HY HET DEUR CHRISTUS DIE WêRELD MET HOMSELF VERSOEN
- NG Kerk Aberdeen
- Dec 14, 2014
- 7 min read

2 Korintiers 5 Sondag 14 Desember 2014
HY HET DEUR CHRISTUS DIE WêRELD MET HOMSELF VERSOEN
Ds Abe Beyers
ONTMOETING
Ons erken die Here
Hy groet ons
Ons sing ‘n loflied – 344 v 1, 2, 3
O die goeie tyding, o die blye tyding -
helder klink dit met Kersfeestyd:
Diep was ons verlore,
Christus is gebore.
Juig dan, almal, jubel oor die saligheid!
O die goeie tyding, o die blye tyding
kom met krag in die Kersfeestyd:
Hy, die Hemelkoning,
maak by mense woning -
Hy, gebore in die volheid van die tyd!
O die goeie tyding, o die blye tyding -
oral hoor ons: Dis Kersfeestyd.
Blye jubelkore loof die Kind, gebore.
Juig nou mensdom,
prys Hom tot in ewigheid!
VERHOUDINGS-TYD
Wie is die Here? (Joh 3v16)
God die wêreld so lief gehad..
dat Hy sy enigste Seun gegee het…
Ons? Die wat in Hom glo
Belofte: nuwe ewige lewe
Antwoord: Lied 163
Soos 'n wildsbok wat smag na water,
smag my siel na U, o Heer.
U alleen is my hartsverlange
en ek bring aan U die eer.
U alleen is my bron van krag;
in U teenwoordigheid
wil ek nou wag.
U alleen is my hartsverlange
en ek bring aan U die eer.
WOORD-TYD
Gebed
2 Korintiers 5
1. JAPANESE SOLDATE IN DIE FILIPPYNE
As ons vandag te doen kry met Japanese, dan beleef ons hulle as gedissiplineerde toegewyde mense, mense wat dit wat hulle doen ernstig opvat. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was dit ook nie anders nie – die soldate van die Japanese weermag was mense wat selfs hulle lewe sou opoffer t.w.v. Japan. En as die Keiser gesê het ons moet die land verdedig, dan het hulle alles in die stryd ingesit.
So het die gevegte teen die Amerikaanse magte ook oorgeloop tot in die Filippyne. En dis tropiese gebied met tropiese woude.
(Sien die foto hierbo)
So is van die gevegs-eenhede daar afgelaai en soort van in klein groepies wat op hulle eie moes aangaan om die vyandelike magte besig te hou. Natuurlik was daar nie in daarde tyd selfone nie en radios was maar baie skaars. Teen die einde van 1944 was die Filippyne bevry van die Japanese en in September 1945 het Japan oorgegee.
Die probleem het nou ontstaan – hoe om vir die baie Japanese soldate wat daar in die bosse van die Filippyne weggekruip het, te laat weet dat die oorlog verby is. So het die weermag vliegtuie gestuur met pamflette wat uitgestrooi is om die soldate te laat weet om uit te kom want die oorlog is verby – maar die soldate het eenvoudig aangeneem dat dit ‘n plan van die Amerikaners was om hulle uit te kry. Hulle het nie die plan geglo nie.
Ek wonder wat ons sou doen as ons nou die regering van daardie tyd was, watter plan sou ons maak? Wat toe gedoen is, is dat daar ‘n bandopname gemaak is van die keiser van Japan se boodskap, en hierdie boodskap is toe orals uitgesaai oor die openbare radios. Dit was eers toe die soldate die stem van die Keiser self hoor, dat hulle uit die bosse uitgekom het en hulle wapens kom neerlê het – niks anders kon hulle oortuig nie. (Terloops, die laaste soldaat het eers 30 jaar later daar uitgekom - 1974).
2. GOD SE STORIE
Kom ons los nou eers die Tweede Wêreldoorlog – en ons dink aan die mensdom oor al die eeue, die hele wêreld. Orals is mense maar aan die baklei – nie net formeel oorlog maak en bomme op mekaar gooi en mekaar doodmaak nie, maar sommer daar in die huis tussen man en vrou en kinders is daar oorlog, is daar geweld. Sommer so hier in ons dorp is daar geweld en kwaad - die stryd onder mense teen mekaar gaan nog steeds aan deur al die eeue.
As die Here God nou na die wêreld kyk, en Hy sien die geweld en die kwaad en die ellende onder mense, wat het Hy daaraan gedoen?
LEES 2 Korintiers 5 v 19a
19 Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie.
En dis mos nou waar kersfees in die prentjie inkom. Met Kersfees dink ons mos nou terug aan Die Here God wat vir Jesus aarde toe gestuur het om as ‘n Babetjie daar in Betlehem gebore te word – Hy het onder ons kom woon – en nederig gebly, nie Homself verdedig nie, en nie sy eie belang voorop gestel nie.
En so was daar ten minste Iemand wat namens die mense die Here se wil uitgevoer het, Iemand wat net vir ander omgegee het, Iemand wat net liefde betoon het.
En nou skryf Paulus – God die Vader het deur wat Jesus gedoen het, die wêreld se mense met Homself versoen, vrede gemaak met hulle. Dus is die oorlog verby, Hy is nie kwaad vir hulle nie, die saak is afgehandel.
3. BOODSKAP DEURGEE
Nou moet die boodskap, die vredemaking, moet mos aan die strydende en bang mense van die wêreld deurgegee word – net soos daar destyds vir die Japanese soldate die boodskap moes deurgegee word dat die oorlog verby is.
