top of page

Kersdiens - Jesus Nou?

  • Writer: NG Kerk Aberdeen
    NG Kerk Aberdeen
  • Dec 24, 2014
  • 8 min read
ONS BERG 3.JPG

HEBREERS 1v4 Donderdag 25 Desember 2014

KERSDIENS - JESUS NOU?

Ds. Abe Beyers

ONTMOETING

  • Ons erken die Here in sy grootheid

  • Hy groet ons

  • Ons sing tot sy eer lied 344 v 1, 2, 3

O die goeie tyding, o die blye tyding -

helder klink dit met Kersfeestyd:

Diep was ons verlore,

Christus is gebore.

Juig dan, almal, jubel oor die saligheid

O die goeie tyding, o die blye tyding

kom met krag in die Kersfeestyd:

Hy, die Hemelkoning,

maak by mense woning -

Hy, gebore in die volheid van die tyd!

O die goeie tyding, o die blye tyding -

oral hoor ons: Dis Kersfeestyd.

Blye jubelkore loof die Kind, gebore.

Juig nou mensdom,

prys Hom tot in ewigheid!

Woord-tyd

  • Gebed

Lied 349 v 1, 2

Kom, kinders,

besing met 'n vrolike stem

die wonder van God

in die stad Betlehem,

want daar is die Heiland gebore,

dié nag, die hoop van die wêreld,

deur eeue verwag.

Geringe klein dorpie in duister gehul,

'n heilswoord is

deur dié geboorte vervul:

Die lig van die wêreld,

die God'like Kind,

is Jesus in wie ons die saligheid vind!

OPGEWONDE?

Dis mos hierdie tyd van die jaar wat ons weer die kersliedere uithaal en speel – bekendes soos Stille Nag, Kom alle getroues, Juig die Redder is daar. En as ons die liedere sing, dan is daar die pragtige woorde van: Juig die Redder is daar…; Hy kom verlos…; Hy is wonderbaar…; U het ons heil gebring...

En tog wonder ek of ons regtig so opgewonde is oor hierdie redding en verlossing van die Here Jesus Christus?

Ek vat dit van myself af, wanneer laas het ek vir iemand vertel van die krag van die Here Jesus wat lewe bring, wat dinge verander? Wanneer laas het ek vir iemand spontaan gesê: “probeer Jesus, Hy maak dinge nuut”.

Ek lees onlangs die ontstellende woorde wat iemand skryf – dis ontstellend omdat dit vir so baie mense waar is: ons samelewing is dalk besig om eerder 'n ander lied te sing: "Die wêreld is gebore, Christus is verlore."

Want die wêreld het mos groot geword. Dis die wêreld wat Christus nie meer nodig het nie.

Dis die wêreld wat verveeld geraak het met Christus.

Dis die wêreld wat nie meer enige verlossing nodig het nie, omdat sonde 'n outydse storie geword het.

Dis die wêreld wat self op die troon sit, self oplossings uitdink en die skepping ontrafel. Ons gebruik ons eie krag. Ons skep die hede. Ons beplan die toekoms.

En Kersfees ? Ag ja, dis ‘n saamkuiertyd, dis ‘n feestyd. En Jesus is die kind in die toneelspel wat ons opvoer, waarvan ons sing, waarna ons kom kyk.

1. HEBREёRS

Miskien is daar by ons dieselfde gevoel as by die Hebreёrs destyds.

Die lesers het moeg geraak om aan te hou glo en vertrou op Jesus Christus, hulle het dit moeilik gevind om net aan Jesus vas te hou. Ons lees dat daar 'n gebrek aan geloofsgroei was(5:11-6:3)

Heb 5:11 In verband hiermee het ons baie te sê wat moeilik is om aan julle te verduidelik, aangesien julle so traag is om te leer.

Heb 5:12 Hoewel julle teen hierdie tyd self reeds onderrig behoort te gee, het julle weer nodig dat iemand julle in die grondwaarhede van die woord van God moet onderrig. ‘n Mens moet julle met melk voed en nie met vaste kos nie.

