Heeltemaal liries oor die Gewer van Genade
- NG Kerk Aberdeen
- Dec 13, 2014
- 7 min read

Psalm 98 Sondag 7 Desember 2014
Heeltemaal liries oor die Gewer van Genade
Ds Abe Beyers
ONTMOETING
Ons erken Hom as die Heerser
Hy groet ons
Ons sing dankbaar ‘n lied
– 341 v 1, 2, 3, 4
Die regte tyd het aangebreek,
die tyd deur God bestem -
die Vader stuur vir ons sy Seun
as kind na Betlehem.
Vir ons gebore, as ‘n mens
kom Hy in ons belang -
Hy koop ons vry, dat God ook ons
as kinders kan ontvang.
God maak ons kind en erfgenaam,
Hy stuur vir ons sy Gees.
Ons kan Hom nou ons Vader noem,
aan Hom gehoorsaam wees.
O Vader, al die lof en eer
en dank wil ons U bring;
van al u vrede, liefde, guns,
sal ons vir ewig sing!
VERHOUDING MET DIE HERE
Wie is die Here?
Die onbeskryfbare grote Heerser
VERHOUDING MET DIE HERE (vervolg)
En nou ons?
Ons: Sing 'n nuwe lied tot eer van die Here,
want Hy het magtige dade gedoen, deur sy krag en Goddelike mag het Hy oorwin.
2 Die Here het sy oorwinning bekend gemaak,
aan die nasies het Hy sy reddingsdade geopenbaar. (deur sy geregtigheid en billikheid)
3 Aan die huis van Israel het Hy sy liefde en sy trou herbevestig;
Die hele wêreld het gesien dat ons (verhouding)God die oorwinning behaal het. (Hy is ons God omdat ons 'n verhouding met Hom het.)
4 Juig tot eer van die Here, almal op aarde, wees vrolik, juig en sing!
( Want ons visualiseer God se wereldheerskappy)
5 Sing tot eer van die Here met begeleiding van die lier, speel op die lier en sing.
6 Blaas die trompet en die ramshoring, jubel tot eer van die Here, die Koning.
7 Die see en alles daarin moet druis, die aarde en alles daarop moet juig,
8 die riviere moet hande klap, die berge moet saam juig
9 voor die Here, want Hy kom om oor die aarde te heers;
Hy sal oor die wêreld heers met regverdigheid, oor die volke met billikheid.
( Waarin het Hy oorwin? Jesus het as mens gehoorsaam gebly tot in die dood, nie Homself verdedig en nie na sy eie belang omgesien nie)
Ons sing lied 169 v 1, 2, 3 (Weens 'n gebrek aan spasie is een strofe uitgelaat)
Heilig heilig heilig Heer God almagtig Groot is U troon U is steeds met lof omring
Heilig, heilig, heilig,
liefderyk, genadig
u troon is steeds
met lig en lof omring!
Heilig, heilig, heilig,
Heerser vir ewig;
groot is u Naam
U die Vader, Seun en Gees.
Grote God, ons eer U,
met u hele skepping.
U wat in liefde God regverdig is.
WOORD-TYD
Gebed
Woord – Psalm 98
1. PRYSGEWING
Storie: gister was daar ‘n fietswedren daar in Murraysburg. Daar is verskillende afstande gery, oa 100km ook. Die ou wat eerste gekom het in die 100km, was so ‘n jongmannetjie. Met die prysuitdeling het so ‘n mooi meisiekind die eerste prys aan hom oorhandig.
Vraag: wie was nou die held van die storie? Die een wat die present gegee het, of die een wat dit ontvang het? Natuurlik die een wat dit ontvang het, want hy het dit verdien.
Voorbeeld: Hier het ek nou ook ‘n present wat ek nou sommer vir iemand wil gee…
Vraag: wie is noú die held van die storie? Natuurlik die een wat die geskenk gegee het, want die persoon het nie prys vir haar prestasie ontvang nie – dit was net uit genade.
