Om God Lief te hê met 'n Passie
- NG Kerk Aberdeen
- Nov 23, 2014
- 10 min read

23 November 2014
Lees: Lukas7:11-17 Sing: Lied 159:1 – 3
Lukas 7:36 – 8:3
OM GOD LIEF TE Hê MET 'N PASSIE
Ds Piet Venter
As ek besef dat my redding net daarin lê dat Jesus al my sondes vergewe, dan gee ek Hom al my liefde – en ek hou op om my naaste te kritiseer en sy optrede te veroordeel.
Lees Skrifgedeeltes uit Lukas 7 en 8. &$ Kondig teks aan, en lees weer Lukas 7:11.
Luk 7:11 Kort daarna het Jesus na ‘n dorp met die naam Nain gegaan,
Luk 7:12 en sy dissipels en ‘n hele menigte mense is saam met Hom. Toe Hy naby die ingang van die dorp kom, word daar juis ‘n dooie uitgedra om begrawe te word. Hy was die enigste seun van sy ma, en sy was ‘n weduwee. Byna die hele dorp se mense was saam met haar.
Luk 7:13 Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: "Moenie huil nie!"
Luk 7:14 Hy gaan toe nader en vat aan die baar. Die draers gaan staan toe, en Hy sê: "Jongman, Ek sê vir jou, staan op!"
Luk 7:15 Die dooie het regop gaan sit en begin praat. En Jesus het hom aan sy ma teruggegee.
Luk 7:16 Almal is met ontsag vervul en het God geprys deur te sê: "‘n Groot profeet het onder ons opgestaan," en "God het na sy volk omgesien."
Luk 7:17 Die berig oor wat Hy gedoen het, het deur die hele Joodse land en die omliggende gebied versprei.
Luk 7:36 Een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te kom eet. Hy het toe in die huis van die Fariseër ingegaan en aan tafel plek ingeneem.
Luk 7:37 ‘n Sekere vrou in die dorp, wat ‘n sondige lewe gelei het, het gehoor dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was. Sy bring toe ‘n albaste flessie met reukolie
Luk 7:38 en gaan staan agter Jesus by sy voete en huil, sodat haar trane op sy voete begin drup het. Daarna het sy sy voete met haar hare afgedroog, hulle gesoen en met die reukolie gesalf.
Luk 7:39 Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: "Hy, as hy ‘n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy ‘n sondares is."
Luk 7:40 Maar Jesus spreek hom aan en sê: "Simon, Ek het iets om vir jou te sê." "Meneer, sê dit maar!" antwoord hy.
Luk 7:41 Jesus sê toe: "Twee mense was in die skuld by ‘n geldskieter. Die een het vyf honderd rand geskuld en die ander een vyftig.
Luk 7:42 Omdat hulle niks gehad het om mee te betaal nie, het hy die skuld vir albei kwytgeskel. Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?"
Luk 7:43 Simon antwoord: "Ek veronderstel dié een vir wie hy die meeste kwytgeskel het." "Jou antwoord is heeltemal reg," sê Jesus,
Luk 7:44 en Hy draai na die vrou toe om en sê verder vir Simon: "Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom—en jy, water vir my voete het jy My nie gegee nie, maar sy, met haar trane het sy my voete natgemaak en met haar hare het sy dit afgedroog.
Luk 7:45 ‘n Soen het jy My nie gegee nie, maar sy het vandat sy hier ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie.
Luk 7:46 My kop het jy nie eens met olie gesalf nie; sy het my voete met reukolie gesalf.
Luk 7:47 Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde."
Luk 7:48 En Jesus sê vir haar: "Jou sondes is vergewe."
Luk 7:49 Toe begin dié wat saam aan tafel was, onder mekaar sê: "Wie is hierdie man dat hy selfs sondes vergewe?"
Luk 7:50 Maar Jesus sê vir die vrou: "Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede."
