van hom gewoond was.
9 Pilatus vra hulle toe: "Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?"
10 Hy (Pilatus)het geweet dat die priesterhoofde Hom uit afguns uitgelewer het.
11 Hulle het die mense egter opgesteek om te vra dat hy liewer Barabbas vir hulle moet loslaat.
12 Pilatus het weer vir hulle gevra: "Wat wil julle dan hê moet ek met hom maak wat julle die koning van die Jode noem?"
13 "Kruisig hom!" skreeu hulle. (die mense)
14 "Waarom? Wat se kwaad het hy gedoen?" vra Pilatus hulle. Maar hulle skreeu nog harder: "Kruisig hom!"
15 Omdat Pilatus die mense hulle sin wou gee, het hy Barabbas toe vir hulle losgelaat en Jesus laat gesel en Hom oorgelewer om gekruisig te word.
[Die soldate bespot Jesus]
16 Die soldate vat Jesus toe in die binnehof van hulle hoofkwartier in en roep die hele afdeling bymekaar.
17 Toe trek hulle Hom ’n pers mantel aan en vleg ’n doringkroon en sit dit vir Hom op.
18 Daarna het hulle Hom begin begroet en gesê: "Ons groet u, Koning van die Jode!"
19 Hulle het Hom herhaaldelik met ’n stok oor die kop geslaan en op Hom gespoeg en hulle knieë gebuig asof hulle aan Hom eer wou bewys.
20 Nadat hulle Hom klaar bespot het, het hulle die pers mantel uitgetrek en weer sy eie klere vir Hom aangetrek.
Toe lei hulle Hom weg om Hom te kruisig.
[Jesus word gekruisig]
21 Die soldate het iemand wat daar verbygekom het, gekommandeer om Jesus se kruis te dra. Dit was Simon van Sirene, wat van buite die stad af gekom het, die pa van Aleksander en Rufus.
22 Hulle (die soldate) bring Jesus toe na ’n plek Golgota, wat Kopbeenplek beteken.
23 Hulle wou vir Hom wyn gee met mirre daarin, maar Hy wou dit nie hê nie.
24 Toe kruisig hulle Hom en verdeel sy klere onder mekaar deur te loot oor wat elkeen moet kry.
25 Dit was nege-uur die môre toe hulle Hom gekruisig het.
26 En die rede waarom Hy gekruisig is, was op ’n bordjie aan die kruis geskrywe: "Die koning van die Jode."
27 Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een regs en een links van Hom.
29 Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud en gesê: "Toe, jy wat die tempel afbreek en in drie dae weer opbou!
30 Red jouself en kom van die kruis af."
31 Net so het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes ook spottend vir mekaar gesê: "Ander het hy gered; homself kan hy nie red nie!
32 Laat die Christus, die koning van Israel, nou van die kruis af kom, sodat ons dit kan sien en in hom glo!" Die twee wat saam met Hom gekruisig is, het Hom ook beledig.
[Jesus sterwe]
33 Teen twaalfuur die middag het daar duisternis oor die hele land gekom en dit het tot drie-uur geduur.
34 Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: "Eloï, Eloï, lemá sabagtani?" Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?
35 Toe party van die mense wat daar naby gestaan het, dit hoor, sê hulle: "Hoor daar, hy roep vir Elia."
36 Een van hulle het toe gehardloop, ’n spons in suur wyn gesteek en dit vir Hom op ’n stok gehou om te drink. Hy het gesê: "Wag, kom ons kyk of Elia hom van die kruis kom afhaal."
37 Daarna het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.
38 Die voorhangsel in die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur.
39 Toe die offisier, wat reg voor Jesus gestaan het, Hom die laaste asem só sien uitblaas het, het hy gesê: "Hierdie man was werklik die Seun van God."
40 Daar het ook vroue op ’n afstand gestaan en kyk. Onder hulle was Maria Magdalena en Maria die moeder van Klein-Jakobus en Joses, en Salome.
41 Toe Jesus nog in Galilea was, het hulle oral saam met Hom gegaan en Hom versorg. Baie ander vroue wat saam met Hom na Jerusalem toe gekom het, was ook daar.
[Jesus word begrawe]
42 Dit was Vrydag, dit is die dag voor die sabbatdag, en dit was al die middag laat.
43 Josef van Arimatea, ’n vooraanstaande lid van die Joodse Raad en iemand wat self ook uitgesien het na die koms van die koninkryk van God, kom toe daar aan. Hy het dit gewaag om na Pilatus toe te gaan en die liggaam van Jesus te vra.
44 Pilatus was verbaas om te hoor dat Hy al dood is. Hy het die offisier laat roep en hom gevra of Jesus lankal gesterwe het.
45 Toe hy van die offisier verneem dat dit wel so is, het hy die lyk vir Josef gegee.
46 Josef het ’n stuk linne gekoop, Jesus van die kruis gaan afhaal, Hom in die linne toegedraai en neergelê in ’n graf wat in die rots uitgekap was. Hy het ’n klip voor die ingang van die graf gerol.
47Maria Magdalena en Maria die moeder van Joses het gestaan en kyk waar Hy neergelê word.
Ek sien U, Heer -
die Lam van God, onskuldig -
tot in die dood
gehoorsaam en geduldig.
O Liefde, ek aanskou in al u wonde
die vloek van sonde!
EN NOU?
Ons het weer vandag die verhaal gehoor van wat mense doen, van die geweld en selfsug van mense.
Ons het ook gehoor van Jesus wat vrywillig hier ingegaan het, wat Homself vrywillig oopgestel het aan die kwaad van mense – en nie Homself verdedig het nie.
En nou ons? Wat ervaar ons vanoggend noudat ons weer hierdie verskriklike verhaal gehoor het?
Ons kan nou allerande mooi dinge sê hiervan – maar by my is daar twee gedagtes:
- Hierdie verhaal gee vir my vrymoedigheid teenoor die Here God. Ek kan maar met my sukkel en my ellende na Hom toe kom. Hy sal verstaan.
- En ek het hoop, al is my omstandighede ook hoe hopeloos, want Jesus is daardeur en daarom kan ek ook.
Ons lees daarom weer Psalm 143 v 8 en 10
"Laat my elke môre u liefde ondervind, want in U stel ek my vertroue.
- Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig.
- Leer my om u wil te doen, want U is my God!
- Laat u goeie Gees my op ‘n gelyk pad lei."
DANKBAARHEID
Offergawes
Dankgebed vir die reen
(meeste het tussen 50 en 75 mm reen gekry)
ERKENNING
Lied 599 v 1, 3
As Hy weer kom, as Hy weer kom, kom haal Hy sy kinders; al sy kinders wat in Hom glo, om by Hom te wees.
Refrein:
Ja ons wag op die Here, en ons sing tot sy ere.
Ja, Hy kom weer verseker om ons te kom haal.
Hy’s die Weg en Hy’s die Waarheid, die Lewe vir elkeen; sodat almal wat in Hom glo vir ewig sal leef!
Refrein:
Ja ons wag op die Here, en ons sing tot sy ere.
Ja, Hy kom weer verseker om ons te kom haal.
SY BELOFTE
Hy gee ons sy seën
Comentarios