PSALM 98 – Iemand is vreeslik opgewonde
LEES Psalm 98 v 1 – 6
Ps 98:1 ‘n Psalm. Sing ‘n nuwe lied tot eer van die Here, want Hy het magtige dade gedoen, deur sy krag en Goddelike mag het Hy oorwin.
98:2 Die Here het sy oorwinning bekend gemaak, aan die nasies het Hy sy reddingsdade geopenbaar.
98:3 Aan die huis van Israel het Hy sy liefde en sy trou herbevestig; die hele wêreld het gesien dat ons God die oorwinning behaal het.
98:4 Juig tot eer van die Here, almal op aarde, wees vrolik, juig en sing!
98:5 Sing tot eer van die Here met begeleiding van die lier, speel op die lier en sing.
98:6 Blaas die trompet en die ramshoring, jubel tot eer van die Here, die Koning.
Die skrywer van die Psalm is vreeslik opgewonde, eintlik sommer liries oor die wonderlike dinge wat die Here God gedoen het. Die man sing van opgewondenheid en dankbaarheid vir die Here se beskikking en sy gawes.
En natuurlik ons ook: toe jy vanoggend opgestaan het en later jou pap gaan eet het, toe het jy dankbaar die Here God erken vir sy goeie gawes. Of soos ene Koos Badenhorste altyd gebid het: “Here maak ons môreoggend wakker met ‘n eerste gevoel van dankbaarheid”.
Of ‘n motorfietsryer vertel op die stoep van een van ons eetplekke: As hy hier deur ons dorp ry vroegmore in die rigting van GRT, en hy sien die bergreekse so agtermekaar, die een blouer as die ander, dan begin hy sommer spontaan vir die Here ‘n lied sing daar onder sy helmet uit dankbaarheid vir die Here vir die prag van die skepping.
Of gister ry ek saam fiets daar buite Murraysburg met ‘n man en ‘n vrou wat van Groot-brak af kom – en hy kyk so deur die veld wat so pragtig groen is, en hy sê: “kan die Karoo mooier wees as hierdie? Die Here se genade is groot”.
Die Psalm vertel verder van hierdie verwondering
LEES Psalm 98 v 7-9a
Die see en alles daarin moet druis, die aarde en alles daarop moet juig,
die riviere moet hande klap, die berge moet saam juig voor die Here
Laasweek en Sondagaand met die kerssangdiens het ons hier in die kerkgebou teruggedink aan die Here Jesus Christus wat aarde toe gekom het. Dit maak ‘n mens eintlik half bewoë: om te dink die Heerser Jesus het Homself verneder en is toe as ‘n babatjie daar in Betlehem gebore, met al die drama van vervolging daarna, dat die gesin moes vlug vir hulle lewe – en later het hierdie Jesus as mens voortgegaan om Hom te bly verneder – en so het Hy oorwin oor die selfsugtige menslike natuur. Dit is iets om oor liedere te sing, iets om oor opgewonde te raak. Net soos die storie van vroeër vertel daardie geskenk van die Here vir ons vreeslik baie van die Gewer.
Terug by die psalm. Natuurlik het die psalmskrywer ook gedink aan die guns van die Here tov hulle situasie – van die bevryding destyds uit Egipte uit die plek van slawerny uit tot die redding uit oorlog situasies en die geweld van vyandige magte en ander nasies.
Maar wat vir die Psalmskrywer die grootste teken was van die Here se werking was waar die geregtigheid die kwaad oorwin het, of waar die billikheid die onreg verdryf het. Dis wanneer hy hierdie dinge gesien het, dan het hy opgewonde gesing. In ons taal: as daar wet en orde was in die samelewing, as die swakkes en hulpelose versorg is, as die kwaad teëgewerk is, as die uitbuiters en die kwaaddoeners gekeer is – dan kon hy nie anders as om die Here te loof en te prys nie. Hy het in hierdie dinge die mag en krag van die Here raakgesien.