Luk 8:1 In die tyd wat nou gevolg het, het Jesus die land deurkruis van die een stad en dorp na die ander. Oral het Hy gepreek en die evangelie van die Koninkryk van God verkondig. Die twaalf was saam met Hom
Luk 8:2 en daarby ‘n aantal vroue wat van bose geeste en siektes genees was. Daar was Maria, bekend as Magdalena, uit wie sewe bose geeste uitgegaan het,
Luk 8:3 en Johanna die vrou van Gusa, ‘n hoë amptenaar van Herodes, en Susanna en baie ander. Hierdie vroue het uit eie middele vir Jesus en die twaalf gesorg.
Van die stad Nain lees ons net hierdie een keer in die Bybel, maar wat toe daar gebeur het, is werd om jou hele lewe lank te onthou. En dan het ek nie die weduwee se seun wat uit die dood opgewek is, in gedagte nie maar dis Jesus se kontak met twee ander persone in dié stad waarvoor ek vanmore jou aandag vra.
Die een was ‘n Fariseër wat Jesus genooi het om by hom te kom eet. Sý naam is Simon.
Die ander een was ‘n vrou “wat ‘n sondige lewe gelei het” – wie se naam nie genoem word nie.
Ek wil hulle twee vanmore aan jou voorstel, en ek wil hê jy moet hulle harte sien. Want as ons sien hoe dié twee se harte lyk, dan verstaan ons meer van Jesus se hart. En dis eintlik waarom dit gaan: om wie Jesus is.
Ja, hoe lyk die hart van Hom wat meer en meer gestalte in my en jou lewe wil kry?
Van Simon weet ons net dat hy ‘n Fariseër was, m.a.w. ‘n baie godsdienstige mens. Só godsdienstig dat hy – soos alle Fariseërs – in sy eie oë geen sonde gedoen het nie. Die Fariseërs se selfopgelegde taak was om toe te sien dat sonde binne die Joodse samelewing, tot ‘n absolute minimum beperk word. Hulle was die selfaangestelde monitors van God se koninkryk. Sonde-bestuur was hulle forté gewees.
Dít was oënskynlik ook die doel met hierdie maaltyd: om aan Simon en sy Fariseër-vriende die geleentheid te bied om die nuwe profeet van Nasaret te weeg en te toets. Jesus is klaarblyklik nie genooi om aan Hom erkenning te gee nie, want Simon versuim om aan sy eregas die standaard beleefdheid wat in daardie kultuur praktyk was, te betoon.
-Hy ontvang Jesus nie met ‘n soen nie.
-Hy was nie sy voete nie.
-Hy salf ook nie sy kop met olie nie.
Jesus steur Hom egter nie daaraan nie – Hy neem gewoon sy plek in aan die tafel wat voorberei is.
En dan gebeur daar iets onverwags. ‘n Sekere vrou – wat, soos gou sou blyk, vir Simon nie ‘n onbekende was nie – kom die vertrek binne. Onverwags …. maar vir hulle nie ongewoon nie, want in daardie tyd in Palestina het huise nie die privaatheid gebied wat ons vandag ken nie. Dit het destyds baie maklik gebeur dat ‘n vriend, of selfs ‘n bedelaar, of sommer net iemand wat nuuskierig is, by ‘n huis sou instap.
Nou in hierdie geval is die vrou wat binnekom duidelik op soek na Jesus, want sy gaan direk na Hom toe. Soos wat Hy daar by die maaltyd aanlê, neem sy plaas by sy voete …. en sy begin só te huil dat sy voete nat word van haar trane. En toe doen sy iets heeltemal ongehoords: sy maak haar hare los en gebruik dit as ‘n doek om sy voete mee droog te maak. En wat nog meer aanstoot gee: sy soen sy voete aanhoudend. En toe salf sy hulle ook nog met reukolie.