Hoe het die Here dit gedoen? Natuurlik het die Keiser van die heelal sy Seun gestuur om juis daar in Jerusalem te kom wys dat daar nou vrede is, dat die spreekwoordelike oorlog verby is. Maar die meeste mense het dit nie gehoor of raakgesien nie.
Maar nou skryf die apostel Paulus vir ons van die Here God se plan.
LEES 2 Kor 5 v 19b-20
Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.
20 Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ‘n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!
Dis nou die verrassende van die Here God se plan om sy vredesboodskap vir al die strydendes en bevreesdes oor te dra – Hy gebruik ons om die Goeie Nuus deur te gee.
As ons nou weer dink aan die Japanese soldate daar in die Filippyne in 1945/6. Dit het destyds die keiser van Japan se direkte stem gekos om hulle te oortuig dat daar vrede is – op ‘n manier is ons nog nie daar dat die Keiser van Hemel sy direkte stem op die wolke sal uitbasuin nie. Dit kom, maar ons is nog nie daar nie.
Intussen maak die Here gebruik van ons, van ons wat weet dat daar vrede gemaak is – om sy vredesboodskap deur te dra. Ons moet dit orals uitdra.
Nou hoe? Die apostel Paulus gee twee maniere
Die eerste is die direkte manier. Kom ons noem dit die pamflet en radioboodskap-manier. Soos die offisiere destyds boodskappe vir die soldate gegee het dat die oorlog verby is.
Paulus praat daarvan:
2 Kor 5 v 20
en dit is God wat deur ons 'n beroep op julle doen.
Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!
Dis die manier wat ons as gelowiges heel dikwels gebruik – sommer daar in jou huis waar jy met jou kinders praat en vir hulle vertel van die vrede wat die Here gebring het; of jy sal miskien vir ‘n vreemdeling selfs sê van die vrede wat die Here God bewerk het. En natuurlik is vandag se erediens deel van hierdie proses – die verkondiging van die Here se Goeie Nuus.
Maar dan is daar ‘n tweede manier wat die apostel Paulus noem.
Paulus skryf daarvan: LEES 2 Kor 5 v 17
17 Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.
Dit vertel iets van jou lewenstyl, of te wel die Goeie Nuus van Jesus Christus word sigbaar in jou manier van doen. Dink nou weer aan die soldate daar in die bosse van die Filippyne. As hulle nou ‘n Amerikaanse soldaat en ‘n Japanese soldaat saam-saam daar sien aankom het, en hulle twee kuier vrolik saam, sonder enige wapens, en daar is nie by enige van die twee angs of kwaad nie – dink ek nogal die soldate in die bosse sou dalk begin glo dat die oorlog verby is. As voormalige vyande nou self in vrede lewe, dan gaan dit mos ‘n baie sterk boodskap uitdra dat die oorlog verby is.
4. EN NOU ONS
Nou nader na ons toe. Die kerk, d.w.s. die gemeente is die plek waar voormalige vyande saam in vrede is, waar daar nie vrees en angs is vir ander nie, waar daar vriendelikheid en vrolikheid is – hoekom? Omdat vrede tussen verskillende mense die sterkste moontlike boodskap uitdra dat die Here God vrede met mense gemaak het.
Ek hoef mos nou nie die anderkant te sê nie – maar kom ons sê dit maar: As die Amerikaners en die Japanese destyds nog steeds op die strand gestaan en baklei het en op mekaar geskiet het, wat sou die Japanese soldate in die bosse gedink het? Hulle sou mos dadelik afgelei het dat die pamflette wat van vrede praat, sommer nonsens is, want hier sien ons dan voor ons oë dat daar nog nie vrede is nie.
Kom ons stel dit nog sterker: Om Kersfees te vier en te sing van vrede op aarde, maar in vyandskap te lewe, trek eenvoudig ‘n streep deur ons boodskap.
ONS ANTWOORD
Lied 334: 1
"God is Liefde!" juig ons harte,
en bedink wat liefde doen:
Dat Hy ons sy Seun gestuur het
om ons sonde te versoen.
Hy wat eerste liefgehad het,
het in liefde ons vergeef -
nou kan ons, uit God gebore,
uit dié bron van liefde leef!
Deur sy Gees, die wondergawe,
laat Hy wederliefde spruit;
en dié liefde - wat volmaak is -
dryf die vrees en selfsug uit.
As die Vader in sy liefde
dan die sondaar maak tot kind,
mag sy Seun al meer gestalte
in ons doen en late vind!
DANKBAARHEID
Kers n. r 3 aansteek
OFFERGAWES
Laaste Lied – 365 v 1, 3
Hoor die blye eng'lelied
aan die Koningseun gebied:
"Vrede op aarde - God die eer -
Hy daal tot die sondaar neer."
Almal wat Hom liefhet, sing
om Hom lof en dank te bring!
Almal, juig met hart en stem:
God word mens in Betlehem.
Hoor die blye eng'lelied
aan die Koningseun gebied.
Jesus, ware Vredevors
kom vir Hom ‘n volk verlos.
Wêreldwyd, in elke land
kom bevryding deur sy hand.
In ons nood het Hy gedaal,
vir ons lewe duur betaal.
Vrygemaak, deur Hom gevind,
is ek ook nou koningskind!
Almal deur sy koms verlos,
dank en loof die Vredevors!
DIE HERE SE BELOFTE
Sy teenwoordigheid
Comments