Heb 5:13 Iemand wat nog van melk lewe, kan nie saampraat oor wat reg of verkeerd is nie, want hy is nog ‘n kind.

Heb 5:14 Vaste kos is vir grootmense, vir mense wat oor insig beskik en wat deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei.

Heb 6:1 Laat ons nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap. Ons wil nie opnuut die fondament lê deur te praat oor die bekering uit ‘n leefwyse wat tot die dood lei nie, of oor geloof in God,

Heb 6:2 die leer van die doop en die handoplegging, die opstanding van die dooies en die ewige oordeel nie.

Heb 6:3 Ons sal dus verder gaan as God dit toelaat.

en 'n laksheid om gemeentelike byeenkomste by te woon (10:24).

Heb 10:25 Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.

Maar eintlik was die dinge simptome van 'n dieper probleem.

Hulle het destyds hulle fokus op Jesus Christus verloor (1:1, 2; 12:1-4).

Heb 1:1 In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, (v2) maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.

God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak.

Net soos die Ou-Testamentiese volk van God het hulle ook op hulle reis na die beloofde land begin moeg raak.

Miskien was die agteruitgang as gevolg van mense wat druk op hulle uitgeoefen het om anders te glo. Dalk het hulle maar net gewonder of dit die moeite werd is om in Jesus te bly glo. En hulle het selfs lyding beleef (10:32-34) en oorweeg om op te hou glo.

Heb 10:32 Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly.

Heb 10:33 Deels is julle deur beledigings en vervolging openlik tot bespotting gemaak en deels het julle gely omdat julle julle vereenselwig het met ander wat hierdie dinge oorgekom het.

Heb 10:34 Julle het met die gevangenes meegevoel gehad, en toe op julle besittings beslag gelê is, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle ‘n besitting het wat beter en blywend is.

2. AANMOEDIGING

En nou skryf die man aan die Hebreers om hulle aan te moedig – hy wys vir hulle wie Jesus is, wie is hierdie Jesus waaroor hulle wonder, waaraan hulle twyfel - wie is Hy regtig?

LEES Hebr 1 v 1 – 4

Heb 1:1 In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.

God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak.

3 Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.

4 Hy is net so verhewe bo die engele as wat die Naam wat God Hom gegee het, voortrefliker is as hulle naam.

Ons het nou eers die hele storie deurgelees, maar nou kan ons in detail daarna kyk,

Betrokke by die skepping

LEES Hebr 1 v 2b-3a

God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak.

3 Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand.

Dis hierdie Jesus wat daar as mens in Betlehem gebore was, dis hierdie Jesus wat daar in ‘n krip gelê het deur wie die wêreld geskep is, wat die wêreld onderhou deur sy magswoord, wat die wêreld onderhou en dra.

Soos die belydenis van Nicea dit mooi stel: Hy was van ewigheid af God. God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het. Dit is hierdie Jesus wat die mag van God uitstraal.

Deurdink dit net weer vir ‘n oomblik – die Jesus wat in ‘n krip gelê het en aan ‘n kruis gehang is – dis wie Hy regtig is.

Herstel:

LEES Hebr 1 v 3b

“Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.”

Maar dan verduidelik die man verder vir die gemeente: die Here Jesus was op ‘n stadium die vernederde Jesus, ja, Hy was die babatjie in ‘n krip – maar daardeur het Hy namens ons op ons werf en in ons omstandighede, as ‘n mens soos ons, kom gehoorsaam bly tot die laaste toe. So was Hy die enigste wat gehoorsaam gebly het en nie Homself verdedig het nie en nie aan sy eie belange gedink het nie – en so vir ons vrede met God bewerk het. Dit was destyds – nou is Hy in die uitvoerende magsposisie by God die Vader.

En miskien moet ons dit ook maar weer hoor – Jesus is nie meer die mens waarvan ons lees in die NT nie – Hy sit nou in die magsposisie by God.