Simon en sy mede-fariseërs is geskok. Om die beurt voel hulle beledig en gebelg …. verontwaardig omdat Jesus nie besef wie sy is nie: ‘n prostituut! As Hy regtig ‘n groot profeet van God is (Lukas 7:16), soos wat die skares Hom eer – hoekom spreek Hy haar dan nie aan nie? Simon het klaar sy gevolgtrekking gemaak en, al sê hy nie ‘n woord nie, staan dit onmiskenbaar op sy gesig geskryf.
In Jesus se reaksie op wat daar in Simon se huis gebeur, is daar twee dinge wat opval.
In die eerste plek: Jesus bestraf nie die vrou nie, want …. Hy herken haar. Ons het mos gelees dat sy na Simon se huis toe gekom het omdat sy gehoor het dat Jesus daar is. En sy neem ook haar flessie reukolie saam omdat sy Hom wil gaan salf. Hoekom? Hoekom doen sy dit?
Sou dit nie wees dat Jesus haar vroeër die dag in die strate van Nain teëgekom het – hierdie arme vrou wat van sewe duiwels besete was? En dat Hy haar óók – soos so baie ander siekes en besetenes – jammer gekry het, Hom oor haar ontferm het, en haar gesond gemaak het nie?
En later die dag, toe die werklikheid van haar genesing tot haar deurgedring het, het sy die enigste besitting waarmee sy vir Hom kon dankie te sê, gaan haal en Hom begin soek. En dis toe dat sy hoor dat Hy by Simon aan huis is. Daar gekom, gaan sy direk na Jesus toe.
Dáárom die trane van dankbaarheid oor wat Hy vir haar gedoen het.
Dáárom die onbeheersde liefdesbetuigings omdat sy weer ‘n heel mens is.
Dis wat Jesus sien: skaamtelose liefde …. onbeteuelde liefde …. oordadige liefde …. passievolle liefde. En dáárteen neem Hý nie aanstoot nie.
Want Hy sien haar hart wat baie liefde bewys, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is.
Aan die ander kant is daar Simon.
Simon, wat hom hoe langer hoe meer nie soveel aan hierdie vrou se gedrag erger nie, as wat hy aanstoot neem aan Jesus wat haar nie tot orde roep nie.
Simon verstaan gladnie wat hier gebeur nie. En daarom vertel Jesus ‘n kort gelykenis – so eenvoudig dat selfs Simon die boodskap kry.
En die toepassing daarvan deur Jesus is telkens soos dolksteke wat diep in Simon se hart tref:
Ek is jóú gas hier in jóú huis, maar
Water vir my voete het jy nie voorsien nie. Sy het met haar trane my voete natgemaak en dit met haar hare afgedroog.
‘n Soen het jy nie vir My gegee nie. Sy het nie opgehou om my voete te soen nie.
Jy het nie eens my kop gesalf nie. Sy het my voete met reukolie gesalf.
Só werk dit Simon: wie baie sonde het wat vergewe is, bewys baie liefde. Wie min sonde het, bewys min liefde.
Hier sien ons die hart van die Fariseër – van elke Fariseër: dis om myself in God se posisie te stel …. dis om vir myself die reg toe te eien om ‘n oordeel oor my broer of my suster se lewe uit te spreek.
En dit is so subtiel. Hoe moeilik is dit nie om die fariseër in myself raak te sien nie!
Maar elke keer wanneer iemand wat ek ken se geraamtes in die kas aan die lig kom …. of laat hy/sy net die slagoffer van ‘n smeerveldtog word – dán is dit wat ek agterkom dat die fariseër in my nog nie dood is nie.