2. TOEKOMSVISIE
Kom ons dink nou weer aan die storietjie van netnou – sy het die geskenk ontvang sonder dat sy dit verdien het. Wat is nou haar verwagting ? Wat van die toekoms? Sy sou seker gedink het: iemand wat so vir my iets gee sonder dat ek dit verdien, wel ek kan die verwagting hê dat dit weer kan gebeur, of verder: dat dit die persoon se aard is om om te gee, om te versorg – en daarom het ek hoop vir die toekoms.
LEES Psalm 98 v 9b – 10
want Hy kom om oor die aarde te heers; Hy sal oor die wêreld heers met regverdigheid, oor die volke met billikheid.
Die skrywer van die Psalm het die hoop, die verwagting: as die Gewer van Goeie Gawes so in die verlede opgetree het, dan sal Hy mos in die toekoms nie anders wees nie. As Hy dan in die verlede wonders kon gedoen het en uitkoms gebring het, dan is dit mos sy aard, dan kan ek mos hoop hê, dan hoef ek mos nie bang te wees nie.
En nou het ons mos ook die hoop: as die Here God dan die Gewer van Goeie Dinge is, as Hy so in genade opgetree het in die verlede, dan sal Hy mos in die toekoms ook so wees. As Hy dan die kwaad en die verkeerde in die verlede kon omgekeer het, dan sal Hy mos dit in die toekoms dit ook doen. En daarom is daar by my ‘n rustigheid.
3. ‘N ONGEMAKLIKE VRAAG
Die psalm was destyds geskryf met die kroning van ‘n nuwe koning van Israel. Alhoewel daar nou staan dat die Here al die reddingsdade gedoen het en al die wonderlike dinge gedoen het, is die gedagte dat die Here God deur die koning die regverdigheid en die billikheid daar gaan stel. Die Here gaan deur die koning werk om die vrede daar te stel.
En dis nou waar ons in die prentjie kom – en dit raak nou ‘n bietjie ongemaklik. Die psalm sê dat dit die Here is wat regeer, dis Hy wat wonderlike dinge doen – maar Hy doen dit deur mense. Die Here God gebruik mense, mense soos ons, sy kinders om die regverdigheid en die billikheid daar te stel. Hy werk deur mense om vrede te bring, om die onreg en die uitbuiting en die kwaad om te draai en reg te maak.
Nou is die ongemaklike vraag: waar pas ek as mens nou in? watter rol speel ek?
Die Here Jesus het by geleentheid vir Petrus die dissipel gesê: “moenie in my pad staan nie satan, want jy dink nie aan wat die Here God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê” (Mark 8v33). Of op ‘n ander plek vertel Jesus ‘n storie oor mense wat genade ontvang het – die gelykenis van die talente. En dan sê die eienaar vir een: “Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel”.
Daarom die vraag: waar pas ek in in die Here se werk?
ONS ANTWOORD
Lied 354 v 1, 4
O Christus, ons verlange,
U het ons heil gebring.
Sal ooit ons jubelsange
u lof na waarde sing?
Vervul in welbehae
ons harte met u Gees;
skenk ons in hierdie dae
'n ware Christusfees.
Ek, magteloos gebonde,
ek word deur U bevry;
ek is bevlek met sonde -
U kom en reinig my.
Nou leef my dankgebede -
nou kan ek sing en dien!
Nou kan ek sterf in vrede -
ek het my Heer gesien!
Dankbaarheid
Offergawes
Laaste Lied – 599 v 1, 3
As Hy weer kom, as Hy weer kom kom haal Hy sy kinders;
KERSFEES
Die afwagting tot die herdenking van Jesus se koms na die aarde
KERS AANSTEEK
DIE HERE SE BELOFTE
Hy kom om te heers met regverdigheid en billikheid
Comments