Die hele doel van hierdie woorde van die skrywer is om ons wat moedeloos raak oor die Here Jesus, wat wonder oor Hom, vir wie Hy nie meer ‘n faktor is nie – om vir ons aan te moedig om weer te fokus op Hom, om weer te besef wie Hy is – sodat ons weer kan opgewonde raak oor hierdie Heerser Jesus. (Beklemtoon)

Maar daar is nog ‘n stukkie wat die man skrywe – en die woorde het nogal ‘n stekie in

Finale bekendmaking

Lees Hebr 1 v 2a

Heb 1:1” In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. “

Die skrywer sê dat die Here God het Homself in die verlede, in die tyd van die OT deur sy profete en priesters bekend gemaak wie Hy is:

Bv n.a.v Eksodus 20:

" Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte uit die plek van slawerny bevry het" – respekteer daarom vir My as God, want by My is daar lewe te kry.

En dan nou verder:

toe het Jesus gekom, as die Here God se finale bekendmaking van wie Hy is, as sy finale plan om vrede tussen Hom en die mense te maak. Dis asof die skrywer wil sê:

in Jesus het die Here God sy hart oopgemaak, alles gegee, Homself blootgestel, oop gestel – en dis nou finaal, dis nou die laaste, die mees intiemste bekendmaking van die omgee-aard van die Here God.

En die stekie kom daarin: moenie Hom los nie, want dis die laaste en mees intiemste bekendmaking van die Here – moenie die kans laat verbygaan nie.

3. HET ONS GEHOOR?

‘n man met die naam Michael Card het 'n pragtige lied geskryf waarmee ons afsluit, "Will you not listen". Kom ons luister daarna – vir onsself, maar ook om ons aan te moedig om die goeie nuus van Jesus deur te gee aan mense.

Is not He who formed the ear, worth the time it takes to hear?

Should He who formed our lips for speaking be not heeded when He speaks?

Will you not listen? Why won't you listen?

God has spoken love to us.

Why will you not listen?

Listen to the sacred silence.

Listen to the Holy Word.

Listen as He speaks through living parables that must be heard.

Will you not listen? Why won't you listen?

God has spoken peace to us.

Why will you not listen?

He spoke a word of flesh and blood.

Flesh and blood that bled and died.

Bled and died just to be heard.

How could you not hear this Word?

Why will you not hear this Word?

Will you not listen? Why won't you listen?

God has spoken hope to us.

How could you not listen? Why will you not listen? How could you not listen?"

AANBIDDING

Lied 267 v 1, 2

Ons Vader op die hemeltroon

aan wie ons lof en eer betoon,

ons bid ootmoedig almal saam:

Gee dat u goddelike Naam

deur ons geken, geëer, gevrees -

in alles mag geheilig wees.

Laat Heer u Koninkryk steeds kom

in hierdie land en oral om.

Die skepping is u magsgebied

waar u volmaakte wil geskied -

vanuit die hemel om u troon

tot waar ons op die aarde woon.

GETUIENIS

  • Kers aansteek

  • Laaste Lied – 365 v 1, 3

Hoor die blye eng'lelied

aan die Koningseun gebied:

"Vrede op aarde - God die eer -

Hy daal tot die sondaar neer."

Almal wat Hom liefhet, sing

om Hom lof en dank te bring!

Almal, juig met hart en stem:

God word mens in Betlehem.

Hoor die blye eng'lelied

aan die Koningseun gebied.

Jesus, ware Vredevors

kom vir Hom ‘n volk verlos.

Wêreldwyd, in elke land

kom bevryding deur sy hand.

In ons nood het Hy gedaal,

vir ons lewe duur betaal.

Vrygemaak, deur Hom gevind,

is ek ook nou koningskind!

Almal deur sy koms verlos,

dank en loof die Vredevors!

SY BELOFTE

  • Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld


 
 
 

Comments


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page