Liewe Broers en Susters, geestelike selfvoldaanheid is om nie te besef dat ek self ook ‘n sondaar is wat net aan ‘n draadjie van God se genade hang nie – net soos alle ander mense wat God se liefde in Christus Jesus vasgegryp het. Dis om te vergeet dat God se Seun na die wêreld toe gekom het om sondaars te verlos …. en dan voeg Paulus daaraan toe: van hulle is ek die grootste. (1 Timoteus 1:15)
Jesus het nie met sy lewe betaal vir “goeie” mense, wat dit verdien nie. Nee, Hy het dit gedoen vir mense soos hierdie prostituut, verkoop aan die sonde, beset deur sewe duiwels. Dis vir haar wat Hy sê: “Jou sondes is vergewe”. “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.”
En sy hét in vrede gegaan. Om die waarheid te sê, sy het Jesus – wat haar vrede is (Efesiërs 2:14) – die res van haar lewe gevolg. Want het jy mooi geluister? Direk na hierdie gebeure vertel Lukas hoe Jesus hierna die land deurkruis het, en saam met Hom was die 12 dissipels én ook ‘n aantal vroue van wie hy net ‘n paar se name noem. En die eerste een wat hy noem, is: Maria, bekend as Magdalena, uit wie sewe bose geeste uitgegaan het.
Die koppeling van hierdie mededeling direk aan die vertelling van wat by Simon se maaltyd gebeur het, hoef nie toevallig te wees nie. In elk geval het die kerkvaders van die eerste eeue nie getwyfel nie dat dit sý was wat Jesus daar met die reukolie gesalf het. En baie eksegete aanvaar dit vandag nog so.
Inderdaad het Maria Magdalena Jesus vir die res van sy lewe hier op aarde gevolg en versorg. Haar naam word hierna nog 13 keer in die Evangelies genoem.
Dit was sý wat saam met ander vroue teenwoordig was toe Jesus aan die kruis gehang het. (Joh 19:25)
Dit was sý wat die Sondagmore vroeg eerste by sy graf gekom en besef het dat die graf leeg is. (Joh 20:1)
Dis aan háár wat Jesus na sy opstanding die heel eerste verskyn het – toe sy aanvanklik gedink het dat dit die tuinopsigter is. (Joh 20:15 – 17)
Dis Maria Magdalena wat eerste was om die Paasboodskap bekend te maak …. aan die dissipels: “Ek het die Here gesien!” (Joh 20:18)
Dis nou Maria Magdalena – die vrou daar in Nain wat ‘n sondige lewe gelei het …. maar wat nog voordat die wêreld geskep is, deel was van Christus se bruid wat God uitverkies het om heilig en onberispelik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, voor Hom te wees! (Efesiërs 1:4 en 5:27)
Dit is Jesus se hart …. vir sy kerk, sy bruid.
Dis Jesus se hart vir sondaars. Hy kyk nie na wie ons is nie. Hy gaan nie ons rekord na nie. Nòg ons menslike natuur, nòg ons sondige verlede staan in sy pad om ons te red.
Hy het daarmee eens en vir altyd met sy kruis en opstanding afgereken. Hy vergewe ons al ons sondes …. sodat ons al ons liefde vir Hom sal gee. Al ons liefde: skaamtelose liefde …. onbeteuelde liefde …. oordadige liefde …. passievolle liefde – dat ons dit sal gee vir Hom: ons Here, ons Verlosser, ons Bruidegom, deur Wie ons weer toegang het tot die Vader.
Liewe Broers en Susters, die hart van die Fariseër skuil diep in elkeen van ons. Laat ons maar eerlik wees daaroor. Maar nóú weet ons ook: dis net liefde – ‘n liefde soos Maria se liefde vir Jesus – wat dit uitroei. Dis net die liefde van ‘n sondaar wat verlossing, herstel, genesing, bevryding ontvang het.
En dan, as ek en jy hierdie genade van die Here vasgegryp het, dan kritiseer ons nie meer mekaar nie.
Dan vergelyk ons mense nie meer met mekaar, en ook nie met onsself nie.
Ons veroordeel nie meer ons broer en ons suster nie.
Want ons liefde vir Jesus laat dit eenvoudig nie meer toe nie.
Gebed.
ความคิดเห็น